|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 67
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 65
Innerlike, daadwerklike godsdiens op Miron. Voortplanting en die begrawe van die dooies. Sterrekunde as middel tot Godsbesef
1. By die inwoners van hierdie planeet bestaan daar gewoonlik geen sogenaamde seremoniële eredienste nie. Die wese van hul hele godsdiens omvat niks anders as net die innerlike erkenning van God nie.
2. Hulle het selfs geen gebede nie, maar ken in plaas daarvan alleen die innerlike vorming van die gees, waardeur hulle in alle ander wetenskap en wysheid binnegelei word. Hulle sê: Om 'n God met woorde te aanbid is dwaas, die onsterflike mens onwaardig en die allerhoogste God onwelgevallig. Wie egter in sy gees sy ware bestemming herken het en daarvolgens leef, hy is God welgevallig. Die beste gebed en die grootste eer wat ons God kan bewys, is dat ons lewe ooreenkomstig die bestemming wat Hy in ons gelê het en wat Hy ons altyd getrou in onsself laat vind. Kyk, dit is dan ook alles wat hul godsdiens aanbetref, oftewel, volgens hierdie beginsel lewe en handel die mense van hierdie planeet. Die lewe en handel is die eintlike erediens wat hulle altyd hou.
3. Daarom het hulle ook geen spesifieke feesdae nie, want elke dag is by hulle 'n feesdag. Hulle sê naamlik: Alle dae wat ons lewe, leef ons vanuit God. Daarom moet daar geen verskil wees in die dae en daar moet geen uur wees waarin ons God minder gedenk as in die ander ure nie en daarom ook nie in die een uur meer as in die ander nie. Want net soos ons vanaf ons intrede in hierdie wêreld tot by ons uittrede daaruit, 'n bestendige voortdurende lewe het en omdat ons nie kan sê dat ons in 'n sekere uur meer of minder lewe nie, moet ons ook nie in 'n bepaalde uur meer of minder vroom wees as gedurende 'n gewone uur van ons lewe nie.
4. Omdat daar ook hier soms eienaardige, oordrewe vrome mense rondloop, sê hulle verder nog: Wat baat dit die mens as hy by tye en wyle bepaalde gebede sou prewel en dit weer op ander tye agterweë laat? Is God, die altyd Heilige, slegs op sekere tye waardig om deur ons mense vereer te word en op ander tye weer nie? Hoe sou hy dit met 'n suiwer gees kan verdra, hy wat insien dat God altyd ewe heilig is en dus ook altyd netso deur die mens met sy hele doen en laat vereer moet word? Wat sou ons kan bewerkstellig met ons magtelose tong alleen; sy is tog nie die enigste deel van die mens wat God kan eer nie? As ons hele wese egter deur Hom geskape is, moet ons Hom dan nie ook altyd met ons hele wese eer nie? Ja, dit is korrek en die enigste ding wat die mens waardig is. Daarom handel ons volgens die ewige verordening wat ons in ons gees vind. Wie so optree, handel altyd in ooreenstemming met die Goddelike ordening, soos wat hy dit in homself herken, en gee met sy hele wese op elkeen oomblik van sy lewe aan God die korrekte eer.
5. Kyk, as julle hierdie godsdienstige beginsels van die inwoners van hierdie planeet ook maar enigsins sou oordink, dan sal julle ook verstaan waaroor Paulus praat toe hy gesê het: "Bid sonder ophou!" Wie volgens My ordening leef en homself sodoende aan My eenvoudige gebooie hou, dié bid of eer My immers sonder ophou. Wie egter dink dat hy dag en nag moet prewel, is óf 'n dwaas óf 'n bedrieër. In die Skrif is daar tog dikwels genoeg vermeld welke waarde Ek heg aan lang geprewelde gebede.
