|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 19
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 17
Skoolgeboue op die middelgordel
1. Hierdie skoolgeboue staan nie op heuwels soos die woonhuise nie, maar meer in die dale tussen die berge, en wel om die baie wyse rede, sodat die leerlinge wat in sulke skoolgeboue in een of ander vak onderrig word, nie deur die bekoorlike uitsig afgelei word nie.
2. Sodat julle vir julleself van die ligging van sulke geboue 'n beter voorstelling kan maak, sal dit nodig wees dat julle die heuwellandskap van die son ietwat aanskouliker vir julleself voorstel.
3. Daar is drie soorte heuwels op die son. Ten eerste die algemene heuwels, wat in onafsienbare kettings, soos die rante op julle aarde, in alle rigtings oor hierdie songordel versprei. Ten tweede, die verskillende toppe van die kruine van hierdie heuwels, wat ongeveer so lyk soos wanneer julle feitlik reëlmatige ronde, maar sterk afgekapte kegels as 'n piramide teen mekaar sou plaas, sodat daar uiteindelik uit verskeie van sulke kegels 'n piramide sou ontstaan. En ten slotte en ten derde die afsonderlike bulte, wat ook die borste van die heuwels genoem word. Hierdie dien gewoonlik as plekke om te woon, dit wil sê, waarop die woonhuise gebou word. Die res van so 'n klein heuwel word dan vir die doeleindes gebruik wat reeds aan julle bekend is, waarby, soos wat julle al kortliks meegedeel is, volgens julle maatstaf ongeveer 'n halwe akker per persoon gereken word. Hierdie stukke grond, sowel as die heuwels, is gewoonlik sirkelrond, waardeur dit gewoonlik dan ook so is dat drie, soms vier sulke stukke grond aan mekaar grens, en wel in die lae gedeelte, dit wil sê in die klein dal tussen drie of vier heuwels.
4. Omdat sirkels mekaar egter maar op één punt kan raak, gebeur dit dat daar tussen drie of vier aangrensende stukke grond 'n vrye, onbesette ruimte ontstaan. Kyk, op hierdie vrye, onbesette ruimtes word die skoolgeboue dan geplaas.
5. Sommige skoolgeboue is kleiner as die gewone woonhuise; sommige is egter ook volgens behoefte groter. Die klein skole is slegs bedoel vir die basiese of elementêre onderwys aan die kinders. Daarom is hulle gewoonlik ook kleiner en is die inrigting daarvan baie eenvoudig. Verder kan nog opgemerk word dat daar twee soorte klein skoolgeboue is, naamlik een vir die onderwys aan seuns en die ander vir die onderwys aan dogters. Hierdie twee soorte verskil slegs deur die feit dat daar rondom die meisieskool tussen die pilare klein, ronde blomtuintjies uitgelê is, terwyl die seunskole heel eenvoudig lyk.
6. Origens is die inrigting van hierdie skole feitlik dieselfde as die van die woonhuise; alles is slegs baie eenvoudig en sonder versiering, wat wil sê dat die leerlinge, wat hul kennis aanbetref, ook nog heel eenvoudig en sonder innerlike, geestelike opsmuk is. By die meisieskole word die dogters deur die klein blombeddings daarop attent gemaak dat hulle ook, wat die uiterlike aanbetref, rein en sierlik moet ontwikkel, sodat daar sodoende 'n welgevallige en aantreklike gees in hulle ontwikkel word.
7. Dit is dus die eerste tipe skoolgeboue. Dit word nie deur ampsdraers of leraars bewoon nie. Die woning van 'n ampsdraer of leraar is eweneens op 'n heuwel wat naby die gebou geleë is.
8. Waarin onderskei die woning van 'n ampsdraer hom nou van die van 'n ander mens wat geen ampsdraer is nie? Dit onderskei homself alleen maar hierin dat van daar ’n reguit pad na die openbare gebou lei, terwyl die paaie van die ander huise juis na die punte lei waar die grense van die stukke grond aanmekaar raak. Origens is die inrigting van die woonhuis van 'n ampsdraer presies dieselfde as dié van enige ander mens.
