|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 31
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 29
Bodem kultivering en dierewêreld op die eerste paar newegordels
1. Die bodem kultivering word op die eerste paar newegordels in drie verskillende klasse geklassifiseer, naamlik in die kultivering van die oewerlande, die kultivering van die heuwels en die kultivering van die hooglande.
2. Waaruit bestaan die kultivering van die laeveld? Die kultivering van die laeveld word deur die inwoners van die nedersettings by voorkeur bepaal deur die aanplant van allerlei soorte smaaklike vrugte, omdat dit die beste op die vogtige oewerland floreer.
3. Tot hierdie aanplantings behoort hoofsaaklik die kweek van bome. Hoe word 'n boom egter hier geplant of gekweek? Op die hoofgordel het ons gesien dat enkel en alleen die wil van die mens die saad is vir talle verskillende gewasse. Is dit op hierdie newegordel ook die geval? Ek sê hier geen ja en nee nie. Uit die volgende sal blyk hoe dit plaasvind.
4. Ook op hierdie gordel het die hele plantewêreld geen saad nie en die inwoners het die saad ook nie in hul swakkere wil nie. Desondanks is dit tog sterk afhanklik van die wil van die mense, waar hulle 'n plant of boom wil hê. Op hierdie gordel is weliswaar reeds deur My vir die groei van die plante gesorg en niemand kan ander plante tevoorskyn bring as alleen die, waarvoor hierdie gordel bestem is nie. Maar hierdie plante kan die mense dan wel deur 'n sekere mate van handearbeid, maar hoofsaaklik deur hul wilskrag, die plante vanuit die bodem ontlok.
5. Hierdie manier om plante voort te bring, word daar die 'primêre kultivering' genoem, wat almal egter nie kan toepas nie, want dit is slegs weggelê vir enkele wyses met 'n kragtige wil, wat hulle spesifiek hierop toegelê het.
6. Die ander inwoners van hierdie gordel bedryf gewoonlik die tweede of sekondêre kultivering, wat behels dat hulle jong lote en takke van die aanwesige bome neem en dit in die aarde steek, ongeveer soos wat wilgerbome en wingerde by julle geplant word.
7. Hoe gaan mens egter by die primêre kultivering te werk? Die planter het 'n gepunte stok. Hierdie stok steek hy ongeveer 'n halwe vadem diep in die grond in; dan neem hy 'n kan water, blaas eers 'n paar keer daarin, gooi dan die water druppelsgewys in die gemaakte gat en wanneer die water op is, bid hy tot God, die Hoogswyse, of Hy op hierdie plek 'n plant wat ryklik vrugte sal voortbring uit die grond sal laat ontkiem. Daarna staan hy 'n tyd lank by die opening, buig sy kop presies daarbo en hou sy wilskragtige blik vir ongeveer 'n uur, volgens julle tydrekening, strak op die gat gerig. Daarna gaan hy verder en maak op dieselfde manier 'n tweede gat in die aarde en verrig dieselfde handeling as by die eerste; en so gaan hy deur totdat hy die gewenste aantal van een en dieselfde boomsoort geplant het.
8. As die hele werk gedoen is, dank hy God, die Hoogswyse, vir die krag wat aan hom verleen is, die geduld en die volharding, seën vervolgens die aanplanting, laat dan alles oor aan God se wil en keer huiswaarts.
9. Na verloop van 'n jaar, volgens julle tydrekening, staan daar op die plek waar hy geplant het, ook swaarbelaaide bome met al die vrugte van die soort wat hy in gedagte gehad het. Sulke bome, wat deur die primêre manier van plant voortgebring is, is die mees volhoubare en menige boom bereik dikwels 'n ouderdom van meer as ’n duisend jaar, volgens julle tydrekening.
10. Op dieselfde manier as die bome word ook ander kleiner plante, sowel as die lae gras geplant. Die mense gebruik net ander gereedskap om gate te maak in die aarde. Die stuk gereedskap is 'n soort wals, wat van vele punte voorsien is. Hierdie wals word dan oor die bodem gerol. Agter die wals loop dan 'n sogenaamde primêre planter met 'n groot houer beademde* water; dat houer het ongeveer die vorm van julle sproeiers of gieters. Met die houer begiet hy die aarde waarin die gate gemaak is, sorgvuldig. As hy dan 'n bepaalde gebied aldus bewerk het, dan spreek hy oor die hele gebied sy gebed uit en verrig in 'n sekere sin dieselfde handeling as by die aanplanting van elke afsonderlike boom. En na drie dae, volgens julle tydrekening, is die hele bewerkte gebied vol begroei met die soort plante wat die planter hier wou hê.
*water waarop die persoon geblaas het
11. Op dieselfde manier word ook uitgestrekte stukke grond met edel gras beplant. 'n Bepaalde soort gras egter, wat daar die wilde of onedele gras genoem word, asook 'n paar soorte onedele klein plante, groei hier en daar as’t ware vanself uit die grond en dien as voedsel vir die diere wat spaarsamig hier aanwesig is.
