|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 3
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 1:
Die son as volkome beeld van die planete-wêrelde. Algemene dinge oor aardbodem en plantegroei.
(8 Augustus 1842).
1. Dit sal hier nie nodig wees om, soos by die beskrywing van 'n ander ster dalk die geval is, om die posisie van hierdie stralende ster (die son) van naderby te bepaal, omdat elke dag haar tog al te duidelik laat sien. Daarom wil ons eers die volgende vraag stel en beantwoord: Wat is die son? Na die beantwoording van hierdie vraag sal alles maklik in sy plek val en sigself beslis baie helder laat verklaar. Daarom stel ons die vraag nog één keer: Wat is die son?
2. Die son is weliswaar ten opsigte van die planete wat hom omsirkel 'n vaste ster; vir homself is hy egter geheel en al 'n planeet, omdat ook hy (soos die aarde met haar maan om hierdie son wentel) homself met al sy omsirkelende planete om die sentraalson beweeg wat reeds aan julle bekend is - 'n reis wat egter wel wat langer duur as die van die aarde om die son, want hy het byna 28 000 aardjare nodig om hierdie groot omloop te voltooi.
3. Ons weet dus nou dat die son nie net maar 'n son is nie, maar dat hy veeleer geheel en al 'n planeet is, wat vanweë sy veel groter omvang as hemelliggaam met veel meer lig omstraal word as elke afsonderlike, na verhouding veel kleiner planeet wat hom omsirkel.
4. As die son egter op sigself beskou 'n ware planeet is, dan moet hy beslis ook al die planetêre bestanddele in die suiwerste graad bevat, wat op al die ander kleiner planete is wat hom omsirkel en wat in veel geringer potensies voorkom.
Op die son moet dus in die grootste volmaaktheid te vinde wees wat in veel kleiner vorm en daarmee ook meer onvolmaak voorkom op die planete Mercurius, Venus, die Aarde en sy maan, op Mars, die vier klein afsonderlike planete Pallas, Ceres, Juno en Vesta, op Jupiter en sy vier mane, op Saturnus, sy ringe en sewe mane, op Uranus en sy vyf mane en op 'n nog verder verwyderde planeet en sy drie mane, en ten slotte op al die ongeveer twaalfduisend miljoen komete, wat nog op baie groot afstande om hierdie son beweeg.
5. Kortom: die volmaakte planeet son is volgens sy aard die volmaakte geheelbeeld van al sy kosmiese kinders, anders gestel: Op hierdie volmaakte planeet kom selfs in natuurkundige opsig alles in veel meer volmaakte vorm voor, wat ook voorkom op elke willekeurige planeet, maan of komeet. Vir 'n beter begrip wil ons dadelik enkele voorbeelde daaraan toevoeg.
6. Die aardryk van julle planeet is dood, hard en steenagtig en is nie in staat om sonder die lig van die son iets voort te bring nie. Die aardryk van die son is daarenteen sag en week, dit is nie steenagtig of sanderig nie, maar dit is so sag soos die vlees van 'n mens. Sodat julle dit nog beter kan verstaan: Dit is byna oral elasties, sodat niemand wat daar per ongeluk op die grond sou val, homself iewers pynlik sou kan beseer nie, want hy sou daar presies so neerkom asof hy op luggevulde kussinkies sou val. Hierdie aardryk met hierdie bodemgesteldheid is egter nie so taai soos 'n stuk elastiek by julle nie, maar dit is baie lossies, en dit is nie net in sy geheel so elasties nie, maar is al so in sy kleinste dele, wat eintlik uitsluitlik hulsies is wat met egte lewenseter gevul is.
7. Iets soortgelyks is weliswaar ook die geval by die aardryk van julle planeet, maar hierdie hulsies is elk afsonderlik te stug en gee by 'n stoot of val nie mee nie, maar word daardeur maar net stewiger saamgepers, en as hulle baie jare agtereen ongestoord so langs en bo-oor mekaar heen lê, klou hulle ten slotte so hard¬nekkig aan mekaar vas, dat hulle as gevolg daarvan aanmekaar vasklou en geheel versteen en in hierdie toestand dan ook vanselfsprekend nog veel meer weerstand bied as eers, toe hulle nog as aparte deeltjies losweg oormekaar heen gelê het en om hierdie rede moet die plantegroei op 'n planeet dan ook veel skraler wees as op die volmaakte sonplaneet.
