DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 49

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 47 Die groot ringpad op die sesde gordelpaar 1. By die beskrywing van die planeet Uranus het julle alreeds gehoor dat onder sy bewoners die beginsel geld, naamlik dat alle strate reguit moet wees. Hoewel die aanlê van reguit paaie op die taamlike groot planeet self al teen vele duisende probleme stuit, is al hierdie probleme tog slegs gering in vergelyking met dié wat op hierdie gordel die grond, oftewel die bodem van die groot sonnewêreld veroorsaak. 2. Op die planeet is die hoogste berge in die uiterste geval vyf tot ses keer so hoog, of soms nog iets meer, as die hoogste berge op julle aarde. Wat stel dit egter voor, vergeleke met die hoogte van die berge op die son, wat nie in vadems nie, maar in myl gemeet word ?! Stel vir jouself nou net die aanlê van 'n hoofpad voor, wat slegs oor die gemiddelde hoogte van die groot lande van hierdie gordel loop. Dink daarby aan die vele buitengewone diep dale, vervolgens aan die baie groot riviere, watervalle, mere en hier en daar selfs die inhamme van die see met hul sogenaamde seearms; dan sal dit wel vir julle duidelik begin te word wat daarvoor nodig is om 'n volkome reguit pad aan te lê. 3. Bedink egter ook, dat so `n pad as 'n ring rondom hierdie hele sesde gordel loop, beide rondom die noordelike sowel as die suidelike, met as enigste verskil dat die versierings van die balustrades van die hoofpad op die suidelike gordel meer afgerond is en op die noordelike meer hoekig en puntig is. Bedink boonop nog dat die pad 'n lengte van byna twee maal honderdduisend Duitse myl het. 4. As julle steeds dieper daaroor sal nadink, sal die grootsheid van so `n pad steeds meer tot julle deurdring. As julle ook nog kan onthou dat hierdie pad oral eweredig tweeduisend vadem breed is, dan sal julle julleself steeds meer begin te verbaas. Bedink net oor hoeveel duisende dale, wat vanaf die brug gemeet, dikwels vyf tot tien myl diep is, hierdie pad voer. Kyk, ondanks al hierdie, vir julle nouliks begryplike probleme, loop daar tog hoog bo hierdie huiweringwekkende afgronde 'n stewige en grasieus aangelegde pad! 5. Nou het julle al 'n eerste rowwe skets van hierdie pad, maar nou sal julle sê: Nadenke oor die aanlê van so `n pad behoort weliswaar nie tot die onmoontlikhede nie, maar oor die bou daarvan kan ons net sê dat so 'n werk wel vir God moontlik is, maar of sulke werk egter ook deur geskape wesens met behulp van die gegewe materie en die krag van hulle hande tot stand gebring kan word, dit kan ons nie vir onsself indink nie. Ons beskou dit as volkome onmoontlik, solank dit ons nie heel oortuigend voor oë staan oor watter hoër kragte hierdie mense beskik en hoe hulle daarvan gebruikmaak om sulke werke tot stand te bring nie. 6. Maar Ek sê: Wees maar geduldig! Kyk na menige diere op julle aarde en vergelyk hul strukture maar net met dié van julle; julle sal dan tog sekerlik met huiwering vasstel dat julle die grootste werke wat uit julle hande voortkom, vergeleke met die van die dier, as armsalige slakkehuise moet beskou. Sodat julle dit ietwat duideliker kan insien, sal Ek julle nou eers na 'n dikwels meer as een vadem hoë miershoop bring. Vergelyk die werk net met die grootte van die bouers daarvan! Is dit in verhouding tot die bouers nie aanmerklik omvangryker as wanneer julle, op grond van julle grootte en krag, 'n Chimborazo- of 'n Himalaya-gebergte sou aangelê het nie? Julle wat dit oordrewe mag vind, wees dan so