|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 34
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 32
Godsdiens en huweliksvoltrekking op die beide eerste newegordels
1. Wat die godsdiens aanbetref, bestaan daar op hierdie twee gordels deurgaans geen seremoniële of so gesê, uiterlik sigbare godsdienstige kultuur nie. Daarvan het die inwoners van hierdie gordels 'n groot afkeer, omdat volgens hul streng ordeningsbeginsels iets uiterlik materieel homself ook ewemin met die suiwer geestelike sou laat vermeng as die getal twee met die getal sewe.
2. Daarom sal niemand op hierdie gordel iets ontdek wat hom 'n verwysing na iets hoër sou kon gee nie. Ook is daar by hulle om die rede geen sogenaamde rusdag of Sabbatdag nie.
3. Om dieselfde rede het die inwoners ook absoluut geen enkele vorm van tydwaarneming en hulle bepaal dus nooit 'n tydsduur nie. Hulle sê naamlik: Die tydsbepaling lê in die hande van die hoogste Gees, die mens moet egter nie meet waarvoor God, die Allerhoogste, hom geen maatstaf gegee het nie. En verder sê hulle: Die groot kosmiese Boumeester het ons wêreld vir ons uitgesprei en het deur middel van die vlaktes almal 'n wenk gegee om dit te meet. Maar vir die tydsduur het Hy nêrens 'n maatstaf gegee nie, daarom moet die mens dit ook nie eiemagtig in stukke verdeel nie. Hy het ons weliswaar 'n maatstaf gegee, maar hierdie maatstaf is elkeen se eie lewe. Verder het Hy vir die uitgestrekte uitspansel nog 'n maatstaf gegee, waarvolgens verre wêrelde beweeg, en ons eie wêreld rig haarself in haar beweging ook volgens hierdie groot maatstaf. Maar Hy het ons ook nooit vir die een, nóg vir die ander 'n passer in die hande gegee om hierdie tyd te kan indeel of afmeet nie.
4. Om hierdie rede bekommer die inwoners van hierdie gordel hulle gladnie oor tyd nie. By sommige gaan dat selfs so ver, dat hulle nie eens weet wie van hul volwasse kinders die oudste is nie. Ouderdom bepaal hulle daar slegs aan die hand van die volwassenheid van gees, en hier en daar ook wel aan die hand van die gewig van die liggaam.
5. Dat daar hierdeur dus geen sprake is van 'n Sabbat nie, sal julle maklik kan aflei uit wat reeds gesê is.
6. Waaruit bestaan dan die godsdiens eintlik daar wat die uiterlike aanbetref, as daar nêrens iets te sien is wat ons daaraan sou kan herinner nie? By hierdie inwoners is, bekyk vanuit hul grondbeginsels, alles wat hulle doen godsdiens. Vir hierdie godsdiens, wat deur die wyses aan alle mense van hierdie gordels geleer word, het hulle die volgende grondbeginsel: Ons het nie deur onsself ontstaan nie, maar deur die krag van die allerhoogste Wysheid van God, Wie ons so gevorm het en op hierdie grond geplaas het. Juis hierdie krag hou ons in stand en lei ons voortdurend met Sy hoogs wyse hand. As hierdie krag ons egter so gevorm het, ons voortdurend in stand hou en lei en altyd op ons welsyn bedag is, hoe en wanneer sou ons dan 'n werk kan verrig, sonder dat ons by al ons handelinge daaraan herinner sal word dat ons dit alleen maar moet en ook altyd wil verrig ten dienste van Hom, Wie ons voortdurend van die grootste moontlike daadkrag voorsien?
7. Daarom moet niemand ooit die voorneme hê om iets vir homself te doen nie, maar wat hy doen, moet hy doen vir die Een Wie hom die krag daartoe geskenk het en voortdurend skenk. Die wysheid en die getroue handeling daarvolgens is die ware godsdiens. Daarom moet almal sonder aarseling dit doen, wat hy onverwyld as volledig ooreenkomstig die ordening van sy wysheid herken het. Laat ons Hom daarom altyd dien, in wie se Allerhoogste Wysheid die plan beslote lê Wie vir ons bepaalde doelwitte gestel het, waardeur ons volgens die deur ons erkende ordening juis in daardie hoogs volmaakte plan van Hom moet pas.
