|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 6
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 4
Leer van die sonlig. Die dampkring as skitterende omhulsel
1. Laat ons by die beskouing van die son allereers haar ligtende omhulsel in oënskou neem, en wel omrede die volmaakte sonplaneet eers deur hierdie uiterlike omhulling tot son word.
2. Wat is die helderder omhulsel eintlik in natuurlike opsig beskou? Die ligtende omhulsel is die eintlike, atmosferiese dampkring rondom die eintlike sonplaneet, wat slegs aan die buitenste oppervlak so sterk glans. Na die planeet self toe word dit steeds donkerder, en wel so, dat vanaf die eintlike sonplaneet deur hierdie kring van ligstof ewe ongehinderd na buite die vrye kosmiese ruimte ingekyk kan word soos vanaf welke ander planeet dan ook. En juis hierdie ligtende omhulsel, waardeur ’n mens vanaf geen enkele planeet op die eintlike sonliggaam kan kyk nie, is vanaf die sonplaneet self in ’n baie hoë mate deursigtig.
3. Julle sal nou natuurlik vra: Hoe is dit moontlik dat `n mens vanaf die werklike sonplaneet deur hierdie baie intense ligmassa heen, ongehinderd in die eindelose wye vêrtes kan kyk, terwyl dit tog absoluut onmoontlik is om van buite deur hierdie ligmassa heen na die inwendige sonplaneet self te kyk?
4. Die oorsaak van hierdie verskynsel is heel eenvoudig te verklaar en lê meer voor die hand liggend as wat julle sou wil glo. 'n Baie eenvoudige, welbekende natuurlike voorbeeld vir julle sal julle die saak volledig duidelik maak. Laat ons net aanneem dat julle buite die venster van 'n huis staan, vanwaar juis die sonstrale wat daarop val, na julle oog teruggekaats word. Wat sien julle dan? Niks anders as die verblindende weerskyn van die son in die venster, wat vir julle 'n onoorkomelike hindernis is om te sien wat agter die venster is. Sal hierdie hindernis ook vir iemand wat agter die venster staan 'n hindernis wees om deur die venster na buite te kyk en alles wat homself naby en vêr buite die venster bevind, heel akkuraat waar te neem, vooropgestel dat die glas van die venster volkome skoon is? O nee, nie in die minste nie! Terwyl julle aan die buitekant van die venster niks anders as die witglansende glasruit sal sien nie, sal iemand wat aan die binnekant van die venster staan, met gemak julle hare kan tel.
5. Kyk, presies so is dit ook by die son, omdat haar eintlike ligglans in die eerste plek niks anders is as die opneming van al die strale van eenmiljard sonne, wat op hierdie baie wyduitgestrekte spieëloppervlak van die sonnelug elkeen vir homself nagenoeg oneindig maal weerspieël word. Op presies dieselfde wyse word die ligstrale van die son self op 'n ander planeet veelvuldig weerspieël, nie net op die voorwerpe van die vasteland nie, maar by name ook op die oppervlak van die waters en die meeste van alles, op die ononderbroke lugoppervlak wat 'n planeet omgewe.
6. Nou sal julle vra: Waarom is ons planeet, die aarde en ook vele ander planete wat ons sien, dan nie ook, net soos die son, deur 'n sterk ligglans omgewe nie, aangesien elke planeet homself tog net so goed as die son te midde van al hierdie biljoene sonne bevind? In daardie geval sou die maan immers met netso ’n sterk lig moes skyn as die son, omdat ook sy die strale van al daardie biljoene sonne kan opneem?
7. Sodat julle die ongegrondheid van hierdie bewering volledig en heel duidelik kan insien, sal Ek julle weer deur 'n voorbeeld op die regte weg bring. Stel vir jouself net allerlei glas balletjies voor, waarvan die kleinste nie groter moet wees as die grootste sandkorreltjie nie; dan weer een wat so groot is soos 'n hemp¬saadjie; nog enetjie so groot soos 'n ertjie, en weer nog een so groot soos 'n haselneut; dan nog weer een so groot soos 'n werklike neut; enetjie so groot soos 'n gemiddelde groot appel; nog enetjie so groot soos twee vuiste; enetjie die grootte van 'n menslike kop; en so steeds groter tot by 'n bal wat een vadem in deursnee meet. Lê al hierdie balle op een plek wat deur die son beskyn word en ondersoek die weerkaatsende beeld van die son op elkeen van hierdie glasballe wat in grootte verskil. Op die kleinste balletjie sal julle nouliks 'n glimmende puntjie gewaar; op die tweede sal julle al ’n ietwat sterker stralende puntjie ontdek; op die derde sal die vonkie julle oog al feller tref. Die beeld van die son op die vierde balletjie sal vir julle oog selfs al 'n duidelik waarneembare deursnee kry en julle sal nie te lank daarna kan kyk nie. Van die daarop volgende balletjies sal die lig al weer feller wees en die deursnee van die verkleinde beeld van die son sal aansienlik groter word. Wanneer julle aankom by die bal wat so groot is soos 'n mens se kop, sal die beeld van die son al die deursnee van 'n groot mate hê en julle sal nie meer in staat wees om met die blote oog daarna te kyk nie. Op die laaste en grootste bal sal die beeld van die son egter al 'n deursnit van 'n duim hê en dan sal julle des te minder in staat wees om met die blote oog daarna te kyk.
