DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 54

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 52 Meer oor die godsdiens van die inwoners van die sesde gordelpaar 1. Verder bestaan daar 'n deur die tempel opgestelde reël, op grond waarvan alle sypaaie met die hoofstraat in verbinding moet staan. Ook moet daar vanaf elke woonhuis 'n goeie, berybare pad beide na die tempel en na die hoofstraat loop, en elke pad moet reg wees. 2. As 'n pad bergopwaarts moet loop, mag dit geen draaie maak om by die hoër geleë hoofstraat aan te sluit nie, maar dit moet ook oor heuwels en dieptes heen aangelê wees en stadig styg, totdat die hoofstraat bereik is. As hiermee aansienlike probleme met die landskap voorkom, moet dit aan die tempel gerapporteer word en kort daarna sal die bure dan deur die tempel bymekaar¬geroep word om die werk by die betrokke huis te help voltooi en dit gebeur dan ook dadelik sonder teenspraak. Lê 'n woonhuis egter hoër as die hoofstraat, dan mag die pad geen haakse verbinding met die hoofstraat maak nie, maar moet sodanig loop dat dit onder 'n hoek van ten minste vyf-en-veertig grade met die straat aansluit. 3. Ook mag geen enkele sypad in die teenoorgestelde rigting met die straat verbind nie, dus gesien vanaf die opgang van die sterre, maar altyd vanaf die rigting waar hulle ondergaan, sodat niemand homself van sy woning na die hoofstraat in die rigting van die ondergang nie, maar in die rigting van die opgang sal beweeg. 4. Verder bestaan daar weer 'n reël, op grond waarvan niemand oor die hoë ringgebergte mag klim nie, omdat aan die ander kant in die vyfde gordel, na 'n liggloeiende helling, die eindelose diep steil hellings volg en waarop niemand sonder lewensgevaar 'n voet kan plaas nie! Die inwoners van hierdie sesde gordel kan wel vanaf die hoogste rand van die ringgebergte in die vyfde gordel inkyk, maar hulle kan niks anders daar sien as 'n eindelose groot see nie. Van die lande van die vyfde gordel kan hulle niks ontdek nie, vanweë die te groot afstande. 5. Daarom verkeer hulle ook in die mening dat die wêreld by hierdie berge ophou en dat eindelose waters daaragter begin. Van hul eie wêreld maak hulle die voorstelling, as dat hulle 'n groot ring is, wat weliswaar rondom bo die groot waters uitsteek, maar van binne hol is, en slegs deur die groot waters gevul word. Dit is dus die denkbeeld van die volk. Die vernaamste wyses van die tempel weet egter, omdat hulle ook in kontak is met die geeste, baie goed hoe dit met hulle wêreld gesteld is, maar dit deel hulle egter die volk nie mee nie, want hulle sê: Sou ons volk weet dat die wêreld wat ons bewoon, nog veel groter is as die gedeelte waarop ons woon, dan sou hulle 'n tonnel deur die groot gebergte grawe, daaroorheen reuse skepe na die see aan die anderkant bring en die land van ander mense betree. Dit is egter nie die goddelike wil nie. Die volk moet dus by sy onskuldige wêreldbeeld bly en altyd daarin bereid wees om te dien tot eer van die groot, almagtige God. 6. Dit is dus nog 'n reël. Die volgende reël hou in dat alle huise langs die hoofstraat voortdurend ryklik van eetware voorsien moet word, om die reisende gaste daarmee te kan versorg. Daarom het elke woonhuis dan ook die verpligting om die huise wat in sy distrik langs die straat staan, daarmee te voorsien. Lê sommige woonhuise te vêr van die hoofstraat af, dan moet hulle hul aandeel na die bure bring, wat dit dan weer by die aan die straat liggende huisies aflewer. Dit is nou in wese alles wat op die uiterlike, daadwerklike deel van die godsdiens betrekking het. 7. Waaruit bestaan die geestelike deel dan nou? Dit bestaan uit 'n heel eenvoudige, fundamentele leer oor God, wat almal moet ken en derhalwe ook in die praktiese gedeelte van sy godsdiens getrou