|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 61
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 59
Die Miron-koei
1. Wat se dier is dit? Dit is dieselfde soort dier as die koei by julle, sy lyk net heel anders. Ook oortref sy die nut en die veelsydigheid van julle koei baie meer. Sodat ons egter 'n goeie begrip oor alle eienskappe van hierdie dier kan vorm, sal dit eers nodig wees om haar voorkoms te beskryf.
2. Hoe lyk sy? Om met die grootte te begin: Die lengte vanaf die stuitjie tot by die kop bedra twintig, en vanaf die hoef tot by die ruggraat tien vadem. Opvallend aan die romp van hierdie dier is haar na verhouding buitensporig groot pens; die pote is egter in verhouding byna net soos by die bok wat reeds aan ons bekend is en is eerder swak en maer. Aan die stuitjie sit 'n lang, ruie stert, wat heeltemal met lang hare, byna soos by julle perde, begroei is. Haar rug lyk ietwat soos die van 'n kameel, net sonder die twee bulte, maar vanaf die stuitjie geleidelik aan omhoog lopend en dan weer dalend na die skouers toe. Op beide skouers sit twee ovaal, as’t ware saamgedrukte kegels, ongeveer 'n halwe vadem bo die rug, waardeur die dier 'n ietwat growwe voorkoms verkry, want as sy loop, skuif beide hierdie kegels ook steeds kruisgewys na mekaar toe.
3. Op die nek, wat vanaf die skouers tot bo ewe breed is, maar in verhouding tot die hele lyf eintlik baie smal, is daar 'n relatiewe groot kop, wat ongeveer lyk soos die kop van 'n muil by julle, net baie groter. Op haar kop het die dier slegs één horing wat egter regop staan en steek nie vanaf die voorkop na vore, soos wat die geval by die skaars geworde eenhoring by julle op aarde is nie. Op hierdie horing sit 'n volkome ronde knop, soos 'n bol met 'n omtrek van 'n vadem en van 'n baie harde materiaal, ongeveer soos kwarts by julle. Hierdie horing is by die voorkop, dus eintlik aan die basis, rondom begroei met 'n bos sterk en effens ruie mane. Onder hierdie mane is daar twee groot vurige oë, wat alle ander diereoë in skerpte oortref. Die tong is in uitgestrekte toestand meer as een vadem lank, dat wil sê buite die bek, en is heeltemal stekelrig, ongeveer soos die vel van 'n krimpvarkie by julle. Met hierdie stekelrige tong kan die dier haar voedsel maklik en stewige vasgryp, dit in haar bek intrek, tussen die sterk druktande maal en dan verslind.
4. Verder is die hele liggaam, behalwe die ledemate, ryklik behaard met die mooiste en fynste wol; slegs die pote, die twee reeds genoemde kegels bo die skouers en die ore het kort hare. Hierdie dier is op hierdie planeet die enigste wat ongeveer die hoewe het van 'n wildsbok by julle. Ietwat vóór beide die agterpote geleë aan die pens is daar 'n relatiewe groot uier, wat by hierdie dier ses spene het en wat egter nie in twee rye nie, maar in één lyn staan. Die kleur van die wol is heeltemal wit, terwyl die mane aan die stert en horing ’n rooierige donkerbruin is. Die kort behaarde liggaamsdele lyk egter vaal. En so het ons die hele gestalte van hierdie dier nou voor ons.
5. As ons hierdie dier beskou soos wat sy nou voor ons staan, moet julle tog sê: Hierdie dier lyk wel nuttig, maar iets buiten¬gewoon en gedenkwaardig kan mens tog nêrens ontdek nie. Maar dan sê Ek, soos wat julle dikwels sê: Hoewel nie alles goud is wat blink nie, kan daar ewegoed wel baie goud wees wat nie blink nie. Want wie goud blink wil hê, moet dit netso goed as enige ander metaal eers poleer. Ons sal dus begin om hierdie dier te poleer, dan sal dit wel blyk hoeveel merkwaardige goud in haar verborge is. Ons sal daarom ook eers die merkwaardige en werklik aan die wonderbaarlike grensende van hierdie dier in oënskou neem, voordat ons haar veelsydige nut sal beskou.
6. Die eerste merkwaardigheid van hierdie dier is dat sy haarself aan die mense van hierdie planeet werklik deur middel van 'n taal verstaanbaar kan maak. Hierdie taal bestaan uit tekens wat die dier met haar voorpote maak en wat sy met die mimiek van haar kop, tong en oë begelei. Julle moet nie dink dat hierdie dier eers geleer moet word, ongeveer op die manier waarop julle op aarde menige dier iets leer nie, maar dit is by hierdie dier al van jongs af eie. Hierdie vermoë word natuurlik deur langdurige omgang met mense wel baie versterk, maar dit hoef in geen geval aangeleer te word nie.
7. Hierdie diere is daarom ook vir allerlei toekomstige verskynsels die mees betroubare profete. En as hulle deur die omgang met mense hul besondere eienskap steeds verder ontwikkel het, dan kan hulle toekomstige verskynsels soos hewige onweer, groot duisternis, wat veroorsaak word deur allerlei kosmiese verskynsels, swaar aardbewings, die toekomstige ontstaan van flikkerende bome en dergelike meer algemene verskynsels op hierdie planeet, byna tot op die sekonde, akkuraat voorspel.
