|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 72
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 70
Innige verbondenheid met God as grondeienskap van godsdiens en lewe op die sewende gordelpaar
1. Ons het gister al gehoor dat die een wat vanuit die sentrum boor, onmoontlik die bas van die boom kan mis, ten eerste omdat die bas die hele boom omgeef, en ten tweede omdat daar vanuit die sentrum altyd 'n direkte, sekere weg na die omliggende sirkel lei. Wie egter die sentrum nie het nie, sal dit vanuit die omliggende sirkel tog moeilik noukeurig kan vind, omdat hy vanuit die sirkel die sentrum sal moet soek.
2. Nou sal iemand sê: Dit is alles goed en wel, maar as jy eers 'n boom moet split om vervolgens vanuit die kern te kan boor, dan is dit tog wel 'n moeilik opdrag! Dan sê Ek: Inderdaad! Want vir die deurgronding van die waarheid en die vind van die altyd aanwesige sekerheid is beslis meer nodig as vir die bedink van die een of ander leuen. Moet 'n mens dan daarvoor terugdeins om die suiwer waarheid te soek, omdat die weg daarheen moeisamer is as na die leuen? Ek dink dat niemand dit sal beweer nie. So is dit ook met die split van die boom. Dit is makliker om van buiteaf na binne te boor en te sê dat ’n mens die sentrum getref het, as om die boom te split en vanuit die sentrum na buite toe te boor.
3. Desondanks vereis die waarheid dit. En 'n mens moet die lewe soek waar dit is en dan vanaf die lewe uitgaan, maar nie waar dit nie is nie en dus soos dooies vanuit die dood die lewe wil vind en deurgrond nie!
4. Wie dus die regte weg wil gaan, moet altyd die solêre, maar nie die antisolêre weg volg nie. Die boom moet gesplit word, sodat die sentrum van die lewe in die lig kan kom.
5. Dit is alles goed en wel, sal menigeen sê, maar hoe moet ons die boom split? Boaan sit die kroon, en onderaan die wortels! Dan sê Ek: Saag die kroon af en neem die wortels weg; dan bly die stam oor, en dit kan met weinig moeite gesplit word.
6. Nou sal julle wel weer sê: Wat moet dit beteken? Ons verstaan dit nie! Wat is die kroon van die boom? Dit is die wêreldse kennis wat aan die uiterlike verstand kleef.
7. Wat sou die wortels dan beteken? Julle hoef nie so diep te grawe nie, maar moet slegs die volgende vraag beantwoord: Vir watter doel of om watter rede verryk die mense hul verstand met allerlei wêreldse kennis? Dan sal die wortels goed sigbaar vir julle tevoorskyn kom. Indien julle die antwoord egter moeilik vind, dan sal Ek dit wel vir julle gee! Onder die wortels word alle wêreldse belange en voordele verstaan. Dit verenig in die boomstam, wat die eieliefde van die mens verteenwoordig, welke hom dan in die takke en lootjies in allerlei nuttige, wêreldse wetenskappe uitbrei, sodat sy daardeur steeds meer voedsel vir haar eie wese mag vind.
8. Nou sal hierdie beeld tog wel verstaanbaar wees. Weg met die kroon! Weg met die wortels! Split die stam! - Sodat die eieliefde na buite gekeer en tot liefde vir die naaste en vir God kan word, en daardeur aan die strale van die ewige lewenson blootgestel word! Kyk, op hierdie wyse na buite gekeer, word die liefde sigbaar en kan as sodanig deurgrond word. Op watter plek ookal daar ook maar 'n boor van innerlike wysheid geplaas word, sal dit vanaf die verligte basis uitgaan en die bas óf die buitenste sirkel altyd regstreeks raak, sonder om hom moeisaam te moet soek.
9. Sommige sal egter sê: Die beeld is goed en aanneemlik, maar by so ’n ingryping sal die boom wel sterf! En Ek sê vir julle: As hierdie uiterlike boom nie afsterf nie, sal die innerlike boom mettertyd saam met die uiterlike te gronde gaan. Gaan die uiterlike egter ter wille van die innerlike te gronde, dan sal die innerlike boom behoue bly, want wie die lewe liefhet, sal dit verloor; wie dit egter ontvlug, sal dit ontvang. Anders gesê: Wie die wêreldse lewe liefhet, sal die geestelike lewe verloor; maar wie die geestelike lewe liefhet en die wêreldse lewe verag, sal die lewe van die gees verkry.
10. Wie dus die lewe van die gees liefhet en dit ontvang, het homself as die ware gesplete aangebied en sy mees innerlike lewe vir My lig geopen. En die lig is die ware wysheidsboor wat alles deurdring, en wel vanuit daardie punt, waar alle dinge en wesens in één punt bymekaar kom.
11. Noudat ons dit weet, weet ons ook al byna alles oor die godsdiens van die inwoners van ons sewende songordel. Dit behels slegs die volgende: Alles word van binne beskou, en om vanuit hierdie innerlike beskouings 'n ware, innerlike, lewendige lof aan My te bring.
12. Waaruit bestaan hierdie lof? Dit bestaan uit die volkome eenwording, deur die terugkeer van al die uiterlike materiële in die eenvoud van die geestelike. Hoe verstrooid die uiterlikheid ookal mag wees, dit moet homself ten slotte tog in die innerlike as 'n volmaakte, gelykluidende eenheid laat uitspreek.
