DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 27

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 25 Die eerste paar newegordels. Die landskap en die mense. Oor uiterlike en innerlike skoonheid 1. Hierdie volgende songordel en sy eweknie is ten eerste baie smaller en ten tweede is die bodem hier ook al aansienlik stewiger as die van die middel- of hoofgordel. Die hoofgordel is die eintlike sonnewêreld; die newegordels is slegs wêrelde wat ooreenstem met die planete wat om die son wentel. 2. Hierdie twee gordels is eweknieë van die planete Mercurius en Venus, wat deur die inwoners van hierdie newegordels ook nog baie goed gesien kan word, en wel Mercurius so groot soos julle maan en Venus ongeveer die helfte kleiner. 3. Van hierdie twee gordels korrespondeer die noordelike met Mercurius en die suidelike met Venus. En dus is op die noordelike gordel ook alles teenwoordig, natuurlik wel op 'n veel volmaakter wyse, wat op die planeet Mercurius aangetref word. Eweneens bied die suidelike gordel in volmaakter vorm dit wat die planeet Venus bevat. 4. Dit was nodig om vooraf daarop te let, sodat julle dan ook al kan weet hoe dit met hierdie newegordels gesteld is en as julle dan volledig kennis geneem het van hierdie gordels, julle ook met die planete self redelik vertroud kan raak. 5. Sodat daar egter by die beskrywing daarvan by julle geen verwarring sal ontstaan nie, sal ons hoofsaaklik oor die noordelike gordel praat en net die suidelike noem as dit iewers afwyk van die noordelike. Julle moet trouens vooraf nog weet dat die planeet Mercurius en die planeet Venus feitlik dieselfde gesteldheid besit. So is die inwoners van Mercurius, sowel as die van Venus, feitlik uitsluitlik wysheidsmense. Tog is daar een verskil tussen hulle. Die inwoners van Mercurius wil wys word en word dit ook inderdaad via die weg van eie, aanskoulike ervarings, waaruit hulle dan allerlei aannames maak en wyse gevolgtrekkings maak. Vandaar dat hierdie mense ook as geeste nog buitengewoon reislustig is en die hele skepping met eie oë wil sien om ervarings op te doen en hulle daar innerlik van te kan oortuig dat die wyse gevolgtrekkings, wat hulle tydens hulle liggaamlike lewe getrek het, geen drogredenasies was nie. Dit is dus die wese, of in ’n sekere sin, die vernaamste eienskap van die inwoners van die planeet Mercurius. 6. As julle die bewoners van Venus beskou, dan sien julle dat hulle in wese dieselfde is as die inwoners van die planeet Mercurius; maar hulle begin net met hul wysheidskool daar, waar die Mercurius bewoners met hul skoolopleiding ophou. Met ander woorde: Die Mercurius bewoners dink eers na, op basis van die opgehoopte ervarings en kyk daarna. Die Venus bewoners kyk egter eers en dink dan na op basis van die opgehoopte ervarings. 7. Wanneer julle dit wat gegee is, op die korrekte wyse beskou, sal julle sondermeer moet sê dat daar tussen beide geen groot verskil bestaan nie. Neem byvoorbeeld 'n toonleer in die musiek: Dit maak wel vir die gehoor ’n verskil of dit styg of daal, maar desondanks bly die toon op sigself dieselfde, beide in stygende sowel as in dalende volgorde. 8. Daarom word hierdie twee songordels ook by voorkeur ooreenstemmende gordels genoem, omdat hulle hulleself onderling gedra soos wat so pas duidelik uiteengesit is. Om dieselfde rede sal julle ook maklik kan insien waarom dit hier nie nodig is om elkeen van hierdie twee gordels afsonderlik te behandel nie, maar slegs die noordelike. Uit die gesteldheid van hierdie gordel, aan die hand van die maatstaf wat hiervoor gegee is, is daar immers maklik gevolgtrekkings te maak oor die suidelike gordel, soos wat daar ook uit 'n stygende toonleer weer maklik 'n dalende afgelei kan word, aangesien tog steeds dieselfde tone die basis vorm. 9. Voordat ons egter tot die mense self sal oorgaan, moet ons die gesteldheid van die land van ons gordels van naderby in oënskou neem. 10. Julle weet dat die hoof-middelgordel begrens word deur twee onoorklimbare, hoë en ononderbroke deurlopende bergreekse. Hierdie twee bergreekse skei dus ook ons twee newegordels van die hoofgordel. 