6. Soos wat elke mens dus ook op hierdie aarde moet lewe, so lewe, op enkele uitsonderings na, die mense op ons planeet Miron. Daar bestaan weliswaar ook allerlei afdwalinge hier, maar die verdwaaldes word weldra weer deur die wyses gekorrigeer, en 'n wyse rus gewoonlik nie voordat hy 'n verdwaalde broer of suster weer op die regte weg gebring het nie. Die dwalinge op hierdie planeet is egter nie so sterk ontaard soos by julle nie. Die meeste kom voor op die gebied van die menings, wat hulle egter veel makliker laat korrigeer as die groot ontaarding by julle op die gebied van die blinde selfsug.
7. As julle egter op die gebied van die godsdiens iets as seremonie wil ag, dan kan julle die verwekking van die mens en dan uiteindelik die dood as sodanig beskou.
8. Want die verwekking vind daar plaas, synde ook deur die byslaap, op 'n uiters stigtelike wyse. Hierdie daad word altyd soggens voltrek, en nooit in huis nie, maar in 'n tempel wat spesiaal vir daardie doel op 'n naburige hoë berg gebou is.
9. Net so word die liggame van die oorledenes na 'n ander hoë berg gebring, waar hulle dan in 'n spesiaal daarvoor geboude tempel met die gesig na bo gerig, op die grond geplaas word en met gesnyde gras bedek word, waardeur hulle dan ook spoedig so sterk tot ontbinding oorgaan, dat daar na verloop van drie dae geen spoor meer van die hele groot lyk te vinde is nie. Hierdie gang van sake sou dus ook as 'n seremonie beskou kan word.
10. Die musiek en die astronomie vorm die belangrikste aspekte van hul godsdiens en goddelike verering. Oor die musiek het ons al uitvoerig gepraat, maar met betrekking tot die astronomie is daar nog baie te vermeld. Uit die astronomie leer hierdie mense My almag en My grootsheid ken en terselfdertyd ook die buitengewoon groot ordening wat daar in My moet wees, omdat reeds in die sigbare wêreld al die groot werke binne so onge¬looflike ordening beweeg en met mekaar verbind is.
11. Dat op die terrein van die astronomie hoofsaaklik hul mane die grootste aandag trek, is maklik af te lei uit die feit dat die inwoners van hierdie planeet, as gevolg van die groot afstand van die son, nooit iets kry om te sien van al die planete wat nader aan die son staan nie, behalwe hoogstens af en toe vir Uranus en verder omdat daar aan die hele sterrehemel, afgesien van hul mane, feitlik geen beweeglike hemelliggame is nie, behalwe hoogs selde een of ander stadige komeet, wat egter op hierdie afstand van die son altyd stertloos is en derhalwe baie onbe¬duidend lyk.
12. Die merkwaardigste by hul mane-astronomie en wat ook hul gees die meeste besighou, is dat hulle in werklikheid net drie en tog ook weer tien mane het.
13. Julle vra: Hoe is dit nou moontlik? Om te begin sê Ek vir julle: Niks is makliker te verklaar as dit nie! Maar hoe? Dit sal dadelik vir julle deur middel van 'n aanskoulike beeld duidelik gemaak word.
14. Stel julle net voor en julle kan dit ook gevolglik aanneem, dat die son 'n volmaakte planeet is. As die son egter 'n volmaakte planeet is, wat is dan die hemelliggame, soos byvoorbeeld Mercurius, Venus, die aarde en so aan? Julle sal sê: Dit is die mane van die son. As Ek julle nou vra hoeveel sulke mane die son dan het, sal julle sê: Mercurius, Venus, Aarde, Mars, Pallas, Ceres, Juno en Vesta, dat is al 8, dan nog Jupiter, Saturnus, Uranus en Miron, saam dus 12. Nou vra Ek: Hoeveel mane het die aarde? Julle sê: één. Hoeveel het Jupiter? Julle sê: vier. Hoeveel Saturnus? Julle sê: sewe. Hoeveel Uranus? Julle sê: vyf. Hoeveel Miron? Julle sê: volgens die eerste getal, drie. Dit is dus saam twintig mane. Wat is hierdie mane dus ten opsigte van die son? Julle kan onmoontlik iets anders sê as: Dit is sy bymane. Goed! Meer het Ek nie nodig nie! Nou gaan ons weer na Miron.
