|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 64
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 62
Eienaarskap op Miron. Gemeenskaplike en private eiendom
1. Noudat ons Miron-bewoners onderdak gebring is, sal dit tog sekerlik nodig wees om ook 'n stuk grond aan hulle te gee, want daarsonder sal dit hier, soos oral, ’n moeilike lewe wees. Die vraag is nou: Hoe word die verdeling van grond gereël? Het 'n dorp gemeenskaplike stukke grond, of het elke huisbewoner sy eie afgemete stuk grond waarop hy die nodige voedsame vrugte vir sy huis kan verbou?
2. Hier is streng gesproke nie die één of die ander die geval nie, want beide moontlikhede is hier op 'n beslis merkwaardige wyse vir julle verenig. Hoe is dit moontlik? Dit sal dadelik duidelik word! Ten eerste het elke dorp 'n gemeenskaplike stuk grond, wat in verhouding tot die aantal inwoners en hul behoeftes, groot genoeg is om hulle oorvloedig van allerlei soorte voedsame vrugte te voorsien en waarby niemand kan sê, dit is my stuk grond nie! Almal kan naamlik van die hele stuk grond vrugte oes, en daarom kan almal tog weer sê, en wel met betrekking tot elke plek van die gemeenskaplike stuk grond, dit is ons grond!
3. Dit is reg, maar op die agtergrond speel nog die vraag: As die dorp 'n stuk grond gemeenskaplik in besit het, wanneer is daar dan sprake van privaatbesit? Ek sê vir julle: Niks is makliker om te verklaar as dit nie! Die privaatbesit beperk homself net tot die stukke grond wat 'n bewoner vir 'n bepaalde tyd eiehandig vir die kweek van kleiner vrugdraende gewasse bewerk het. As 'n plek uitsluitlik deur één huis van die dorp bewerk is, moet dit met ’n teken wat aan die huis behoort, afgebaken word. Vanaf die oomblik van die afbakening tot aan die tyd van die oes, is so stuk grond dan die onbetwisbare eiendom van die een wat dit bewerk. Na die oes word dit weer algemene besit en kan dit sonder enige teëspraak dadelik van die vorige eienaar weer deur 'n ander huis afgebaken word.
4. Maar wat die groot vrugte aanbetref, waarvan die produsente natuurlik die bome is wat aan julle bekend is (die wat nie aan gedaanteverwisseling onderhewig is nie), is almal gemeenskaplike eiendom van die hele dorp. As daar van een boom geoes word, word die oes gelykop onder alle inwoners van die dorp verdeel.
5. Die vrugte wat egter van gedaante wissel, soos die klein plante en struike, wat daar as sodanig vir 'n rukkie staan, dan weer vergaan en in dierlike vorm verander, is die eiendom van diegene wat dit eerste aantref; die een wat geoes het, moet egter die hele opbrengs aan die dorpsgemeenskap toon. As die inwoners van 'n ander huis dan te kenne gee dat hulle ook 'n deel daarvan wil hê, word daar volgens die gewone humanitêre reëls wat daar heers, in goeie harmonie vasgestel watter deel van die oes daardie huis toebedeel sal kry. Wanneer dit bepaal is, word die oordrag vriendskaplik gereël.
6. Dieselfde geld ook vir die vlieënde brood wat reeds aan julle bekend is. Wie dit vang, is die hoofeienaar daarvan en deel dit ook, nadat die wense van die ander huise vriendskaplik vasgestel is met die ander huise. Tog moet die bepalings so wees dat daar op nooit meer as die helfte van so ’n toevallige oes aanspraak gemaak kan word nie, want dit moet altyd in die besit van die hoofeienaar bly.
7. Die huisdiere behoort weer tot die algemene besit, maar desondanks hoef hul produkte, soos melk en wol, nie akkuraat verdeel te word nie. Want daarby geld die reg van die 'primo occupanti'*. Onder voorwaarde egter dat 'n buurman nie die reg het om sy besitsreg uit te brei tot die melk wat 'n koei vir die huis van 'n ander gegee het nie. Veel eerder kom die reg hier toe aan die huis waaraan die koei haar melk gegee het en nie aan die buurman wat die eerste hand op die melkbak wil plaas nie.