9. Watter kinders word nou eintlik in so skool onderrig? Slegs die kinders uit die onmiddellike omgewing; ongeveer van drie, vier tot vyf huise.
10. En hoe lank duur 'n les? Nooit langer as hoogstens vyfhonderd pendel slingeringe nie. Daarna is hulle weer vry vir die duur van ongeveer vyfduisend pendel slingeringe. En so word die onderwys voortgesit, vir solank tot die kinders die basiese vakke, wat uit niks anders bestaan as bepaalde kleinere wette, volkome ken nie. Hierdie wette word aan die kinders opgelê en moet deur hulle in ag geneem word.
11. So word 'n kind byvoorbeeld verbied om na een of ander voorwerp te kyk en moet hy sy oë solank daarvan afwend, totdat die leraar sien dat die kind geen enkele moeite meer daarmee het om so 'n voorwerp volkome te ignoreer nie. Die kinders word ook deur sekere prikkels in die versoeking gebring om die wet te oortree en so word daar vir die doel nou eens hier, dan weer daar, skouspele opgevoer waarna 'n kind nie mag kyk nie. Tydens so 'n geleentheid kos dit die kinders dan baie inspanning en selfverloëning om hulle kykgraag oë daarvan af te wend, maar met herhaalde oefening bemeester hulle dit. So is dit ook hier; die kinders vergeet hulself wel herhaaldelik, word dan weer ernstig vermaan en word by herhaalde oortredings dan ’n klein, toepaslike straf opgelê en so word die wyse doel geleidelik bereik.
12. Kan die kinders hulle eenmaal aan 'n gebod hou, dan word hulle nog 'n tweede soortgelyke gebod daarby gegee en as hulle daarmee slaag, word daar nog 'n derde, vierde, vyfde en so verder tot tien, dikwels tot dertig wette bygevoeg.
13. As die kinders op hierdie wyse geleer het om hul oë in toom te hou, dan moet hulle op dieselfde manier leer om hul tong in bedwang te hou. Elke kind word noukeurig deur die leraar gadegeslaan, sodat hy kan ontdek wat die lieflingstema van die leerling is. Dan word die kind vir ’n geruime tyd verbied om daaroor te praat. As die kind homself uiteindelik ook op hierdie punt kan verloën, dan bring die leraar weer 'n ander neiging in die kind na bo en verbied dit op gepaste wyse.
14. Kyk, hieruit bestaan die basiese onderwys, wat geen ander doel het as om die eie wil van die kinders op die mees doelmatige manier van hulle te ontneem nie. Sodoende word hulle heeltemal willoos en daardeur welbereide houers vir die opneming van die goddelike wil, wat dan in 'n hoër skool voorgedra en geleer word.
15. Terwyl die kinders in hierdie elementêre skole in ’n sekere sin van alle uiterlike aktiwiteite weerhou word en sodoende al hul uiterlike sintuie, hul gedagtes en dus ook hul begeertes gevange geneem word, word hulle in die daaropvolgende hoër skool weer die een aktiwiteit na die ander opgelê, om dit volgens die wil van die grote God te vervul. Om hierdie rede is hierdie skole van die tweede soort al nie meer so eenvoudig soos die van die eerste soort nie, hoewel hul inrigting origens heeltemal ooreenstem met die inrigting van die woonhuise.
16. Die versierings in hierdie groter skole, wat gewoonlik op die plek gebou word waar vier stukke grond, soms ook vyf, mekaar raak, fokus altyd op die voorgeskrewe aktiwiteit van die leerlinge. Waaruit bestaan hierdie aktiwiteit? Dit bestaan uit niks anders nie as die langdurige en gekonsentreerde beskouing van allerlei dinge.
17. So word 'n voorwerp byvoorbeeld aan die een of ander leerling getoon, waarvan hy gedurende ’n lang tyd alle dele onafgebroke moet bekyk, waarna hy die leraar moet meedeel wat hy alles aan die voorwerp opgemerk het. Wanneer hy klaar is met sy verslag, word hom weer beveel om dieselfde voorwerp nog skerper te bekyk en goed te ondersoek of hy by die eerste beskouing niks oor die hoof gesien het nie. Na die tweede beskouing vertel die leerling dan weer wat hom by die eerste waarneming ontgaan het.
