DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 60 Die groot rykdom van die diereryk op Miron. Die tweevoetig diere 1. Ons het by die beskrywing van Saturnus al uitgebreid verneem dat daar op die planete, wat tot een en dieselfde son behoort, soortgelyke en verwante dinge te vinde is. Julle kan dus ook gevolglik aanneem dat daar op hierdie planeet wat ons nou voor oë het, ook beslis soortgelyke diere as op julle aarde voorkom, wat egter in besonderhede soos gestalte, grootte en kleur verskil van die van julle. Desondanks sou julle sonder al te veel moeite vinnig die diere wat verwant is aan die van julle planeet, kan uithaal. Maar nie net die diere van julle aarde nie, want ook die diere van ander planete bestaan hier in vele variasies, sowel wat grootte, vorm en kleur aanbetref. 2. Ja, hier ontbreek selfs die modderdier van Saturnus nie, wat ook net op enkele eilande buite die eintlike kontinent van die gordel woon; maar daar is net 'n groot verskil in grootte tussen die modderdier van die planeet Miron en die van die planeet Saturnus. Want op die planeet Miron is hierdie dier nouliks twintig keer groter as 'n olifant by julle. Wanneer julle dit met mekaar vergelyk, sal die verskil julle sekerlik opval. 3. So is daar ook nog ander diere, wat op die oorblywende planete van ons son voorkom, maar soos reeds gesê, met die nodige verskil. Maar dit sou egter te veel tyd neem om hulle almal te noem, aangesien dit vir die doel van ons beskrywing nie van belang is nie. Want net op hierdie planeet is daar meer as 'n honderdduisend soorte viervoetige diere, wat nie aan 'n gedaanteverwisseling onderhewig is nie. Dink maar net aan die groot leërskare van diere wat ’n mens die oorgangsdiere noem, en ten slotte die ryk van die talryke tweevoeters. Dan sal dit vir julle wel duidelik word hoeveel tyd nodig sou wees om elke diersoort aanskoulik uit te beeld. Daarom sal hierdie algemene oorsig vir die hele diereryk voldoende wees, met daarby die versekering dat daar op feitlik geen enkele ander planeet so ’n bonte mengeling van wesens te vinde is as hier nie, sonder dat die mens daardeur in sy doen en late belemmer word. Want daar is vir hierdie diere in die uitgestrekte gebiede meer as voldoende plek. Veral op die oewers van die seë aan die oorkant van die groot berge wemel dit werklik van allerlei soorte wesens, wat selde of ooit oor die twee groot bergreekse trek om in die eintlike, vir mense bewoonbare land behuising te soek nie. Maar as daar soms enkeles deurkom, dan word hulle baie spoedig as vreemdelinge deur die inheemse diere teruggedryf. 4. Aangesien ons onsself nie meer met die viervoetiges verder sal besighou nie, gaan ons dadelik oor na die tweevoeters. Nou sal julle wel vra: Wat se wonderbaarlike diere kan dit dan wees? Is dit voëls of ape? Want hierdie twee spesies is so geskape, dat die voëls hulleself op twee pote moet voortbeweeg, terwyl die aap meestal op sy agterpote voortbeweeg. 5. Maar Ek sê vir julle: Met die tweevoeters is dit hier heel anders gesteld, want dit is nóg voëls nóg ape. Miskien sal julle dink dat daaronder dalk 'n soort dier verstaan moet word wat vir 'n kwart, 'n derde of halfpad na 'n mens lyk? Ook dit is nie die geval nie, want hierdie diere toon selde enige ooreenkoms met die mens. Dan is dit egter die vraag, wat hierdie dierlike wesens eintlik is. Kyk, omdat alles op hierdie planeet verseker ’n wonderbaarlike tint het, is dit ook die geval met hierdie spesifieke diersoort wat slegs eie is aan hierdie planeet! 6. Om egter, soos julle dikwels sê, die boom met één slag te vel en net soos die held van Macedonië ’n baie ingewikkelde knoop te ontwar en om hierdie diersoort met één straal te belig, sê Ek vir julle dat hulle in wese niks anders is as 'n herhaling van alle viervoetige diere, wat hulleself egter in plaas van op vier, slegs op twee pote voortbeweeg. 