goed om die verhouding van een en ander te bereken, dan sal julle dit volkome bevestig sien. 7. Neem byvoorbeeld 'n mier, wat met sy kop skaars 'n paar millimeter van die grond verwyder is. Neem dan 'n hoogte van anderhalf vadem, die hoogte wat 'n groot miershoop dikwels het. Probeer dan hoe dikwels anderhalf millimeter in die totale hoogte van nege voet ingaan. Neem dan soveel keer julle lengte, dan sal julle baie maklik ontdek hoe hoog en omvangryk julle geboue moet wees, as dit proporsioneel met die grootte van so 'n miershoop moet ooreenkom. Daarby wil Ek die duisende gange en ondergrondse kamers van so 'n miershoop nog gladnie eers noem nie, wat vergeleke met die bouers reusagtig groot is, want die grootte van die miershoop is voldoende om die verhouding tussen die boukrag van hierdie klein diertjies, ten opsigte van die van julle, duidelik te maak. 8. So kan julle ook die bouwerk van 'n by bekyk. Sien hoe vrymoedig hierdie diertjie deur middel van nouliks 'n halwe sentimeter dikte, bruinagtige was sy hele bousel van selle aan 'n wand ophang, wat beslis meer wil sê as wanneer julle in dieselfde verhouding die grootste paleis met reuse-kettings aan 'n hoog in die lug geboude boog sou ophang. 9. Verder kan julle nog die web van 'n spinnekop bekyk. Kyk net hoe ver hierdie dier dikwels sy drade span en in die middel van hierdie drade sy woning in die vrye lug bou. Wil dit verhoudingsgewys nie net soveel sê as wanneer julle tussen die hoogste bergpieke, met behulp van 'n sterk kabels en toue, hangende brûe oor diep dale en klowe sou gemaak het nie?! 10. Ek sou nog veel meer grootse voorbeelde kan aanhaal wat die boukrag van klein diere laat sien, maar laat hierdie voorlopig voldoende vir julle wees. As julle dit goed beskou, kan julle sien hoe onbeduidend julle boukrag is ten opsigte van die van hierdie diertjies. Wanneer hierdie diertjies julle egter al in hierdie opsig beskaam, waarom sou daar dan nie iewers mense kan bestaan, by wie julle, wat boukrag aanbetref, in die vêrste vêrte nie in hul skaduwee sou kan staan nie? 11. En die mense van ons sesde songordel het juis hierdie geaardheid. Hul vernaamste krag kom tot uitdrukking in die bou, aangesien hulle in geestelike opsig ooreenstem met die organe in die liggaam van die mens, wat die werklike vegetatiewe bou van die liggaam bewerkstellig. 12. Noudat ons dit weet, kan ons onsself ook meer op spesifieke wyse met die aanlê van so reuse pad besighou. Waar hierdie pad oor uitgestrekte bergvlaktes loop, is die aanlê daarvan natuurlik ook maklik en dit verg maar weinig kraginspanning. As die pad egter oor diep klowe en uitgestrekte dale loop, neem ook, namate die dale en klowe dieper word, die probleme en kragsinspanning toe, want daar kan 'n pad alleen met behulp van hoë brûe aangelê word. Hoe word hierdie brûe egter gebou? 13. Hierdie brûe word in vlakke gebou. Die een boogkonstruksie verhef homself bo die ander, en natuurlik so hoog bo die grond van 'n dal of 'n kloof, totdat die hele bouwerk die hoogte van die pad bereik het wat aangelê moet word. Wanneer dit gedoen is, word die ruimtes tussen die boë opgevul en daaromheen word stewige, massiewe, passende gekapte klippe platgelê; dan word die pad aan beide kante van 'n verskeie vadem breë en 'n na verhouding hoë klip-balustrade voorsien. Die vlak van één boogkonstruksie is dikwels vyftig tot honderd vadem hoog; en julle sal op plekke kom waar in 'n baie diep dal byna tweeduisend boë bo-op mekaar staan. 