DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 59

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 57 Die diereryk op die planeet Miron. Die Stomer, die Donderaar en die Windmaker 1. Oor die diereryk is gesê dat dit vir 'n deel, tot by 'n bepaalde trap, onderhewig is aan 'n voortdurende wisseling van vorm, en wel afwisselend van plante na diere en van diere na plante. Ons sal ons beskouing dus nie begin met die onderste trap van die dierewêreld, wat so sterk aan vormverandering onderhewig is nie, maar dadelik ons aandag op die diere van 'n hoër trap rig, wat op hierdie hemelliggaam al 'n blywende vorm het. 2. Tot die klas van hierdie diere behoort veral 'n aansienlike aantal spesies viervoetige diere van verskillende groottes wat op die land woon. Verder 'n soort wat nêrens anders voorkom as op hierdie planeet nie, naamlik die van die tweevoetige diere en vervolgens enkele voëlspesies. En ten slotte sal ons die mense self in oënskou neem. 3. Één dier uit die viervoetige reeks, wat die naam 'die groot stomer' dra, is een van die seldsaamste diere van hierdie planeet. Hierdie dier is so groot dat dit vanaf die voetsool tot op die rug dertig vadem meet en rondom die maag 'n ligaamsomtrek van minstens ses-en-dertig vadem het. Die bene is relatief lank en sterk en byna gebou soos die pote van 'n olifant by julle; dit is egter onderaan nie van stompe nie, maar van sterk naels voorsien wat soos beerkloue lyk. Hierdie dier het ook 'n na verhouding ’n lang, sterk stert wat van 'n ryklik krullerige haarbos voorsien is, ongeveer soos die stert van 'n leeu by julle. Die kop van hierdie dier staan op 'n kort, maar des te sterker nek en toon 'n sterk ooreenkoms met die van 'n renoster by julle. 4. In plaas van 'n horing op die neus het die dier 'n wye, heel ruime tregter met 'n omtrek van verskeie vadem. Bo die tregter, aan die voorkop, het hy twee slurpe wat tot dertig vadem uitgestrek kan word. Met hierdie slurpe versamel hierdie dier wortels en allerlei ander vrugte wat vir hom eetbaar is, wat hy in die wye, wye tregter plaas. Wanneer die tregter gevul is, blaas hy dan 'n heel warm stoom deur sy neusgate in hierdie tregter in. So word die vrugte as’t ware gekook en wanneer hulle sag genoeg geword het, dan haal die dier hierdie sag geworde voedsel met sy slurp uit die tregter en skuif dit geleidelik aan in sy taamlike breë bek. Die bek het geen tande nie, maar in plaas daarvan net baie sterk spiere waarmee die dier die gekookte kos fyndruk en daarna verslind. 5. Tydens die kook van sy voedsel versprei daar uit sy tregter 'n sterk stoom wat in digte wolke opstyg en wat vergelykbaar is met die stoomontwikkeling by 'n baie groot brandende gebou by julle op aarde. Daarom word hierdie dier ook, soos wat al aanvanklik opgemerk is, die 'groot stomer' genoem. 6. Op geen enkele planeet vind mens in die diereryk soveel kontraste as op Miron nie, daarom bejeën die diere mekaar daar ook altyd vyandig. So gebeur dit dan ook, dat ons groot stomer onder die diere 'n groot aantal vyande het, wat sy lewe bedreig. Maar alle diere kom in 'n geveg met hom baie sleg daarvan af, want hoe groot hierdie dier ookal is, is hy tog uiters behendig en veral pylsnel met sy twee slurpe. Wanneer hierdie dier nou agterkom dat daar vyande naderkom, hou hy homself dom en wag totdat die vyand baie naby gekom het. Dan gryp hy skielik met sy slurpe na die vyand, pak hom beet, werp hom in sy wye, baie stewige tregter en laat onmiddellik sy warm stoom oor hom los. Wanneer die ander, eweneens naderende vyande, hierdie spektakel