DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 24

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 22 Die allerheiligste, sogenaamde brandende tempel. Dieper inwyding in die geheime van die menswording van God en die kindskap van God. God die Vader Self as leier 1. Wie uiteindelik uit die brandende bos op die vrye grond van die werklike Kalvarieberg gekom het, word dadelik deur 'n wyse man, wat voortdurend op so `n plek woon, ontvang en in sy woonhuis ingelei, wat net so heel eenvoudig is. Daar word hy gasvry verwelkom en daarna deur die wyse na 'n effens hoër geleë klein tempel gebring. 2. Daar sien hy dadelik 'n beeldegroep wat die laaste avondmaal uitbeeld. 3. Vanuit hierdie tempel word hy dan na 'n vrye ruimte gebring; daar sien hy 'n groepering wat Christus met Sy apostels uitbeeld in die tuin van Getsémané op die Olyfberg. 4. Weer ietwat vêrder op staan 'n groepering wat die gevangeneming van die Heer uitbeeld. En so gaan hy in 'n sirkel rondom die heuwel van die een groepering na die ander, waarby deur elke groepering agtereenvolgens 'n spesifieke lydingsmoment van die Heer uitgebeeld word, en dit steeds op 'n baie betekenisvolle wyse. 5. Ten slotte, heeltemal bo-op die heuwel geleë, is daar 'n groot vrystaande kruis, waaraan die gestalte van die Heer in aards-menslike vorm gehang is en waar aan beide kante aan veel kleiner en laer kruise die bekende twee misdadigers te siene is. 6. Wanneer die gas dit alles voldoende met die allerdiepste aandag van sy hart beskou het, dan lei die wyse hom vanaf die heuwel na 'n effens laer geleë klein tempel. Daarbinne is die graf te sien 7. Laastens toon die leier hom baie naby aan die brandende bos 'n nog ietwat groter tempel, wat voortdurend met die helderste vlamme brand. Die vlamme het, veral wanneer ’n mens steeds nader daaraan kom, so 'n indringende ligstraling, dat dit selfs vir die oog van 'n sonbewoner, wat tog aan buitengewoon veel lig gewoond is, ondraaglik word. Daarom neem die leier vir daardie doel ook altyd 'n toepaslike sluier of anders gesê, 'n oogbedekking saam, waarmee die gas dan die buitengewoon sterk lig van die vlamme van hierdie tempel kan verdra. Hoe helder hierdie vlamme egter ookal sy, niemand wat in daardie omgewing kom (vanselfsprekend op waardige wyse!) brand hulself daaraan nie, maar dit waai net saggies en koel om hom heen soos 'n louwarm westewind. 8. Dan word die gas deur die leier in hierdie brandende tempel ingelei. Daar, in die middel van die tempel, sien hy 'n klein altaar, dit wil sê 'n verhoging in die vorm van 'n pilaarvormige tafel, waarop die Heilige Skrif van die Ou- en Nuwe Testament geplaas is, en wel geskryf in Oud-Hebreeus. 9. Hier vra elke gas aan die leier wat dit nou kan beteken. En die leier sê maar net aan hom dat dit 'n boek is waarin die woord van God, Sy leiding van die hele menslike geslag en ook die leiding van die hele oneindigheid aan die hand van die innerlike betekenis met spesiale karakters opgeteken is. 10. Daarop vra die gas of ’n mens sulke tekens wel hier sou kan of mag lees. En die leier sê aan hom: 'Wie hierheen kom, is verplig om dit alles te verstaan, want dit is die eintlike rede waarom iemand sovêr kom.' 11. En verder sê die leier: "Kyk, omdat jy jou wil al so magtig gemaak het dat die grondbodem van die son hom gehoorsaam, weet dan dat ook hierdie tekens gehoorsaam is aan 'n opregte en regverdige wil, en sal sigself openbaar aan die opregte en regverdige wil van diegene wat hierdie karakters sou wil leer ken.' 12. Daarna dra die leier die gas op om die boek aan te raak. En sodra die gas die boek aanraak, deurstroom 'n vuur hom onmiddellik. Na hierdie deurstroming is die gas dan ook in staat om die karakters baie goed te lees. Sodra die gas dan die boek begin lees, word hy deur die allerhoogste bewondering aangegryp en beskou teen hierdie tyd niemand gelukkiger en saliger as hyself nie, aangesien hy nou vir die eerste keer woorde verneem wat direk uit die mond van God gestroom word, waardeur hy ook die wonderbaarlik liefdevolle leiding van die grote God aanskou. 