|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 66
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 64
Bol-instrument, musiek en musiekskrif, optika, meganika en skryfkuns op Miron
1. Die bol-instrument is saamgestel uit gebuigde pype, wat aan die buitekant meer afgeplat is, maar aan die binnekant volkome rond van vorm is. Die bol is op sy breedste punt drie vadem in deursnee; aan weerskante van die breedste gedeelte van die bol is ook die dikste pype geplaas. In die rigting van die pole van die bol, wat 'n tregtervormige opening het, word die pype ook steeds kleiner.
2. Die bol rus op 'n oop driepoot, waaronder 'n kragtige wind-meganiek (tipe blaasbalk) aangebring is, van waaruit die wind deur die pote van die driepoot in die bol ingeblaas word. Naas die reeds genoemde hoof klankpype, loop nog kleinere windpype, waarvan die uitmondings hulself bo die gate van die hoof klankpype bevind, wat daarin ietwat verhoog aangebring is. Op die plekke waar die wind oor die verskillende pype verdeel word, is daar oral ventilasie-kleppe aangebring, wat deur middel van 'n spesiale meganisme geopen of weer gesluit kan word. Word die klep oopgemaak, dan word die wind via die monding na die toonvormende gat in die klankpyp gevoer; word die klep gesluit, dan is die toon natuurlik ook weer weg; dus ongeveer soos die orrels by julle.
3. Nou weet ons hoe die instrument inmekaar steek. Die vraag is nou: Hoe word hierdie instrument bespeel? Dit gebeur ongeveer soos by julle orrels, deur middel van 'n soort klavier; die klavier het 'n ander vorm en die halftone is anders ingedeel as op julle klaviere. Die toonleer, wat julle die diatoniese noem, is hier nie die basis toonleer nie; hul basis toonleer bestaan naamlik uit louter hele tone, waartussen oral een halwe toon sit. So is die klavier ook ingedeel. Dit bestaan eintlik uit twee rye langwerpige, ongeveer een voet breë halwe bolle. Die klavier word die onderste genoem. Tussen elke sleutel van die onderste klavier is ietwat hoër en ietwat kleiner, ook 'n langwerpige, maar net 'n halwe voet breë, ietwat langwerpige halwe bol aangebring. Nou sal julle sê: Sou plat sleutels nie beter wees as sulke rondes nie? Vir julle vingers sal plat sleutels wel geriefliker wees as rondes, maar vir die sterk vingers van ons Miron-bewoners is hierdie sleutels weer beter, want as hulle plat sleutels sou hê, sou dit ten minste nog een keer so breed moet wees om afsonderlik ingedruk te kan word, aangesien 'n vingerpunt van 'n Miron-bewoner dikwels twee voet breed is. Deur die ronding van die sleutels kan die speler elke sleutel, omdat die val baie gering is, heel gemaklik en sonder om die aangrensende sleutels aan te raak, afsonderlik indruk. Nou sien julle wel watter voordeel hierdie klawerbord vir ons inwoners het.
4. Die instrument ken ons nou; nou nog net die vraag: Watter klank het dit eintlik? Die klank van hierdie instrument klink die meeste soos die van 'n fluit by julle; dit is egter onvergelykbaar sterker, maar kan deur 'n spesiale voorsiening, waardeur die polêre klankversterkers van hierdie instrument meer of minder vêr geopen of gesluit kan word, van fortissimo na pianissimo* oorgaan.
*van heel hard na baie sag
5. Op hierdie instrument vind ’n mens onder die Miron-bewoners so nou en dan werklik begaafde kunstenaars. Sommige besit so ’n vaardigheid in die speel van hierdie instrument, dat die grootste kunstenaars by julle hoogs verbaas sou wees wanneer hulle so bolbespeler daar sou hoor. Hierdie instrument ontbreek dan ook in geen enkele huis nie en is so algemeen geliefd, dat iemand wat nie ten minste 'n kleinigheid daarop kan speel nie, as baie onnosel beskou word, wat egter maar baie selde voorkom.
6. Julle sou ook wel wil weet watter musiekstukke hierdie musici speel en of hulle miskien ook sulke komposisies het soos julle? Glo maar dat daar hier werklik geen gebrek is aan sulke produkte nie. Feitlik in elke huis woon daar 'n komponis, wat met behulp van kleurvolle karakters, getrek tussen drie lyne, waarmee die drie oktawe aangedui word, sy idees op metaalplate, op klipplate, of soms ook wel op dun, glad geskaafde houtplate opskryf.
7. Hierdie musiektekens is egter veel eenvoudiger as die van julle. Die komponis gee naamlik met ses kleure ses heel tone aan, en wel met ronde punte, net soos by julle. Die halftone word aangedui met ewe groot nulle in die kleur wat by die voorafgaande grondtoon hoort. Sodoende kan hy op één lyn die hele toonleer van een oktaaf neerskryf. Wil hy nou een akkoord plaas, dan sit hy hierdie verskillende gekleurde punte, net soos julle, bo-op mekaar, maar dan so dat hulle die tweede lyn nie versteur nie; daarom word die drie lyne ook altyd op passende afstand van mekaar getrek.