18. Is dit nou miskien goed? O nee; die leraar verwys die leerling dikwels tien, twintig tot dertig keer na een en dieselfde voorwerp. Julle vra nou weliswaar: Waartoe dien dit alles? ’n Mens kan op één voorwerp tog nie meer vind as wat daar by 'n eerste waarneming op sy oppervlak te siene is nie? Maar Ek sê: Hierdie eerste beskouing is slegs heel oppervlakkig en bied geen enkele mens enige voordeel vir sy gees nie, want so kan elke dier ook 'n voorwerp bekyk.
19. Deur die aanhoudende en gedwonge bekyking word die kyker egter self gedwing om in sy gees die verskillende verhoudings, verbindings en raakpunte te ondersoek, waardeur hy sy manier van kyk wend na die vastheid en beslistheid wat vir die buitengewoon vlugtige gees ook net so besonder noodsaaklik is. Sien, die onderwys van hierdie tweede skool bestaan dus uit sulke oefeninge.
20. Wanneer die leerlinge deeglik en gedug geoefen is in die inagneming van sulke wette en nog veel meer met die handeling daarna, word hulle daarna in 'n derde skool opgeneem, wat nie meer in die dal nie, maar reeds op een of ander heuwel is wat met die gewone huise bebou is, maar op ’n meer opsigtelike, hoër heuwel.
21. So skoolgebou is al redelik groot en het gewoonlik vier dakke, dit wil sê piramide dakke, soos die wat ons op die woonhuise leer ken het. Hierdie skool het 'n naam wat ongeveer dieselfde wil sê as die woord “gimnasium” by julle. Wat word hier onderrig? Hier word in ’n sekere sin die analisering van alle sigbare dinge behandel en die leerlinge word oral die goddelike ordening daarin getoon.
22. Om hierdie rede is so ’n gebou, beide inwendig en uitwendig, so buitengewoon pragtig en ordelik ingerig dat julle absoluut geen voorstelling daarvan kan maak nie. Want ten eerste is die honderd pilare waarop die vier dakke van die gebou rus, deurgaans versier met plastiese reliëfs, wat so kunstig uitgewerk is dat dit lyk asof hulle lewendig is. Hierdie wysigings of versierings op die origens presiese vierkantige pilare vertoon ’n gelykenis met die Egiptiese hiërogliewe. Die verskil is dat al hierdie beelde onuitspreeklik volmaakter en talryker is as die hiërogliewe van Egipte.
23. In die middel van so 'n gebou is vier groot peilers opgestel, wat gedeeltelik die dakbalke help dra en gedeeltelik (naamlik sovêr as wat hulle vanaf die grond tot by die dak reik) versier is met meer verhewe versiersels, wat reeds verwys na die werksaamheid van die grote God.
24. Die pilare, wat elk ongeveer twee vadem in deursnee is en 'n hoogte van twintig vadem het, is gemaak van 'n materiaal wat by julle lyk soos die sogenaamde karneool*, maar die versierings wat daarop aangebring is, lyk wel asof dit uit allerlei verskillende edelgesteentes bestaan. Die voetstukke van die pilare is rond en gemaak van materiaal wat lyk soos gloeiende goud. Die kapitele van die pilare is van 'n materiaal gemaak wat lyk soos ametis*.
*halfedelsteen, rooi kwarts
*halfedelsteen, violette kwarts
25. Bokant die kapitele is groot wit balle aangebring, wat van pilaar tot pilaar met die mooiste boë gekoppel is. Op hierdie boë rus die draagbalke van die dak, wat ook van 'n materiaal gemaak is wat lyk soos ’n baie vurige robyn. Daarna kom eers die dakkappe, wat hier nie swart, soos in die woonhuise is nie, maar wat donker violetblou van kleur is.