13. Hierdie uitspraak lui: God is liefde! Alles wat bestaan, is 'n uitstraling van hierdie ewige heiligdom. En hierdie heiligdom bevind homself oneindig volmaak in Sy eindelose alomvattend-heid in Homself, netsoos Hy Homself in ons, Sy ewebeeld, bevind. In hierdie ewebeeld is ons dan, as gevolg van die in onsself gevonde, enige heiligdom, self één met die oerewige, in Homself allervolmaakste oorspronklike enigste heiligdom, en dit is God, die enige Liefde. Dus het ons God lief as ons Sy liefde het, want God laat hom met geen ander liefde liefhê as net met Sy eie, enige liefde nie. Wie God dus wil liefhê, sodat hy ewig in Hom mag lewe, moet die liefde van God in homself hê as 'n volmaakte eenwording met God; dit beteken die terugbring tot die geheiligde Eenheid van alles wat die ewige, enige Liefde, as gevolg van Haar groot ontferming, in talle strale van genade van Haarself uitgestrooi het.
14. Kyk, dit is die eintlike grondbeginsel van die godsdiens op die sewende gordel. Hierdie grondbeginsel is dus ook die basis vir alle handelinge van die mense op hierdie gordel.
15. En so gee ook hul hele wese hierdie grondbeginsel sigbaar weer. Hulle uiterlike is naak, omdat hulle aan die uiterlike geen aandag skenk nie, maar innerlik is hulle des te beter gekleed, omdat alles vir hulle geleë is aan die gees. Hulle het 'n groot liggaam, wat daarvan getuig dat hulle al die uiterlike volkome na binne lei om dit daar te verenig. Hulle is verskillend van grootte, sodat hulle hierdie uiterlike verskille in die gees kan ophef en verenig. Ook is hulle verskillend van kleur, en dit stem ooreen met die straalbreking van die lig, oftewel die uitwendige van dinge, sodat al hierdie kleure in hul gees tot één lig verenig kan word. Hulle bewoon die uiterste gordel van die son, wat beteken dat die uiterlike na die innerlike gebring word om één daarmee te word. Hulle lewe van verskillende vrugte, deels van dié wat die vry groeiende bome en struike hul oplewer, deels van die vrugte wat hul wil aan die bodem ontlok en deels van voedsel wat die lug soos 'n wonder na hulle toe gebring word, as teken dat die mens alle uitgestrooide oorvloed aan genade uit die ewige liefde in homself moet opneem.
16. Kyk, so is ook hul hele strewe daarop gerig om in hulself alles in die liefde voor God te verenig. Die uiterlike grootste het by hulle soveel waarde as die kleinste. Omdat hulle die inwoners van die hele son deur middel van hul gees goed ken, sê hulle: Die inwoners van die middelgordel, wat die meeste waarde heg aan uiterlike prag, is die kleinste mense van die son. Sou hulle volgens die uiterlike maatstaf redeneer, dan sou hulle beslis nog kleineres vind, net soos wat ons gedurende die verloop van hierdie openbaringe oor die son en haar inwoners gevind het. Aangesien hulle alle dinge slegs van binneuit beskou, benoem sy hulle ook soos waar hulle dit in hulself vind. Ek wil julle hiermee daarop wys dat ek met die verloop van die beskrywing vanaf die middelgordel Self gesê het dat die mense wat daar woon die jongste is, maar die uitspraak word in werklikheid eers na hierdie verduideliking duidelik. Want waar die uitwendige steeds buiten¬gewoon pragtig en veelsoortig ingerig is, daar is die inwendige die kleinste. Waar egter die uiterlike sonder prag en praal teenwoordig is, daar is die innerlike des te groter.
17. Hier op die sewende gordel het ons nêrens enige prag en praal gesien nie, maar daarom is die innerlike dan ook die grootste. As die uiterlike vorm ook hier die grootste word, dan doen dit geen afbreuk aan die saak nie, want die grootte is hier alleen maar die gevolg van die waaragtige, innerlike oormaat en dit is 'n teken van dit waaroor ons alreeds gepraat het. So word die mates ook soms op die middelgordel verskillend aangedui, maar ook daarby word altyd rekening gehou met die mense wat so ’n gordel bewoon. En so is baie dinge van binne bekyk, heel anders as wat hulle vir die uiterlike oog lyk.
18. Noudat ons dit weer geleer het, kan ons ook alles wat gegee is, altyd op twee maniere beskou, naamlik van buite en van binne. As daar iewers 'n gaping in die uiterlike sigbaar is, onthou dan dat ook hierdie gaping in die sentrum ineenvloei. Bekyk ons alles van binneuit, dan sal ons sondermeer altyd die reguit weg vind en by voorbaat insien dat die uiterlike uitwasse en ongelykhede in die sentrum tog één moet word en onmoontlik 'n ander rigting aan die weg kan gee, ook al sou dit uit nog soveel diep klowe, skeure, hoogtes en dieptes bestaan het.
19. Hiermee het ons aan die einde gekom van die beskrywing van die godsdiens van die mense op hierdie gordel. Die volgende keer sal ons nog net oor hul voortplanting, geboorte, huwelik en sterwe praat en onsself daarna na die inwendige son begewe, wat ons in sy algemeenheid so kortliks moontlik sal deurloop. En hiermee is dit weer genoeg vir vandag!
|
|
|
|
|