DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 65

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 63 Huisreëls, goeie sosiale voorskrifte, musiek en musiekinstrumente op Miron 1. Wat word daar eintlik onder die binnenshuis geldende reëls verstaan? Niks anders nie as die reëls wat deur die mense onderling in elke afsonderlike huis in ag geneem moet word. Tot hierdie reëls behoort dus alle vriendskaplike betrekkinge en die daarvan afgeleide wedersydse dienste, waarmee die gesinslede van 'n huis mekaar oor en weer ter wille is en waarmee die gesin te kenne gee dat die gesinslede in 'n huis nou aan mekaar verwant is. 2. Die belangrikste reël lui dus: Agting vir mekaar, liefde vir mekaar en vriendskap vir mekaar! Na hierdie reël volg 'n tweede, en dit lui: Kyk na mekaar, help mekaar en gee jou hart vir mekaar! 'n Derde reël lui: Samewerking, vir mekaar en met mekaar! Volgens hierdie reëls rig almal hulleself in die huis. 3. Die ouerpaar is die hoof van die gesin; die vader van die manlike en die moeder van die vroulike deel. Aangesien vader en moeder egter hier waarlik één is, werk hierdie twee hoogste pole vanuit één sentrale punt. Wat die vader dus wil, dit wil ook die moeder en so geld daar in die hele huis, beide vir die manlike sowel as vir die vroulike deel, een en dieselfde reëls. 4. Daarom geld die reël 'agting vir mekaar' in die hele huis vir almal. Die huisvader en sy vrou ag mekaar wedersyds, en word één, omdat slegs uit so 'n dergelike agting die ware, suiwer liefde kan ontstaan. Eweneens ag ook die broers en susters mekaar, en ook in opgaande lyn alle kinders hul ouers en omgekeerd die ouers hul kinders. En die jonger broer ag die ouer en die ouer die jonger. Dit is ook die geval by die susters en wedersyds by die ouer suster ten opsigte van die jonger broer en die ouer broer ten opsigte van die jonger suster. 5. Sodoende is almal dan op die basis van wedersydse agting vir mekaar verbind deur die band van die liefde, wat uit in 'n besondere lieflike vriendelikheid bestaan. Daarmee word egter ook aan alle ander reëls voldoen. Want 'n ‘oog vir mekaar’ wil onder sulke beminlike omstandighede tog sekerlik sê: Samehorigheid, om gelykgesind van hart te wees en mekaar daadwerklik te ondersteun, en verder ook samewerking, graag na mekaar luister en graag daarheen gaan waar die ander heengaan. 6. Dikwels woon daar in 'n huis nie net één nie, maar dikwels drie, vier tot vyf gesinne, sodat daar in ’n sekere sin vyf pare ouers is, wat almal met meer of minder kinders geseënd is. Al hierdie gesinne in één huis lewe egter sodanig met mekaar dat daar van een of ander rusie eintlik nooit sprake is nie; inteendeel, hoe meer gesinne daar in 'n huis bymekaar woon, des te inniger en dus ook meer geseënd is dit. Hierdie mense hou werklik soveel van mekaar, dat hulle eerder hulself iets sou laat aandoen, as dat hulle in staat sou wees om 'n lid van die gesin, wat die reëls van die agting oortree, ook maar in die minste te kwets, want almal, selfs die kleinste kind wat die kinderhuis verlaat het, sal homself met die grootste moontlike sagtheid by die wedersydse agting hou. 7. Dit is ook die rede waarom hierdie mense ook soveel van musiek hou, want van al die kunste en wetenskappe wat hulle besit, kom dit die meeste met hul innerlike ooreen; die musiekmaak is dan ook 'n baie belangrike huislike aktiwiteit. 8. Om van hierdie mense wat in die toonkuns vaardig is, 'n beter begrip te kan vorm, sal ons eers hul musiekinstrumente ietwat van naderby bekyk en dan eers gaan luister na 'n klein musiekuitvoering. 9. Die musiekinstrumente lyk absoluut nie soos die van julle nie, en daarom klink die musiek daar ook heel anders. Blaasinstrumente en snaarinstrumente sal ’n mens hier nêrens aantref nie; in plaas daarvan gebruik die mense hier soorte klok-instrumente, skyf-instrumente en ook bol-instrumente. 10. Die klok-instrumente word op die volgende manier van 'n soort baie welluidende metaal vervaardig: Daar word verskeie klokke in die vorm van halwe bolle gegiet; hierdie klokke word dan van groot na klein op 'n spil bevestig, nadat hulle eers baie goed gepoleer is en volgens julle chromatiese toonleer baie suiwer gestem is. Op één spil sit daar by 'n volledige instrument altyd drie oktawe van sulke klokke en wat die stemming aanbetref, ongeveer die D by julle wat in die contra-oktaaf begin en dan verder styg. Die toon word op twee maniere aan die klokke van hierdie instrument ontlok, óf deur die aanslaan met 'n ietwat sagte hamer of deur te vryf met die vingers, wat eers in 'n bietjie soutwater gehou word. Hierdie instrument word gewoonlik deur die manne bespeel; dit is geen solo-instrument nie, maar 'n harmoniese begeleidingsinstrument by die sing van die vroue. 11. Na hierdie instrument kom die skyf-instrument. Dit word van die voorafgenoemde glas gemaak. Die skywe sit ook aan 'n spil, wat netsoos die vorige gedraai word, terwyl die toon voortgebring word deur met harsbestrykte vingers daaroor te vryf. Hierdie toon is buitengewoon deurdringend, en die instrument is oral presies een oktaaf hoër gestem as die vorige en word dus gebruik ter versterking van die harmonie van die reeds bekende klok-instrument. 12. Die voortreflikste instrument, wat ook as solo-instrument gebruik word, is die al voorgenoemde bol-instrument. Omdat hierdie instrument egter 'n nogal ingewikkelde meganika het, sal ons dit die volgende keer uitvoerig bespreek, en ook die manier waarop hierdie instrument heel bekwaam deur die musici bespeel word. Genoeg dus vir vandag.

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205