14. Nou is dit weer die vraag, veral wanneer 'n dal soms meer as honderd myl, volgens julle mates, breed is, hoe lank dit die boumeesters dan wel neem om so ’n reuse boogkonstruksie te voltooi. Ek sê vir julle: Nouliks so lank as wat julle nodig het om 'n woonhuis van gemiddelde grootte te bou. Want by so 'n geleentheid is daar dikwels miljoene hande beskikbaar wat net met die bou besig is, en netsoveel hande wat die boumateriaal voorberei en netsoveel wat dit aandra. 15. Ook hier word gewoonlik net die onderste boë van groot, gekapte klipwerk gebou, wat met 'n spesiale, taai klipgom met mekaar verbind word. Die hoër vlakke word daarna egter gebou van gebakte stene, wat van 'n taai leemsoort gemaak word (wat in die reusagtige berge van hierdie gordel buitengewoon baie voorkom) en dan alleen in die strale van die sonlig net vir solank uitgedroog word, totdat hulle bruin lyk en 'n helder klank gee wanneer ’n mens daar teenaan slaan. As hulle die bepaalde spesifikasie bereik het, is hulle ook volkome geskik vir die bouwerk. 16. Nou het ons dus ook gesien hoe so `n pad oor dale en klowe uitgelê word. maar nou het ons nog riviere, mere en selfs seearms voor ons. Hoe word die pad daaroorheen uitgelê? 17. Nog 'n bietjie geduld, dan sal ons dadelik sien hoe ondernemend, handig en volhardend hierdie boumeesters begin met die aanlê van ’n pad. Hulle maak van stewige hout 'n soort skip wat twintig vadem breed en duisend vadem lank is. Dat hulle dit maklik kan doen, omdat hulle oral ryk woude het met bome wat die piramideboom op Saturnus dikwels oortref. 18. Wanneer so ’n skip, of eerder so ’n enorme groot vlot klaar is, dan word daarop met die bou begin. Deur die gewig van die materiaal sak die vlot natuurlik dieper in die water in. Sodra die boonste rand van die vlot nou ongeveer gelyk te staan kom met die wateroppervlak, word daarop dadelik weer 'n nuwe, altyd verskeie vadem hoë rand van afgekapte en glad afgewerkte bome gelê, wat deur middel van sterk klampe stewig aan die eerste vasgemaak word. Daarna word die pyler as’t ware op die vlot weer hoër opgetrek. As die gewig van die materiaal die vlot weer so diep in die water indruk, dat die bokant die wateroppervlak nader, word daar weer 'n nuwe rand daarop geplaas en so word daar weer verder gebou. En dit gaan vir so lank aan totdat daar deur die bouers vasgestel word dat die vlot ten minste aan één kant op vaste bodem steun. As dit die bodem van die watervlak is, dan is daar geen verdere probleme meer nie en kan die pyler duisende vadem hoog opgebou word. 19. Wanneer die bodem van die water egter ongelyk is, vergroot dit die boukundige probleme natuurlik buitengewoon, en in daardie geval is daar niks anders te doen as dat spesiaal opgeleide duikers die water moet ingaan om self die bodem gelyk te maak of, wanneer dit uit klowe en afgronde bestaan, met afgesonke materiaal op te vul. 20. Soms is die klowe egter so diep, dat hulle nie gevul kan word nie en tog moet die pyler stewig te staan kom. Wat word daar dan gedoen? Daar word dan 'n swaar massiewe, metaalrooster gemaak, wat hulle in die water laat afsink, waarna dit op die kranse wat uit die afgrond omhoog steek, so handig onder die vlotpyler geplaas word, dat die pyler op hierdie reusagtige rooster steun en uiters stewig bly staan. 