sien, draai hulle gewoonlik om en maak geen aanstaltes meer om hierdie vyand aan te val nie. Hulle trek hulleself, soos julle sê, heel beskeie terug en bewaar hul wrok vir hom totdat 'n beter geleentheid homself voordoen, waarby dit egter met die een of die ander geen haar beter gaan as wat ons so pas gehoor het nie. Slegs teenoor mense, waarvoor hierdie dier 'n spesiale agting het, gebruik hy nooit hierdie soort van verdediging nie, maar as hulle hom egter te veel terg, dan jaag hy hulle met sy hewig swaaiende slurpe weg en laat by die geleentheid 'n sodanige hoeveelheid stoom uit sy tregter opstyg, dat die mense daardeur in 'n digte wolk gehul word, sodat hulle nie meer kan sien waar die dier is nie. Solank die mense hulle nog in hierdie nie al te aangename reuk van die stoomwolk bevind, gedra hulle hulleself rustig totdat die wolk weer verdwyn het en daarna trek hulle gewoonlik weer onverrigtersake terug. 7. Dit is dus al één merkwaardige dier van hierdie planeet. Sy nut lê grotendeels op die vlak van die metamorfose, aangesien hy 'n oorgangsfase vorm van die gewoonlik vorm-veranderlike plantelewe na die vorm-bestendige dierelewe. Sy kleur is ’n groenerige grys. 8. ’n Tweede, nie minder merkwaardige dier, is die sogenaamde 'donderaar'. Hierdie dier is ’n derde kleiner as die vorige en kom in sy soort slegs op hierdie planeet voor. Hy het 'n besonder groot maag, wat dit ook nog by bepaalde geleenthede deur die ontwikkeling van binne-lug so buitengewoon sterk kan opblaas dat hy dan dikwels 'n maagomtrek van meer as veertig vadem kry, terwyl hy andersins slegs 'n omvang van iets meer as tien vadem het. Hierdie dier toon veel ooreenkomste met die kangaroe, wat by julle ook ’n 'buideldier' genoem word. Hy het egter 'n ronde kop, ongeveer soos 'n aap by julle; ook is sy bene gevorm soos die van 'n aap, maar dit is natuurlik, in verhouding tot die grootte van die dier, behoorlik sterk en stewig. 9. Ook hierdie dier voed homself met kruie, soms ook met boomvrugte, en hy hou homself by voorkeur in die nabyheid van water op. Waarom word hy egter die 'donderaar' genoem? Dit sal weldra duidelik word. 10. Word die dier deur sy vyande agtervolg en in die noute gedryf, dan blaas hy sy maag op, waardeur hy 'n uiters belaglike, skrikwekkende voorkoms verkry. Met sy opgeblase maag, begewe hy homself onmiddellik in die water en swem vinnig vanaf die oewer weg. Wanneer hy nou so tien of twintig vadem vanaf die oewer is, dan begin hy, swemmend in die water, met sy voorpote op sy sterk gespanne maag te trommel, waardeur dit so ’n lawaai veroorsaak, dat selfs die oewer begin te bewe asof daar 'n aardbewing plaasvind. Deur hierdie lawaai maak die dier sy vyande gewoonlik so skrik dat hulle hulself nie weer so maklik in so 'n afskuwelike omgewing sal begewe nie. 11. Selfs mense is nie bepaalde groot liefhebbers van hierdie taamlik onaangename lawaai nie, omdat dit soms en veral by die mannetjies, so intensief is, dat 'n nabye kanongebulder by julle op aarde homself diep sou moet skaam. 12. Die nut van hierdie dier is dieselfde as die vorige. Daar word ook nooit deur die mense op hierdie dier jag gemaak nie, omdat hy origens buitengewoon saggeaard is en geen enkele ander wese benadeel nie, behalwe by 'n agtervolging, deur sy lawaai, wat gewoonlik so lank duur totdat sy vyande vêr weggevlug het; daarna klim hy weer die oewer op, ontdoen sy maag van die lug en volg dan weer sy gewone leefwyse. Die rug van hierdie dier het 'n donkerblou kleur, wat voor by die maag egter in groengeel oorgaan. 