DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 18

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 16 Die landbou op die middelgordel. Groentetuin, skaap weivelde en die brood akker 1. Ongeveer drie tot vyf vadem onder die ry bome geleë is daar 'n sogenaamde akker vir die klein vrugte, wat aan beide kante deur allerlei vrugdraende struike omring is. Die struike word hoogstens anderhalf vadem hoog gekweek. Die akker is begroei met allerhande klein vrugdraende plante, wat ongeveer dieselfde vrugte dra soos byvoorbeeld julle aarbeie, spanspekke, sogenaamde paradysappels en dies meer. Tog moet julle nie dink dat daar presies dieselfde soort vrugte groei nie, maar slegs wat die grootte van die plantspesies betref, lyk hulle na mekaar, maar vir die res is daar 'n buitengewone groot verskeidenheid en hulle kom ook, net soos al die ander, by geen enkele ander huis op dieselfde wyse voor nie. 2. Op hierdie punt het julle al 'n tyd lank 'n verborge vraag in julle, naamlik: Waarom sou daar eintlik nie op die grond van 'n buurman iets voorkom wat ook op die grond van 'n ander buurman voorkom nie? Want wat daar uit die bodem van die een buurman gekweek word, sal beslis ook byval vind by die ander. Waarom sou hy dan dit wat op die grond van sy buurman groei, nie ook op sy eie grond kan voortbring nie? As hy dit nie doen nie, moet óf 'n wet hom daarvan weerhou, óf hy moet al die ander minag en alleen dit wat hy op sy eie grond voortbring, as uitstekend beskou. 3. Kyk, hierdie vraag is nie so gek nie en ’n beantwoording werd. Maar voordat daar 'n antwoord gegee kan word, moet Ek opmerk dat hierdie vraag wel op julle aarde gegrond sou wees, maar op die son slaan ’n mens daarmee duidelik die bal mis, en daarom kan dit nie sommer beantwoord word nie. 4. Nou vra julle alweer: Maar waarom dan? En Ek sê vir julle: Net op die 'waarom' kan Ek julle antwoord, en wel as volg: Kyk net na mekaar en sê My dan waarom julle as medemense onderling van mekaar verskil as individue en in die gelaatstrekke, sodat nie eens die een volle broer volkome dieselfde lyk soos die ander nie, terwyl desondanks elkeen tog 'n volmaakte mens, ten minste wat sy gestalte aanbetref, genoem kan word. Kan julle My op hierdie vraag antwoord? Want Ek sê vir julle: Juis daarin lê die hele antwoord op julle 'waarom' besluit. 5. Ek sien egter dat julle met die beantwoording van hierdie vraag geen raad het nie. Daarom sal daar wel niks anders oorbly as om vir julle te sê dat die rede uitsluitlik geleë is in die ooreen-stemmende, by hierdie toestand behorende, individuele gesteld¬heid van die gees, omdat elke gees, behalwe die algemene eie, ook iets baie spesiaal eie gegee is; as’t ware een of ander spesiale as geestelike eiendom gegewe talent. Deur hierdie talent onderskei elke afsonderlike gees homself van elke ander afsonderlike gees en die verskil druk homself dan ook uit op ooreenstemmende wyse in die uiterlike vorm, wat die duide¬likste na vore kom in die gesig van elke mens. 6. Wel, presies so is dit ook op uitgebreide skaal met die in¬woners van die son, waar nie net die uiterlike gelaatsvorm van die mens, die spesifieke gesteldheid van sy gees uitdruk nie, maar ook alles wat 'n sonmens deur sy wil voortbring. Sodoende kan 'n sonmens weliswaar ook 'n plant, wat hom geval het op die grond van sy buurman, op sy eie grond voortbring, maar dit sal dan nie meer daar so lyk soos op die grond van die buurman nie. Waarom dan eintlik? Omdat die buurman ook nie so lyk, nóg liggaamlik, nóg geestelik, soos sy ander buurman nie, en hierdie verskillende, kenmerkende voorkomste, word ook merkbaar in alles wat hy voortbring. Kyk, dit is die eintlike rede waarom by twee bure niks aangetref word wat presies dieselfde is nie. 7. Hierdie verskeidenheid het egter nog 'n ander rede, naamlik dat 'n sonmens, wanneer hy die grond en bodem van 'n ander betree het, onmiddellik deur die een of ander plant gewaarword welke geestesgesteldheid sy buurman (of 'n ander grondeienaar) het. Kyk, nou het ons al die volledige antwoord. 