21. Nou sou julle wil vra: Verdrink die arbeiders dan nie, wanneer hulle so lank onder water moet werk nie? Nee, dit sal nie gou daar voorkom nie, want daar is tussen die sonlug van hierdie gordel en die waters by julle nie soveel verskil nie. Die lug is daar baie meer intensief, waardeur die water dan ook baie subtieler is. So kan 'n geoefende mens ook baie goed onderwater asemhaal, waarby hy, in plaas van lug, water in sy kragtige longe kry. Tog moet hy van jongs af daaraan gewoond wees. As dit nie die geval is nie, dan sal die mens onder water sekerlik ook deur verstikking omkom. Daarom word daar ook altyd verskeie mense aan die water gewoond gemaak, soos sommige skeepsmatrose by julle, wat ook dikwels 'n halfuur tot byna 'n vol uur in 'n goeie toestand in 'n duikerklok onder water kan lewe. 22. Na gelang van die breedte van die rivier of die meer, word daar op 'n onderlinge afstand van twintig vadem terselfdertyd aan duisende pylers gewerk. As die pylers dan stewig op die bodem staan, word hulle eers bo die water oor en weer deur swaar en buitengewoon sterk metaalstange verbind. Daarna word daar bo hierdie pylers nuwe boogvormige pylers aangebring. En so groei daar die een boog op die ander totdat die vlak van die pad uiteindelik bereik is, waarna dan op dieselfde manier te werk gegaan word as bokant die dale. 23. Wat doen hierdie padbouers dan nou op plekke waar hulle taamlik breë seearms aantref en wanneer hulle vanuit hul peilbote, ten spyte van die aanhoudende verlenging van hul peilstokke, nêrens op vaste grond druk nie? Dit kom naamlik dikwels voor dat so 'n inham nie net enkele honderde of duisende vadem diep is nie, maar soms vyftig tot honderd myl diep is. 24. In daardie geval neem hulle hul toevlug tot skeep-brûe. Maar die skepe wat daarvoor gebruik word, is net so kolossaal soos die pad self. Daar word egter oor hierdie skepe geen klipbrug gelê nie, maar daar word 'n uit massiewe boomstompe ’n saamge¬stelde brug gebou, wat dan op die skepe ook die vlak van die pad moet bereik. 25. So skip word altyd van die kolossaalste boomstompe gemaak en lyk eintlik meer soos 'n enorme mandjie as 'n skip. So ’n drywende skipmandjie het dan gewoonlik 'n lengte van een Duitse myl en 'n breedte van ten minste vyfhonderd vadem. Die wande van hierdie skipmandjie is gewoonlik drie honderd vadem hoog, en die lae daarvan is onderling deur baie massiewe ysterstawe en hake as’t ware vir ewig aanmekaar vasgeklink. Die bodem van so 'n skip, wat gewoonlik gebou is van die allerdikste bome, in drie lae opmekaar, is boonop nog beslaan met tipes dik metaalplate. Die hout versteen in die water. Bo die water word dit geïmpregneer met 'n spesiale materiaal, waardeur dit dan ook vir ewig onverwoesbaar is. Ook staan by so skipbrug die skepe stewig teenmekaar en is boonop met buitengewone sterk metaalklampe so stewig aanmekaar bevestig, dat hierdie groot drywende mandjies ten slotte één ononderbroke lyn oor die hele baai vorm. 26. Kyk julle nou in die gees van bo af oor so skipbrug heen, dan moet julle tog openlik beken dat selfs julle allerstoutste fantasieë, vergeleke by hierdie aanblik, slegs soos klein miniatuur beelde lyk. 27. Daar word egter in hierdie tyd nie meer sulke paaie aangelê nie, want hierdie pad was al daar voordat julle aarde deur mense bewoon was; dit bestaan naamlik al ongeveer sestig duisend jaar. Desondanks word daar nog in hierdie tyd kleinere sypaaie met hierdie hoofpad verbind en die hoofpad self word herstel waar nodig, waartoe dit dikwels nodig is om sekere gedeeltes opnuut aan te lê. 28. Wel, daarmee is ook die reusagtigste bouwerk van die inwoners van hierdie gordel beskryf. Omdat dit nie nodig is om meer daaroor te sê nie, sal ons die volgende keer oorgaan tot die besigtig van 'n tempel.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205