DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 21

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 19 Die inwendige inrigting van 'n tempel van die eenvoudige soort. 'n Tempel-orkes 1. Julle weet dat so 'n tempel in sy geheel uit vyftien dakke bestaan, naamlik die middelste, hoogste dak en dan aan beide kante daarvan sewe dakke. In die middel van elke dak is daar in die inwendige van die tempel weer 'n pragtige geboude wenteltrap, wat tot heeltemal by die dak deurloop en onder elke dak, namate dit nader aan die middelste dak staan, groter, pragtiger en dus ook van meer betekenis is. 2. Onder die middelste hoë dak is daar egter nie so ’n wenteltrap nie, maar die dak word hoofsaaklik deur stralende blourooi pilare gedra sodat daar rondom wel dertig van hulle kan wees. Hierdie pilare is byna net so hoog soos die van die werklike tempel, daarom is die middelste deel van die tempel ook hoër as die oorblywende dele daarvan. 3. Hierdie pilare is voorsien van sewe rye galerye, waarop ’n mens kan kom via 'n wenteltrap, wat om die pilare kronkel. Om elke pilaar kronkel dus so wenteltrap tot by die sewende galery. In die middel van hierdie groot, ronde deel van die tempel staan 'n groot hoofpilaar, wat deurloop tot by die hoogste punt van die hoë dak. Daar waar die vierde gallery rondom die pilare loop, is vanaf hierdie sentrale hoofpilaar 'n gang na vier kante gemaak, dit wil sê, dat daar in werklikheid maar twee gange is, wat mekaar by die sentrale pilaar kruis. 4. Vanaf hierdie kruisgang loop dan 'n baie breë wenteltrap rondom die pilaar omhoog na die hoogste punt van die dak. Die galerye wat rondom die pilare van hierdie sentrale ronde deel loop, word eweneens ondersteun deur boë wat skitter in die kleure van 'n reënboog. Maar hier het 'n boog slegs één kleur, en omdat daar sewe galerye is, is daar ter ondersteuning daarvan ook sewe boë, waarvan elke boog in 'n ander kleur skyn. Wanneer ’n mens dan sy blik oor al sewe galerye laat dwaal, geniet hy van die aanblik van 'n gespreide reënboog. 5. Die balustrades van die galerye het in hierdie sentrale ronde deel van die tempel die aansien van gloeiende goud en hoewel dit op sigself buitengewoon kunstig bewerk is, is hulle in die tussenruimtes tog nog besaai met allerlei klein versierings in alle denkbare kleure, ongeveer soos ’n keiserskroon by julle wat kunstig met goud en silwer bewerk is en wat ook nog versier is met allerhande kunstig geslypte edelstene. 6. Die relings van die gallery is stralend donkerrooi, die vloere van die galerye lyk soos die nagtelike hemel, wanneer dit die digste met sterre besaai is. 7. Wat die vorm van die middelste pilaar aanbetref: Hy verhef homself vanaf die vloer tot by die hoogste punt, sodanig dat dit lyk asof daar 'n vurige wolkkolom vanaf die vloer tot by die hoogste top opstyg. Waartoe dien hierdie hoofpilaar eintlik? Ten eerste help hy om die hoë, swaar dak te dra; dit is sy natuurlike funksie. Die tweede is, dat ’n mens via die wenteltrap tot onder die hoogste punt van die dak kan kom en daar ook iets aan die dak kan regmaak wanneer daar eventueel met verloop van tyd iets beskadig sou wees. Ten derde is hy in hierdie sentrale hoofgebou nodig om die mense deur die klim daarvan aan die verskillende hoogtegrade gewoond te maak sodat hulle, sonder om duiselig te word, omlaag kan kyk. Want dit het die sonbewoners baie nodig, veral diegene wat van plan is om naderhand na die verskillende bou-ampte oor te stap. Ten slotte word dan op die verskillende hoogtes nog beproef vanaf welke hoogte die wil van die mense nog in staat is om op die grond werksaam te wees, want julle moet weet dat so 'n pilaar redelik hoog is en dat die pilaar van menige tempel met die hoogste berge van julle aarde sou kon wedywer, ook al sou hy op seevlak staan. 8. Hierdie pilaar het 'n baie groot omvang, spesifiek onderaan, waar hy dikwels 'n deursnit van honderd vadem het. Hy loop wel van daar af tot by die bokant van die hoë dak steeds verder taps-gewys. Omdat die pilaar so 'n groot omvang het, kan julle maklik vir julleself voorstel dat die wenteltrappe rondom ook baie ruim moet wees; ja, veral onderaan is dit so breed, dat daar maklik honderd mense langs mekaar so ’n trap kan beklim. So is ook die galerye, waarvan daar sewe rondom die sentrale ronde deel loop, buitengewoon ruim. En net so ruim is die twee mekaar kruisende gange wat die middelste galerye met die hoofpilaar verbind. So ’n gang is so breed, dat daar eweneens meer as honderd mense met gemak langs mekaar in 'n ry sou kan staan. 9. Waarvoor dien hierdie twee mekaar kruisende gange en ook die hele middelste gallery eintlik dan? Kyk, dit is weer regtig iets vir julle, want dit is die orkesruimte vir die musiekmaak in so ’n tempel. Op elke gang is daar sewe-en-sewentig harpe; op die galery rondom is plekke vir die hoofsangers aangebring. Op hierdie gallery en op die twee gange word, voor en na elke werksaamheid, aan die grote God, onder begeleiding van die harpe, 'n lofsang gebring, en hierdie lofsang weergalm dan majestueus deur die hele, wye tempel. 