DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 11

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 9 Die menserasse van die son en hul woongebiede. Die sonnegordels. 1. Aan die slot van die vorige mededeling is gesê dat ons saam met die sonbewoners so ’n deurbraak wil bekyk, vanaf die eerste ontstaan tot by, soos vanselfsprekend, die volle afloop daarvan. Dit sal ons dan ook nou doen. 2. Voordat ons dit egter op 'n manier wat vir ons nuttig is, kan doen, moet ons eers tog ietwat nader kennismaak met die inwoners van die buitenste son. 3. Hoe lyk hulle, en in watter omstandighede lewe hulle onderling? Is hulle eintlik meer geestelike of meer materiële mense? En bestaan daar slegs één soort mense, of bestaan daar verskeie soorte op hierdie groot planeet? 4. Reg aan die begin is reeds vermeld dat alles op die sonlig¬gaam in die mees volmaakte sin van die woord en betekenis voorkom, wat op alle ander planete slegs as ’n kiem, veel onvolmaakter, meer misvorm en ook meer verhard voorkom. 5. Dit is ook die geval met die mense. Derhalwe kan julle op die sonplaneet nie net alle mense-soorte van hierdie aarde, maar ook die van alle ander planete en hul mane in die volmaakste sin aantref, veral wat die vorm aanbetref. Natuurlik is ook die mens, net soos al die ander, tot die hoogste volmaaktheid van vorm ontwikkel, en wel soseer, dat julle op die hele aardoppervlak nêrens so ’n mooie en volmaakte mensevorm as op die son¬planeet sal aantref nie. Ja, julle kan regtig glo dat 'n man of 'n vrou op die son liggaamlik so buitengewoon mooi is, dat julle die skoonheid geen drie sekondes lank sou kan aanskou, sonder om julle lewe te verloor nie. Want afgesien van die buitengewoon groot oorvloed aan prag wat die vorm aanbetref, is die liggaamlike uitstraling van die sonmense op sigself al so sterk, dat as daar op 'n berg, minstens tien myl van julle vandaan, een of ander sonmens sou staan, julle deur sy louter ligglans, nie in staat sou wees om na hom te kyk nie. Digterby sal sy glans julle feitlik oombliklik tot as verbrand. Die vrou is ook op die son nog veel ronder en sagter as die man, maar die uitstraling van haar liggaam is minder sterk as die van die man. 6. Nou kan julle dalk vra: "Ja, as dit so is, hoe kan hierdie son¬mense dan eintlik in hierdie vorm bestaan, sonder om ineens deur hul eie lig opgelos te word, want hulle sal tog ook beslis 'n min of meer materiële liggaam hê? "Daarvoor is wel deur My gesorg. Op aarde bestaan daar weliswaar geen materie wat bestand is teen die sterk sonlig nie, maar die materie van die son staan al weer op ander wette as die van 'n onvolmaakte planeet. So bestaan ook die materie van die liggaam van 'n sonmens uit 'n heel ander stof as die materie van julle liggaam en daarom is dit selfs teen die aller intensiefste strale bestand, aangesien dit in 'n sekere sin meer geestelik is en dus ook onvergelyklik veel eenvoudiger as die van julle. Onder sulke omstandighede kan die sonmense dus baie goed bestaan, hulleself oor hul lewe verheug en dit vir die nuttigste doeleindes aanwend. 7. Die mooiste van alle mense van die son is egter die blanke; hoewel ook mense met alle ander kleure bepaald nie as lelik aangemerk kan word nie. 8. Die grootte van die sonmense is eweneens baie verskillend. Op die ewenaar, of beter gesê, in die omgewing van die ewenaar, woon die kleinste mense van die son. Hulle is nie veel groter as 'n baie groot man by julle op aarde nie. Hierdie mense is almal feitlik wit van kleur en is dus die mooiste op die hele sonplaneet. Rondom die pole van die son woon egter haar grootste mense, byna donkerrooi van kleur, maar eweneens helder glansend. Indien so `n mens op aarde sou staan en homself op die vlak van seespieël sou bevind, sou dit glad nie vir hom moeilik wees om, sonder om sy hand na bo uit te strek, die top van die Himalaya-gebergte tussen duim en wysvinger te gryp en na die suidpool van die aarde te slinger nie. Van hierdie grootste mensesoort neem die grootte steeds af tot by die van diegene wat by die ewenaar woon. 9. Nou sal julle vra: Wat doen sulke enorme reuse dan wel met die kleiner mense, wanneer hulle hul eventueel tydens 'n reis teëkom? Hierdie vraag is volkome oorbodig, want op die sonplaneet is elke mensesoort deur die natuurlike planetêre omstandighede van die son op haar eie plek aangewys, en hy kan dit ewemin verlaat as julle die aarde, ook al sou julle hoe graag 'n reis na die maan wou maak. 10. Nou sal julle wel weer vra: Hoe moet ons dit verstaan? 