DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 60

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 58 Die Miron-bok. Die Gronddrukker 1. Uit die reeks viervoetige diere van hierdie planeet sal ons nog drie klasse, of liewer soorte vermeld en kortliks beskou; daarna sal ons na 'n algemene oorsig dadelik na die tweevoeters oorgaan. 2. Die volgende dier, wat ons uit die reeks viervoetige sal beskou, is die gewone bok, wat ook inheems is en deur die inwoners as ’n nuttige huisdier aangehou word. Die dier is ongeveer tien keer so groot soos 'n groot koei by julle, maar lyk nie soos 'n koei of 'n bok op julle aarde nie en is dus soos wat hy op hierdie planeet voorkom, op geen enkele ander planeet te vinde nie. Hoe lyk hierdie dier dan? Die middelste deel van die lyf is buitengewoon omvangryk, want die omvang van die maag bedra dikwels twaalf vadem. Die bene is na verhouding egter so maer soos stelte. In plaas van die hoewe van julle bokke het die dier, byna soos julle ganse of eende, tone met 'n sterk vlies daartussen; van voor egter nie met spits nie, maar met stomp naels. Die stuitjie loop as’t ware uit in twee hompe, wat meer as ’n anderhalf vadem bo die rug uitsteek. Tussen hierdie twee stuitkegels sit 'n relatief lang, slurpagtige stert, wat aan sy punt met 'n matige bos hare toegegroei is. Die dier het kort hare, behalwe op sy ruglyn, waarop daar lang, stewige, dig op mekaar staande stekels is, wat dikwels meer as twee el lank kan wees en soms netso dik is as 'n dun ganspen by julle. Daar waar die pote aan die liggaam vaskom, is dit omring met 'n ringvormige, digte bos krullende wol en netso in die kleine onder die kniegewrig. Voor die twee voorpote verhef daar 'n volmaakte ronde nek homself, wat netso lank is as die hele liggaam en altyd met kort hare bedek is. Op die nek sit 'n kop wat byna net so lyk soos die kop van 'n kameel by julle, net met die verskil dat daar reg uit die voorkop drie taamlike lang horings met skerp punte steek, waarvan die middelste ietwat sterker en langer is as die twee buitenste. Presies in die middel van die maag hang by die wyfie, wat gemelk kan word, vier sterk tepels, waaruit die inwoners 'n baie lekker, dik melk verkry. So lyk die dier se vorm dan. 3. Wat is nou eintlik merkwaardig aan hierdie dier? Die merkwaardige is dat hierdie dier sy voedsel in drie elementêre ryke kan soek, naamlik in die water, op die land en in die lug. Nou sal sommige sê: Dit vind ons nie so merkwaardig nie! So lewe alle viervoetige diere by ons, want ook hulle lewe van die water, van die land en van die lug. Hier lê die saak egter anders. Hierdie bok kan die water ingaan en daar, soos die ganse by julle, rondswem en die veelvuldig voorkomende waterplante eet. Dit sou nog altyd nie so opmerklik gewees het nie, want ook op aarde is daar viervoetige diere wat baie goeie swemmers is en die waterplante baie smaaklik vind. Hierdie dier kan hom egter ook vry in die lug verhef en vang daar, happende en na alle kante bewegende, die deur die wind gewaaide blare, asook ander, skielik in die lug opduikende plantegroei om homself daarmee te voed. Hiermee moet ook nog opgemerk word dat die lug van hierdie planeet oorvol is van allerlei seldsame, uit die kosmos komende verskynsels, en dat daar nie 'n dag verbygaan dat nie hele wolke van vreemdsoortige plante, sade, diere en dies meer vir 'n kort tyd die lug vul nie. Hierdie kosmiese verskynings val egter selde op die grond, maar sweef heel behaaglik deur die lugruim, wat dit veel makliker kan doen, omdat die lug van hierdie planeet baie digter en swaarder is as die van julle planeet. 