|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 47
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 45
Dit met Uranus toepaslike sesde gordelpaar. Mense, plante- en dierewêreld
1. Hoe die grondtoestande van die grond op die sesde songordel is, het ons alreeds by die eerste kennismaking met hierdie gordel beskryf.
2. Daar bly dus nog net oor dat ons die lewensomstandighede van die mense beskou en in hoeverre hulle geheel in ooreen¬stemmende ordening met die planeetbewoners lewe. Hoe lyk die mense op hierdie gordel dan nou?
3. Hul gestalte is, soos wat ons tot nou toe op alle gordels gesien het, 'n volmaakte menslike, omdat hulle 'n ewebeeld is van My wese. Slegs die grootte is op elke gordel verskillend. Die mense van hierdie gordel is nog net so groot soos die van die planeet en meer as tien maal so kragtig as hul ooreenstemmende planetêre broeders.
4. Daarom is hulle werk en geboue nog baie reusagtiger as wat ons op die planeet leer ken het. Ook het hierdie mense 'n buitengewone ondernemende gees en skep baie genoeë in allerlei reusagtige ondernemings.
5. So sal julle daar geboue sien, waarvan julle sal sidder. Selfs hulle woonhuise sal vir julle begrippe so enorm wees, dat dit alles sal oortref wat daar vir julle tot nou toe op hierdie gebied beskryf is. Dit sal selfs nog moeiliker wees om van die grootsheid van hul tempels 'n goeie beeld te kan gee.
6. Voordat ons egter beide die een, sowel as die ander, met betrekking tot die geboue van naderby leer ken, sal ons die gestalte van die mens nog ietwat van naderby beskou. Van hul grootte kan julle, deur dit te vergelyk met die van die planeetbewoners, sondermeer 'n maklike voorstelling maak, maar nie van die vorm van die mens nie. Dit sal ons van naderby beskou. Hoe lyk die mens daar?
7. Die voete is nie bepaald groot nie, maar daarenteen heel gespierd en stewig gebou. Die voetsool is feitlik heeltemal eelterig en hard. Die totale been kan in verhouding tot die hele voet egter eerder klein as groot genoem word. Die knie is, soos julle gewoonlik sê, taamlike punterig, omdat die knieskyf, vanweë die krag van die voet, voortreflik moet wees. Die dye is nie baie rond nie, maar by die geringste beweging van die voet wys die spiere hulself kragtig. Die sitvlak is relatief groot en baie ferm en elasties.
8. Die ruggraat is na bo toe behoorlik stewig en breed, maar by die lendene aansienlik smaller as bo by die skouers en die arms. Die bors is breed en effens vlak en is ook ryklik voorsien van spiere, wat by die beweging van die arms geweldig opswel.
9. Die arms en hande kan eweneens nie baie omvangryk genoem word nie, maar hulle het, net soos die voete, buitengewoon prominente spiere en sterk uitstekende elmboë. Veral die plat hand en die vingers verdien spesiale aandag. Die plat hand het 'n buitengewoon nadruklik uitspringende duimspier, wat in 'n breë, kort, maar uiters sterk duim eindig. Die vingers is feitlik ewe lank en ook ewe sterk. Net die pinkie is ietwat korter. Die drie middelste vingers wyk egter baie min van ’n reguit lyn af. So lyk die hand.
10. Die nek is na verhouding eerder kort as lank en ook eerder vierkantig as rond. Op die nek rus 'n kenmerkende kop, dit wil sê, 'n kop waarvan die afsonderlike dele sterk prominent is. Die voor¬kop is hoog, maar na die hare toe in 'n sekere sin na vore geboë en loop bo die slaap as die ware uit in twee bulte. Die slape steek eweneens uit as twee langwerpige knolle. Ook die wenkbroue steek erg uit. Die wangbene is eweneens redelik sterk na vore geboë. Die oë lê diep, is in verhouding tot die kop middelmatig groot en die blik is lewendig en vurig. Die neus is sterk en het halfpad 'n taamlik sterk uitspringende neusbrug. Die mond is in verhouding eerder groot as klein en het aan beide hoeke sterk gespierde plooie. Die ken steek ook baie uit en het geen baard nie. So kan ook die ore eerder groot as klein genoem word en hulle staan verder van die kop af as by julle.
11. Die hare is ruig en groei nooit in lokke nie, maar lyk ongeveer soos die hare van 'n neger by julle. Die velkleur is ’n ligte rooibruin.
12. So lyk die man. Dit hoef hier nouliks vermeld te word dat die geslagsdele ook in die regte verhouding tot die ander dele van die sterkgeboude liggaam staan.
13. Oor die klere kan gesê word dat die man 'n soort broek dra, wat baie ooreenkom met die Israelitiese broek. Hierdie broek word deur middel van 'n band om die lendene vasgemaak. Onder die knie word die broek ook met 'n band nousluitend saamgebind. Dit is dan ook die hele kleding van die mens, dit wil sê, van die man op hierdie songordel. Op die planeet egter gaan elke man ongeveer geklee soos die Israeliete van vroeër; die kleur is egter eerder lig as donker. Nou het ons die man beskryf.
14. Maar hoe lyk die vrou? Die vrou het oor die geheel geneem van nature baie ronder vorme as die man. Desondanks sou hulle by julle op aarde beslis nie in die kategorie van vroulike skoonheid ingesluit word nie. Die kleur is opvallend ligter as die van die man. Vir die res sou ’n mens egter die liggaamlike vorm van die vrou nog wel die beste kan vergelyk met die liggaamsbou van 'n taamlike maer vrou by julle.