13. Die sterkste deurdronge en aangegryp word so ’n gas egter wanneer hy by die Nuwe Testament kom, want hierin word die Kalvarieberg ook vir hom onthul, en gewoonlik weet hy dan van louter lof, dank en lofprysing geen raad nie en kan hy nie verstaan hoe dit moontlik kon gewees het dat die grote God so-iets aan Homself kon laat voltrek nie. 14. Eers daarna toon die leier die groot liefde in God aan hom en word daar aan hom gesê dat juis deur hierdie handeling die mense, en veral hulle wat op die aarde woon, ’n werklike kinderreg verkry het, waardeur elkeen dan selfs gebonde is aan die plig om die grote God as die mees liefdevolle Vader te leer ken en Hom ook aldus aan te roep. 15. Daarna vra die gas weer aan die leier of die mense op die son ooit so ’n onuitspreeklike geluk sal behaal. En dan gee die leier aan hom die antwoord: "Nie net die mense van die son nie, maar alle mense wat al die sonne en alle planete van die hele oneindigheid bewoon, het daardeur 'n verborge reg op hierdie onmeetlike geluk. Hulle kan hierdie geluk egter op geen ander manier bereik as slegs langs die weg van die diepste deemoed en, hieruit voortvloeiend, langs die weg van volkome liefde van hul hele wese vir God nie! ' 16. Na hierdie deurlees en onderrigting verlaat beide dan weer die tempel en begewe hulle vandaar weer na die woning van die wyse leier, waar hy die gas eers by alles 'n toepaslike opheldering gee, wat volgens julle tydrekening gewoonlik 'n tydperk van drie aardse jare duur. Dit spreek vanself dat daar gedurende hierdie tyd nog dikwels togte na alle voorafgenoemde plekke gemaak word. 17. Eers aan die einde van hierdie onderrig maak die leier aan die gas bekend dat daar, bokant hierdie hemelliggaam wat hulle bewoon, in die volmaakte liggebiede, 'n nog veel volmaakter wêreld bestaan, waar alle sonbewoners die volmaakte onderrig oor die menswording van die Heer in die gees sal ontvang, en dat hulle daarna, as hulle wil, ook as werklike kinders van God opgeneem kan word wanneer hulle in staat is om hulself daar tot op die laaste atoom van hulle wese sodanig te verdeemoedig, dat hulle as inwoners van 'n volmaakte wêreld as sodanig die laaste en minste dienaars sal wil wees van die kinders van God, wat Hyself as mens op die planeet aarde of Pjoer tot Sy kinders gemaak en aangeneem het. 18. 'Want', sê die leier verder, "ons inwoners van die son lewe in groot volmaaktheid en is as gevolg van ons wil volmaakte meesters oor ons wêreld. Daarom sal dit altyd moeilik vir ons wees, wanneer ons onsself by diegene moet voeg wat met hulle wil nie eens in staat is om 'n grashalm vanuit hul aarde te ontlok nie. Maar, my beste gas, soos wat jy kan aflei uit alles wat jy gesien het, het die groot Heer van die hemel en alle wêrelde geen welbehae in die grote en sterke nie, maar in die klein en swakke, en wel so, dat Hy aan onmondige kinders en heel eenvoudige mense groter dinge openbaar as aan die aller diepsinnigste engelgeeste. Wanneer ons sonbewoners ook die kindskap wil bereik, is daar dus niks anders as om al ons son-grootheid, mag en krag vrywillig aan die voete van die grote God te plaas en ons baie bereidwillig en liefdevol selfs benede die stand te begeef van hulle wie Hy liefhet. Sy liefde strek weliswaar uit oor alle menslike wesens in die hele oneindigheid. Maar verstaan dit goed: Slegs