|
DIE NATUURLIKE SON JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 42
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75. |
|
|
HOOFSTUK 40
Plante- en dierewêreld op die vierde gordelpaar
1. Voordat ons egter tot die nog belangriker maatskaplike reëls oorgaan, is dit nodig om ietwat op hoogte te kom van die plante- en dierewêreld op hierdie gordel.
2. Nou sal julle dink: Omdat ons eers die buitengewone ryk plante- en dierewêreld op hierdie gordel, al was dit maar vlugtig, van naderby bekyk het, sal dit wel nog ’n tyd duur voordat ons verder kan gaan met die res, naamlik die belangrike sosiale reëls. Maar Ek sê vir julle: Maak maar vir julle geen sorge daaroor nie, want by sommige geleenthede verstaan Ek die kuns om die boom met één hou te laat val. En dit sal ook hier die geval wees.
3. Voordat Ek egter die hou gaan gee, moet Ek julle weer na die planeet Jupiter self bring. Hoewel hierdie planeet ruim vierduisend maal so groot is as die aarde wat julle bewoon, is daar geen planeet wat, met betrekking tot beide die klimaatsgesteldheid en ten gevolge hiervan, die plantegroei en dierewêreld, groter ooreenkomste vertoon met julle aarde as juis hy nie. Hy besit weliswaar nog vele, op julle planeet onbekende, kenmerkende eienskappe, wat ook op ander planete in 'n sekere sin volop is, beide op die gebied van die plante- sowel as die diereryk, maar ten spyte van hierdie kenmerkende eienskappe, sal julle op hierdie planeet, hetsy op veel groter skaal, alles aantref wat daar ook maar op en in julle planeet teenwoordig is.
4. So ’n kenmerkende eienskap met betrekking tot die planteryk is byvoorbeeld, dat daar op hierdie planeet baie wyse en innige vrome mense is wat 'n wilskrag besit wat ooreenstem met die van die inwoners van die middelgordel; gevolglik kan hulle ook heeltemal nuwe soorte bome en plante vanuit die bodem van hul aarde ontlok. Sulke bome en plante het dan net geen saad nie en is dus nie tot voortplanting in staat nie, terwyl die oorspronklike plante en bome, sowel as op julle aarde, lewedraende saad voortbring.
5. Hierdie oorspronklike plante is egter nie anders as die van julle aarde nie, maar het wel 'n meer veredelde vorm. So sou julle in die warm lugstreek van Jupiter alle tropiese gewasse ontdek en in sy twee gematigde lugstreke alle vrugte en gewasse wat op julle aarde ook in hierdie lugstreke voorkom en so is dit ook in die koue lugstreke. Julle moet dit slegs baie meer veredel en ook veel groter voorstel as by julle op aarde.
6. Julle sou daar byvoorbeeld op 'n grasryke grasland ongeveer net so tussen die grashalms rondwandel as in 'n jong woud op julle aarde, terwyl die bome ook seker tien maal groter is as by julle. Tog sal julle nêrens op hierdie planeet sulke reusagtige bome en ook sulke reusediere aantref, as wat ons op die planeet Saturnus leer ken het nie*.
*sien die boek 'Saturnus’ deur Jakob Lorber
7. So is ook die mense van Jupiter by verre nie so groot soos die mense op Saturnus nie en nog veel kleiner as die inwoners van ons met Jupiter toepaslike songordel. Die mense van die planeet Jupiter is nouliks drie tot vier keer groter as die op julle aarde.
8. Noudat ons dit weet, kan ons ook die hou fel en julle kan daarvan verseker wees dat ons daarby beide die plante- sowel as die diereryk van ons vierde gordel sal leer ken. Beskou dus die plante- en dierewêreld op julle aarde, stel dit vir julle op elke gebied honderd maal groter voor, en dan sal julle die hele plante- en dierewêreld voor julle sien.
9. As julle byvoorbeeld 'n vlieg van hierdie songordel sou neem, dan sou vyf van julle mense soveel daarvan kan eet, dat hulle in geval van nood hulle voldoende daarmee sou kon versadig. So sou julle ook nie maklik in staat wees om tien aarbeie te eet nie en twee taamlik sterk mense by julle op aarde sou 'n druif nie so maklik van sy plek afkry nie. En soos wat dit hiermee gestel is, so is dit ook met al die ander. By die diere is dit presies so, met as enigste uitsondering die slang, wat nóg op Jupiter, nóg op hierdie toepaslike gordel voorkom. Daar bestaan wel akkedisse, maar hulle is almal goedaardig. Hulle hou hulleself gewoonlik op by die oewers van mere en riviere, maar kom nooit by die huise van die mense nie.