26. Kortom, daar heers in so gebou in alle opsigte 'n gelykmatigheid wat nouliks vir julle te verstane is. Die een har¬monieer met die ander, en by die buitengewone groot oorvloed aan pragtige versierings, is daar tog nêrens oordadigheid nie. Selfs die vloer is so gemaak dat dit ongeveer lyk soos die sogenaamde mosaïek by julle. Hier is egter geen reliëf in die figurasie nie, maar dit lyk soos die fynste miniatuur skilderye by julle, en elke voorwerp is so bedrieglik eg nagemaak dat julle vir julleself, selfs by ’n uiters noukeurige beskouing, nie aan die indruk sou kon onttrek dat dit almal in reliëf en volkome ruimtelik gemaak is nie.
27. Origens is daar ook hier vir die pilare, net soos in die woon¬huise, die pragtigste sitplekke aangebring. En omdat so ’n gebou in 'n sekere sin uit vier afdelings bestaan, wat uit die vier dakke afgelei kan word, is daar onder elke dak en wel in die middel 'n pragtig uitgewerkte wenteltrap piramide geleë, wat reeds aan ons bekend is, wat presies so opgebou is soos wat ons in ons woonhuise leer ken het.
28. Buiten hierdie gebou, wat gewoonlik deur die ampsdraer en sy gesin bewoon word, is die grond op dieselfde wyse verdeel en ingerig soos wat ons ook by die gewone woonhuise leer ken het, slegs op groter skaal.
29. Die hele stuk grond rondom so ’n gebou het volgens julle maatstaf dikwels 'n oppervlak van duisend akker, maar des¬ondanks mag één persoon tog nie meer as 'n halwe akker gebruik nie. Nou sal julle vra waarom so groot stuk grond eintlik nodig is vir 'n ampsdraer, wie se gesin tog sekerlik nie meer is as dié van 'n ander huis nie?
30. Die oorsaak is baie eenvoudig, en wel omdat alle leerlinge van so `n instelling solank daar woon, totdat hulle die skool heeltemal deurloop het. Want hier moet hulle baie leer ken, naamlik, soos wat julle al gehoor het, die orde van God in al die verskillende dinge, oftewel, hier moet hulle in 'n sekere sin leer lees in die groot boek van die goddelike natuur, en dit is ook die rede waarom alle voorafgenoemde versierings in so gebou aangebring is.
31. Sodat julle ten minste 'n vae voorstelling daarvan kan maak, sal Ek julle net nog die betekenis van 'n pilaar baie vlugtig en kortliks meedeel. Die ronde voetstuk beteken die krag van God of die sterkte van Sy wil, wat die ewige fondament van alle dinge is. Die daarop rustende vierkantige pilaar beteken die krag wat van hierdie grondfondament uitgaan, wat die steun van die hemel en alle geskape dinge is. Die geskape dinge is sinnebeeldig, deur middel van die versierings rondom die pilaar aangebring en hou verband met mekaar en ook met die krag, wat hulle voortgebring het en dra. Want julle moet ook weet dat sulke versierings nie deur mensehande gemaak is en op die pilare aangebring is nie, maar enkel en alleen deur die hoër wil van die grote God, wat praat in die volkome gereinigde hart van 'n mens. Die kapitele van so 'n pilaar beteken die wysheid; die balle bo-op, die ondeurgrondelikheid van God. Die boë, wat hierdie bolle verbind, beteken egter die ondeurgrondelike weë, waarlangs die Wysheid van God alles in die allerhoogste ordening deursien en verbind, en hierdie ordening is dan die draagster, wat die hele oneindigheid in standhou.
32. Kyk, dit is net 'n baie vlugtige skets, waaruit julle kan aflei wat die betekenis van die inrigting van so ampshuis is. Hierdie ordening moet die leerlinge dan deur die korrekte onderrig vanuit hulself leer verstaan. Sou so ’n kollege julle nie beter geval as julle Latynse aardse gimnasium nie? Kyk, dit is nou 'n ware skool!
33. Vroeër het sulke skole ook op julle aarde bestaan, maar die menslike gierigheid het dit volkome van die aardbodem af verdring. Daarom gee Ek julle nou weer 'n riglyn vanuit die son, sodat julle mag insien hoe 'n ware skool vir die lewendige vorming van die menslike gees moet lyk. Dit sal julle egter in meer uitgebreide betekenis eers by die volgende beskrywing van die tempels leer ken. En dus is dit weer genoeg vir vandag!
|
|
|
|
|