8. Want op 'n planetêre hemelliggaam, soos wat julle aarde byvoorbeeld een is, moet ’n ruwe saadjie wat van 'n lewende kiem voorsien is, eers in die aarde vergaan, en deur hierdie daad word die aardhulsie wat hom omgewe, ook gedwing om te vergaan of veeleer om week te word, sodat die vrygestelde, lewende kiem dan dadelik uit hierdie weekgeworde aardhulsie aan sy welkome eteriese voeding kan suig. Dan moet hy onmiddellik 'n groot aantal wortels tussen die aardhulsies wring, hulle daardeur week maak, en dan deur sy volumetoename plat druk om daardeur die nodige voeding vir sy plantegroei te verkry.
9. Is dat ook op die volmaakte sonplaneet nodig? Kyk, tussen die twee bestaan daar 'n groot verskil. Omdat die aardryk van hierdie planeet so sag, teer en milddadig is, voeg die dele wat aan een plant behoort hulleself sonder saadjies reeds onmiddellik in die aardryk self saam en skiet in tallose, mees uiteenlopende en nuttige gewasse uit die grond, waarvan die skoonheid, goedheid en nuttigheid al die denkbare op alle ander planete net so vêr oortref as wat die son met sy lig en grootte al hierdie wêreld¬kinders van hom oortref.
10. Op die son het nóg 'n boom, van welke soort hy ookal mag wees, nóg 'n struik, nóg 'n plant wortels en sade, maar alles groei en ontstaan daar byna op dieselfde manier as waarop by julle die oorspronklike steenmos, die skimmels en swamme ontstaan. Hierdie gewasse is egter nie so verganklik en van so 'n korte lewensduur as die voorheen genoemdes op julle planeet nie, maar waar sulke kragte êrens iets laat groei, daar groei dit ook altyd maar aaneen. Ook wanneer 'n dergelike gewas deur die natuurlike sonbewoners tot 'n sekere lengte afgekap word, word dit daardeur nie gedood nie, maar die afgekapte boom of die verwyderde plant vernuwe homself spoedig weer. Want omdat die wortels van so ’n dergelike gewas nie so grofmaterieel is nie, maar as vurige are van eter, hernieu so ’n vegetatiewe krag homself weer na die vorige verwydering en skiet in nuwe prag en heerlikheid op.
11. Menigeen sou hier by homself kan dink en sê: Ja, as gewasse daar op hierdie manier nie verdelg kan word nie, sal hulle dan nie spoedig elke gebied van hierdie planeet so sterk in beslag neem, dat buiten hulle geen enkele wese, wat homself vry kan beweeg, meer kan bestaan nie?
12. Dit is daar egter beslis nie die geval nie, want die natuurlike mense van hierdie volmaakte planeet het ook 'n nog veel sterker wilskrag as die vegetatiewe groeikrag van die aardbodem van die son. Om hierdie rede groei dan ook op die son nóg 'n boom, nóg 'n struik, plant of grashalm sonder toedoen van die menslike wil nie. Die menslike wil is daar derhalwe die enigste, oneindig gevarieerde saadkorreltjie vir alle plantegroei op hierdie volmaakte planeet. Daarom groei slegs daar 'n boom of plant uit die aardbodem van die son, waar 'n sonmens hom wil hê en in die vorm waarin hy hom wil hê.
Daarom bestaan daar ook op hierdie volmaakte planeet absoluut geen blywende, eenders voorkomende soort in die hele planteryk nie, maar hulle rig hulleself te alle tye volgens die wil van 'n mens. Wanneer 'n mens egter iewers 'n boom of 'n plant deur sy wil uit die grond tevoorskyn geroep het, kan niemand anders haar vernietig as die een wat haar tevoorskyn geroep het nie. 'n Ander is slegs daartoe in staat wanneer hy daartoe gemagtig is deur diegene wat haar voortgebring het.
13. Juis om hierdie rede heers daar dan ook op die son-aarde 'n werklik oneindige verskeidenheid in die ryk van die plante. Want by twee naaste bure kom geen twee plante van dieselfde soort voor nie, maar elkeen laat uit die grond wat hy bewoon, ander plante opspruit. Ook al sou iemand van julle vele duisende jare lank oor die wye vlaktes van die son-aarde reis, dan sal hy weliswaar telkens nuwe en pragtige plantspesies en vorme teëkom, maar ook op hierdie lang reis sal hy geen twee soorte aantref wat volkome eenders lyk nie. Kyk, aan die hand van hierdie voorbeeld kan julle al vir julle `n voorstelling maak waarom die son 'n volmaakte planeet is. Want op elke hemelliggaam of kleiner planeet kom iets soortgelyks voor, maar dan op 'n minder volmaakte wyse.