8. In werklikheid vertoon iets soortgelyks homself ook op die planete, waar elkeen ander plante en bome in sy eie tuin kweek en ook elkeen 'n ander huis bou as sy buurman. Hier het die verskille egter slegs betrekking op die verskillende maniere van aanplanting, maar nie op die individuele vorm van die plante nie, omdat dit op die planete uit die saad voortkom waarin daar alreeds 'n vaste ordening beslote lê. Op die son kom hulle egter, soos bekend, uit die volmaakte wil van die gees voort en daarom rig hulle hulleself ook na die orde van die gees wat hulle deur sy vrye wil tevoorskyn geroep het. 9. Nou ken ons dus die rede van die verskeidenheid en sal nou eers verder kyk hoe die stuk grond van 'n sonbewoner ingerig is. 10. Om die akker met klein vrugte geleë is ’n leë, onbeboude sirkel, wat maar net dien om rondom die akker met klein vrugte te kan wandel. Hierdie leë sirkel word weer begrens deur taamlik naby aan mekaar staande klein boompies, ongeveer op die manier soos wat die dwergbome by julle in die tuine gekweek word. Ook hierdie boompies is verskillend, en wel so, omdat daar maar selde vyf tot sewe van een en dieselfde soort is. Daarom dra hulle ook veelsoortige vrugte soos julle pere, appels, granate en dergelike. Daar is alles egter volmaak en elke vrug het 'n buitengewoon lekker smaak. 11. Na hierdie ry bome volg daar weer 'n leë sirkel. Hierdie is egter omring deur 'n soort lewende heining. Vanaf hierdie heining strek dan oor 'n breedte van sewe tot tien vadem 'n weiding uit met buitengewoon groen gras, waarby die gras op één perseel steeds van dieselfde soort is. 12. Dit weiland is bestem vir die skape, wat by die sonbewoners die enigste huisdiere is, hoewel daar op die son oral 'n buitengewoon groot aantal diere van allerlei soorte voorkom, met as enigste uitsondering die slang, wat slegs op enkele planete inheems is. 13. Julle sal vra nou waarom slegs die skaap 'n huisdier is. Ten eerste omdat dit onder alle dierspesies die geduldigste en sagmoedigste dier is, ten tweede ook omdat die sonbewoners die melk van hierdie dier nuttig en ten derde omdat hierdie dier ook op die son met sy ryklike en buitengewone fynwol aan die mense materiaal vir hul klere verskaf. Kyk, daarom word slegs hierdie dier as 'n huisdier aangehou en word daar ’n weiding vir hulle uitgelê. 14. Omdat ons nou net 'n groot aantal diere op die son genoem het, is die vraag: Waar is hulle en waarvan lewe hulle? Julle weet dat daar op die son, veral op hierdie gordel, ook buitengewoon groot, onafsienbare vlaktes is. Soos julle weet word hierdie vlaktes nooit deur mense bewoon nie, en wel om die baie gegronde rede wat julle voldoende leer ken het by die beskrywing van die sonvlekke, of nog beter by die beskrywing van die groot uitbarsting by die ewenaar van die son. Juis hierdie vlaktes word nou deur talle dierspesies van die mees uiteenlopende soorte bewoon. 15. Maar nou is die vraag: Waarvan leef hulle, aangesien die plantegroei op die son slegs deur die wil van die mens bepaal word? Niks is makliker as om op hierdie vraag 'n antwoord te gee nie, naamlik: Ook die vlaktes is met 'n oorvloedige hoeveelheid van allerlei gewasse begroei, en wel ook as gevolg van die wil van die mense. Maar hier, wat die vlaktes aanbetref, deur die gebed en eweneens deur innige vereniging met die getroue erkende wil van die grote God. Maar hoe word hierdie vlaktes dan beplant? Deur die seën van die hoogste leraar, wanneer hy op die hoogste tempelheuwel 'n hele gemeenskap versamel het om die grote God in die tempel met die 77 pilare te aanbid. 16. Kyk, nou is ook hierdie vraag vir julle beantwoord, maar daar lê nog een vraag op die agtergrond: Hoe voorkom die sonbe¬woners dat die diere van die vlaktes na hulle toe kom en uiteindelik skade toebring aan hul edele stukke grond? Dit voorkom die sonbewoners deurdat hulle gewoonweg met verenigde kragte alle heuwel landerye deur ondeurdringbare, lewende heinings in alle moontlike rigtings van die vlaktes heeltemal afsluit. Hierdie lewende heinings bestaan suiwer uit naby op mekaar geplaaste, dikwels duisend vadem hoë, pilaaragtige boomstompe wat net heeltemal boaan van ruig begroeide kruine voorsien is, welke ook 'n groot aantal vrugte dra wat geskik is as voedsel vir die diere. 17. Hierdie omheinings loop dikwels verskeie honderde myle in 'n reguit lyn langs die voet van die een of ander heuwel deur, totdat hulle in 'n ander rigting afbuig. Die kruine van hierdie bome het altyd ’n liggroen loof; die stamme daarenteen is vanaf die grond donkerrooi en word na die kroon toe heeltemal pienk, wat dan ook 'n buitengewone mooi, bekoorlike gesig afgee. 