|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 41
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 39
Algemene voorskrifte. Sosiale verhouding tussen man en vrou
1. Die maatskaplike inrigting behels op sigself niks anders as die eintlike seremoniële deel van die godsdiens nie en bevat die reëls wat, met betrekking tot die innerlike godsdiens, altyd nougeset in ag geneem moet word.
2. Weliswaar is hierdie reëls op hierdie ooreenstemmende planeet Jupiter aansienlik veelsoortiger as op hierdie songordel, maar desondanks staan die reëls van hierdie songordel, wat die goeie deel aanbetref, in die korrekte verhouding tot dit wat op die planeet Jupiter is.
3. Want hier is daar geen ander politieke leier as die huisvader nie, terwyl daar op die planeet Jupiter hier en daar mense is wat hulself ook as here beskou en wat wil hê dat hulle ook as sodanig erken word en diegene wat dit weier, selfs met geweld en tugtiging daartoe dwing. En so is daar op hierdie planeet ook mense wat hulself as halfgode beskou en middelaars wil wees tussen My en die volk. Hierdie mense wil dan ook heer en meester wees en as sodanig erken word. Wie hom nie daarby wil hou nie, word deur hulle verdoem en in besondere gevalle word sulke opstandige mense selfs daadwerklik tot die vuurdood verdoem en veroordeel! Hierdie here is in ’n sekere sin ook heidene en aanbid die son as die aangesig van God, hoewel hulle My nie direk as Heer ontken nie. Die verskil tussen hierdie, egter nie so dikwels voorkomende nasies van hierdie planeet en die goeie inwoners van hierdie planeet, is dat hierdie here oor My beweer dat Ek die allerhoogste en allergrootste Heer is, terwyl die goeie sê, dat Ek die enigste Heer is!
4. Kyk, onder sulke en nog ander omstandighede, wat op die planeet gangbaar is, moet die maatskaplike reëls dan natuurlik ook wel onvergelyklik veelsoortiger wees as op die ooreenstemmende gordel van die son, waar absoluut geen here, geen middelaars en wel allermins heidense halfgode is nie. Daarom moet julle die reëls wat hier bekendgemaak word, op die toepaslike planeet ook nie as algemeen geldend beskou nie, maar slegs die beste deel daarvan.
5. Waaruit bestaan die maatskaplike reëls op die vierde songordel dan? Enkele het ons al leer ken toe ons die huisreëls beskryf het en dus bly daar nog enkele besonder kenmerkende reëls ter beskouing oor.
6. Die eerste reël het betrekking op die taal. Op grond daarvan is dit vir elke gordelbewoner 'n innerlike plig om hom veral oor geestelike sake nooit deur middel van die gesproke woord te uiter nie, maar slegs deur mimiek of gebaretaal, wat uitgebeeld word met die oë, die voorkop, die lippe, die mondhoeke, die ken en beide kake, ondersteun deur die hande. Net oor natuurlike dinge en met vreemdelinge mag en kan hulle hulleself van die spreektaal bedien.
7. Deur dit vroegtydig te oefen, is elke bewoner van hierdie vierde songordel in staat om dit te doen op 'n soortgelyke ongedwonge wyse as waarop julle op aarde in 'n pragtige tuin sou wandel, veral wanneer dit heeltemal julle eiendom sou wees.
8. Dit is dus één reël. 'n Ander reël is dat die mense van hierdie gordel, as hulle gesamentlik iewers heengaan, nooit agtermekaar mag loop nie, behalwe die vroue, wat agter hul mans loop. Op die planeet is dit nie eers vir die vroue toegestaan nie. Daarom kyk beide die inwoners van die planeet Jupiter, asook die van die toepaslike songordel, telkens agterom om te sien of daar nie iemand agter hulle loop en hulle van agter bekyk nie. Word daar iemand gesien wat so `n geselskap, of ook 'n individuele mens volg, al is dit ook op ’n taamlike groot afstand, dan bly die hele geselskap en ook die individuele persoon staan. Almal draai om met hul gesigte na hom toe gerig, en keer hulleself nie weer om, alvorens die agter opkomende hulle ingehaal het nie.
9. Op daardie oomblik word hy ook dadelik gevra of hy, toe hy hulle gevolg het, nie iets van hul rûe gesien het nie. As die ondervraagde toegee dat hy wel iets daarvan gesien het, word hy met 'n sagte berisping verwyt en daar word vir hom gesê dat hy dit beslis nie verder teenoor niemand moet vertel nie. As hy egter niks gesien het nie, dan word daar net aan hom verduidelik dat hy maklik in 'n gevaarlike situasie kon geraak het as hulle hierdie keer nie so vinnig omgekyk het nie.
10. Nou sal julle julleself sekerlik afvra: Waar kom hierdie origens so buitengewoon saggeaard en goeie mense aan sulke kinderagtige gedrag? Ek sê egter vir julle: Hoe kinderagtig hierdie gedragsreël met die eerste oogopslag mag lyk, tog het dit 'n heel wyse rede, wat julle weldra sal insien.
