|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 44
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 42
Die godsdiens van die inwoners van die vierde gordelpaar
1. Wat die godsdiens aanbetref, dit is feitlik nêrens so maklik soos hier nie.
2. Dit bestaan slegs uit die lewende geloof in 'n God wat die mees volmaakte mens is, en dat hierdie mees volmaakte mens die hemel, hul wêreld en alle dinge en wesens vanuit Sy vrye wil geskape het, die mens na Sy ewebeeld gemaak het en hom op die wêreld as heer daaroor geplaas het, sodat hy beide die uiterlike sowel as sy eie wêreld, wat die natuurlike van elke mens is tydens sy liggaamlike lewe, sou beheers. Dit word as grondbeginsel van hul godsdiens geleer en maak in 'n sekere sin die eerste gedeelte van hul godsdiens uit.
3. In die tweede deel van hul godsdiensleer word egter getoon dat die mens die mees geëiende houer is om die goddelike wil op te neem, en verder word daar aangetoon hoe die mens slegs deur die opneming van hierdie wil 'n waarlik magtige heer oor alle ander skepsele van die wêreld en ook oor die wêreld self kan word.
4. Verder word in hierdie gedeelte nog getoon hoe die mens die goddelike wil volkome sy eie kan maak, naamlik deur die wil op te volg. Want hulle sê daar: Wie volkome volgens God se wil leef, moet Hom tog eers volkome in homself opgeneem het. Niemand kan egter die goddelike wil in homself opneem, solank as wat hy sy eie skynbare wil nie laat vaar nie. Maar hoe laat die mens sy wil vaar? Dit doen hy wanneer hy dit gebruik vir die doel waarvoor die Skepper dit aan hom gegee het.
5. Wat is nou hierdie doel? Dit lui as volg: Die mens moet met sy eie wil die wil van God wil vervul en daardie wil vir daardie doel wil leer ken. Aan diegene wat volledige erns daarmee het, sal God ook weldra in die korrekte mate Sy wil bekendmaak. As iemand egter die goddelike wil herken het en dan, vir sovêr hy dit herken het, met sy eie wil volgens God se wil handel, verenig hy die eie wil met die Goddelike, waardeur dan eers 'n werklike hernude verbinding tussen God en die mens bewerkstellig word, en dit is die werklike godsdiens.
6. Hoe meer die mens dus op die gebied van die godsdiens daarna streef om die goddelike wil te verstaan en daarvolgens te handel, des te meer verbind hy homself ook met die krag van die Goddelike wil. Het iemand die goddelike wil dermate sy eie gemaak sodat hy absoluut geen eie wil meer het nie (selfs nie eers om die goddelike wil daarmee te vervul nie), maar elke wil in hom al suiwer goddelik geword het, dan het die mens nie net met God verbind nie, maar het hy homself met Hom verenig.
7. Die doel van die godsdiens is naamlik dat die mens hom met God moet verenig, dit wil sê, dat hy geen ander wil as beweegrede vir sy handeling sal hê nie, as net die Goddelike wil alleen nie.
8. Wie nou enkel en alleen die goddelike wil as beweegrede vir al sy handelinge het, handel maklik en buitengewoon effektief. Want die almag van die goddelike wil openbaar homself oral en in elke mens, wanneer hierdie wil as die suiwer beweegrede van die een of ander handeling na vore tree.
9. Kyk, uit hierdie kort beskouing bestaan die tweede gedeelte van die godsdiens van die inwoners van hierdie gordel.
10. Nou kom daar nog 'n derde deel by. In hierdie gedeelte word slegs die innerlike lewe beskryf, eweneens op die kortste en maklikste wyse. Dit sal julle dadelik sien in die leer wat Ek, net soos die vorige, letterlik vir julle sal aanhaal.
11. Aldus lui die leer van die derde deel: God is die mees oer ewige Lewe Self. Daarom heers daar in God Self as sodanig ewig en onverbiddelik die grootste vyandskap teenoor die dood, want die lewe kan nooit op vriendelike voet staan met die dood nie. Hoe sou God, as die oer ewige, mees eie, fundamentele Lewe van alle lewe, ooit 'n verbondenheid en vriendskap kan hê met die dood, wat die aller uiterste teenstelling van alle lewe is ?!
12. Hierdie vyandskap, wat in die ewige orde van God gewortel is, is die 'toorn van God'. As God egter, as die basis van alle lewe, die wêreld en die dinge uit Homself geskape het, dan het Hy dit beslis nie vanuit Sy toorn nie, maar vanuit Sy eindelose vriendskap geskape. Hierdie vriendskap is as liefde die eintlike, fundamentele wese van God, waaruit ons en alle dinge voortgekom het.
13. As ons as selfstandige lewende, denkende en willende wesens tog duidelik en onmiskenbaar voortgekom uit die lewe van God, waarin geen dood denkbaar is nie, dan is ons tog sekerlik nie geskape vir die dood nie, maar uitsluitlik vir die lewe. Dat dit so is, kan ons immers duidelik aflei uit die feit dat ons as lewende wesens bestaan.
14. Want die dood, die onding sonder bestaan, enkel as begrip vir die teenstelling van die lewe, kan immers onmoontlik iets voort¬bring nie. Sou hy dit kon doen, dan sou hy eers moet bestaan. Hoe en waar sou hy kan bestaan, as die lewende Wese van God Sy eie oneindigheid geheel en al vul, waarbuite geen tweede oneindigheid meer denkbaar is nie, aangesien die een oneindigheid van God ewig onbegrens is?
