|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 39
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 37
Woonhuise en buitegeboue op die vierde gordelpaar
1. Voordat ons tot die eintlike huishouding kan oorgaan, sal dit nodig wees om eers ietwat kennis te maak met die woonhuise van hierdie mense, want sonder ’n huis sou daar ook geen huishouding kan wees nie. Ons kan dus die vraag stel: Hoe lyk die huise waarin hierdie mense woon wat so groot soos berge is en waarvan is hulle gemaak?
2. Die woonhuise van hierdie groot mense lyk baie soos die woonhuise van die middelste hoofgordel van die son en is gebou van klip en hout. Dit is net natuurlik proporsioneel groter, aangesien die mense ook groter is as op die middelgordel. Tog moet julle die verhouding nie al te presies neem nie, want op die middelgordel is die woonhuise, asook alle ander geboue, meer vir die prag as vir die behoefte, so hoog gebou. Die huise op hierdie gordel is egter nie vanweë die prag nie, maar ooreenkomstig die behoefte gemaak. Julle sal dus nêrens 'n gebou aantref wat hoër is as twee maal die hoogte van 'n mens daar nie en in die geboue is daar nêrens galerye en soortgelyke verhogings soos wat ons dit in die woonhuise van die middelgordel en ook die eerste twee newegordels leer ken het nie, want hulle word slegs gelykvloers bewoon.
3. Voordat ons egter die inwendige inrigting sal beskou, moet ons tog die vorm van die huis en ook die moontlike omvang daarvan in oënskou neem. Die vorm en ook die grootte van so 'n huis sal vir ons die beste duidelik word wanneer ons so 'n huis van die grond af sien opgebou word. Let dus op.
4. Kyk, daar op 'n groot vlakte word so pas 'n nuwe woonhuis gebou. Daarvoor is 'n reghoekige area van tweeduisend vadem lank en tweehonderd vadem breed bestem. Julle moet julle daarby egter nie 'n volkome wiskundige reghoek voorstel nie, maar eerder 'n honderd vadem breë en tweeduisend vadem lange baan, wat weliswaar aan beide kante in die lengte met 'n reguit lyn deurloop, maar aan die begin, wat die breedte aanbetref, ietwat na binne gebuig is en aan die einde ietwat na buite gebuig is.
5. Aan beide die lang kante sien julle hoe die bewoners vyfhonderd lang pilare bou, wat tweehonderd vadem hoog moet wees. Elke pilaar het 'n deursnee van vyf-en-twintig vadem. In die breedte sien julle aan die begin, en derhalwe by die ingang, slegs twintig pilare wat op dieselfde wyse opgerig word, maar wat nie so 'n groot deursnee het as aan die lang kant nie. Julle sien dat die ente volkome afgesluit is.
6. Die bouers lê reusagtige balke oor hierdie pilare en aan die binnekant van die rye pilare word nog twee rye weliswaar ewe hoë, maar volgens deursnee veel dunner pilare opgerig en al hierdie pilare word weer met reuse balke kriskras met mekaar verbind. En kyk verder hoe daar oor hierdie balke oral sterk planke eweredig geplaas word, wat so presies teenmekaar pas dat daar nêrens 'n voeg gesien kan word nie.
7. Nou is die planke geplaas. Kyk, nou word drie rye dakbalke daarop gebou, waarvan die middelste die helfte hoër is as die twee buitenstes. Nou is die dakkappe ook klaar. Hierdie kappe word met mekaar verbind deur latte, wat so naby teenmekaar aan die kappe vasgemaak word dat daar tussen die kappe nie meer as 'n spasie van 'n paar millimeter oorbly nie.
8. Nou is ook hierdie werk gedoen. Kyk nou net, rondom die hele gebou is 'n groot hoeveelheid dakplate opgestapel. Met geweldig sterk lere klim die reusagtige mense op en af om die dak te dek en hierdie dekking vind plaas op dieselfde manier as wat ons op die middelgordel gesien het. Die plate is aan die binnekant heeltemal donker, maar aan die buitekant lyk hulle soos baie fyn gepoleerde goud.
9. Dit goue dakmetaal word aan beide kante om die kante van die dak gebuig en so as’t ware sierlik omlys. Vir die res word die daksplete oopgelaat, sodat daar voortdurend vars lug daardeur kan vloei wat die hele gebou van bo af koel hou.
10. Noudat ons dit alles in die gees gesien het, ken ons ook al die vorm en die grootte van die huis. Ons moet dus net die inwendige daarvan nog in oënskou neem. So sal ons gou die hele gebou leer ken, sowel as die nie al te ingewikkelde doel daarvan.
11. Kyk, tussen die middelste pilare is daar in die lengte, vanaf die tweede pilaar, 'n ongeveer twintig vadem hoë muur, wat in die middel tussen twee pilare aan beide kante 'n eiervormige uitbulting het. Ons sien verder dat die boonste deel van hierdie muur van sagte bekleding voorsien is. Ek dink dat julle nie lank hoef te raai wat die doel van hierdie muur kan wees nie. Hierdie muur is die eintlike rusplek van so woonhuis, waar die mense na werk uitrus.
12. Tussen die buitenste pilare sien julle ook halwe pilare, ongeveer vyftig vadem hoog. Waarvoor dien dit dan eintlik? As julle bo-op kyk, kan julle sien dat daar op die plat bokante allerlei vrugte geplaas is en julle sal verstaan dat dit die eettafels van die inwoners van hierdie gordel is.