Sy kinders sal eens ewig saam met Hom onder één dak woon. Streef jy ook dus voortaan daarna om die kleinste en minste te wees en wees 'n dienaar van alle mense met wie jy in kontak sal kom, en dan sal jy die aandag van die ewige Vader op jou vestig; en hierdie aandag is die eerste vonk waardeur jy 'n nuwe lewe sal kry, 'n lewe om ’n kind te word van die grote Vader! ' 19. Hierna neem die leier die gas weer saam en lei hom nog eenmaal tot by die tempel, wys omhoog na die kruis en sê dan aan hom: "Kyk, my beste broer, dit is die weg na Hom! Indien jy as kind die Vader wil bereik, dan moet jy die pad van die kruis kies! ' 20. Hierdie weg is egter die ware deemoed van die hart, want die kinders moet na Hom (die Vader) lyk. Hoe sou iemand die kindskap egter van Hom kan ontvang, wanneer hy hom nie uit liefde vir Hom só kan verdeemoedig as wat dit 'n kind teenoor sy Vader betaam nie? Immers, die Vader het Homself tog uit liefde vir Sy kinders smartlik aan die kruis laat slaan om na die vlees selfs vir hulle te sterf, sodat daardeur niemand in ewigheid meer die dood sou voel en smaak nie, wanneer hy Hom bo alles sal liefhê en deur sy deemoed deelgeneem het aan hierdie heilige kruis, waarop die groot heilige Vader vol liefde Sy almagtige hande bloeiend vir die hele oneindigheid uitgestrek het. 21. Kyk, daarom is hierdie meer as heilige beeld ook hier geplaas, sodat ons ook sal insien dat Hy ook vir ons Sy hande uitgestrek het. Ook ons wil Hy omvou, maar eers moet ons via die weg van die kruis, wat deur jou aangedui is, na Hom toe kom. Kyk daarom nogmaals na hierdie heilige teken!' 22. Hiermee sink die gas, nog aangegryp deur ’n te hoë liefde en ontsag, op die aarde neer en aanbid hierdie groot geheim! 23. Wanneer hy homself weer van die aarde af oprig, kyk, dan het alles op hierdie berg verdwyn, behalwe die woning van die leier en die leier self. Hy neem die gas dan saam, lei hom weereens die heuwel op en vra hom daar of hy dit alles goed in sy hart opgeneem het, wat die gas dan met elke atoom van sy lewe bevestig. 24. Dan plaas die leier die hande op hom en spreek met hom: "Wat jy hier gesien het en gehoor het, moet jy voorlopig in jou hart bewaar tot aan die tyd waar dit die Vader sal behaag daarom aan alle mense van hierdie wêreld bekend te maak, óf reeds hier aan diegene wat 'n groot verlange na Hom het, maar tog vas en seker aan die anderkant in die gees aan almal wat van opregte en volkome goeie wil is. 25. Maar jy: Herken nou jou leier! Want kyk, Ek is die Vader!!! Maar sê aan niemand wie hierdie Leier is nie! 26. Daarop verdwyn die Leier. Net Sy woning bly. Die gas gaan dan weer in hoogste liefde en voortdurende aanbidding terug na die woning van die Leier, waar 'n ander wyse man, wat hier in die omgewing woon en wat hom die eerste keer ontvang het, hom weer opvang en hom daarna deur die brandende bosse vergesel wat nou nie meer brand nie, tot by die dam, wat op hierdie terugweg geen water meer sal bevat nie. 27. Dan gaan hierdie tweede leier weer terug. Die gaste keer terug na die derde tempel, vervul met 'n verhewe en liefdevolle, deemoedige stemming. 28. Daarna durf niemand vir ’n geruime tyd meer uit groot ontsag 'n woord met hom wissel nie, totdat hulle aan die handelswyse van so Kalvarieberg-pelgrim sien dat hy werklik, waar dit maar moontlik is, aan almal die mees bereidwillige dienste verleen. 29. Kyk, dit is op die son die hoogste ontwikkeling van 'n leraar. Dit is ook alles, en vir julle begryplik, wat daar verder nog oor die Kalvarieberg op die son gesê kan word. 30. Hierna sal ons nog enkele huislike gedragsreëls van die sonbewoners van nader beskou. En dus genoeg vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205