8. Om hierdie rede het die mense van hierdie planeet dan ook 'n heel besondere agting vir hierdie dier, wat hier en daar selfs tot 'n soort afgodery ontaard het. Aangesien die inwoners van hierdie planeet ook in verbinding staan met die geesteswêreld van hul planeet, is sulke afgodery nooit van lange duur nie, maar lyk eerder soos 'n kort bevlieging, net soos die geestesvervoering van sommige dwase digters by julle, wat dikwels vir 'n beeld wat uit hout of klip gevorm is, hul verse so hard verklaar asof hulle voor 'n engelgees uit die derde hemel staan. Dit is ook 'n vorm van afgodery, maar soos wat julle dit al herhaaldelik ervaar het, ook nooit van al te lange duur nie. Dit is nog meer die geval op hierdie planeet, waar die verering deur die inwoners altyd meer 'n groot verwondering oor die vermoëns van hierdie dier is as afgodery.
9. Kyk, hierdie eienskap oortref verseker al alle ander eienskappe van die diere wat ons tot nou toe leer ken het. Het hierdie dier nog meer merkwaardige en wonderbaarlike eienskappe? O ja, luister maar verder!
10. Die tweede wonderbaarlike, merkwaardige eienskap van hierdie dier is die manier waarop sy haar vyande, waarvan daar ook 'n groot aantal is, tegemoet tree. Hoe verdedig sy haarself teen vyande? Ten eerste weet hierdie dier baie presies waar die vyand op die loer lê. As dit die geval is, steek sy haar stekelrige tong uit en gaan reguit op haar vyand af. Deur die uitsteek van haar tong het die dier haarself, danksy die spesiale eienskappe van haar inwendige organisme, met 'n enorme hoeveelheid positiewe elektrisiteit gelaai. As die dier nou agterkom dat sy heeltemal gelaai is, dan maak sy haar bek, nadat sy haar tong ingetrek het, weer dig, rig haar kophoring op die vyand en laat onmiddellik die volle elektriese lading van haar kophoring op die vyand los. Tydens so ’n geleentheid word hy, indien nie heeltemal gedood nie, dan tog deur die buitengewoon hewige elektriese skok so ontmoedig, dat hy oombliklik sy hinderlaag verlaat en sal nie so maklik 'n tweede poging waag om hierdie dier vyandig te nader nie. Dit is dus 'n tweede, beslis merkwaardige eienskap van hierdie dier*.
*vergelyk ook ons elektriese paling, wat 'n skok van ruim 300 Volt kan afgee
11. Die derde merkwaardige eienskap van hierdie dier is dat die inwoners, wanneer hulle melk van haar wil hê, haar nie hoef te melk nie. Hulle hoef net 'n houer te plaas, waarna die dier onmiddellik met haar volle uier bo die houer sal gaan staan en aanvanklik die melk vry uit haar spene in die houer laat loop. As die uier egter nie meer so vol is nie, sodat die melk as’t ware nie vanself uit die speen drup nie, dan melk sy haarself met haar voorhoewe tot op die laaste druppel uit, deur heel handig haar spene tussen die twee hoewe te neem, om so behoedsaam haar uier volledig uit te melk. Wanneer dit gebeur het, dan maak sy dit aan die mense duidelik dat hulle die houer kan saamneem om die melk vir gebruik aan te wend.
12. ’n Vierde besondere eienskap van hierdie diere is dat hulle by hewige storms lewende weerligafleiers vorm, want hierdie diere het 'n groot natuurlike geneentheid vir weerlig. As daar êrens wolke verbytrek wat swaarbelaai is met elektrisiteit, stel hierdie diere hulleself groot getalle op 'n hoër geleë plek op, strek hul tonge na die wolke uit en ontlaai dit dikwels geheel en al van hul elektrisiteit; hulle ontlaai hulself egter nooit skielik via die horing nie, maar laat die elektrisiteit geleidelik aan wegstroom via beide skouer kegels, wat spesiaal vir daardie doel diens doen. Danksy hierdie eienskap is hulle ook die beste nagwakers van die huise van die mense van hierdie planeet. Tydens die nag is dit nie raadsaam, behalwe vir inwoners, om so 'n huis te nader nie. Wie dit sou doen, sou homself blootstel aan baie groot gevare: 'n Mens sou deur weerlig getref kan word, of ten minste ernstig beseer word.
13. Dat hierdie dier, ondanks sulke eienskappe, nog vir allerlei doele aangewend kan word, kan baie maklik vanuit die reeds vermelde afgelei word. Dat hulle byvoorbeeld by die jag gebruik word, wat dikwels daar bedryf word, en nog allerlei ander geleenthede wat nie ontbreek nie, kan julle sekerlik goed vir julleself voorstel. En so het ons met hierdie beskouing van die merkwaardige eienskappe van hierdie dier ook 'n goeie beeld van sy nuttigheid verkry. Daar hoef net nog hieraan bygevoeg te word dat sy met haar wol die mense van uitstekende klere voorsien. Dit is dan ook alles wat daar oor hierdie nuttige dier te sê is. Die volgende keer sal ons onsself dus met die tweevoeters besighou, nadat ons nog heel in kort ietwat aandag aan die oorblywende deel van die diereryk sal bestee. Hiermee is dit genoeg vir vandag!
|
|
|
|
|