10. Wel, nou eers kan ons voortgaan met ons maatskaplike reëls.
11. So is daar 'n reël wat voorskryf dat daar, behalwe vir enkele huisvoëls soos hoenders en duiwe, geen ander dier by die huise aangehou mag word nie. Nou sal julle vra: As hierdie maatskaplike reël volkome doeltreffend moet wees, moet die intelligensie van die diere dan nie ook daarin betrek word nie? Ek sê egter vir julle: Dit is nie nodig nie, want hierdie reël vertel die inwoners maar net dat hulle hul nie veel vierkante myle groot stukke grond by die huis sodanig moet omhein dat dit nie deur die diere betree kan word nie.
12. Nou sal julle weer sê: Maar hierdie heining sal die inwoners van hierdie gordel tog sekerlik baie werk besorg. As hulle dit op dieselfde manier sou aanpak as julle, sou hulle met so 'n heining beslis baie werk gehad het, want so ’n omheining is dikwels verskeie honderde myle lank.
13. Hoe pak hulle dit dan aan? Hulle neem 'n behoorlike hoeveelheid goeie boomsade en trek dan met 'n werktuig wat soos julle ploeg lyk 'n voor rondom hul stuk grond; dit word egter nie deur diere nie, maar met speelse gemak deur die buitengewoon sterk mense voortgetrek. In hierdie voor word die saad dan deur 'n vrou geplaas en deur 'n volgende vrou word die voor weer met 'n daartoe gerigte stuk gereedskap diggemaak. Die werk gebeur so vinnig, dat die vinnigste voël nie by die drie persone wat die heining aanlê, sou kan byhou nie. Danksy die groot vrugbaarheid van hierdie bodem het die gesaaide bome binne ’n kort tydjie twintig vadem hoog bo die aardbodem uitgegroei, en na verloop van ongeveer drie jaar, volgens julle tydrekening, is so ’n lewende heining so goed as voltooid.
14. Wil julle ook weet watter boomsoort daar vir hierdie heining gebruik word? Dan sê Ek vir julle dat hierdie bome die meeste met julle seders, sipresse en denne ooreenkom. Die stamme groei so naby teenmekaar, dat hulle as’t ware 'n muur vorm wat, wanneer dit volgroeid is, dikwels meer as duisend vadem hoog is.
15. Wel, oor hierdie muur sal daar dan beslis geen enkele dier op die omheinde grond kom nie. En dus hou hierdie huisreël in dat elke stuk grond op die aldus beskrewe wyse voldoende omhein moet word.
16. Wanneer iemand sou vra waarom die inwoners van hierdie gordel so 'n sterk afkeer van diere het, sou die volgende hom tot antwoord dien. Hulle sê op grond van hul innerlike wysheid: Die diere wat almal nog onsuiwer siele het, sou die siel van die mens kan besoedel deur hul gedrag, omdat hulle al hulle handelinge vanuit hul geoordeelde siele verrig. As die mens een of ander handeling van 'n dier sou nadoen, wat maklik gedoen kan word, dan sou hy homself vanuit sy vryheid in die oordeel van die dier skuif, wat hom geleidelik skade aan sy siel sou kan veroorsaak.
17. Daarom is dit ons plig om uit liefde vir mekaar die diere van ons af weg te hou en liewer ’n vrees vir hulle te koester, as 'n ondoelmatige aanhanklikheid. Liefde vir diere veroorsaak metter-tyd 'n onsuiwer gemoed en maak die siel self dierlik. Niemand hoef die diere te vervloek nie, maar ’n mens moet sekerlik nie met sy eie geheiligde hart aan 'n dier hang nie.
18. Kyk, dit is die vernaamste bestaansgrond waarop die voorafgenoemde maatskaplike reël berus, soos wat die bewoners van hierdie gordel trouens vir elkeen van hul reëls 'n hoër, wyse bestaansgrond het.
19. Nou sal menigeen weer vra: Kan die inwoners van hierdie gordel vir vlieë en ander vlieënde insekte, asook vir die wilde vlieënde voëls 'n heining plaas? Want dit is tog ook diere wat beslis nie sulke suiwer siele het as die mense self nie.