7. Wel is hulle liggame beslis meer as vyf maal kleiner as die van die werklike viervoetiges, en hul pote natuurlik ietwat anders gevorm as die voor- en agterpote van die viervoetiges. Want ten eerste is die twee pote na verhouding absoluut sterker as by die viervoetige, en ten tweede is die voetspore wyer en opvallender. Tog is die groot verskil tussen die pote van die tweevoeters en die bene van die mens, dat die knieë van die tweevoeters agtertoe gerig is en die van die mens na vore. 8. 'n Besonder merkwaardige verskil tussen die pote van die tweevoeters en die van die viervoetiges is dat die pote van die tweevoeters vanaf die pens tot by die knie deur 'n dun, elastiese vel verbind is en dus in 'n sekere sin daarmee vergroeid is. Tog word die diere daardeur nie in die minste gehinder by die loop nie. Waarom hierdie diere so ’n vel gekry het, sal verder duidelik word. By die diere met die baie groot, uitgestrekte, voëlagtige voetspore is die kloue ook met 'n vel verbind. 9. Die diere waarby die vel deurloop tot aan die kloue, het in die omgewing, waar die nek op die liggaam voorkom, aan weerskante 'n volgens verhouding groot en sterk waaiervormige arm, ietwat soortgelyk aan vinne van die visse by julle. Die ander diere waarby die vel slegs tot aan die knieë deurloop en wat webbe tussen die kloue het, het geen waaiervormige arms nie, maar in plaas daarvan 'n taamlike lang waaiervormige stert. 10. Waarom het hierdie diere so ’n liggaamsbou? Omdat hulle almal inwoners van beide die land en die lug is. Hulle is ietwat te vergelyk met julle vlermuise en ander handvleuelige diere. Deur 'n buitengewoon fyn en ligte soort gas, wat hulle in hul organisme ontwikkel, kan al hierdie diere hulself net soos julle ballonne, in die veral intensiewe lug hierdie planeet verhef, en as hulle hulleself op hierdie manier in die lug verhef het, kan hulle met behulp van die vel tussen hul pote en die waaiervormige arms, óf met behulp van die vel tussen die kloue en die waaiervormige stert, ewe handig in die lug in alle rigtings beweeg soos die handvleuelige diere by julle. 11. Nou kan julle wel vra: Wat is die eintlike funksie van hierdie diere op hierdie planeet? Dit is 'n baie belangrike funksie. Ten eerste vorm hulle in bonatuurlike opsig die oorgangsvorm van die eintlike diereryk na die mens; ten tweede is hulle in natuurlik opsig op hierdie planeet baie noodsaaklik en die allerbeste lugsuiweraars. Want hoe sterk die lug van hierdie planeet, dikwels tot 'n hoogte van vyftig tot honderd Duitse myl, wel van allerlei in die lug swewende en tewens vormveranderlike dierlike- en soms plantaardige wesens gevul is, is al deels vermeld. Desondanks bly daar nog iets oor wat vermeldenswaardig is. Julle kan in goeie vertroue aanneem dat sulke verskynsels hulself, veral teen die aand, so sterk opeenhoop, dat die son geheel en al daardeur verduister word, iets wat julle, behalwe by 'n totale sonsverduistering, nooit te siene kry nie. Wanneer daar so ’n swewende of vormveranderlike verskynsel in aantog is, styg daar baie gou miljoene sulke diere met groot spoed vanuit die gebergte en soms ook vanuit die onherbergsame dale en klowe op, en baie spoedig bereik hulle so ’n wolk. Dat hierdie diere hieraan 'n lekker ete het, hoef nouliks vermeld te word. Hulle verorber dikwels 'n meer as honderd kubieke myl groot, goedgevulde wolk geheel en al binne 'n tydsbestek van enkele ure. Dat so iets dan vir die mense 'n groot weldaad is, is natuurlik vanselfsprekend. 12. Ook die ryk van die voëls, wat op hierdie planeet feitlik heeltemal aan vormverandering onderhewig is, en dit ook in elke opsig baie uitgebrei is, word goed deur hierdie gaste in toom gehou. 13. Nou sal julle vra: Val hierdie eienaardige tweevoeters ook nie af en toe die mense lastig nie? O nee, want hierdie diere is buitengewoon sku en woon daarom steeds slegs in omgewings wat vir mense en ook vir die ander diere nie maklik toeganklik is nie en wat, sou hulle toeganklik wees, so onherbergsaam en kaal is, dat mense en ander wesens nie veel daar te soeke het nie. 14. Nou is ons ook met hierdie diersoort klaar en ons sal onsself met die mense van hierdie planeet besighou.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205