13. Nou gaan ons nog na die afgeslote kant van ons groot woonhuis, wat 'n taamlike groot kromming na buite toe het. Sien hoe daar ongeveer dertig vadem bo die grond eweneens 'n verhoging gebou is, wat na die inwendige van die huis toe, in die rigting van die middelste ry van die binne pilare, uitgebou is en aan die bokant 'n oppervlak het wat by die uitgeboë ronde muur aansluit, sodat daardeur ongeveer 'n vorm ontstaan soos wanneer julle 'n eier in die lengte sou deursny.
14. Ons sien ook dat hierdie oppervlak, wat etlike honderde vierkante vadem meet, oral van sagte bekleding voorsien is. Waartoe sou hierdie rusplek dien? Dit is die setel van die huisvader en ook die leerstoel van waar af die hele gesin deur die vader onderrig word.
15. Kyk, nou is ons al klaar met die hele woonhuis, wat vir drie eenvoudige doeleindes gebou is, naamlik om te rus, om die maaltye te gebruik en om onderwys te gee.
16. Is daar behalwe hierdie woonhuis nog ander, in 'n sekere sin, bedryfsmatige geboue? Elke woonhuis het aan weerskante van die ingang, op 'n afstand van ongeveer tweehonderd vadem, twee net sulke groot ronde geboue, bestaande uit 'n geslote, van ’n paar ronde vensters voorsiene muur. Elke gebou het aan die kant van die woonhuis ’n proporsioneel hoë en breë deur vir die mense. Dit het egter geen dak nie, maar is oop. Die mure is aan die binnekant van allerlei loopvlakke voorsien, wat egter nie bestem is om daarop te wandel nie, maar vir die bewaring van die noodsaaklike huishoudelike gereedskap, wat alles in die een ronde gebou gebêre word.
17. Die ander ronde gebou is 'n voedsel voorraadkamer en in menige opsig ook 'n kombuis, want op hierdie gordel word sommige vrugte ook gestoof en eers daarna geëet. Vir daardie doel is daar in die middel so ’n vyftig vadem hoë stoof geplaas, wat 'n deursnit het van sestig tot sewentig vadem. In die middel van hierdie stoof is 'n uitdieping, waarin 'n soort aardolie gegiet word. Hierdie aardolie word met 'n uit bepaalde klip geslaande vonk sonder moeite aangesteek en brand dan met 'n helder, heeltemal wit vlam, wat 'n groot hitte om hom heen versprei, waardeur die vrugte wat in die goue bakke rondom die vlam geplaas is, baie spoedig tot die regte sagtheid gestoof word. Dit is dan ook die hele inrigting van hierdie tweede ronde gebou.
18. Elkeen van hierdie ronde geboue het 'n deursnee van vyftienhonderd vadem. Aangesien julle by die beskrywing van hierdie geboue verneem het dat daar in die mure enkele ronde vensters is, vra julle nog in die geheim af welke bedoeling hierdie vensters wel sou kan hê, want die ronde geboue is immers oop van bo?
19. Hierdie vensters word aangebring as gevolg van die ventilasie, want op hierdie waterryke gordel is die lug dikwels taamlik vogtig, waardeur dan in afgeslote ruimtes maklik verrotting of tenminste roes of swamme by die gereedskap en vrugte kan voorkom. Om hierdie euwel te voorkom, word daar oral ruim openinge aangebring, sodat die lug die ruimtes voortdurend kan uitdroog en suiwer
20. Omdat veral hierdie gordel, as gevolg van sy groot vlaktes, baie ryk is aan verskillende lugstrominge, is dit ook begryplik dat die bewoners, wat baie wys is, weet om hierdie lugstrominge baie goed te benut. - Nou het ons weer 'n deel wat betrekking het op die woon omstandighede van hierdie mense leer ken.
21. Sodat ons egter van so 'n huishouding, wat die geboue aanbetref, 'n volledige indruk kan kry, maak Ek julle ten slotte nog opmerksaam op die groot dieretuin, wat homself agter beide die ronde geboue, na gelang van die gesteldheid van die grondoppervlak, strek. Hierdie dieretuin is ook omring deur 'n soort muur, wat oral eweredig sewentig vadem hoog is, 'n dikte van vyf vadem het en aan die buitekant elke honderd vadem van 'n borswering of steunmuur voorsien is. Hierdie dieretuin het 'n gemiddelde lengte van tienduisend vadem en die breedte bedra, na gelang van die gesteldheid van die vlakte, ook dikwels ses- tot agtduisend vadem.
22. Hierdie tuin is bestem vir 'n dier wat op hierdie aarde nie sy gelyke het nie, maar desondanks by die inwoners daar in dieselfde aansien staan as die skaap by julle. Die grootte van hierdie dier sou wel die grootte van 'n olifant by julle honderdvoudig, kan oortref. Die kop het ietwat ’n gelykenis met die kop van 'n kameel by julle; die liggaam lyk soos die van 'n koei, die pote soos die van julle bekende kameelperd, want die voorste pote is die helfte langer as die agterste. Die stert word gevorm deur 'n wollerige bol, waarvan die wol deur die inwoners vir die maak van hul skorte gebruik word, en dit is ook die enigste doel waarvoor hulle hierdie dier as 'n huisdier aanhou.
23. Nou weet ons voorlopig alles oor die inrigting van die huishouding van die inwoners van hierdie gordel. Daarom kan ons onsself gevolglik aan hul huislike reëls wy, wat ons die volgende keer bekend sal maak. En dus vind ons die weer genoeg vir vandag!
|
|
|
|
|