8. Daarom moet ons God met elke asemteug van ons longe dien. En elkeen van ons treë moet goed afgemeet en gebalanseer wees, want aan alles sien ons dat God in Homself die mees volmaakte orde is.
9. Wie se werk dus met hierdie ordening ooreenstem, dien God, maar wie hierdie orde ligsinnig oortree en die maat van sy treë en van sy hande nie voor oë hou nie, is soos 'n dwase plant wat sy wortels in die lug sou wil plaas en sy takke in die aarde sou wil insit. Op die lang duur sal die takke in die aarde ook wel wortels kry, maar tog sal die wortels wat na die lug gekeer is, nie in takke verander en enige nuttige vrugte voortbring nie.
10. As iemand nog 'n kind is, gee hy maar net klein en onbeheerde treë, omdat hy met sy voete nog geen maat kan hou nie, want hy het op sigself nog geen gevoel vir afstand nie en is nog te swak om op die korrekte wyse te beweeg. Eers wanneer die kind die volwassenheid bereik het en in alle opsigte manlik geword het, het sy voete ook die korrekte grootte verkry om daarmee die korrekte maat van 'n groot vlakte te kan aftree. So moet ook elke mens by sy eie swakheid begin en geleidelik aan in staat geag word om vir homself die korrekte maat te vind. Indien hy dit volledig gevind het, dan sal hy die goddelike maat daarmee kan meet.
11. Hierdie maatstaf is egter die orde, maar solank iemand nie sy eie orde leer ken het nie, kan hy ook nie die allerhoogste orde van God ken nie. As hy dit nie ken nie, is al sy doen en late nutteloos, want hoe sou enige handeling enige waarde kan hê as dit gedoen word deur iemand wat nie weet wat hy doen nie?
12. Daarom moet niemand iets doen waarvoor hy geen maatstaf het nie. As hy egter die korrekte maatstaf het, laat hy dan ook daarvolgens handel, want die korrekte maatstaf is God se orde, en elkeen is geroep om volgens hierdie orde te handel.
13. Kyk, dit is die ware hoofbeginsel van die godsdiens van hierdie gordelbewoners. Hulle is dus konstante dienaars van God, en hul hele lewe is vir hulle so één ononderbroke Sabbat.
14. Om hierdie rede is ook hul hele huishouding en al hul bewegings so afgemeet, omdat hulle God as die hoogste orde erken en hulle wil ook in geen enkele opsig daarteen gaan nie.
15. Slegs één enkele handeling kan ons in sekere sin as 'n godsdienstige seremonie beskou en dit is die sluiting van 'n huwelik tussen twee mense. Wanneer twee mense in die huwelik wil tree, gebeur dit op die volgende manier: Eers soek die man 'n uiterlik goedgevormde wese. Wanneer hy haar gevind het, dan begeef hy hom dadelik na die ouers van hierdie vroulike wese en sê aan die vader, wat vir hierdie doel uit sy huis geroep word om die huwelikskandidaat te woord te staan: 'Ek het die gesig van jou dogter gesien; sy beval my goed. As jy wil, laat my dan die orde van haar hart ondersoek. '
16. Dan nader die vader die kandidaat met afgemete voetstappe en sê: 'Wys my die maat van jou voet en die van jou hand, dan sal ek jou my huis binnelei en jou die hele maat van my dogter laat sien. 'Hierop steek die kandidaat dan altyd sy hande uit en ook, sovêr moontlik, sy voete. Dan meet die vader die hande en voete en as hy die maat in orde bevind het, lei hy die kandidaat met afgemete treë sy woning binne en laat hom die maat van sy dogter sien.
17. As dit nou ooreenkom met die maat van die kandidaat, dan gee die vader sy dogter sonder die minste bedenkinge aan die kandidaat. Kom die mates egter nie ooreen nie, dan tree die kandidaat onmiddellik self terug, want die maat van die dogter kom nie ooreen met syne nie.