10. Julle moet die klank van 'n harp nie voorstel soos die van 'n soortgelyke instrument op julle aarde nie, want die klank van so ’n harp is so buitengewoon suiwer en sodanig in staat tot elke aanswelling, van baie sag tot die uiters kragtig, dat julle op julle planeet absoluut geen enkele voorstelling daarvan kan maak nie. Wat die krag daarvan betref, klink die helderste klok by julle daarby vergeleke baie sag. Ook wat die sagste klank aanbetref, kan julle op geeneen van julle instrumente sulke werklik geestelike sagte tone voortbring nie, as wat met so 'n harp voortgebring kan word. Verder is die toon van 'n harp by julle ook maar van korte duur, terwyl 'n eenmaal aangeslaande toon van so ’n sonharp solank deurklink totdat die musikant dit stop. En so is so ’n harp ook in staat om alle moontlike verskillende klanke voort te bring, en wel so, dat dit op aarde baie goed 'n orkes met 'n tienvoudige besetting kan vervang. Wanneer julle dit in gedagte hou, kan julle vir julleself van so 'n konsert op die son `n begrip begin vorm. 11. Vir hierdie doel is die sentrale deel van die tempel eintlik ook gebou. Dit is die werklike gebedehuis van so tempel, waar niks anders gedoen mag word as net dit wat vir die eenstemmige loof van die grote God bestem is nie. 12. Slegs die verskillende oefeninge van die wil word, soos reeds voorheen vermeld, op die verskillende hoogtes van hierdie pilaar uitgevoer, maar dit gebeur ook maar net in hierdie gebedehuis, sodat die wil van elke mens homself des te meer sal verenig met die wil van die grote God. Daarby hoort ook die voorafgenoemde oefeninge, waardeur die sonmense vanaf elke hoogte, sonder om duiselig te word, rustig in die diepte moet kan kyk en dit ook werklik aanleer. 13. So ’n oefening sou ook glad nie sleg gewees het op aarde nie, waar die mense baie dikwels aan duiseligheid ly, want wanneer die een mens ook maar net 'n bietjie hoër staan as die ander, het hy al moeite daarmee om die ander wat laer staan, nog te sien staan, en hoe hoër iemand geplaas word, des te ondraagliker word sy hoogtevrees, wat soms, en glad nie so selde nie, so ontaard dat menige hooggeplaaste adellike persoon hom eerder met tien kanonne sou wou laat doodskiet as om ook maar één keer sy blik omlaag te rig en homself daar aktief in 'n eenvoudige boeredrag besig te sien. Is dit dalk te veel gesê? O nee! Kyk maar net na die edelmanne; wil hulle nie veel eerder dat hul seuns op die slagveld deur die vyand in stukke verskeur word nie, as dat so ’n adellike seun teen sy hooggebore ouers sou sê: Ek wil liewer ’n boer word as om myself as veldheer op die oop slagveld deur die vyand te laat doodskiet? 14. Kyk, om die mense in hierdie opsig bestand te maak teen duiseligheid, sou so ’n skoolopleiding in die klim van pilare werklik besonder aanbevelenswaardig wees. Die mense op aarde skep slegs nog te veel behae in hierdie baie verderflike siekte. Daarom keer ons nou weer terug na die plek waar daar in natuurlike en geestelike opsig baie effektief omgesien word dat so 'n siekte geen kans kry nie. 15. Dat die sentrale ronde gedeelte van so 'n tempel vir julle begrippe maar al te verhewe, mooi en pragtig lyk, hoef nouliks nog vermeld te word. Wie ook maar enigsins in staat is om sy fantasie te laat werk, sal baie gou 'n klein voorstelling daarvan kan maak. 'n Volledige voorstelling daarvan sal mens egter eers kan maak wanneer mens sulke wonders met eie, verligte oë sal aanskou en ook met sy eie, fyner ore van die gees sal meeluister na die musiek van die hemele. 16. Die oorblywende dele van die tempel is deels bedoel vir uiteenlopende soorte onderwys, maar deels ook as huise vir beide die leerders as die leraars, en daar is één vleuel bestem vir die manlike en een vir die vroulike geslag. Die twee geslagte kom in die tempel, behalwe in die sentrale ronde gedeelte, nooit saam nie, maar wel buite die tempel by die gereelde genotvolle wandelinge in die vrye sonlug en by die dikwels klim van die hoër berggebiede. 17. Dit is dus die hele uiterlike en innerlike van die tempel. Die omringende grond van so 'n tempel is presies so georden soos die grond rondom elke ander woonhuis, maar die grondgebied is net na verhouding groter, aangesien die voortdurend aanwesige mensemenigte van so 'n tempel groter is as dié van enige ander woonhuis. 18. Wanneer daar dus in een tempel soms ongeveer tienduisend mense woon, dan word die hoeveelheid grond ook proporsioneel aangepas, dus tienduisend maal 'n halwe akker. Tog is die verskillende akkers deur baie breër strate, vir die maak van gesellige staptogte, van mekaar geskei en die vrugtebome word rondom die tempel op 'n laagliggende deel van die heuwel gekweek, sodat die uitsig vanuit die tempel nie in die minste daardeur belemmer word nie. 19. Daarom is daar buite die tempel 'n wye vlakte, waarop daar niks anders as oorvloedig groeiende gras met 'n lewendige, feitlik donkergroen kleur gekweek word nie. 20. Die buitenste begrensing van hierdie vlakte bestaan uit suiwer fontein-pilare, waarvan die opspuitende water die vlaktes rondom die tempel, asook die daaragter liggende, aan alle kante afdalende grond verfris. 21. Kyk, dit is 'n tempel van die eerste tipe. Hierna sal ons nog die twee volgende tipes bekyk. En dus is dit weer genoeg vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205