11. Daar is al gewag gemaak van hierdie sosiale inrigting, in ’n sekere sin, wat die seremoniële deel van die innerlike godsdienstige kultuur behels; daarom is so ’n gedragsreël ook te verontskuldig. Hoe egter? Dit sal dadelik volg.
12. Die gesig en trouens die hele voorkant van die mens stel die waarheid voor; die agterkant egter die leuen. Omdat hierdie mense egter die leuen as die mees mensonterende sonde beskou en hulle, uit groot liefde vir hulle broers, altyd die volle waarheid praat en daar absoluut niks slegs by hulle te vinde is nie, wil hulle selfs dat die deel van hul liggaam, wat met die leuen ooreenstem, nooit aan 'n baie geliefde broer getoon word nie, al is dit ook net sinnebeeldig. Want hulle sê: Die een broer sal vir sy ander broer niks hê wat so geheim is dat hy dit vir hom sou moet verberg nie, want niemand kan met sy rug aan sy broer toon wat daar in sy hart omgaan nie. Wie dus sy broer die rug toekeer, probeer om sy hart vir hom te verberg, maar wie altyd teenoor sy broer openlik en eerlik wil wees, moet steeds sy rug van die aangesig van sy broer wegkeer, sodat hy nooit ook maar die minste aanleiding sou hê om van sy broer te dink dat hy iets van hom wil verberg nie. As die mees liefdevolle, enigste Heer van hemel en aarde nou teenoor ons mense en al Sy skepsele reeds baie versigtig vermy om hulle die rug toe te keer, in plaas van die allerheiligste aangesig, waaruit ons die ewige lewe en alle wysheid ontvang het, waarom sou ons mense dit dan nie onder mekaar in ag neem wat die mees liefdevolle, enigste Heer van hemel en aarde vanuit Sy ewige en eindeloos wyse orde teenoor ons mense en teenoor alle skepsels in ag neem nie?!
13. Kyk, vanuit hierdie oogpunt beskou, verloor die gordelbewoner deur die inagneming van hierdie reël, deur die oë van die ware wysheid gesien, dan ook niks nie. Want waar daar ook maar een handeling in liefde vir My en vir 'n broer 'n toepaslike agtergrond het, daar hou dit ook op om onsinnig te wees. As 'n handeling egter, al lyk dit ook hoe pragtig, eieliefde en eiebelang as agtergrond het, dan is dit ook in die oë van suiwere geeste dwaas en kinderagtig.
14. Nou het ons ook hierdie reël leer ken en ons sal dadelik weer 'n ander in oënskou neem. Hierdie derde reël word by voorkeur in die woonhuis in ag geneem. Wat hou hierdie reël in? Dit hou in dat tydens die rusperiode binnenshuis niemand na buite mag kyk nie, maar dat almal hul oë op die inwendige van die huis moet rig. Waarom dan eintlik? Omdat hierdie mense sê: Tydens die rus moet ons ons oë op God rig. God is egter die inwendige van alle dinge, ooreenkomstig Sy oneindige liefde. Daarom stem die inwendige van die woonhuis ooreen met God se liefde, waarvan geen mens ooit sy blik moet afwend nie.
15. Op die ooreenstemmende planeet het die mense in hul ietwat anders gevormde woonhuise ook beddens, wat hulle gewoonlik met vyeblare opgestop het, want vye kom volop op hierdie planeet voor. Hierdie beddens is steeds so geplaas dat die slapendes met hul gesig na die inwendige van die huis gekeer lê. Op die ooreenstemmende songordel is daar in die woonhuise egter geen beddens nie, maar slegs die reeds beskrewe rusbanke tussen die pilare. Op hierdie rusbanke sit, soos al voorheen genoem, die mense dan sodanig dat hul gesigte na die inwendige van die huis gekeer is.
16. Slegs wanneer hulle die maaltyd gebruik, gaan hulle die twee buitenste gange van hul woonhuis binne en keer dan hul gesigte na buite toe, omdat hulle, soos hulle self sê, daar hul liggaam óf hul uiterlike natuur dien, en hierdie diens moet nie met die dien van God vermeng word nie.
17. Kyk, daarmee het ons weer 'n paar van sulke maatskaplike reëls, wat by noukeurige ondersoek beslis 'n baie wyse basis het. Ons gaan dus nou weer oor tot 'n ander maatskaplike reël. Hoe lui dit en wat hou dit in?
18. Die reël het betrekking op die sit buitenshuis op 'n vrye plek, soos byvoorbeeld in die skaduwee van reusagtige groot bome. Elke mens, van beide die manlike sowel as die vroulike geslag, is verplig om te sit, ongeveer op die manier soos die Turke by julle, naamlik met gekruiste bene, en wel altyd in 'n kring, met die rug na buite en die gesig na die middel van die kring gekeer en daar moet altyd, sovêr moontlik, 'n vrou tussen twee mans sit.