15. Maar omdat ons nou lewe, in staat is om te dink en ons van onsself bewus is, bestaan ons tog onteenseglik vanuit die oerlewe van God en waar ons onsself ookal bevind, midde in sy oer ewige, allervolmaakste lewe. Niks kan ons daarvan skei nie as slegs, vir 'n kort tydjie, ons eie wil wat deur God aan ons gegee is.
16. As ons dit weer met Sy wil verenig het, dan het ons daardeur ook weer teruggekeer in die oerfundamentele lewe in en niks kan ons meer daarvan skei nie, as skynbaar slegs die swak huid van die liggaam. Wanneer dit, volgens God se wil, van ons afgeneem word, is ons weer volkome één lewe met God, wat homself dan in die hoogste mate van helderheid ewig in alle volmaaktheid sal kan herken en beskou.
17. Maar hoe bespeur ons die oer goddelike lewe in ons? Die oer goddelike lewe voel en beleef ons deur die liefde. Wie dus die liefde het, het ook al die lewe in homself. Wie egter die liefde nie het nie, sal nog verdere beproewinge moet deurstaan, en wel vir solank totdat die liefde in hom ontwaak het.
18. Die liefde vir ons broeders en susters is die begin van die innerlike lewe. Wie vanuit hierdie liefde in die liefde vir God oorgegaan het, het ook in beginsel in die oorvloed van die Goddelike lewe self oorgegaan.
19. Wie sy broers en susters liefhet, leef al in hul harte en hulle in syne want wie God egter liefhet, leef in God en God in hom!
20. Niemand kan egter vanuit sy eieliefde vir God liefhê nie, omdat God die volheid van die lewe is. Maar as iemand deur sy liefde sy broers en susters lewendig in hom opgeneem het, dan het hy daardeur sy eie lewensfeer verruim, sodat hy dan eers hierin die oorvloed van die goddelike lewe kan opneem.
21. Want die eie lewe is met die eieliefde nie by magte om die oorvloed van die goddelike lewe te dra nie. As die liefde in die menslike hart haarself verenig het met die lewe van broers en susters, kan sy daardeur geleidelik aan so versterk word, dat sy dan in staat sal wees om die volheid van die goddelike lewe in haarself op te neem.
22. Hoewel elke mens op sigself weliswaar 'n lewende wese is, sou die lewe van die individuele mens tog ten opsigte van die volheid van die goddelike lewe, na 'n ware dood lyk, en niemand sou dit kan verdra wanneer dit in die armsalige afgeslotenheid van sy lewe oor hom sou kom nie. Sprei daarom die arms van julle harte wyd uit en omvat alle broers en susters daadwerklik met die innigste liefde; dan sal julle daardeur julle harte omvorm tot 'n ruim woonplek, waar die oorvloed van die goddelike lewe sal kan binnetrek om daar vir ewig haar intrek te neem. Want God is groot, en oneindig is die oorvloed van sy lewe.
23. Ons weet immers dat daar in één punt geen groot krag kan heers nie. Maar as die punte hulleself verenig, sal hulle ook 'n krag besit wat ooreenstem met die omvang van hul vereniging. Is ons groot wêreld nie saamgestel uit loutere punte nie? As ons nou één punt daarvan neem en die krag daarvan beproef, hoe gering blyk dit dan te wees, vergeleke met die van ons, want ons kan dit tussen ons vingers vernietig. Is ons ook daartoe in staat met ons groot wêreld? O, by verre nie! Want die krag van die wêreld is 'n volheid wat ooreenstem met die eindelose veelheid van punte waaruit sy bestaan. En hierdie krag is eweneens niks anders as die voortdurende magtige werkende lewe van God in ons wêreld nie.
24. Die alleen van eieliefde vervulde mens lyk soos 'n punt, wat alreeds deur óns krag vernietig kan word. Wat sal daar dan met hom gebeur in die hande van die Goddelike lewenskrag? Wanneer ons ons hart uitbrei deur liefde vir ons broeders en susters, dan vergroot ons, deur die lewende, afsonderlike punte in onsself saam te trek, ons eie innerlike wêreld (en dit doen die liefde vir ons broeders en susters alles) en vorm sodoende 'n kragtige orgaan om steeds groter kragte op te neem. As die orgaan ooreenkomstig God se wil volmaak gevorm is, net soos die uiterlike wêreld wat ons dra, dan eers sal hy in staat wees om die volheid van die hoër kragte in homself op te neem, wat uitgaan van die oer ewige, eindelose rykdom van die goddelike lewenskrag.
25. Wees daarom lief vir julle broers en susters, sodat julle God kan liefhê, want sonder die broeder- en susterliefde kan niemand God liefhê nie.
26. Kyk, dit is die hele derde grondbeginsel van die lewe, wat gebaseer is op die ware godsdiens.
27. Hierdie grondbeginsel vorm ook die basis vir die huwelik. Daarom is daar ook in die huwelik nêrens so ’n innige band as hier nie.
28. Dat dit sonder enige uitsondering die geval is op die beide gordels wat met die planeet Jupiter ooreenstem, kan julle wel aflei uit die feit dat Ek by die beskrywing van die noordelike gordel die suidelike heeltemal nêrens spesifiek genoem het nie. En daarmee is ons ook klaar met hierdie vierde gordel en sal ons onsself dadelik na die vyfde begewe.
|
|
|
|
|