|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 53
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 51
Huisreëls. Maatskaplike en godsdienstige verhoudings op die sesde gordelpaar
1. Julle sal wel by julleself dink: Waar sulke groot huise is, moet die huisreëls ook wel buitengewoon uitgebreid wees, as ’n mens die regte orde in so 'n huis wil handhaaf. Dit is egter absoluut nie die geval hier nie. Ten spyte van die enorme afmetings van die huise, is die reëls daarvan tog vir julle onvoorstelbaar eenvoudig. En tesame met die huisreëls is ook die maatskaplike reëls tot één geheel versmelt.
2. Die enigste wat met betrekking tot die huisreëls spesiaal in ag geneem moet word, is dat elke selfstandige familie sy woning voortdurend in 'n goeie toestand en skoon moet hou. Indien daar eventueel enige aansienlike skade ontstaan aan die groot woonhuis, wat origens gewoonlik uiters selde gebeur, dan moet alle familielede en inwoners van die groot huis hande vat en die skade weer tesame herstel.
3. Verder hoort nog tot die huisreëls, dat die inwoners van die eerste verdieping, of beter gesê die eerste randgebou, die mees vêrafgeleë stukke grond moet gebruik, van die tweede verdieping die wat nader geleë is, en so aan, sodat die bewoners van die hoër vloere die stukke grond wat nader geleë is, kan gebruik.
4. Verder is daar nog 'n huisreël wat voorskryf dat die huise tot en met die sesde verdieping geen waterleiding mag hê nie, omdat hierdie mense, as gevolg van die geringe hoogte van hul woongebou, die nodige water sondermeer maklik na hul huise kan bring. Vanaf die sesde vloer moet elke woonhuis egter van waterpype voorsien word. Eweneens mag daar ook nie op die hoer geleë terrasse van die eerste vyf gebouvlakke plantasies aangelê word nie. Op die hoë terrasse van die volgende vlakke kan tuine egter wel aangelê word, waarin eetbare plante en wortelgewasse gekweek kan word.
5. So word die jongmense ook altyd verplig om op die hoër vloere van een en dieselfde huis te bewoon. Die patriarge woon altyd in die binneste gebou, wat ook die hoogste en die pragtigste is.
6. Hierdie patriarge kan dan ook die binne geleë, groot tuin gebruik en bewoon ook die hoogste gebou, sodat hulle vanaf die hoë terras alle ander kan oorsien. Dit doen hulle egter nie altyd self nie, maar vir hierdie taak staan daar op die hoogste terras steeds enkele wagte, wat beurtelings die hele woonhuis moet observeer en sodra daar iewers onordelikheid voorkom, hulle die patriarge onmiddellik daarvan op hoogte moet stel. Tot sodanige onordelikheid behoort verskynsels soos ongewone opstygende rook of ook 'n stofwolk. Vir die res het elke bewoner van die huis tog ook die onafwendbare verpligting om welke gebeurtenis dan ook onmiddellik aan die patriarge te meld.
7. Dan bestaan daar ook 'n maatskaplike reël, op grond waarvan alle kinders van die manlike geslag vir onderwys na die tempel gebring moet word. Die meisies word egter by die huis opgevoed en leer daar huishoudelike take.
8. Wanneer die jongmanne weer van die tempelskole tuiskom, moet hulle vir die patriarge eksamens aflê oor wat hulle in die tempelskole geleer het. As hulle hierdie eksamens met goeie gevolg afgelê het, kan hulle spoedig trou en 'n eie woning betrek, waarvan daar natuurlik in sulke groot woonstelblokke altyd voldoende beskikbaar is. Indien hulle nie geslaag het nie, moet hulle na die tempel terugkeer, waar hulle deur die taamlik streng leraars bepaald nie met ope arms ontvang word nie. Hierdie terugkeer val nóg by die leraars nóg by die teruggekeerde leerl¬inge in goeie aarde; nie by die leraars nie, omdat hulle gekritiseer voel wanneer die patriarge nie tevrede is oor hul leerlinge nie. Die leerlinge word daarom dan ook nie op die hartlikste manier deur die leraars ontvang nie en die vervolg onderrig word dan ook altyd beduidend strenger gegee as die eerste. Omdat sulke leerlinge daarna gewoonlik baie vlytiger word as diegene wat vir die eerste keer die tempelskool geslaag het, gebeur dit dikwels dat sulke vlytige agterblyers mettertyd self aspirant tempel leraars word en sodoende dus met nie al te beswaarde harte, soos wat julle dikwels sê, deur die ouerhuis beskou word. Want die tempelbewoners, veral die leraars, staan in besonder groot aansien, en dit is die rede dat so iemand dan ook liewer in 'n klein huisie in die tuin van die tempel sal woon wat reeds aan ons bekend is, as wat hy 'n vooraanstaande patriarg in 'n woonhuis sou wil wees.
9. Dit is dan ook die wesenlike van alle huislike en sosiale reëls, dit wil sê, al die reëls wat gewoonlik in 'n woonhuis in ag geneem moet word. Daar is slegs nog verstandhoudinge tussen bure, op grond waarvan alle inwoners van 'n woonhuis in uitsonderlike gevalle aanspraak kan en mag maak op die steun van twee naburige woonhuise, welke hom op sy versoek dan ook sonder teenspraak gegee moet word. As daar egter iewers 'n nuwe woonhuis gebou moet word, mag dit nooit gebeur sonder die goedkeuring van die tempelraad en die hoëpriesters nie. Dit is dus die algemene, maatskaplike reëls.