18. As die kandidaat egter by goeie maat-verhoudinge die bruid aangeneem het, lei hy haar dadelik buite die julle reeds bekende kring van die streng orde en wag daar vir die volkie van so 'n huis.
19. Wanneer hierdie mense ook buite die streng kring tree, val hulle weldra almal op hul knieë en loof die grote God, omdat Hy die bruidegom 'n goedgeordende bruid laat vind het. Na hierdie lofprysing staan almal weer op en die vader lê die nuwe bruidspaar die hande op en sê aan hulle: 'God se orde het julle bymekaargebring, bly voortaan altyd en ewig binne hierdie orde! En as God se Wysheid nakomelinge aan julle sal gee, lei hulle dan binne-in dieselfde ordening, waardeur julle self tot 'n ordening gekom het.'
20. Daarna gaan die vader weer met sy volkie sy huis binne, en die bruidegom lei sy bruid na die woning van sy ouers. Wanneer hy by die kring van hierdie orde gekom het, kom sy ouers, broers en susters hulle weldra met ope arms tegemoet en lei die bruidspaar die woning binne.
21. Ook hier lê die vader die bruidspaar die hande op en spreek daardie selfde woorde uit as vroeër deur die vader van die bruid. Daarna word God weer geprys, waarna 'n goedgeordende maaltyd genuttig word.
22. Na die maaltyd begewe die bruidegom homself met sy bruid, onder begeleiding van sy ouers, as hulle nog in die lewe is, andersins met 'n broer en 'n suster, na 'n gemeenskaplike nedersetting van die gebied waaraan so ’n landbewoner behoort. Daar kry die nuwe bruidspaar van die hoogste wyse 'n nuwe naam en daar word hulle ook aan hulle 'n nuwe stuk grond toegeken wat ingerig moet word.
23. Die bruidspaar bly dan in geestelike en uiterlike vreugde so lank in die gemeenskap, totdat die wyse bouers van só 'n gemeenskap 'n woonhuis gebou het en 'n stuk grond vir hulle gereedgemaak het. Daarna kry die bruidspaar lote van allerlei vrugtebome en begewe hulle onder leiding van ’n wyse na die nuwe woning. Vervolgens word hulle dan deur die gemeenskap so lank van kos voorsien, totdat hulle eie aanplantings voldoende vrugte oplewer, waarvoor gewoonlik, volgens julle tydrekening, ongeveer 'n tydperk van hoogstens een jaar nodig is.
24. Die twee ouers, of egter die broer en suster, gaan sodra die hoogste wyse die sorg vir die bruidspaar op homself geneem het, weer na hul huis terug. Nóg die kinders nóg die ouers of bure besoek mekaar in die huise, maar wel herhaaldelik in die gemeenskapshuise, of in die vrye ruimte voor die woonhuise, en is altyd blymoedig wanneer hulle mekaar weer sien.
25. Kyk, hierdie seremonie kan in ’n sekere sin as ’n uiterlike, sigbare godsdienstige kultuur genoem word, en wel omdat daar 'n handeling plaasvind waaraan, in die eerste instansie, 'n uiterlike maatstaf ten grondslag lê. By elke ander handeling moet die innerlike gedagtes en gevoelens eers ondersoek word, voordat daar tot 'n uiterlike handeling oorgegaan word, wat egter gewoonlik tog so geaard is, dat dit veel meer van 'n innerlike, geestelike aktiwiteit afhang as van die aktiwiteit van die hande.
26. Julle sou ook hier graag nog iets wil hoor oor die verwekking van kinders en die uiteindelike sterwe van die mense, maar vir hierdie twee handelinge verwys Ek julle na die middelgordel van die son. Op hierdie punt is dit by beide die newegordels dieselfde as op die middelgordel en is hulle onderling ook volkome gelyk. Sodoende weet ons ook al die gedenkwaardige, wat beide hierdie gordels aanbetref, en daarom sal ons ons aandag die volgende keer dadelik op die twee naburige gordels rig. Genoeg dus vir vandag!
|
|
|
|
|