|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 71
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 69
Die ware sleutel vir die begrip van alle godsdienste en openbaringe
1. Die enigste vorm van godsdiens wat die inwoners van die sewende gordelpaar beoefen, bestaan daaruit dat hulle vanuit alle dele 'n eenstemmige lof bring aan die wese van God.
2. Daarom word alle dinge ook sodanig ondersoek dat dit, van binne beskou, steeds een en dieselfde grondslag moet hê. Daarby gaan dit nie oor groot of klein nie, ook nie oor veel of minder nie, of dat daar gesê word: Dit is 'n groot ding en dat 'n kleine, of: Hier is die afstand so aangedui met 'n getal, en direk langsaan is die afstand so aangedui met 'n ander getal. Indien sulke verskille slegs van buite beskou word, dan is hulle sigbaar en praat hulle mekaar teë, maar van binne beskou is hulle volkome gelyk.
3. So sou Ek byvoorbeeld aan julle kon sê: Die afstand van julle woonplek tot die volgende stad, byvoorbeeld in julle bergland, is sewe myl; vervolgens sou Ek ook aan julle kon sê: Die afstand van julle woonplek tot genoemde stad is tien myl; en dan sou Ek weer kon sê: Die afstand is twintig myl, en wel langs een en dieselfde weg; ja, Ek sou julle nog baie meer verskillende afstandsmetings kan opgee. Indien julle dit van buiteaf beskou, kan julle nie daaromheen gaan nie en sal volgens eer en gewete beweer: Dit is tog klinkklare onsin! Want selfs 'n blinde moet tog kan verstaan dat 'n bestaande afstand van sewe myl nie langer of korter kan word nie, vooropgestel dat die weg steeds langs dieselfde lyn gemeet word. Uiterlik bekyk is hierdie teenwerping gegrond en kan sewe, tien en twintig myl derhalwe nie dieselfde wees nie, maar hoe kyk jy teen hierdie bewering vas as dit van die binnekant af beskou word? Dit is 'n ander vraag!
4. Sodat julle egter die ooreenstemming van die gegewens sal verstaan, sal Ek julle ook in hierdie geval met 'n aanskoulike beeld te hulp kom. Hoe stel julle die stad Bruck vir julle voor? Julle sê: Soos wat ons haar nog altyd gesien het. Ek vra julle weer: Waar kan julle haar dan voorstel? Julle sal sê: Allereers in onsself, dit wil sê, deur die krag van ons beeldende vermoë en deur die herinnering aan die natuurlike beeld van die stad. Goed, sê Ek. Is julle met hierdie verbeelding op 'n sekere plek aangewese, of is julle, geestelik gesien, genoodsaak om hierdie stad maar net daar voor te stel, waar sy geleë is? Julle kan hierdie stad geestelik tog sekerlik na elke willekeurige afstand verplaas. Wel, nou weet ons inmiddels voldoende en gaan 'n stappie verder. As die van binne af beskouing eintlik nie vir die gees van belang is waar hy die plek vir homself wil voorstel nie en dit hom ook altyd dieselfde moeite kos, vra dan net aan julle gees watter verskil hy tussen die gespesifiseerde afstande opmerk? Sal hy vir die sewe myl ver weg geleë Bruck minder tyd nodig hê om dit vir homself voor te stel as wanneer sy ’n honderd myl ver weg sou lê? Wie ook maar enigsins die groot vaardigheid van die gedagtes ken, sal tog wel ervaar dat hy geen verskil agterkom nie, wanneer hy vir homself die afstand van 'n myl en direk daarna 'n afstand van verskeie triljoene myl voorstel. As dit egter vir die 'gees', oftewel 'van binne' beskou, volkome een en dieselfde is, dan sal dit tog ook duidelik wees dat alle dinge, wanneer hulle van binne beskou word, is asof hulle van een en dieselfde punt uitgaan, dus ook in een en dieselfde punt, een en dieselfde is.
5. Hierdie dinge kan julle al by die algemene begripsbepaling vind. Onder welke algemene naam kan julle alle geskape dinge, sonder onderskeid volgens uiterlike hoedanigheid, eienskappe en vorme, aanneemlik voorstel? Julle sê: Onder die algemene aanduiding van 'wesens' of 'skepsels'. Goed, sê Ek. Sê My egter: Hoeveel verskille sien julle by so ’n algemene aanduiding in die eindelose veelheid van die mees uiteenlopende wesens? Hier moet julle tog duidelik erken: By hierdie algemene aanduiding is daar absoluut geen verskil tussen die talloos baie geskapenes sigbaar nie, want uit beide hierdie aanduidings spreek slegs een gelykluidende veelheid van geskape dinge. Dan vra Ek weer: Waarom dan? As julle die vorige ietwat oordink, kan julle op die 'waarom' geen ander antwoord gee nie as deur te sê: Omdat die oorsprong van al die eindeloos vele en uiteenlopende dinge volkome dieselfde is. As Ek nog daaraan toevoeg: Hoe en waarom? Dan moet die antwoord tog as’t ware vlak voor jou neus lê en sê: Omdat alle dinge uit die goddelike liefde voortkom, moet hulle in hierdie Goddelike liefde dan ook as volkome één teenwoordig wees, soos wat die goddelike liefde in Haarself volkome één is.