20. Wat die vlieë en ook ander vlieënde insekte betref, die word deur die wil van die inwoners met die grootste gemak op 'n afstand gehou. Verder hou hierdie diere hulleself gewoonlik net op by die oewers van die seë, mere en riviere.
21. Die voëls is egter in hul vlug vir niemand gevaarlik nie, en as hulle iewers neerstryk, bly hulle nie so lank daar nie, terwyl die skade wat hulle aanrig, nie opweeg teen die veel groter voordeel van die reiniging nie, wat bestaan uit die opeet van allerlei onrein wurms.
22. Daarom is daar 'n tweede maatskaplike reël wat sê dat niemand 'n voël mag wegjaag van die plek waar hy neergestryk het nie. En dan sê die inwoners: Wat homself bo ons heining kan verhef en hierdie grens nie in ag wil neem nie, word tot ons heil deur 'n hoër wil gelei. Daarom moet ons nooit dit wat van bo neerdaal, op die vlug jaag nie, maar ons volgens God se wil daardeur laat dien, want sulke wesens is sekerlik bestem om ons, volgens hul aard, vir ons welsyn te dien. So laat die inwoners dan ook dikwels groot swerms voëls op hul grond kos soek en sê daarby: Almal wat werk is sy voedsel werd. Ons sal dus ook hierdie arbeiders laat eet, aangesien hulle gewerk het, want hulle kom nie sonder die wil van God en kan ook nie sonder Sy wil verder trek nie.
23. Kyk, so het ook hierdie maatskaplike reël goeie gronde. Mettertyd sal julle egter vra: Maar as die inwoners van hierdie gordel hul grondgebiede almal so omhein, waar lewe die baie groot diere dan? Wees maar nie besorg daaroor nie, want die grondgebiede van die inwoners grens nie so naby aanmekaar soos by julle nie; daar is naamlik tussenruimtes wat dikwels ’n honderd myl breed is en wat aan die diere oorgelaat word. Sodoende het die diere gemiddeld dus meer woonruimte as die mense.
24. Nou sou iemand dalk kan vra: Ons het gehoor dat die mense van hierdie gordel dikwels op reis gaan. Loop hulle dan geen gevaar om deur die baie wilde diere aangeval te word wanneer hulle deur hul gebiede trek nie? Dit is 'n onnodige vraag, want ten eerste is die diere daar meestal saggeaard en hulle vrees die mens en ten tweede is die mens hier, op grond van sy geestelike en ook liggaamlike krag, 'n ware heerser oor sy wêreld; en ten derde word elke reisiger begelei tot by die eersvolgende naburige grondgebied. Danksy hierdie drie omstandighede kan almal dus wel veilig reis, veral ook omdat hy op die son geen nag hoef te vrees nie.
25. Kyk, dit is dus weer 'n maatskaplike reël, wat aandui dat daar tussen die omheinde grondgebiede, altyd 'n behoorlike ruimte vir die diere oorgelaat moet word, en dat elke grondgebied rondom sewe ingange moet hê, wat presies so gemaak is soos die sogenaamde wild klimlere by julle heinings, waar net die mense daaroor kan loop, maar die diere absoluut nie.
26. Hoe lyk hierdie tussenruimtes vir die diere, waar ’n mens via die wild klimlere oorkom? Hulle is meestal dig bebos. Slegs waar die wild klimlere is, is die woude uitgedun tot by die wild klimleer van 'n naburige grondgebied, en dit is in werklikheid die weë waarlangs almal veilig kan reis.
27. Met betrekking tot die onderhoud van hierdie paaie bestaan daar dan ook 'n gemeenskaplike maatskaplike reël tussen die bure, op grond waarvan almal die helfte van so ’n verbindingsweg voortdurend goed moet skoonhou. Want ook hiervan sê die inwoners: Net die onreine diere dwaal deur die struikgewasse van die bos, maar die mens moet altyd op oop paaie kan wandel. Dit lê nie in die mag van die diere om hul pad uit te dun nie, maar die mens het wel die mag om al sy paaie skoon te hou; ook moet elke pad reg wees, sodat dit onderskei kan word van die krom paaie van die wesens wat die weldaad van reguit lyne nie ken nie, maar in alle rigtings deur die struikgewasse van die woude dwaal.
28. Dit is dus wel die belangrikste sosiale reëls met betrekking tot die grondgebruik. Die volgende keer sal ons wel nog aan enkeles aandag gee om ons daarna op die godsdiens te rig. Vir vandag is dit weer genoeg!
|
|
|
|
|