'n Reis na die maan is weliswaar onmoontlik, omdat sy as ’n deel wat van die aarde geskei is, te vêr van haar verwyder is. Maar die son is 'n samehangende liggaam, wat oral een en dieselfde oppervlak het; waarom sou 'n verre reis dan vir die een of ander mensesoort onmoontlik wees? 11. Wees maar 'n bietjie geduldig. Ons sal die onmoontlikhede dadelik van naderby ondersoek. Luister dus! Ten eerste het die bodem van die sonliggaam beide van die een as van die ander pool na die ewenaar toe ’n baie ongelyke digtheid, en wel so, dat die bodem van die son om die pole byna net so stewig is as die bodem van julle aarde; maar dit is nie so stug en breekbaar nie. Hierdie bodem is baie geskik vir die voorafgenoemde reuse. As die bodem sagter begin te word, is hy nie meer geskik om die gewig van so reus te dra nie. Sou hy daar 'n reis wou voortsit, sou hy weldra begin te wankel, en by nog verdere voortsetting van die reis, met elke tree tot oor sy middel in die elastiese, sagte bodem insink, amper soos wanneer julle op 'n baie groot kussing, wat ongeveer drie vadem dik sou wees, 'n wandeling sou wou maak. Hoe sou dit gaan met julle wandeling oor so met dons gevulde kussing? Sou julle nie reeds by die eerste stap daarin wegsak nie, waarna dan alle verdere moeite om daaroor te loop, vergeefs sou wees, ook al sou die afstand minder wees as hoogstens honderd vadem? As julle egter 'n muis op so 'n kussing sou sit, dan sal hy baie goed oor die kussing kan loop en 'n vlieg nog makliker. Kyk, dit is vir sulke wandelinge al 'n belemmering, met die gevolg dat elke mensesoort blywend op haar eie omgewing aangewese is. 12. ’n Tweede belemmering is die voeding vir die verskillende kategorieë mense, want soos wat die bodem is, so word die produkte ook voortgebring, hetsy ook deur die wil van die mens. Hoe moet dit verstaan word? Byna net soos by julle op aarde, net in ’n baie volmaakter sin, want ook die sonbodem gehoorsaam nie oral op dieselfde wyse aan die wil van die mense nie, net soos die bodem op aarde ook nie op dieselfde wyse aan die werksaamheid van die mense gehoorsaam is nie. Al sou iemand ook op sy kop gaan staan, sal hy geen pynappels op Spitsbergen produseer nie, terwyl in die teenoorgestelde geval, die mees ervare tuinier geen ysmos of die sogenaamde rendiermos in die omgewing van die ewenaar tot stand sal kan bring nie. 13. Op aarde rig die vrugbaarheid van die aardbodem haarself volgens die klimatologiese- en warmte omstandighede. Dit is natuurlik nie die geval op die sonplaneet nie, hoewel dit ook daar by die pole ietwat koeler is as by die ewenaar. Daarom rig die vrugbaarheid van die bodem haarself slegs volgens die toe- of afnemende sagtheid daarvan. Natuurlik kan 'n mens van vaster bodem ook wel op 'n sagter bodem iets tevoorskyn roep, of liewer, hy sou dit kon doen. Slegs sal dit wat hy tevoorskyn geroep het, wel ongeveer die vorm van sy wil hê, maar dit sal egter veel kleiner, swakker en sagter wees, waardeur dit dan ewemin sal voldoen aan die behoefte van die maag van die een wat dit tevoorskyn geroep het, as wanneer julle byvoorbeeld op 'n alp die maag met skraps steenmos sou moet versadig, waar beslis niemand vet van sou word nie. Indien daar dus dalk 'n mens vanuit 'n poolstreek van die son homself deur eventuele moontlike kunsgrepe na die ewenaar sou verplaas, dan sou hy daar sonder genade of pardon moet verhonger. 14. ’n Derde hindernis word gevorm deur die verskillende groot watersirkels, wat van pool tot ewenaar sewe keer 'n versekerde skeiding in die vaster aardbodem aanbring. So ’n watersirkel het altyd 'n breedte van verskeie duisende myle en het in die middel dikwels 'n diepte van tien tot twintig myl. 15. Die water van die son is baie ligter as op die planete; daarom is dit nie geskik vir skeepvaart nie en jy kan gladnie daarin swem nie. Dit is dus 'n onoorkomelike, vir die sonmense onoorwinbare hindernis; daarom bly hulle ook heel rustig op hul plek en weet nie of daar verby so watersirkel miskien nog land tevoorskyn sal kom nie. Hulle is eerder van mening dat hul wêreld by die begin van so watersirkel eindig, en dat die water tot in alle ewighede uitstrek. 16. ’n Vierde hindernis, wat ons nog nouliks hoef te vermeld, word gevorm deur die baie vulkane en ander hoë berge langs die oewers van so watersirkel. Die vulkane raas en woed meestal onophoudelik en hier en daar selfs so geweldig, dat julle op aarde vir julleself absoluut geen voorstelling daarvan kan maak nie. Want daar is sommige kraters wat groter is as julle hele Europa en elke oomblik skiet daar onder die heftigste geraas en gekraak triljoene van die hewigste bliksems uit. Van sulke geweldige natuurtaferele is die sonbewoners egter absoluut geen groot liefhebbers nie. By hulle is dit dus ook daadwerklik, soos wat julle sou sê: 'Bly flink uit die buurt, dan bly jy buite skoot. "Hierdie vulkane vorm vir die mense wat in die binneland woon 'n hindernis tot ’n poging om 'n reis rondom die wêreld te maak, en daarom bly hulle, soos gesê, altyd lekker by die huis. 17. Daar bestaan weliswaar nog enkele struikelblokke, maar die reeds genoemde is voldoende om julle te laat sien hoe die verskillende soorte mense op die sonplaneet en wat ook in grootte verskil, heel rustig op een en dieselfde hemelliggaam kan lewe. Hiermee het ons nou vooraf heel oppervlakkig gepraat oor die plaaslike omstandighede van die mense, asook die mense self beskou en ons kan onsself dus weer na ons mooiste mense van die son begewe, wat daar by die ewenaar woon, en saam met hulle die natuurtafereel van die son bekyk, wat ons direk aan die begin van hierdie mededeling van vandag bespreek het.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205