12. So gebeur die primêre aanplantings, en veral in die oewergebiede, wat grotendeels die eiendom van die inwoners van die nedersettings is.
13. Waaruit bestaan die heuwel kultivering dan? Dit bestaan uitsluitlik uit die kweek van bome, en wel langs die weg van die sekondêre aanplantings; kleiner plante kom gewoonlik nie daar voor nie.
14. Wat die boomvrugte egter aanbetref, dit word in ’n sekere sin deur die sekondêre aanplantings veredel en word dan ook veel groter en smaakliker as die van die primêre aanplantings.
15. Van die verskillende bome sal Ek julle slegs één, as die mees merkwaardige, van naderby beskryf. Hierdie boom word nie so baie hoog nie, maar brei homself des te meer uit oor die grond. Die hoofstam word gewoonlik nie hoër as hoogstens vier vadem nie, maar vanaf hierdie massiewe stam loop na alle kante straalvormig honderd tot tweehonderd vadem lang takke, wat voortdurend oorvol sit met buitengewoon heerlike, ryp vrugte, wat ongeveer lyk soos die grootste soort druiwe by julle. Hierdie vrug is buitengewoon smaaklik en soet, maar nie so sappig soos julle druiwe nie; eerder ongeveer soos julle spanspekke. Die vrug is terselfdertyd die belangrikste voedsel van die inwoners van hierdie gordel en kom die mees algemeen voor, omdat die boom oral buitengewoon goed floreer.
16. Die vrugte van die ander bome is meer oordadige lekkernye as eintlike voedsel. Julle sal wel vra: Het hierdie mense dan geen brood nie, soos by ons op aarde? Nee, sulke brood is nie daar nie, maar in plaas daarvan droog hulle die oorskot van die voorafgenoemde boomvrugte, en hierdie droë vrugte neem dan die plek in van die brood.
17. So is dit dus met die landbou op die heuwels gesteld, waarby hoogstens nog vermeld kan word dat hierdie heuwelbewoners, om die aansien van hul bewerkbare grond te verfraai, die vry groeiende gras in 'n sekere sin kultiveer deur dit vlytig te maai. Daardeur lyk sulke heuwels dikwels asof dit met groen sy-fluweel oortrek is.
18. Dit is dan ook wel heeltemal alles wat die kultivering van die heuwels aanbetref; en so moet ons alleen nog kyk na die kultivering van die lande op die hoogland. Hiermee sal ons egter gou klaar wees, want die hele kultivering van die hoogland onderskei homself van die twee tot nou toe bekendes slegs deur die feit dat in die lande op die hooglande, geen vrugte van die primêre kultivering genuttig word nie, maar slegs die van die sekondêre kultivering.
19. Daarom word daar ten behoewe van die primêre kultivering net tipes boom- en plantkwekerye uitgelê, van waaruit die lote dan op die reeds bekende wyse verder uitgeplant word. Slegs die gras op die hooglande word oral deur primêre kultivering gekweek.
20. Daarmee het ons ook al die kultivering van die hooglande uiteengesit, waarby hoogstens nog opgemerk kan word dat die vrugte op die hooglande verreweg die edelste is, soos wat ook die inwoners van hierdie grootste landstreek van hierdie gordel die wysste en edelste is.
21. Nou sal julle wel sê: Gesien die wyse waarop die hoogvlakte bewerk en bewoon word, sal daar wel weinig diere voorkom. Ja, julle het gelyk; afgesien van enkele klein sangvoëls is daar glad geen diere nie. In die laer geleë lande bestaan daar wel 'n soort rooibok en wit skape. Die skape word deur die inwoners geteel, en hier en daar die bokke ook wel, maar nie oor die algemeen nie.
22. Heeltemal benede by die oewers van die groot ringvormige see bestaan daar ook 'n soort koei, wat egter eerder lyk soos 'n reuse skaap. Die inwoners van die nedersettings maak dikwels jag daarop en probeer hulle lewendig in die hande te kry, maar dit gaan altyd met veel moeite gepaard, want hierdie koeie is weliswaar nie boosaardig nie, maar tog buitengewoon vinnig, en daar is baie slimheid nodig om so `n dier te vang.
23. Terwyl die land so arm aan diere is, wemel dit tog in die groot ringsee van allerlei waterdiere. En die hier en daar in hierdie see algemene, beduidende groot eilande word deur hele swerms van die mees verskillende soorte voëls bewoon. Om dié rede gaan die inwoners van 'n gemeenskap ook in stil tye graag na die oewers van die groot ringsee, waar hulle, sovêr die oog maar reik, al die veelsoortige lewende wesens van die groot water gadeslaan.
24. Dit is dus alles wat by die kultivering van hierdie twee gordels hoort en wat op albei die gordels een en dieselfde is; alles is slegs op die suidelike gordel in alle opsigte ietwat groter as op die noordelike.
25. En daarmee is ons ook weer met hierdie onderwerp klaar. Die volgende keer sal ons tot die huislike, en daarna ook na die geestelike en godsdienstige reëls oorgaan. Genoeg dus vir vandag!
|
|
|
|
|