18. Nou weet ons hoe daar vir die diere gesorg word. Daarom sal ons dus weer na ons huiserf terugkeer en daar kyk wat na die weiding volg. 19. Hierdie weiding is aan die onderkant, verby die lewende heining, omring deur 'n wal, waarop in die rigting van die huispilare fonteine aangebring is. Hier sal julle ook weer vra: Waar kry die sonbewoners eintlik regstreeks die water vandaan wat hulle uit hierdie wal laat opspuit waar hulle maar wil? 20. Vir die sonbewoners is niks makliker as dit nie. Hulle steek 'n ongeveer tien vadem lange buis sodanig in die grond sodat die buis nog ongeveer 'n vadem bo die grond uitsteek. En onmiddellik versamel hulle uit die buitengewoon sappige sonbodem baie water in die buis. Die pyp is naamlik, sovêr dit in die grond gesteek word, aan alle kante voorsien van 'n groot aantal ronde openinge of gaatjies, wat gretiglik die groot hoeveelheid vog uit die grond in die hoofkanaal van die buis laat vloei, en deur hierdie kanaal vloei die ryklik versamelde vog dan as 'n taamlik hoë opspuitende fontein na buite ten behoewe van mens en dier. 21. Agter hierdie wal lê dan die sogenaamde, ongeveer tien vadem breë broodakker-sirkel. Waarom word dit die broodakker-sirkel genoem? Omdat op hierdie akker 'n soort vrug groei wat as die enigste nie deur die menslike wil gekweek word nie, want op hierdie sirkel is die vrug, wat ietwat soos julle koring lyk, direk vanaf die wil van God afkomstig. Daarom word hierdie akker ook as 'n heiligdom beskou. 22. Hier word ook geen saad gesaai nie, maar die akker word volgens behoefte ingerig en wanneer hy vrug moet dra, word dit spesiaal deur gebede gedoen, wat by die sonbewoners altyd met buitengewoon groot feesvieringe gepaardgaan. Na hierdie feesvieringe loop die huisvader seënend oor hierdie akker en al sy gesinslede volg hom in die regte orde. So ’n ommegang gebeur sewe keer. Daarna word daar aan die grote God 'n algemene lof-, prys- en dankgebed gebring, en dan is die broodakker in orde gekry. 23. Hierdie broodakker is heeltemal omring deur 'n pragtige, kunstige omheining, en die omheining is dan ook terselfdertyd die grens van so ’n stuk grond. 24. Nou sal julle natuurlik vra: Waarom is hierdie heiligste akker eintlik die vêrste verwyderd van die woonhuis uitgelê? Want simbolies sou tog dit wat van meer goddelike aard is, nader aan die mens moet lê as alles wat slegs sy eie karakter dra. Met hierdie vraag filosofeer julle weliswaar nie te sleg nie, maar die sonbewoners filosofeer in hierdie opsig nog beter, want daardeur gee hulle aan dat die goddelike nie net die sentrale punt van die woning omvat nie, maar ook al die uiterlike daarvan. Op die manier moet ook die mens in sy innerlike 'n troon as woning vir die goddelike gees gestig het en moet dan ook juis deur hierdie gees al sy gedagtes, begeertes en dade laat lei, sodat hy daardeur in alle opsigte, sowel innerlik as uiterlik, mens kan wees, volkome in ooreenstemming met die wil van die grote God. 25. Kyk, dit alles sê niks meer of minder as dat die mense volkome volgens My wil moet lewe en handel nie, dit wil sê: Hulle moet hulle deur My Gees laat gryp en My Gees tot in hul diepste innerlike laat deurdring, maar nie soos deesdae soveel sogenaamd “beter” mense dit doen wat slegs genoeë neem met die erkenning van My wil nie, terwyl Ek, wat hulle handelinge aanbetref, Myself moet laat welgeval, sodat hulle My langs hul wêreldse besighede kan saamsleep. Kyk, by sulke mense vorm hierdie broodakker nie hul buitenste begrensing nie, maar slegs 'n suiwer wêreldse akker, wat geen vrugte van My wil dra nie, maar vrugte van eiebelang, van die wêreld, die verderf en die dood! 26. Aan hierdie kort beskrywing kan julle nou goed sien dat die sonbewoners beslis beter filosowe is as julle, want die orde wat hulle in hul huislike lewe in ag neem, is selfs simbolies gesien, tog sekerlik meer in ooreenstemming met My orde as dit wat julle met betrekking tot julle huislike inrigtings en bepalings hanteer. Weliswaar kan daar by julle op julle planeet nie so ’n uiterlike orde in ag geneem word nie, en in die grond van die saak is daar ook nie soveel daaraan geleë nie, maar desondanks laat Ek julle dit tog nou sien, sodat julle daarmee julle geestelike basis in orde kan kry! Dit moet julle dus baie goed in ag neem. En so sal ons as volgende onderdeel nog 'n blik in die verskillende openbare geboue en tempels werp en ons daarna met die algemene en huislike reëls van die inwoners van hierdie gordel besighou.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205