DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 48

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 46 Wen en toepassing van metale. Boukuns en woonhuise op die sesde gordelpaar 1. Die werksaamhede van hierdie mense bestaan hoofsaaklik uit die vervaardiging van hul strukture en die metaalverwerking. 2. In die berge op hierdie songordel is daar ’n soort metaal geleë, wat presies so lyk asof ’n mens goud met yster by julle sou versmelt het. Die metaal kom ten eerste veelvuldig daar voor, is ten tweede daarom nie moeilik om te ontgin nie en is ten derde baie buigsaam, maar daarby tog staalhard en sodoende geskik vir die vervaardiging van allerlei nuttige hak- en snywerktuie. 3. Nou het juis hierdie gordelbewoners die besondere vaardigheid om hierdie metaal baie deugdelik te bewerk. Vir daardie doel het hulle buitengewone groot smelters, waarin die metaal tot allerlei gereedskap verwerk word. Daar is verskeie mense wat hulself uitsluitlik aan hierdie tak van industrie wy. Weliswaar verlang hulle niks vir hul werk nie, maar wie die een of ander stuk gereedskap wil hê, moet vrugte en eetware saambring wat dieselfde gewig moet hê as die gevraagde gereedskap. 4. Dat hierdie gereedskap soms nie al te lig is nie, kan julle maklik vir julleself voorstel. Dink maar aan die groot hamerbyle, want dit is dikwels vyftig tot honderd sentenaar swaar. Met behulp van sulke gereedskap kan hierdie inwoners dan ook baie maklik die reusagtigste geboue optrek. 5. ’n Mens sien slegs weinig woonhuise, dit wil sê, die woonhuise lê nie so naby aanmekaar as wat julle dalk sou dink nie. Hulle staan in hierdie land so vêr van mekaar af soos byvoorbeeld die stede by julle. Maar waar daar ook so woonhuis staan, het dit ook 'n veel groter betekenis as die grootste stad op julle planeet en dit het, in verhouding tot sy reusagtige grootte, 'n baie groot aantal inwoners. So is daar dikwels woonhuise waarin vyf tot tien miljoen mense woon. 6. Uit hierdie beskrywing kan julle al 'n klein voorstelling maak van die kolossale omvang van so 'n woonhuis. Om so 'n huis in alle besonderhede te beskryf, sou julle vir minstens tien jaar ywerig moet skryf en dan sou julle nog geen gedetailleerde beeld hê nie. Sodat julle egter tog 'n effense voorstelling daarvan kan maak, sal Ek dit so kort as moontlik vir julle skets. 7. So 'n huis het gewoonlik sewe, maar soms ook tien verdiep¬ings. Hoe is hierdie verdiepings ingedeel? Stel jou 'n vierkantige vlak voor, waarvan elke kant sewentig myl, volgens julle mates, lank is. Op hierdie oppervlak, dit wil sê oral slegs langs die buitekant, verhef die eerste verdieping homself tot 'n hoogte van dertig vadem. Die breedte van die kamers van hierdie eerste verdieping bedra altyd vyftig vadem. 8. Die verdieping, of veel eerder hierdie groot randgebou, het netsoos as alle ander geen spitsdak nie, maar is heeltemal plat gedek en aan die kante, beide aan die buite- sowel as aan die binnekant, van stewige, smaakvolle balustrades voorsien. Die mure is plat en op 'n reëlmatige afstand van vyf vadem van groot vensters voorsien, oral gevorm soos die sogenaamde Gotiese vensters in die kerke by julle. Elke kamer het sewe tot tien sulke vensters. 9. In die kamers word die dak deur sterk pilare oor die hele lengte van die randgebou gedra. Die vensters self is voorsien van 'n soort glas soos by julle, maar die glas is egter nie so hard en breekbaar soos by julle nie, maar meer elasties en buigsaam, omdat dit gemaak word van die sap van 'n wortel wat in groot volumes daar verbou word; ongeveer op die manier soos wat daar van dierlike afval gom by julle gemaak word. Die glas het altyd 'n groen kleur, dit wil sê van nature, maar soms meng die inwoners egter ook ander kleure deur die sap, waardeur daar dan ook verskillende gekleurde glassoorte ontstaan, waaruit die vensterglas gesny word. 10. Die inrigting van die kamers is weliswaar heel eenvoudig, maar allermins smaakloos. So is daar op die mure en aan die plafon altyd allerlei verskillende, maar eenvoudige versierings aangebring. Die vloer van so ’n kamer is gewoonlik bedek met vierkante, veelkleurige, plat klipteëls, wat almal fyn geslyp en gepoleer is. Die inwoners skenk spesiale aandag aan die glans van die voorwerpe in 'n kamer. 