14. So kan ook op julle aarde bestaande plante verander en veredel word, maar dan op 'n veel moeisamer en baie beperkte manier. Slegs in die gees tree so 'n volmaaktheid ook aan die lig by die mense op die ander planete, soos byvoorbeeld die vrugte van die digterlike fantasie, of dit nou in die taal is van begrippe wat deur middel van woorde uitgedruk word, of in die taal van die beeldende kuns wat deur ooreenkomstige beelde uitgedruk word met behulp van verfkwas, of ander voorwerpe wat vir die beeldende kuns geskik is. Heel in die besonder word hierdie fantasie egter uitgedruk in die taal van klanke, waarin ‘n komponis die grootste verskeidenheid aan die dag kan lê wanneer hy in hierdie vak 'n volledig gewekte gees besit. Maar afgesien van dit alles is selfs hierdie blyk van volmaaktheid op die planete net 'n flou afspieëling van al dit wat in alle moontlike maniere voorkom op die volmaakte planeet van die son.
15. Dat die son 'n volmaakte planeet is en daarom alles wat planetêr is moet bevat, word hieruit afgelei dat alles op die planete deur die uitstralende lig van die son gevorm word. Die verskil tussen 'n volmaakte en 'n onvolmaakte planeet is slegs dat laasgenoemde alle vorme wat hul oorsprong vind in die lig van die son, noodsaaklike en vasomlynde, nie maklik veranderlike vorms is en selfs nog getel kan word, terwyl op die volmaakte sonplaneet alle vorme vry is en slegs bepaal word deur die wil van die mense daar, en daarom ook ontelbaar is en tot in die oneindige van mekaar verskil.
16. Af en toe gebeur dit ook wel eens dat selfs op 'n onvolmaakte planeet, deur die inwerking van die son, vele ou lewensvorme verdwyn en in die plek daarvoor heeltemal ander ter wêreld kom. Maar dit gebeur slegs selde op die planete, en die tydperk van verandering en oorgang het 'n langer tydperk nodig as op die volmaakte sonplaneet.
17. So het daar op julle aardliggaam al enkele duisende soorte bome, struike, plante en grasse verlore gegaan, waarvan hier en daar tussen lae gesteentes nog afdrukke daarvan gevind kan word. Ook verskeie soorte reuse bome uit die oertyd het uitgesterf en hul hout word nou nog net as swart steenkool aangetref. Verder het ook 'n groot aantal reusagtige diere volkome verdwyn, soos byvoorbeeld die mammoet en 'n groot aantal groot gevleuelde amfibieë, wat tans nog onder die naam 'akkedisse' bekendstaan.
18. So het selfs die reusagtige liggame van vele mense verlore gegaan, wat in die oertyd onder die naam reuse bekendgestaan het, asook verskeie groot voëlspesies, asook 'n nie minder groot aantal soorte vis, wat deesdae nêrens meer onder die bekende soorte aangetref word nie, behalwe as hoogs selde hier en daar in gesteentes, waaruit hulle soms in 'n nog heel goed bewaarde vorm tevoorskyn kom.
19. Maar, soos gesê, al hierdie veranderinge op 'n onvolmaakte planeet voltrek homself maar baie stadig en wyk nie so sterk af van die daaropvolgende vorme as die voortdurende veranderinge wat op die volmaakte sonplaneet plaasvind nie.
20. Juis om hierdie rede kan die son daarom 'n volmaakte planeet genoem word, omdat alles wat op die planete gevind word, ook op sy aardbodem in die mees volmaakte sin in die grootste, steeds wisselende verskeidenheid in lewende lywe voorhande is. Deur dit wat tot nou toe gesê is, moet elkeen begin te dink dat die son werklik 'n volmaakte planeet moet wees, omdat hy 'n volmaakte essensie is van al dit waaruit 'n planeet in al sy dele bestaan, vanaf sy middelpunt tot en met alles wat op die oppervlak daarvan te siene is. Want as dit nie die geval sou wees nie, hoe sou die strale van die son dan identiese lewensvorme op die aardliggame kan voortbring?
|
|
|
|
|