15. Hierdie ietwat wonderbaarlike planeet het die eienaardigheid dat sy eerste belangrike maan ook nog twee bymane het, wat daaromheen beweeg en saam daarmee gemeenskaplik in 'n baan rondom die planeet draai, soos wat julle maan saam met die aarde draai rondom die son. Die tweede en hoër staande maan het ook weer twee bymane en is groter as die eerste. Die derde maan, die hoogste, het selfs drie satelliete of bymane, waardeur hy ook maklik van die ander twee mane te onderskei is, sodat volgens sy rotasie die reeds aan julle bekende tydsduur van 'n jaar van hierdie planeet bereken word. Nou lê die hele, ondeurdringbare geheim opgelos voor julle!
16. Maar iemand sal sê: Waarom was daar dan aanvanklik by die algemene aanduiding geen sprake daarvan nie? Ek vra julle egter: Waarom sien julle nie met die ongewapende oog die vier mane van Jupiter nie? As gevolg van die groot afstand sal dit vir elke waarnemer wel lyk asof hulle tot één punt met Jupiter saamgesmelt het. Eers 'n sterk teleskoop is in staat om die uit vyf dele bestaande punt sodanig te vergroot, dat julle beide die planeet, asook sy mane, goed van mekaar geskei kan sien. Julle sal sê: Dit lê by die bou van ons oë, dat ons dikwels 'n vêraf liggende veelheid as 'n kompakte eenheid sien. En Ek antwoord julle op die vorige vraag: Dit lê ook in My ordening besluit om geestelik nog vêraf liggende dinge, as hulle met mekaar één geheel vorm, slegs as sodanig te laat sien en eers die eenheid in sy veelheid te ontbind wanneer ons geestelik so naby daarby gekom het soos wat julle Jupiter byvoorbeeld met behulp van 'n teleskoop genader het. Kyk, dit is dus ook 'n ordening wat volkome in My plan pas.
17. As julle geleerdes op aarde sê 'Ons het drie newelsterre ontdek!', het hierdie geleerdes dan reg of verkeerd gespreek? Ek sê vir julle: Reg en verkeerd! Reg, omdat hulle werklik nie meer as drie newelsterre ontdek het nie, maar verkeerd, omdat so ’n newelster dikwels 'n ware 'triljoenster' is. Hoe groot die verskil tussen drie en verskeie triljoene is, hoef Ek nie vir julle uit te lê nie; julle sal vanself kan insien hoe verkeerd die getal drie ten opsigte van die veelheid van die ontdekte sterre in hierdie aangeduide drie 'newelsterre' is.
18. Nou dink Ek dat hierdie voorbeelde voldoende sal wees om duidelik te maak dat die manier waarop Ek die een en ander geleidelik aan onthul, beide in die natuurlike-, sowel as in die geestelike opsig, volkome volgens die orde is.
19. Nou sou sommige kan vra: Waarom moet by die planeet Miron die hoofmane nog bymane hê, terwyl dit by geen ander planeet so is nie? Op hierdie vraag wil Ek eintlik geen antwoord gee nie, behalwe onder 'n sekere voorwaarde. Wie uit geleerdheid en behoefte aan kritiek sou wil weet, nooi Ek uit om My eers vanuit sy gees te verduidelik waarom byvoorbeeld die planete Mercurius, Venus en Mars en die vier klein planete heeltemal geen mane het nie? Waarom het die verreweg grootste planeet Jupiter slegs vier mane en die kleiner planeet Saturnus, benewens sy ring, sewe? Wie dit duidelik vir My kan uitlê, aan sy gees sal Ek ook die oorsaak van die teenwoordigheid van die bymane van die planeet Miron openbaar.
20. Dit gaan veral nog oor die son en nie oor 'n spesiale beskrywing van 'n planeet nie. Nou weet ons voldoende oor hierdie planeet vir die doel wat ons beoog. Daarom sal ons nie langer in sy geweste vertoef nie, maar die volgende keer onverwyld na ons sewende songordel teruggaan. En daarmee was dit weer mooi gewees vir vandag!
|
|
|
|
|