8. Wel, soos wat die glasballetjies hulself gedra met betrekking tot die opname van die lig uit die son, presies so is die verhouding tussen die verskillende hemelliggame. Die vaste sterre, oftewel vêr verwyderde sonne, wat julle vanaf julle aarde slegs as glimmende puntjies sien, hierdie selfde puntjies en by name die wat julle vanaf julle aarde as vaste sterre van die eerste, tweede en derde orde ken, verskyn aan die inwoners van Jupiter net so groot soos 'n silwer muntstuk van twintig, tien en vyf Kreuser by julle*. Waarom is dit eintlik so?
* ’n Gangbare munt destyds in Oostenryk en Hongarye.
9. Omdat die planeet Jupiter reeds 'n byna vierduisend maal groter glasbal is as julle aarde en derhalwe ook die beeld van die vêraf staande sonne noodwendig in 'n groter afmeting moet opneem as julle veel kleiner planeet aarde, het Jupiter, ondanks sy veel groter afstand van die son, tog 'n veel sterker lig as die veel naderby staande planeet Mars, asook julle aarde self.
10. Bedink nou net dat die son meer as eenmiljoen keer groter is as julle aarde, dan word dit tog vanself duidelik dat daardeur alle nog so vêr verwyderde sonne van hierdie sonne-al op die uitgestrekte lugoppervlak van hierdie son 'n aansienlike ligbeeld tevoorskyn moet roep, en wel so, dat selfs die sonne van vêr verwyderde sonnegebiede, wat op julle aarde selfs vir die sterk gewapende oog slegs soos 'n newelvlek voorkom, 'n deursnit van één, twee tot drie duim kry en so sterk straal dat julle as gevolg van die sterk glans, nog geen sekonde met die blote oog daarna sou kon kyk nie.
11. Stel nou vir jou net die beelde van digterby staande sonne voor, wat dikwels 'n deursnit van honderd tot duisend vierkante myl het. Maak van hierdie tallose beelde van sonlig 'n veelvoud op die uitgestrekte bolvormige oppervlak van die sonnelug, dan sal julle daardeur 'n ligintensiteit verkry waarvoor julle hele gemoed sal sidder.
12. Kyk, dit is die eintlike oorsprong van die sonlig wat julle planeet daagliks verlig. Hierdie verklaring sal vir julle die vorige ongetwyfeld duideliker maak, en julle sal maklik kan insien hoe die inwoners van die sonneplaneet baie goed deur die skynbaar ligtende omhulsel van die son heen kan kyk, terwyl die na binne kyk vir elke vleeslik oog absoluut onmoontlik is.
13. Dit weet ons dus nou. Desondanks sien Ek tog 'n diep verborge vraag in julle wat lui: Hierdie opgestelde teorie oor die glans van die sonlig, blyk op sigself volkome korrek te wees, naamlik dat die sonne mekaar almal op hierdie manier verlig. Maar as elke son op die manier skyn, dan is die vraag waar al die sonne eintlik die lig vandaan gaan haal as elke son haar lig slegs verkry deur die strale van ander sonne op te neem, wat met ander woorde soveel wil sê as dat geen son uit homself lig besit nie, maar slegs pronk met die weerskyn van die lig van ander sonne. Waar kry die ander sonne hulle lig dan vandaan? Want as die voorheen genoemde ligteorie volkome korrek is, is elke son in haarself volkome duister. Waar kom die weerkaatsing dan vandaan?
14. Kyk, dit is 'n baie goeie vraag, maar omdat die beantwoording daarvan vir julle begripsvermoë meer uitvoeriger moet wees, sal dit eers in die volgende mededeling volg. Genoeg dus vir vandag!
|
|
|
|
|