DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 23

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 21 Die derde en hoogste soort tempel. Die geheim van die menswording van God en van die kruis. Inwyding tot die opperpriesterstand 1. Nadat ons die tweede tipe tempel leer ken het, sal ons onsself na 'n aansienlike hoogte begewe, wat dikwels 'n gebied van verskeie duisende vierkante myl insluit, en sal daar nog 'n derde tipe tempel leer ken. 2. Dit derde tipe word gewoonlik op die hoogste punt van 'n gebied gebou en het gewoonlik vyf tot sewe tempels van die tweede tipe onder hom. 3. Wat die bou van hierdie tempel aanbetref, is hy nouliks vier keer so groot soos 'n gewone woonhuis en hy is by verre nie so hoog soos die tempels van die eerste en tweede tipe nie. Ja, hier en daar tref ’n mens sommiges aan wat nie veel hoër is as 'n gewone woonhuis nie. 4. Hierdie tempel het ook nie die vorm van 'n skip nie, maar is altyd volkome rond. Die dak is nie spits nie, maar het meer die vorm van 'n afgeplatte piramide. Desondanks is dit tog redelik hoog. Rondom die dak is 'n omgang gemaak, wat van 'n stewige balustrade voorsien is. ’n Mens loop oor hierdie omgang en verkondig, deur middel van basuine, allerhande sake aan die rondom geleë tempels. 5. Die inwendige van die tempel is presies so ingerig soos 'n gewone woonhuis; maar daar is net hier, in plaas van die wenteltrap, wat homself in die middel van 'n woonhuis bevind, 'n gladde, wit pilaar geplaas, wat byna ewe dik en rond van vorm is en heeltemal tot aan die hoogste punt van die dak reik en dus ook die dak dra. Hierdie pilaar is dan weer omring deur 'n wenteltrap, van waaruit binne op gelyke hoogte met die dakomgang buite, twee mekaar kruisende gange deur 'n dakopening na buite tot by die dakomgang lei. In die inwendige van die tempel egter, daar waar die vier gange of eintlik die twee mekaar kruisende gange met 'n taamlike ruim ommegang rondom die pilaar bymekaar kom, draai die wenteltrap om die pilaar omhoog tot heeltemal onder die dak. Alles is hier heel eenvoudig en sonder enige versiering en dit lyk byna asof alles van glad geskaafde planke saamgevoeg is. 6. Op die ommegang is daar geen harpe meer nie, maar die hele musiek gedeelte hier bestaan uit vier buitengewoon luid skallende basuine, waarvan die toon so sterk is, dat dit as gevolg van die suiwer sonlug, soms duisend myl ver gehoor kan word. 7. Die bodem van die tempel lyk asof dit uit vloerplanke bestaan en die rusbanke by die pilare lyk soos die hout sitbanke by julle wat julle soms in die tuin het. Slegs die pilare is wit, maar tog ook asof hulle van 'n wit houtsoort gemaak is. 8. Kortom, hier is niks van enige uiterlike prag te ontdek nie. 9. Rondom die tempel staan soms twintig tot dertig klein houthutte, wat glad nie op pilare rus nie, maar feitlik dieselfde voorkoms het as die berghutte op julle aarde, die dakke is net hoër opgetrek. Een hut staan altyd reg langs die tempel, en dit is die woning van die opperpriester. Die ander tente word deels deur sy gesin en deels deur ampsdraers en enkele leerlinge bewoon. Want slegs hulle wat hulself mettertyd tot hoogste leraars en ampsdraers van die laagste tempel, asook tot die diening van hierdie hoogste tempel wil laat inwy, moet die skool van hierdie tempel deurloop. 10. Wat word daar eintlik alles in hierdie tempel geleer? Kyk, dit is 'n tempel van die diepste geheime, waarin slegs weinig ingewy word. Waaruit bestaan die geheime dan eintlik? Dit sluit in dat die mense daar leer dat God 'n mens is, en dat die allerhoogste liefde in hierdie mens woon, wat alles wat daar bestaan uit eie krag geskape het. 11. Wat word nog verder hier geleer? Daar word ook die geheimste en allergrootste geleer, naamlik dat God, Wie die suiwerste liefde is, op 'n planeet wat aarde heet (op die son het hierdie planeet egter die naam 'Pjoer') volkome mens geword het met 'n sware en selfs aan die dood onderworpe liggaam en daar in die grootste armoedigheid geleef het, alhoewel alle hemele Sy eiendom is, en dat Hy homself as teken van Sy oneindige Liefde en