6. As iemand nou uiteindelik iets daarteen sou wou inbring: Ja, moet alles dan regtig uit die Goddelike liefde voortkom? God is immers ook die allerhoogste Wysheid. Sou dit daarom nie eerder korrek wees om aan te neem dat, in plaas van die Liefde, Sy eindelose Wysheid die voortbrengende beginsel van alle dinge is nie? Ons sien dit immers onder ons mense, dat daar sommige is wat so 'n groot porsie liefde besit, dat hulle, as die allergrootste mensevriende, al hulle broers en susters wel sou wil opvreet, as wat hulle daarnaas sou poog om hul verstandelike vermoëns te ontwikkel en daar sal dus bitter weinig uit hul groot liefde tevoorskyn kom. Andersins is daar weer mense wat nie met so 'n groot porsie liefde bedeeld is nie, maar is deur hul veelsydige kennis in staat om groot dinge tot stand te bring. So ’n teen¬werping sou wel enige aandag werd gewees het as God en die mens volkome een en dieselfde sou wees. Omdat daar egter 'n groot verskil tussen hulle bestaan, bestaan daar ook, met betrekking tot die liefde in God en die liefde in die mens, dieselfde groot verskil, hoewel 'n werklik opregte mens op hierdie punt eintlik die meeste soos sy Skepper moes lyk.
7. By God kom die Wysheid voort uit die Liefde, soos die lig uit die vlam. Ook al word die dinge in hul verskeidenheid deur die goddelike Wysheid op hul plek gebring en georden, kan niemand egter meer ontken dat hulle in hul diepste wese uiteindelik saam met die Wysheid uit die Liefde moet voortkom. Wel, noudat ons dit insien, moet dit tog ook duidelik wees dat, vanuit die diepste grond beskou, alles homself in die grootste orde moet skik en saamvoeg asof daar uiterlik geen verskil tussen hulle sou bestaan nie. Die veelsoortigheid van die bome wat reeds by die vorige mededeling beskryf is, kom uiteindelik in die saadkorrel, in die ou, eenvoudige, ondubbelsinnige, ewige ordening weer saam.
8. Wie dus vanuit hierdie innerlike ordening, of nog duideliker gesê: Wie vanuit sy innerlike liefde vir My, as die oerkiem van al die geskapene, homself en alle skepsels beskou, sal hy oral een en dieselfde eenheid en een en dieselfde inmekaar grypende ordening aantref!
9. Beskou byvoorbeeld die boom van die lewe of die geskrewe Woord, beide die Ou- sowel as die Nuwe Testament: Hoeveel duisende takke, lote en wortels kan julle nie daaraan ontdek nie? Nie één wortel, nie één tak, nie één lootjie lyk soos die ander nie. Uiterlik skyn alles mekaar teen te spreek. Leerstellings oor een en dieselfde onderwerp klink verskillend. Profetiese voorspellings oor een en dieselfde gebeurtenis is ook deur verskillende profete op verskillende maniere opgeteken. Selfs in die vier Evangelies word dieselfde gebeure met ander woorde vertel en word daar ook onderskeid gemaak in die aanduiding van getalle. Ja, selfs menige plek waar een gebeurtenis plaasgevind het, word dit dikwels nie volkome ooreenstemmend aangedui nie, en netso wissel die tydsaanduidings dikwels. Wie nou van die uiterlike aanskouing tot by die innerlike samehang wil kom, sal tog sekerlik verdwaal en moeilik by die sentrum uitkom, net soos iemand wat aan die buitekant in 'n boom wil boor en beweer: Op die plek waar ek gaan boor, moet ek ook tot by die kern deurdring. As hy naderhand die gang van sy boor ondersoek, sal dit tog sekerlik blyk dat hy met sy boor verskeie duime langs die kern sit. As hy die boom egter eers sou split en dan vanaf die kern na buite toe boor, sal hy dan ooit die bas kan mis? En waarom nie? Omdat in die kern alles in één punt saamkom. Maar aan die buitekant is die kern absoluut nie te vinde nie. Slegs deur blinde toeval, soos julle sê, sou iemand met sy boor die sentrum kon raakboor, maar wat sal dit hom baat? Sal hy daarom ook nou in staat wees om die kern van elke boom met sy boor te raak?
10. Kyk, netso is ook die uiterlike, in ’n sekere sin die antisolêre verstandelike wysheid, so goed as niks. Op die verstandelike manier sal ’n mens voortdurend as 'n blinde rondtas en bly raai, maar nooit 'n volle, innerlike oortuigende sekerheid verkry nie. Maar kan die een wat met sy boor langs die solêre weg, die gesplete boom vanuit die kern deurboor, ooit die bas mis?
11. Kyk, dit is die korrekte sleutel, nie net vir die beligting en opening van die ware, innerlike wysheid met betrekking tot die godsdiens van die inwoners van ons sewende songordel nie, maar ook en nog baie meer met betrekking tot die godsdiens wat aan julle geopenbaar is, en ook met die oog op hierdie huidige Nuwe Openbaring. Met hierdie sleutel, oftewel die ware, innerlike wysheidsboor, kan julle nie alleen die geopenbaarde, maar ook alle dinge en verskynsels beskou vanuit die ware, innerlike, ook werklik enige, op sigself nooit teensprekende basiese beginsel van die innerlike wysheid, dus vanuit die sentrum van julle liefde vir My.
12. Die vervolg sal die godsdiens van die inwoners van ons sewende gordel in 'n nog sterker lig vir julle plaas. Laat ons dus weer tevrede wees met wat daar vandag gesê is!
|
|
|
|
|