11. Rondom die pilare in die middel van so 'n kamer is daar gewoonlik groot rusbanke geplaas, en ook staan daar banke in 'n reguit lyn langs die mure, wat ryklik bedek word met sagte blareloof, waaroor sierlike dekens geplaas word. 12. As julle wil weet hoeveel kamers daar in één fasade van die gebou lê, hoef julle maar net die bekende afmeting van 'n kamer te neem en te deel in die muurlengte van 70 myl; so kan julle die aantal kamers baie goed vasstel*. Elke kamer het boonop nog sy eie ingang, beide aan die buite- en binnekant. En alle kamers van die hele vloer is ook onderling deur middel van deure met mekaar verbind, en wel sodanig, dat ’n mens deur die kamers deur al vier die fasades van 'n verdieping kan deurloop. Verder lei daar vanuit elke kamer, langs die skeidingsmuur tussen die kamers, 'n sierlike en maklik begaanbare trap na die oop, van balustrade voorsiene plat dak. Elke kamer word deur één familie bewoon. *ongeveer 5,500 13. So het ons nou dus 'n gebou met één verdieping. Stel jou nou weer 'n vrye ruimte voor, of liewer 'n straat met 'n breedte van vyftig vadem. Hier begin 'n gebou met twee verdiepings. Dit het inderdaad twee verdiepings, dit wil sê dat die eerste gelyk loop met die buitenste groot randgebou en dat die tweede verdieping, wat op die eerste rus en dieselfde hoogte het as die eerste, dus net so hoog bo die randgebou uitsteek. Die indeling en inrigting van die kamers van beide die eerste en die tweede verdieping is presies dieselfde as in die eerste randgebou. Ook hier is die dak plat, geskik om vry rond te wandel en is ook voorsien van stewige, sierlike balustrade. 14. Stel jou nou 'n straat voor, wat in ’n reguit lyn nie veel minder as sewentig myl lank is nie, dan begin die reusagtige afmeting van so woonhuis al ietwat duidelik te word. 15. Laat ons nou dwars deur hierdie tweede gebou heen gaan! En kyk, die gebou self het, netsoos die eerste, 'n breedte van vyftig vadem. Dan is daar weer 'n vyftig vadem breë straat. 16. Hier sien ons die derde gebou, wat uit drie verdiepings bestaan, waarvan elke verdieping netso hoog is soos die buitenste randgebou, wat soos reeds gesê, dertig vadem bo die grondvlak is. By hierdie gebou het ons dus al 'n hoogte van negentig vadem bereik. Hier vind ons weer niks nuuts nie, behalwe dat ’n mens vanuit die derde verdieping, natuurlik heel maklik oor die tweede heen kan kyk. 17. Nou gaan ons weer deur hierdie gebou en kom weer op 'n vyftig vadem breë straat. Daar sien ons 'n gebou met vier verdiepings, wat in alle opsigte volkome soos die vorige geboue lyk, behalwe dat dit in die laer verdiepings natuurlik proporsioneel sterker mure het as die vorige geboue. Ook hier is die dak plat en van stewige, sierlike balustrades voorsien, en natuurlik kan mens vanaf die dak met gemak oor die ander drie uitkyk. 18. As ons nou weer deur hierdie gebou gaan, sien ons andermaal 'n vyftig vadem breë straat en 'n vyf verdieping hoë gebou, wat natuurlik ietwat korter fasades het as die buitenste; maar die verkorting van hierdie fasade, ten opsigte van die buitenste randgebou, bedra egter nog geen Duitse myl nie. Julle sou dus nog verskeie dagreise nodig hê om net langs die fasade van hierdie vyfde, vyf verdieping hoë gebou te reis. Dat ook hierdie vyfde gebou, met die uitsondering van die veel sterker mure, gelyk is aan die ander, hoef nouliks meer vermeld te word. 19. Gaan ons weer deur hierdie vyfde gebou, dan lê daar vir ons weer 'n nuwe, vyftig vadem breë straat, en ons sien die fasade van die sesde gebou wat ses