11. Op die hoofgordel het ons gesien hoe daar vanaf hierdie twee belangrikste bergreekse 'n groot aantal kleiner bergreekse kriskras oor die hele, groot gordel loop. Dit is egter aan die kant van die twee newegordels nie die geval nie, want daar loop die wande van hierdie hoë bergreekse oral nagenoeg loodreg, sonder verdere uitlopers omlaag na die vlakte, wat ononderbroke met water gevul is. Daar loop dus langs die hele berggrens, waardeur die twee newegordels van die hoofgordel geskei word, 'n taamlike breë watergordel. Die breedte daarvan, wat trouens nie oral gelyk is nie, sou gemiddeld so `n tweeduisend myl volgens julle mates kan wees. 12. Na hierdie ringvormige see begin die bewoonbare land eers. Die land self, beide die van die noordelike, sowel as van die suidelike gordel, is uiters bergagtig en het weinig vlak land en dus ook geen groot waters nie. Die grootste riviere en mere is skaars so groot soos julle Donau en Bodenmeer respektiewelik, maar kleiner riviere en mere is daar baie. 13. Die land self, wat loop tot by 'n volgende onoorklimbare groot bergreeks, het, volgens julle mate gereken, 'n breedte van gemiddeld vyfduisend myl en word in die rigting van die die tweede groot bergreeks redelik plat. Dit is egter nie so dat die land hier laer word nie, maar die berge van die land self ryg hulself digter aaneen en vorm dan met hul hoogste toppe in 'n sekere sin 'n nog taamlik breë en plat hoogland, wat ook baie dig bewoon word en die vernaamste woongebied vorm. 14. Die bewoonbare land op hierdie noordelike gordel is net so gevorm soos die van die suidelike gordel, wat reg teenoor die noordelike lê, en wel so, dat ook op die suidelike gordel na die hoë bergreeks eers 'n watergordel kom en daarna 'n heel bergagtige land, wat eweneens platter word in die rigting van die volgende reeks hoë berge. 15. Wanneer julle hierdie twee gordels nou met mekaar vergelyk, sal julle van noord na suid vanselfsprekend opmerk dat op die noordelike gordel die hoogland die noordelikste gedeelte is, in die middel die gewone, laer bergland lê en die suidelikste gedeelte van hierdie gordel gevorm word deur die watergordel. Op die suidelike gordel is dit presies omgekeerd, want daar vorm die watergordel die noordelike gedeelte, die middelste gedeelte is eweneens die laer berglandskap en die suidelikste gedeelte word ingeneem deur die hoëveld. 16. Kyk, dit is dus die ooreenkoms tussen hierdie twee gordels, naamlik dat die een gordel, vanuit één rigting bekyk, aan die suidekant ophou met dit waarmee die ander gordel aan die noordekant mee begin, en omgekeerd. Alles wat daar hierna oor hierdie twee ooreenstemmende gordels volg, sal julle in hierdie verhouding aantref. 17. Om egter getrou te bly aan ons ou ordening, sal ons ook met die nadere beskrywing met die mens begin. Hoe is die geaardheid en die uiterlike vorm van die mense op die noordelike gordel? 18. Wanneer julle die mense van die planeet Mercurius sou ken, dan sou Ek julle kan sê: Hulle lyk daar presies soos die mense van hierdie gordel, en ook die mense van die suidelike gordel lyk soos die van die ooreenstemmende planeet. Maar aangesien julle dit natuurlik nog nie weet nie, moet Ek hierdie mense vir julle wel ietwat van naderby en aanskoulik beskryf, en wel in die eerste plek wat hul gestalte aanbetref. 19. Die mense is liggaamlik ietwat groter as dié van die hoofgordel en ook groter as hul ooreenstemmende broers op die planeet, maar hulle is nie so glansend mooi soos die mense van die hoofgordel nie. Tog is hulle weer baie mooier as die van die ooreenstemmende planeet en ook aansienlik mooier as die mense op julle aarde. 20. Die oorsaak daarvan is hulle wysheid, want dit behoort tot die basis van die wysheid, wat hulle die uiterlike buitengewone mooi vorm gee. By die liefde is die omgekeerde die geval; daar is die innerlike vol oneindige skoonheid en die uiterlike daardeur eenvoudig en sober. Daarom moet 'n uiteindelike uiterlike groter skoonheid ook niemand van wysie afbring nie, omdat dit by verre na nie so 'n hoë waarde het as die innerlike nie, want beide is in verhouding soos die skoonheid van 'n kristal, tot die oorspronklike, ruwe vorm van 'n diamant. Dit blink in sy natuurlike toestand weliswaar onvergelyklik minder as ’n van nature geslypte kristal, maar as die diamant geslyp word en dan sy innerlike helderheid wys, vra jouself dan eers af in hoeverre die helderheid en dus ook die skoonheid van die kristal dan nie agterbly by die vurige kleureprag van 'n diamant nie? 21. In hierdie klein voorbeeld mag alle ware kinders van die liefde 'n baie waaragtige gerusstelling vind, en dus julle ook, al hoor julle ook nog hoeveel oor die menslike vorm van groot uiterlike skoonheid. Want Ek sê vir julle: Één enkele hart op julle aarde wat My waaragtig liefhet, weeg op teen alle denkbare skoonheid van 'n hele sonneheelal. Ja, Ek sê vir julle selfs nog meer as dit: So ’n hart is onuitspreeklik mooier as die hele Wysheidshemel van die engele, en ook mooier as die tweede Liefde-Wysheidshemel van die hoër engelgeeste. 22. Meer hoef Ek julle nie te sê nie. As Ek nou aan julle die skoonheid van die mense op hierdie gordel van naderby sal openbaar, kan julle dus al vooraf weet hoe dit daarmee gesteld is. 23. Die volgende keer sal ons die vorm en die gestalte, wat op sigself in verhouding is soos die wysheid en haar basis, van naderby beskou. Hiermee is dit weer genoeg vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205