15. Haar hare is ook eerder wollerig as krullerig en dit hang skaars tot op die skouers.
16. Die borste is meer afhangend as eiervormig, en na vore toe by die tepels groter as by die hegting.
17. Die klere van die vrou bestaan ook slegs uit een soort broekrok, wat soos by die Turke met baie plooie onder die knie diggemaak word.
18. Op die kop dra die vrou 'n hoed, wat ongeveer soos 'n kegel lyk en wat met 'n band onder die ken bevestig is.
19. Nou het ons man en vrou so goed as moontlik in beeld gebring. Wanneer julle nou die liggaamlike vorm van hierdie mense beskou, hoef julle geen al te groot gelaatkundige kennis te hê om te raai wie se geesteskinders hierdie mense is nie. Wat ons hulle op die planeet sien doen het, dit doen hulle ook hier, net op veel groter skaal.
20. Oor die plantegroei kan gesê word dat dit ook net soos die van die planeet lyk. En so is dit ook met die diere. Van hierdie laasgenoemde word egter op die songordel minder gebruik gemaak as op die planeet
21. Daarenteen word daar meer sorg aan die plantegroei bestee as op die planeet. Ons aandag verdien veral drie soorte bome, want hulle lewer die belangrikste voedsel op vir die inwoners van hierdie gordel. Een boom lyk soos die kokospalm by julle op aarde. Hy groei soms, veral in die medium streke van die land, tot so 'n omvang uit, dat hy met sy takke byna julle hele land sou kon bedek. Die stam van hierdie boom is dikwels so dik en sterk, dat julle, wanneer dit plat afgesaag sou word, op die stomp daarvan tien stede die grootte van julle stad* kan bou. Die hoogte van hierdie boom staan origens nie in verhouding tot sy sterkte nie, want hy bereik op sy hoogste slegs driehonderd vadem, maar sy voortdurende vrugdraende takke is des te kragtiger en strek baie wyd uit. En julle kan wel aanneem dat so 'n boom, binne ’n tydperk van één aardse jaar, volgens julle tydrekening, sowat twintig miljoen vrugte oplewer, terwyl elke vrug so groot is dat dit by julle 'n houer met 'n inhoudsmate van twintig emmers sou kan vul.
*Graz
22. Die vrug self is gehul in 'n dik vlegsel van sterk woldrade, wat die inwoners vanweë die sterkte, buigsaamheid en taaiheid gebruik om dik en dun toue van te maak. Onder hierdie vlegsel van woldrade sit 'n stewige dop, wat ook net soos 'n gewone neut by julle lyk, wat in die middel maklik in twee gedeel kan word. Die vrug self is ryklik gevul met 'n goedsmakende vleis, waarvan die smaak herinner aan die van goeie haselneute by julle.
23. Wanneer die inwoners daarvan wil eet, pluk hulle 'n vars vrug van die boom, waaraan altyd ryp, onvolwasse en ook vrugte in wording hang, waarna hulle dit behandel soos voorheen beskryf. Hulle verwyder eers die vlegsel van woldrade van die harde dop, sny dit in die helfte, sny dan met krom messe die vleis daaruit en eet dit volgens behoefte. Die dop word as vaatwerk vir allerlei doeleindes gebruik.
24. Hierdie boom het ook baie groot en sagte blare. Hulle word ingesamel, daarna in groot sakke gestop en dien dan die inwoners van hierdie gordel as kussings vir hul rusbanke.
25. Ewe merkwaardig is die tweede boom. Hy is weliswaar by verre nie so groot nie, maar kom dikwels voor en het 'n buitengewone goedsmakende vrug. Hierdie vrug lyk ietwat soos julle druiwe, daar sit net nie soveel bessies bymekaar aan één steel nie, maar die bessies wat daaraan sit, is so groot dat julle uit elke bessie 'n emmer vol ryp sap kan pers. Die inwoners van hierdie gordel drink net die sap van hierdie vrug en les daarmee hul dors.
26. ’n Derde boom verdien ook, soos reeds opgemerk, baie aandag. Hierdie boom lyk volgens vorm byna soos julle vyeboom, groei ook uit tot ’n reusagtige grootte en bring 'n vrug voort, waarvan die vorm taamlik baie soos die vy by julle lyk. Wanneer die vrug volledig ryp is, het hy 'n inhoud wat lyk soos 'n mengsel van broodkrummels en heuning by julle. Hierdie vrug word besonder graag deur die inwoners van hierdie gordel genuttig en daarom bestee hulle ook baie aandag aan die kweek van hierdie boom.
27. Daar word egter ook nog vrugte van ander bome geëet, sowel as dié van plante. Maar die vrugte van hierdie drie genoemde bome is tog die vernaamste voedsel.
28. Van die diere word slegs die sogenaamde groot harige koei gehou, wat ongeveer lyk soos 'n kameel by julle; dit het egter geen bulte op die rug nie. Volgens grootte sou hulle wel 'n olifant by julle byna honderd maal oortref. Hierdie dier het egter so 'n rykdom aan haar, dat julle, wanneer julle haar sou kon afkeer, dalk met tien van julle grootste waens kon vervoer. Verder hoef nouliks vermeld te word, waarvoor die inwoners haar gebruik.
29. Daarmee is ons klaar met die beskrywing van beide die mense sowel as van die plante en dierewêreld wat betref die hoofsake, en sal ons onsself dus nou op die werksaamhede van die mense van hierdie gordel rig.
|
|
|
|
|