*die 'primo occupanti': die een wat dit as eerste in besit neem
8. Verder behoort alle mineraleprodukte geheel en al in gelyke dele aan alle dorpsbewoners; daarom moet dieselfde aantal arbeiders deur elke huis beskikbaar gestel word. Soos dit met die mineraleprodukte gaan, gaan dit ook met die buit van die jag; ook dit word as 'n eenparige toekomstige buit vir alle inwoners beskou.
9. Produkte wat tot die huislike kuns behoort, is egter volkome die spesifieke eiendom van elke huis en kan slegs deur ruil of vriendskap aan 'n ander huis oorgedra word. Daartoe behoort by voorkeur verskillende musiekinstrumente en ook wel ander meganiese produkte, soos byvoorbeeld allerlei praktiese gebruiksvoorwerpe wat baie hier vervaardig word. Wat se produkte en instrumente dit is, sal egter nog op die regte plek vermeld word.
10. Omdat hierdie mense hulleself byna net so klee soos julle, soos wat reeds aan julle vertel is, kan julle wel aanneem dat hulle vir die vervaardiging van hul kledingstowwe van die wol van allerlei diere, ook verskeie wewers moet hê. Hierdie wewers werk nie in die woonhuise nie, maar vir hulle is daar gewoonlik in die middel van die dorp 'n groot wewershuis gebou. As die wol in die huise tot drade gespin is, word dit, met 'n teken van die huis daarop, na die groot wewershuis gebring. Daar word die gare dan spoedig tot die gewenste stof geweef, waarna dit weer deur die inwoners van die betrokke huis vir die vervaardiging van klere in ontvangs geneem word.
11. Nou sou iemand kan vra: Watter beloning kry die wewers vir hul werk? 'n Algemene, maar geen spesifieke beloning nie. So ’n wewershuis is naamlik deur die hele dorpsgemeenskap gebou. Die wewers hoef verder vir niks te sorg nie, want elke huis gee jaarliks 'n sekere deel van sy hele oes aan die wewershuis af. Daarteenoor het die wewers dan weer die verpligting om aan elke huis die verlangde arbeid te lewer en wel sonder spesiale vergoeding.
12. Dieselfde geld ook vir diegene wat die klere vervaardig, want hier is ook egte kleremakers en skoenmakers, wat ook sonder spesiale beloning moet werk, omdat ook hulle, net soos die wewershuis, deur die hele gemeenskap onderhou word.
13. Nou ken ons al byna alle huislike reëls en weet ons hoe hierdie dorpsgemeenskappe met mekaar lewe. Daar bly dan net nog die vraag oor of hier dan nie 'n leier is nie?
14. In werklikheid is daar geen leier hier nie, maar berus alles op wedersydse ooreenkomste. Desondanks word die oudstes van die dorp, wat ook priesters en leraars is, tog in belangrike kwessies as raadgewers beskou, en as hulle saam iets besluit het, dan word so ’n besluit onherroeplik deur die hele gemeenskap aanvaar.
15. Is daar ook keisers en konings? O nee! Elke dorp as geheel is in alle opsigte heer en meester. Om hierdie rede word hier ook geen belasting gehef en geen oorloë gevoer nie. Verder lê die dorpe gewoonlik sovêr van mekaar af, dat elke dorp, om in sy onderhoud te voorsien, 'n stuk land ter beskikking het wat dikwels groter is as julle hele Oostenrykse keiserryk.
16. Nou weet ons, behalwe die binnenshuise reëls, alles wat die inwoners van hierdie planeet aanbetref. Genoemde huisreëls, asook betrekkinge met die naburige dorpe sal ons die volgende keer in oënskou neem. En dus genoeg vir vandag!
|
|
|
|
|