10. Dat alle woonhuise natuurlik, wat die algemene sake aanbetref, die tempel uiters stiptelik moet gehoorsaam, sal by die materiële gedeelte van die godsdiens duidelik tot uiting kom.
11. Aangesien ons met hierdie eerste twee tipes reëls klaar is, kan ons ons aandag gevolglik op die godsdiens van die inwoners van hierdie gordel rig. Om hierdie baie belangrike onderdeel egter so volkome moontlik en ook so kort moontlik te kan beskou, is dit nodig om die godsdiens te skei in twee gedeeltes, naamlik in 'n materiële en in 'n geestelike deel.
12. Daarom sal ons ook dadelik die eerste vraag stel: Waaruit bestaan die materiële of, beter gesê, die praktiese deel van die godsdiens eintlik by die inwoners van hierdie gordel? Dit bestaan uit niks anders nie as dat almal alles wat hy ook maar doen, ter ere van God moet doen, daarom moet hy by al sy handelinge goed bedink of dit geskik is om God te eer. As iemand se handeling, dit wil eintlik sê, die voorneme daartoe, nie volkome God-waardig bevind word nie, dan het so iemand die plig om die patriargie van die huis van sy voorgenome handeling in kennis te stel, sodat hulle kan ondersoek of die handeling ter ere van God is al dan nie. Het die patriargie ook hul bedenkinge oor die voorgeneem handeling, dan moet die besluit hieroor sondermeer aan die hoëpriesters van die tempel oorgelaat word. As die voorgenome handeling goedgekeur word deur hulle as synde ter ere van God, dan kan die betrokke persoon sy handeling sondermeer ten uitvoer bring; so nie, dan moet hy ten eerste onmiddellik van sy voorneme afsien en ten tweede 'n soort boetedoening verrig vir sy God-onwaardige voorneme. Hierdie boetedoening hou in dat hy in die tempel vir 'n tyd lank 'n ondergeskikte diens moet verrig, waarna hy hom dan weer huiswaarts kan begewe.
13. Dit is dus 'n reël van die materiële gedeelte van die godsdiens. 'n Tweede reël hou in dat alle inwoners van 'n huis in die loop van sewe of ook wel tien sterrelig tye één keer ter ere van God na die tempel moet gaan, om daar in die verskillende vertrekke uit die mond van die hoëpriester die goddelike leer te verneem.
14. So het ook almal die verpligting om één keer in sy hele lewe die hoogste spits van die tempel uit te klim om daar aan God sy dank te bring vir alles wat hy ontvang het en tot Hom te bid vir die toekoms.
15. Net so het elke inwoner die plig om na verloop van tien sterrelig tye, wat elk gewoonlik iets langer as nege-en-twintig dae volgens julle tydrekening duur, 'n sekere deel van die beste vrugte van sy drie vernaamste bome aan die tempel af te gee.
16. En verder, aangesien die hoofstraat eiendom is van die tempels wat gewoonlik in die omgewing van hierdie pad gebou is, moet elke huisbewoner altyd bereid wees om, indien nodig, met al sy kragte by te dra tot die instandhouding van hierdie straat.
17. Nou sal ’n mens sekerlik kan vra: Vir watter doel is die straat dan eintlik uitgelê? Die hoofdoel is dat deur hierdie straat die verbinding en die eenheid van alle inwoners van hierdie gordel, en dus ook van alle tempels, ter ere van God bewerkstellig word. 'n Tweede doel van hierdie straat is dat, veral diegene van die manlike geslag wat hoëpriester wil word, getuigskrifte van alle tempels moet hê, waarin vermeld word dat hulle ter ere van God hierdie hele, volgens julle groottes, tweehonderd myl lange straat, afgelê het en sodoende alle tempels leer ken het. Dit is dus die tweede doel van die straat. Die derde doel is dat juis via hierdie straat almal wat graag baie kennis en vaardighede wil versamel, die vinnigste en tewens aangenaamste reis kan maak.
18. Want ook hier het die mense 'n soort kar, waarmee hulle buitengewoon vinnig oor die gelyk straat kan ry. Die karre word egter nie deur diere en beslis nie deur mense voortgetrek nie, maar hulle word deur hul eie masjien so vinnig in beweging gebring, dat hulle, wanneer hulle hul hoogste spoed bereik het, nie meer deur `n afgeskiete kanonkoeël verbygesteek kan word nie.
19. Wie moet daar nou hierdie karre versorg? In die eerste plek die bouleiers van die tempel en in die tweede plek die inwoners van die klein woonhuise wat oral langs die straat staan. Hierdie inwoners, waarvan ons al gehoor het dat hulle voortdurend die pad moet bewaak, moet dan ook voortdurend voorsien word van 'n goeie aantal van sulke karre, wat steeds gereed moet staan om enige reisigers op te neem en na die volgende stasie te vervoer. Ook dit behoort, aangesien dit van die tempel uitgaan, tot die materiële gedeelte van die godsdiens. Die volgende keer gaan ons verder.
|
|
|
|
|