19. Hierdie sit ordening van die gordelbewoners behoort tot die eintlike sosiale lewe, want gedurende so `n sessie word daar ook altyd baie gepraat, en so word die tyd met aangename dinge en in ’n verhewe stemming deurgebring.
20. Waaroor praat hulle dan gewoonlik? By so 'n geleentheid, waarby `n mens homself gewoonlik van die spreektaal bedien, maar nooit hard nie, word daar allerlei sake en verskynsels bespreek. Die mees geliefde tema van hul gesprek bly egter altyd die mees liefdevolle, enige Heer. Wanneer hulle oor Hom begin praat, kom daar in die gesellige kring nie maklik 'n ander tema aan die beurt nie.
21. As 'n mens egter op hierdie onderwerp kom, word daar ook onmiddellik met die gesproke woord gestop en die mense gaan oor in die gebaretaal. Julle moet egter nie die gebaretaal voorstel as die onbegryplike, dwase mimiek van julle aardse komediante nie, want die taal van hierdie gordelbewoners is 'n taal van die gees en dit is 'n volmaakte taal, waarmee iedere ding aangedui kan word, terwyl die spreektaal daarenteen, selfs in haar grootste volmaaktheid, maar hoogs armsalige lyk. Sodat julle egter van hierdie taal 'n beter begrip vir julleself kan vorm, sal Ek dit vir julle met 'n voorbeeld toelig wat vir julle begryplik sal wees.
22. Sit net twee sogenaamde heldersiende mediums bymekaar; laat die een byvoorbeeld in gedagtes 'n brief aan iemand opstel en stel die tweede met die eerste in 'n magnetiese verbinding en hierdie tweede een sal dan dadelik in staat wees om die brief, wat die ander in sy gedagtes gehad het, op te skryf. Kyk, hierdie heel verstaanbare voorbeeld gee aan julle 'n helder begrip van die hoedanigheid van die gebaretaal van hierdie gordelbewoners.
23. Dit is dus weer 'n goedgegronde en doelmatige reël. Laat ons nou weer na 'n ander oorgaan, wat behels dat elke man, wanneer hy die woord tot 'n vrou rig, baie goed moet oplet dat hy nie te hard praat nie. Want 'n te hard gesproke woord, gerig aan ’n saggeaarde vrou, sou haar kon laat dink dat die man iets teen haar het en dit sou dalk, beide op die tere organisme sowel as op haar gees, so ontstellend kan inwerk, dat sy daardeur onvrugbaar kon word.
24. Om hierdie rede is die sagtheid wat die man vir die vrou aan die dag lê dan ook so buitengewoon, dat julle op julle ruwe aarde onmoontlik 'n voorstelling daarvan kan maak. Hierdie sagtheid bring dan ook by die eggenote 'n geluksaligheid teweeg, waarvan julle ook geen voorstelling kan maak nie.
25. Dat die waarde van 'n vrou deur haar betoonde sagmoedigheid en sagtheid ongelooflik sterk bevorder kan word, kan julle selfs op julle aarde ietwat verstaan. As julle julle in 'n geselskap sou bevind, dan sou die vroulike wese wat daarin die algemene agting geniet, julle tog sekerlik die meeste beïndruk en hoe meer so wese met agting, onderskeiding en inagneming behandel sou word, des te gelukkiger sou julle julleself in haar nabyheid voel. Dit is weliswaar net 'n baie swak voorbeeld, omdat ’n mens op julle aarde absoluut geen beter kan vind nie. Maar desondanks kan dit julle tog ietwat help om te verstaan en van naderby te kan beskou, waarom daar op die vierde paar songordels, die vroulike geslag ten eerste so buitengewoon sag, sagmoedig en vol innige liefde is, en ten tweede, waarom daar aan hierdie karakter ook altyd op 'n heel natuurlike wyse 'n uiterlike, buitengewoon bevallige skoonheid verbonde is.
26. Want dit is tog meer as seker dat die uiterlike vorm van die liggaam 'n afdruk van die innerlike karakter is. Wanneer daar by julle afstootlike vorme bestaan, is dit veroorsaak deur die baie jare lange verdorwenheid van die karakter van die stamouers. Word die karakter egter steeds meer veredel en gaan sy in haar diepste wese steeds meer na My lyk, dan sal ook die uiterlike afdrukke daarvan steeds edeler en meer verheerlik tevoorskyn kom.
27. Daaruit kan julle dan ook aflei dat die vroue van hierdie gordel buitengewoon mooi is en in 'n sekere sin oral liefde en die grootste bevalligheid en lieftalligheid uitstraal. Daardeur word die reël dan ook weer verstaanbaar dat die man homself in ag moet neem wanneer hy teenoor die vrou spreek.
28. Met hierdie reël sal ons vandag dan ook afsluit en die volgende keer voortgaan met enkele nog veel belangriker maatskaplike reëls. Genoeg dus vir vandag!
|
|
|
|
|