13. Dit is dus die tweede merkwaardige dier van hierdie planeet. Ons gaan dus weer oor na 'n ander dier, wat ook nie minder opmerklik is nie. 14. Dit derde uitsonderlike dier het die naam 'die windmaker'. Voordat ons egter gaan kyk waarom hierdie dier die naam dra, sal ons onsself met sy nogal merkwaardige gestalte besighou. Hoe lyk hy? Vir julle, soos julle sê, werklik komies. Julle het op julle hele aarde nie so ’n lagwekkende dieregestalte as hierdie dier nie. 'n Donkie by julle sou daarenteen as 'n ware wyse uit die Môreland kan optree. Hierdie dier word gewoonlik dan ook as 'n huisdier aangehou, omdat dit die inwoners van hierdie planeet baie vrolike tonele besorg, waarvan hulle groot liefhebbers is, omdat hulle in ’n geestelike opsig ooreenstem met die lagkliere in die maag van die groot Skeppingsmens*. *sien die boek 'Van die hel tot die hemel', deel 2, hoofstuk. 301 15. Die dier is tien maal groter as 'n perd by julle. Sy kleur is ongeveer so rooi soos 'n vuil dakteël by julle. Die bene is na verhouding taamlik lank en ietwat na buite geboë, veral in die gedeelte onder die kniegewrig, en is vanaf die maag tot by die twee stomp, kameelagtige hoewe, sterk toegegroei met grof krullende hare. Die agterpote is net soos die voorpote na buite gebuig en is harig. Aan die maag hang twee onbehaarde rye tepels, wat dikwels 'n halwe vadem lank kan wees. Die mannetjie het wel ietwat korter tepels, maar des te opsigtelik is die geslagsdele; veral die balsak, wat tot by die knieë van die agterbene hang. Die stert is vanaf die rug ook ryklik van grof krullende hare voorsien en is baie aktief om enige insekte van die lyf af weg te jaag. Die rug is eweneens ryklik van grof krullende hare voorsien. En so lyk die romp, veral omdat die stuit taamlike sterk omhoog gerig staan, volgens vorm soos 'n reuse bobbejaan by julle, behalwe die pote en die stert. Op die taamlik plompe, lywige lyf staan 'n slanke swanehals. Op hierdie grasieuse swanehals staan 'n kop, wat lyk soos julle muil, maar net nog ietwat stomper en met nog veel groter en minder gepunte ore. Die rante van die ore is eweneens sterk behaard, op dieselfde wyse as die pote, en vanaf die kakebeen hang 'n paar lang, grys tepels, wat slegs hier en daar met enkele taamlike lang hare begroei is. Verder het die dier 'n bek wat hy baie wyd kan oopsper en waaruit hy na behoefte 'n paar vadem lange tong kan uitsteek. Dit is dus die gestalte van hierdie dier. 16. Maar waarom heet hy nou die 'windmaker'? Wanneer die dier, as gevolg van sy, vir die inwoners van hierdie planeet, baie lagwekkende gestalte, oormatig gepla en geterg word, blaas hy homself op, rol sy tong tot 'n buis en blaas dan so kragtig daardeur dat dit 'n mens, wat op hierdie planeet tog 'n baie agtenswaardige lengte het, as hy nie versigtig is nie, met groot gemak kan omgooi. Die dier sit sy blaaskrag veral graag in, as dit 'n groot aantal losse en ook vuil voorwerpe sien. Hy blaas dan na sy teëstanders en dan kan dit net gebeur dat enkele al te opdringerige mense dit behoorlik van voor kry. Maar juis hierdie spektakel besorg die inwoners die grootste genot, nie soseer vanweë die feit op sigself nie, maar veral vanweë die buiten-gewone lagwekkende houding wat die dier by so ’n bedrywigheid inneem. 17. Dit is egter ook vir hierdie mense die enigste rede om hierdie dier aan te hou. Vir die res is sy nut egter dieselfde as die van die vorige twee spesies. Nou is ons met die beskrywing van hierdie dier klaar en ons sal ons beskouings die volgende keer voortsit.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205