|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 2
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
VOORWOORD VAN DIE UITGEWER
Van die natuurwetenskaplike geskrifte, wat die Stiermarkse siener Jakob Lorber omstreeks die middel van die 19de eeu deur die gawe van die innerlike woord ontvang het, is die werk oor die son van ons planetesisteem wel één van die ongelooflikste openbaringe. Dit bou 'n brug tussen die natuurlike en die geestelike wêreld en is in staat om die wêreldbeeld van die moderne mens fundamenteel te verander.
Wat die huidige ondersoek ons oor uitheemse hemelliggame wil vertel, berus slegs op astronomiese waarnemings met optiese hulpbronne (teleskopie en fotografie). Dit word aangevul met enkele insigte in die fisiese en chemiese samestelling (o.a. spektraalanalise). Die gevolgtrekkings wat mense daaruit trek staan egter allermins vas, maar dien slegs as basis vir teorieë en werkhipotese, wat reeds meermale deur nuwes vervang moes word.
Solank hierdie apparate voortkom uit die grofstoflike materie en die waarnemers hulself in hul bewussyn maar net heg aan die materie, sal ’n mens verder ook geen bevredigende resultaat van die ondersoek na die kosmos verwag nie. Die eksakte wetenskap maak weliswaar gebruik van elektrisiteit, lig, atome en kosmiese strale, maar elkeen wat nie in staat is om met geestelike oë deur die sluier van die materie heen te dring nie, sal onbekend bly met haar diepste wese. So is daar deesdae al drie met mekaar teensprekende teorieë oor die essensie van lig, waar al drie om erkenning stry.
Wie daarenteen sy innerlike tot lewe wek en sy sielskragte verenig met die goddelike vonk van die gees, sal deel hê aan die allerbewussyn van die gees. Uit hierdie 'perspektief van God' het alle geskrifte van Lorber ontstaan wat die laaste dinge beskryf en wat terselfdertyd wetenskap en godsdiens is. So mag elke leser van "Die natuurlike son" 'n blik werp in die wonderlike wêreld, wat die Middelaarster is vir al die lewe wat binne haar bereik asemhaal en leef. Hoe armsalig egter is daarenteen die moderne wêreldbeskouing met haar 'dooie' hemelliggame en gloeiende gasballe midde-in die ysige kosmos. En hoe aanmatigend is die mens wat slegs sy eie planeet as bewoonbaar en as draagster van lewe beskou!
Hierdie boek wat tans voor u lê, val soos 'n sonstraal binne-in hierdie duistere denke: Verhelderend en verwarmend word verstand en gemoed tot dieselfde mate aangespreek!
Allermoeder son, wat alles in haarself verenig wat daar verspreid lê oor die verskillende planete, wat aan haar kosmiese kinders lewe gee, naamlik die woonplek van tallose sonmense, wie se volmaaktheid ooreenkom met hul stralende woning, die lewende uitdrukking van die heilige skeppingsgetal sewe, wat in sewe woongordels van die son en die sewe binneste sonligame gestalte kry. Sy is die Middelaarster van alle ligkragte van die heelal, wat sy ontvang en deurgee; sy word omstraal deur 'n ligaura wat ons oog verblind en ons die sig op haar wêreld ontneem.
'n Oorvloed aan diepe inspirasie, geesteswetenskaplike lesse en die oplossing van brandende vraagstukke wat die mensdom besighou, kenmerk hierdie werk as 'n gawe van die ewige Vader, wat die hooglied van die Liefde, Wysheid en Almag van die Skepper besing.
DIE SON
(Openingsgedig van Jakob Lorber)
Miljoene wesens draai rondom die Stralemoeder
en prys My, die Skepper, hoogs verbly in glinsterende warmte.
Nie onbekend is ook die Vader aan vele stralegaste,
en ook nie aan vele uitgediende ou wêreldreste,
wat in die uitgestrekte dieptes van die sonnesee
genietend rus van opgesuigde straleseën!
Die sonne-aarde, nie so hard soos baie van haar kinders,
is lewend soos 'n vrouebors en ken haar oorsprong.
Die bodem is daar sag, ook die wye velde,
die hoogste berge sonder rots en diep gesnede klowe;
daar is die bodem, net soos die berge, baie lewendig van wesens,
wat deur die mag van die lig die aardse doodsbande deurbreek!
Die stralewêreld van die son sirkel in ligte eterstroom.
Hoe helder en sterk die lig daar is, kan niemand ooit vermoed,
en wie in hierdie hoogste straleglans wel gewoonweg lewe,
het geen liggaamlike oog nog ooit te siene gegewe.
Ja, onvermoede diepe wonders bestaan daar in die lig,
wat nooit op drewe van kleiner wêrelde word verrig!
Wie kan hier met sy oog die lig van die son verdra,
en wie kan My vertel presies waar hierdie magtige lig vandaan kom?
O sien, op hierdie ligte sfeer is die heel verhewe wonings!
Slegs die geeste van die suiwerste kinders is wat hier woon,
en in hul midde troon ’n allerhoogste moeder,
wat hul in die Liefde- en Wysheidsleer van die Vader onderrig!
O son, o son, draagster van diepste, grootste wonders,
wat selfs die grootste engelgees nog nooit uitputtend gemeet het nie!
Kyk na benede na die derde dogter, jou kleine aarde,
waar op die skrale velde 'n arme kudde wei;
daarom wil Ek uit die meer as ryke dieptes van jou lig
slegs één druppel na jou dogter laat vloei!
En hierdie druppel sal daar seker ruim voldoende wees
om alle kinders van jou dogter daar met grote teue
vir alle tyd der tye daarvan te laat drink,
sodat hulle nie meer met mekaar om lewenswater hoef te stry.
O, sien die moeder van die dag, hoe sy haar stralende hoof buig
en My daarmee gehoorsaam die oue trou betoon!
O verheug jou, hele aarde, oor die lig van die son!
In hierdie lig woon waarlik die wysheid se hoogste geluksaligheid!
Immers is daar reeds kinders by die kunstige werk te sien.
Ek weet hoe die lui van 'n klok hulle almal in verrukking bring.
Daarom wil Ek julle ook hier 'n baie kunstige werk toon
en die skoonste en grootste daarom nie verswyg!
Dan sal julle sien wat julle die allergelukkigste sal maak,
hoe julle kinders hulself daar verhewe met liefde en wysheid versier,
en hoe hulle mekaar daar onderrig;
ook sal julle dit as die ware met eie ore hoor.
Ten slotte wil Ek julle ook die verhewe troos nie weerhou,
en laat sien hoe julle kinders hier steeds verbind is tot julle heil!
Maar dit sal die groter sonnevonk julle eers aangee,
daarmee sal julle eers in al die wonderlike dieptes deurdring;
hierdie lied is net 'n voorgesang van alle grote gawes,
aan wie se volheid julle jul sal versterk en gelukkig lawe!
Neem die voorafgaande lied dus aan met ware vreugdevolle liefde,
want Ek, die Vader, is immers Hy wat julle hierdie gawes skenk.
|
|
|
|
|