4. As hierdie dier dus 'n voedsame lugwandeling wil maak, produseer hy 'n behoorlike hoeveelheid lug in sy maag, rig homself dan met sy ligte pote in alle moontlike rigtings en voel die beste wanneer hy in so 'n kosmiese planetêre wolk beland. As hy hom daarin versadig het, dan seil hy weer huiswaarts, nadat hy tussen sy twee stuitkegels nog 'n klein voorraad gestoor het. 5. Origens is hierdie dier uiters goedmoedig van aard, maar het desondanks verskeie vyande onder die diere. Hierdie vyande bemeester hierdie dier egter nie so maklik as hy hulle ten minste betyds opgemerk het nie. Sodra hy een of ander vyand ontdek het, verhef hy homself vinnig in die lug, beweeg vinnig na sy vyande toe en stoot vanuit die lug heel behendig met sy horings na sy vyande. As hulle nie al te groot is nie, gryp hy hulle ook goed vas met sy stewige kloue, trek hulle duiselingwekkend hoog die lug in en laat hulle dan val. Die vyande weet dit en onthou dit ook en daarom maak hulle hulleself onmiddellik uit die voete sodra die dier hom in die lug begin te verhef. 6. Vir die mense toon die dier egter 'n besondere liefde, doen hulle nooit enige kwaad aan nie en kos hulle ook so goed as niks. Daarom gebeur dit dikwels dat daar by 'n huishouding verskeie honderde van sulke diere is om die inwoners ryklik in hulle lewensonderhoud te voorsien. Die diere verlaat 'n huishouding nie so maklik nie, slegs wanneer 'n mens een van hierdie diere gedood het. Dan is dit egter ook vir 'n geruime tyd afgeloop, want dan verlaat alle diere, ook al is daar verskeie honderde daarvan, so ’n huishouding en verryk dan 'n ander huishouding met hul teenwoordigheid. 7. Die kleur van hierdie beslis merkwaardige huisdier is oor die algemeen groenagtig rooi; die langer hare is donkerblou, die borsels en die stert, die stuitkegels en die nek, asook die drie horings op die kop is verblindend wit. 8. ’n Ander, net so ’n baie onvergeetlike huisdier is die sogenaamde 'gronddrukker'. Die dier het ongeveer die gestalte van 'n olifant by julle; slegs sy pote, sowel as sy slurp, is anders gevorm as die van 'n olifant, want die pote lyk soos asof ’n mens vier kegels aan die dier gehang het, waarvan die breë deel aan die onderkant sit en die spitse dele sodanig met die lyf verbind blyk te wees, asof hulle daarin gesteek was. Verder vertoon die lyf, afgesien van die tien maal groter volume, 'n volmaakte ooreenkoms met dié van 'n olifant by julle. Ook die kop lyk, afgesien van die slurp, soos die van 'n olifant, want die slurp is na verhouding ietwat korter en aan die einde nog net so breed soos by die kop, van waaruit hy 'n soort verlengde neus vorm. So lyk hierdie dier dan. 9. Waarom het hy egter die naam 'gronddrukker'? Hierdie naam gee eintlik al aan hoe nuttig hierdie dier is, want as hy 'n plek gevind het waar hy wil woon, begin hy die grond daar te stamp en hy rus nie voordat hy hierdie terrein volkome gelyk gestamp het nie. 10. Ook hierdie dier word getem en deur die inwoners gebruik as fondamentplaser by die bou van hul eenvoudige woonhuise. By die geleentheid hoef die mense slegs 'n voor te trek op 'n stuk grond wat hulle volkome gelyk wil hê. Wanneer so `n dier dan op so afgebakende plek gebring word, begin hy onmiddellik om die grond te bewerk. Hy woel eers met sy twee reguit, lang slagtande en sy baie kragtige slurp en op hierdie wyse maak hy die grond van die aangeduide terrein los en gelyk, sonder behulp van 'n wiskundig vaardige boumeester. As die terrein eenmaal losweg gelykgemaak is, dan begin hy stamp. Deur die gestamp word die grond so gelyk en stewig gemaak, dat ten eerste selfs 'n waterpas geen afwyking daarop sou vertoon nie en ten tweede dat die bewerkte grond so stewig gekompakteer is, dat julle veel werk met julle pikke sou hê om dit weer los te maak. 11. Die dier voed ook van kruie en wortels en het by uitsondering feitlik geen vyande nie, behalwe enkele algemene insekte. Sy kleur is vaalgroen. Aangesien daar niks belangriks meer oor hierdie dier te noem is nie, sal ons na die nuttigste, maar terselfdertyd ook merkwaardigste huisdier van hierdie planeet oorgaan.