8. Nou sal julle sê: Dit is alles goed en wel, maar hoe gee hy die ritmiese indeling aan? Op die mees eenvoudige wyse! Hy verbind die namekaar te speel toontekens met dieselfde tydsduur, deur middel van 'n lyn met mekaar, waarby hy onder hierdie lyn een getal plaas, of ook wel die getal met punte aandui. Moet een noot langer aangehou word, dan staan hy op homself, en word daar met 'n bepaalde, onder die noot aangebringde teken aangedui hoe lank hierdie toon moet duur. Bowendien word aan die begin van elke musiekstuk, net soos by julle, 'n bepaalde tempo aanduiding geplaas, waarna die ritme homself tydens die verloop van die stuk moet rig; ook word die ritme, net soos by julle, deur klein skuins lyntjies aangedui.
9. Dit is wel die mees basiese van die manier waarop ons komponiste op Miron hul idees neerskryf. Omdat die toonomvang van hul instrumente hulself altyd slegs binne hierdie drie oktawe beweeg, het hulle ook ruim voldoende aan hierdie drie lyne en daarom het hulle ook maar één sleutel. Ook al is die skyf-instrument byvoorbeeld een oktaaf hoër gestem, dan is dit geen probleem nie, want die instrument speel in sy stemming dieselfde musieknote as die instrument wat een oktaaf laer gestem is. Wat egter hier vir die instrumente geld, geld des te meer vir die sangers, wat maar heel selde met hul stemme die omvang van hul instrumente bereik.
10. 'n Volledige orkes bestaan, behalwe uit sangers, dus uit slegs drie persone en 'n blaaswerkbediener vir die bol-instrument. Hierdie drie mense bring egter met die hulp van die een blaaswerkbediener so ’n klankvolume voort, dat julle so ’n konsert op 'n afstand van drie uur nog heel goed sal kan beluister. Ten eerste het hierdie instrumente, as gevolg van die baie intensiewe en elastiese lug op hierdie hemelliggaam, 'n buitengewone sterk toon, en ten tweede is die sangers hier ook buitengewoon goed op stem, want 'n werklik kragtige toon van so ’n Miron-sanger sou met sy volume by julle op aarde verseker 'n behoorlike harde kanonnade oordonder.
11. Vir julle ore sou so konsert van naby wel 'n bietjie te hard klink, maar vanaf 'n behoorlike afstand sou julle beslis baie onder die indruk daarvan kan raak. Hul komposisies is van 'n baie verhewe kaliber en hulle beweeg selde in majeur, maar meestal in die mineur toonsoorte, wat by hulle halwe toonsoorte genoem word.
12. Hulle ken in hul musiekteorie drie toonsoorte: 'n Heel harde, wat die basis van die oorblywende is; dan die hele toonsoort, wat soos julle majeur toonsoort klink en dan nog die halwe toonsoort, wat met julle mineur toonsoort ooreenkom. Hierdie laaste noem hulle die enigste eetbare vrug van hul klankboom; die hele toonsoort is by hulle die ongenietbare stam van die boom en die harde toonsoort is die wortel van hierdie boom, wat netsoos die stam, as ongenietbaar verklaar word. Daarmee het ons nou ook die wese van die toonkuns van die inwoners van hierdie planeet leer ken.
13. Ons kan nog net noem dat die mense van hierdie planeet op die gebied van die optika dieselfde presteer as op die gebied van die geluidsleer. Daaruit kan julle maklik aflei dat hulle ook in die vak van die rekenkunde en die astronomie heel vaardig is.
14. Dat hulle vir die vervaardiging van die daarvoor nodige instrumente ook goed tuis moet wees in die meganika, hoef nouliks vermeld te word. Julle sou julle daaroor verbaas, dat julle hier feitlik oral die mees doelmatigste tydmeters (horlosies) van meganiese aard sal aantref, wat baie noukeuriger en akkurater as julle beste horlosies wat die tyd meet en die kleinste dele daarvan akkuraat bepaal. Sulke tegnici woon as vakmanne in elke dorp en hulle het ook spesiale werkswinkels langs die woonhuise.
15. Tewens ken die mense van hierdie planeet ook skriftekens waarmee hulle woorde kan neerskryf, en wel op dieselfde materiaal as waarop hulle hul musiektekens neerskryf. Hieruit kan julle wel met sekerheid aflei dat die mense van hierdie planeet in elke opsig hoogs ontwikkeld is.
16. Hul godsdienstige, geestelike ontwikkeling sal ons die volgende keer uitvoerig bespreek. Vir vandag is dit genoeg!
|
|
|
|
|