verdiepings tel. Die gebou onderskei homself, ten opsigte van die ander, nie net deur die groter sterkte van die onderste mure nie, maar nou ook deur die kleur, want vanaf hierdie sesde gebou kry die vloere verskillende kleure, en wel in die volgorde van die kleure van die reënboog, wat natuurlik 'n verrassende mooi voorkoms gee. Die plat dak is hier omring deur 'n balustrade van piramides, waarop groot goue balle aangebring is. Dit is die verskil tussen hierdie sesde gebou en die ander, ons reeds bekende. Die inwendige van die kamers is egter presies so ingedeel en ingerig soos die kamers van die ander geboue. 20. En so gaan ons ook deur hierdie sesde ses-verdieping gebou. Hier tref ons skielik 'n duisend vadem breë straat aan. Hierdie straat is gewoonlik netso glad geslyp en gepoleer soos 'n spieël by julle. En ten slotte verhef daar met die geweldigste pilare-prag die gebou met sewe verdiepings. Hierdie gebou verskil nie net van die vorige deur die verskillende kleure van die vloere nie, maar boonop word elke verdieping beide aan die buite- sowel as aan die binnekant, deur pilare gedra. Die werklike mure van hierdie sewende gebou pas binne-in die magtige pilare galery. Dat die pilare van die laer verdiepings altyd sterker is as die van die hoër spreek vanself, omdat hulle die las van die hoër geleë vloere steeds meer moet dra. Elke ry pilare het 'n ander kleur, ook in die volgorde van die reënboogkleure. Die dak is ook plat en bo elke pilaar styg daar 'n obelisk uit, wat weer bo met 'n groot goue bal versier is. Die obeliske is onderling deur middel van 'n sierlike balustrade met mekaar verbind en bied op hierdie wyse 'n buitengewone pragtige aanblik. Dit sewende gebou is, as gevolg van die plasing van beide pilare galerye, wat elk so twintig vadem breed is, ook na verhouding breër as die ander geboue, sodat die totale breedte daarvan so honderd vadem bedra. 21. Menige woonhuis is hiermee afgerond, en die nog altyd buitengewone ruim binnehof is dan 'n gemeenskaplike, pragtige siertuin, voorsien van duisende soorte kunstige bouwerkies, asook van vele lane met vrugtebome. Ook ontbreek dit nie aan allerlei fonteine nie, want die inwoners van hierdie gordel is groot meesters in die vervaardiging daarvan, omdat ook die aanleg van die verskillende waterleidings tot die vak van die ingenieurswese behoort. 22. Sommige woonhuise het egter na hierdie sewende gebou nog drie, dus nog 'n agt-, nege- en tien-verdieping gebou, wat elk dan weer deur 'n vyftig vadem breë straat vanmekaar geskei is. Hierdie geboue is, omdat hulle soos die gebou met die sewe verdiepings lyk, elkeen slegs honderd vadem breed. Daardeur word die groot binnehof natuurlik heelwat kleiner, maar is tog nog altyd so groot dat julle nog steeds verskeie dae nodig sou hê om heeltemal daaromheen te wandel. 23. Wel, dit is dus 'n woonhuis van hierdie inwoners van die genoemde gordel. Julle fantasie is egter ontoereikend om julleself ook maar by benadering te kan voorstel wat 'n pragtige aanblik so ’n woonhuis bied. 24. Tog moet julle nie dink dat hierdie woonhuise die toppunt van hul boukuns is nie. Eers wanneer julle hul grandiose strate-, brûe- en tempelbou leer ken, sal julle in opperste verbasing die ingenieurswese van die inwoners van hierdie gordel kan bewonder. Die mees grandiose bly egter tog hul strate en brûe, want van iets dergeliks het julle nog nooit gedroom nie. En julle kan van vooraf fantaseer soveel as wat julle maar wil, tog kan julle daarvan verseker wees dat die beskrywing van 'n dergelike straat- of brugbou al julle stoutste fantasieë by verre sal oortref. 25. Sodat julle tog 'n duidelike begrip hieromtrent kan vorm, sal die beskrywing daarvan ietwat uitgebreider moet wees; daarom sal ons dit vir die volgende keer bewaar en ons vir vandag slegs met die vooraankondiging tevrede stel.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205