moet toepas. Hoe lui hierdie grondbeginsels? Dit lui as volg: 8. God is 'n Enige Wese en buite Hom bestaan daar geen ander wese wat Sy gelyke is nie. Hy het dus as Enigste die mag oor alles, is bo alles verhewe, bo alles heilig en vervul van die allerhoogste eer. Sy werksaamheid is die vryheid van Sy wil en Sy Wysheid is die inagneming van Sy eie, ewige ordening. Hy is die Skepper van alle dinge. Alles wat Hy maak, maak Hy vanuit Sy wil; die elemente bestaan uit Sy gedagtes, en Sy wil omvorm hulle tot wesens. Hy het geen materie nodig om 'n wêreld te bou nie, want die materie bestaan uit Sy gedagtes, en Sy wil is die boumeester volgens die ewige ordening in Homself. Ons kan God in die eerste plek nie anders herken as aan Sy werke nie, wat aan ons Sy groot krag en Sy groot eer verkondig. Daarom kan ons God ook nie anders eer as deur Sy natuur na te streef nie en van die deur Hom gegewe materie werke tot Sy eer te bou nie, volgens die vryheid van ons insig. God het ons werk weliswaar nie nodig nie, want Hy skep in één oomblik groter werke as ons met al ons krag in vele duisende jare, maar tog bou ons werke, so groot en verhewe as wat ons maar kan, om Hom daarmee daadwerklik te toon dat ons in ons hele wese van Sy ewige oneindige eer deurdronge is. Ook al het ons iets hoe groots verrig, en daarvoor geen lof van God ontvang het nie, dan sal dit ons tog nie daarvan weerhou om steeds weer groter werke te verrig nie. Want hoe sou ons met al ons hoe groot ookal werke onsself op 'n goddelike lof kan verheug, as hulle almal bymekaar in Sy oë tog niks beteken nie!? Ook al kyk God nie na ons werke nie, Hy kyk tog na ons wil en ons volharding tot Sy eer. En so word ons, nie op grond van ons werke nie, maar slegs op grond van die standvastigheid van ons wil, deur Hom geseën. 9. Omdat ons egter weet waarin God behae skep, streef ons ook daarna om altyd hierdie behae waardig te wees. Om dit egter te bereik, moet almal die volgende belangrike deugde voortdurend in homself nastreef: 10. Ten eerste: Omdat God die Allerhoogste is, moet ons die allerlaagste wees. Ten tweede: Omdat God as Enigste Almagtig is, moet ons altyd ons onmag voor Hom beken. Ten derde: Omdat die hoogste eer God toekom, moet ons altyd van die diepste deemoed vervul wees. Ten vierde: Omdat God bo alles heilig is, moet ons ons knieë altyd voor Sy Naam buig. Ten vyfde: Omdat alle dinge slegs aan God toebehoort, mag ons dit nooit vir onsself toeëien nie en moet ons Hom altyd dankbaar wees vir elke gawe, al is dit ook maar 'n enkele druppel water, want selfs 'n waterdruppel kan die mens nie skep nie. Ten sesde: Omdat alle krag en mag in God alleen is, moet almal weet dat ook sy krag uit God is en dat niemand dus ook iets kan doen sonder God nie, maar die een aan wie God egter Sy krag verleen, is tot alles in staat. God sal egter van niemand 'n afgesmeekte krag weerhou as hy dit alleen tot Sy eer wil aanwend nie. Ten sewende: Die grootste eer wat ons egter aan God kan betuig is dat ons mekaar wedersyds sal liefhê en ag en vanuit hierdie liefde en agting en in alle nederigheid van ons harte, dan ook die moed sal hê om Homself in Sy heiligdom lief te hê. 11. Kyk, daaruit bestaan die hele geestelike gedeelte van die godsdiens van die inwoners van hierdie gordel; maar beslis nie net in woorde nie, maar egter altyd volkome ernstig in dade. Daarom is dit vir alle inwoners van hierdie gordel ook die hoogste saligheid om die tempel te kan besoek om God daar van harte te eer. 12. Daarmee is ons ook heeltemal klaar met hierdie gordel, en ons sal onsself die volgende keer na die sewende en laaste gordel van die son begewe. Wat origens op die sesde, suidelike gordel is, is alles presies dieselfde as op die noordelike en dit is al by verskeie geleenthede vermeld.