onbegryplike nederigheid selfs aan 'n kruis laat vasspyker het en doodgemaak is. 12. Daar word vêrder by vertel, dat dit gebeur het in die tyd waar dit, soos wat alle sonbewoners baie goed weet, op hul wêreld volkome duister geword het en dat die duisternis ongeveer twaalf enkelvoudige, groot slingeringe geduur het. Julle moet naamlik weet dat die mense op die son soms 'n hoë ouderdom bereik, sodat daar deesdae nog verskeie mense is, veral in die stand van die owerpriesters, wie getuies was van hierdie verskynsel op die son. 13. Opvallend vir julle sou wees, dat daar 'n kruis op 'n heuwel teenoor die tempel is. Dit lyk presies so soos 'n goedgevormde Kalvarieberg* by julle op aarde. Hierdie Kalvarieberg van die son is ook omring deur 'n kring van hoë gekweekte boomstompe, sodat daar van buite af niks van te siene is, behalwe as iemand daar deur 'n nou poortjie deur die hoogste priester ingelei word. Hierdie binnelei gebeur egter slegs wanneer iemand tot hoogleraar van die tweede tempel ingewy word. *Golgotha 14. Die probleme wat met hierdie binnelei gepaard gaan, is egter nie so gering as wat julle dink nie, want wie daar binnegelei wil word, moet eers ’n groot proef van getrouheid aflê. En as hy nou deur die nou poortjie gekom het, is hy nog lank nie op die plek van bestemming nie en sien hy van die Kalvarieberg nog so goed as niks nie. 15. Want direk agter die hoë bome rand, lê om die hele Kalvarieberg 'n tweehonderd vadem breë dam, wat egter nie oral ewe diep is nie. Wie oor hierdie dam wil kom, moet die paaie baie goed ken wat oral deur water bedek word, want onder die water is die paaie so gemaak, dat daar maar één hoofpad is, van waar 'n groot aantal paaie egter as misleidende paaie weglei. Wie die loop van die hoofpad dus nie ken nie, beland so op ’n dwaalweg en moet weer terugkeer na die plek waar hy sy voet in die water geplaas het. Daarom moet almal die weg goed met sy voete kan ondersoek om te bepaal of dit 'n baie smal of ’n breër weg is. Slegs via die smalste pad kan ’n mens die ander oewer bereik; via enige ander pad kom ’n mens weer by die eerste oewer uit, amper so, dat almal glo dat hulle die goeie weg gevind het; maar dan buig dit skielik weer om en lei hom met allerlei draaie tog weer terug. 16. Daarom is dit nie so maklik as 'n mens sou dink om deur hierdie dam te kom nie. As iemand egter in sy poging om hierdie probleme te oorkom sukses gehad het, dan wag daar vir hom 'n nog groter een. Ongeveer sewentig vadem verby die groot ronde dam kronkel 'n bisarre kronkelweg deur ’n brandende struikgewas, wat by julle op aarde ongeveer sal lyk soos 'n brandende bos; maar die struikgewas reik veel hoër bo die grond van die son uit as die allerhoogste bome by julle. Die brandende bosse het ook weer 'n breedte van ongeveer tweehonderd vadem en omring die hele heuwel, wat daar trouens nog veel groter en uitgestrekter is as een van die grootste berge op julle aarde. 17. Hier is dit baie moeilik om die regte pad te vind. Wie ookal daar nie die smalste weg vind nie, wend 'n vergeefse poging aan, want hy sal nie deurkom nie. Weliswaar vind verskeie baie spoedig die nouste pad, maar dan deins hulle terug vir die vlamme wat hulle op hierdie smal pad herhaaldelik raak; daarom probeer hulle 'n ander pad waar minder vlamme te siene is. Dit is egter vergeefse moeite, want wie nie 'n klein stryd met die vlamme wil deurstaan nie, kom nie op die plek van die grootste geheim nie. Wie egter nie vir hierdie stryd terugdeins nie, bereik via die kortste weg, behoudend en wel, die plek van bestemming en aanskou daar in die grootste liefdeslig die wonder van die kruisiging! 18. Kyk, dit is terselfdertyd ook die inwyding in die stand van owerpriester. Weliswaar is daar oral, selfs in die woonhuise, sporadiese aanwysings wat op die groot menswording betrekking het, maar net hier kom die geheim volmaak tot openbaring. 19. Maar hoe alles gevorm is, in watter verband dit hier op die son geplaas is en hoe dit verder met hierdie Kalvarieberg van die son gesteld is, sal ons in 'n volgende mededeling hoor. Daarom, genoeg vir vandag!