DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 28

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 26 Meer besonderhede oor die gestalte, klere en lewensgewoontes van die mense op die eerste paar newegordels 1. Die vorm, veral dié van die mense op die noordelike gordel, lyk ietwat soos die van die mense wat by julle op aarde nog in hierdie tyd in die Asiatiese gebergte, veral in die westelike deel van die Kaukasus woon; maar hulle is slegs gemiddeld so een-en-’n-half keer groter. 2. Die vroulike geslag is van buitengewone groot sagtheid; slegs die voetsole is ietwat hard en ru, soos 'n vyl. Dit is nodig om die gladde bodem van die son oral te kan beklim, sonder om daarop te gly en te val. Val sou hier, veral vir die groter en swaarder liggame, al heelwat sensitiewer wees as op die hoofgordel, aangesien die grond hier al meer stewigheid het as daar. 3. Soos gesê is die liggaam van die vrou buitengewoon teer en sag en het deurgaans welgevormde kurwes. Die hare van die vrou is van nature verblindend wit, terwyl die velkleur daar presies so lyk soos die kleur wat ontstaan wanneer julle die son deur 'n ligte roosblom sou laat skyn. Ook op hierdie gordel het die mense 'n eie lig. As veral 'n vrou van hierdie gordel snags op een van julle berge sou staan, sal sy 'n behoorlike groot omgewing baie goed verlig, egter nie met 'n wit nie, maar wat haar liggaam aanbetref, met 'n ligrooi lig. Slegs haar hare sou 'n baie intense wit lig uitstraal, sodat julle oë dit snags, sowel as oordag, nie sou kon verdra nie. 4. Hulle oë is groot en uiters lewendig. Die oogappel is verblindend wit en die opening met die reënboogvlies ligblou. Die pupil is egter nie swart nie, maar diep donkergroen. Dit is nodig sodat hulle die lig makliker kan verdra en in alle rigtings buitengewoon helder kan sien. 5. Dit is dus die vorm, wat met hierdie weinige woorde voldoende beskryf is, want dit is nie nodig om verder nog ander dele van die liggaam te beskryf nie, omdat daar tog wel daarvan uitgegaan kan word dat julle die res van die volmaakte vroulike gestalte, met alles wat daar maar uiterlik te aanskou is, goed ken. 6. So kan ook die gestalte heel maklik uit die beskrewe vorm afgelei word. Sodat julle egter kan weet wat hier onder 'gestalte' verstaan moet word, weet dan dat daaronder soveel as die eintlike, volledige karakter, wat in die uiterlike vorm woon, verstaan moet word. 7. Dit moet as volg verstaan word: As julle byvoorbeeld kyk na 'n mooi volmaakte voet, 'n reëlmatig gevormde liggaam, dan 'n ewe mooi, ronde arm, 'n volkome saggeronde hals, vervolgens 'n proporsionele klein hoof en 'n gesig wat oral welgevormd is, dan lewer dit alles 'n mooi vorm op, waarop niks gesê kan word nie, aangesien alles volmaak is, naamlik die voet, die liggaam, die bors, die arms, die hals en die hoof. Wanneer julle so-iets self op 'n skildery sien en elke detail bewonder, het julle instemming met die vorm betoon. 8. Maar as julle verder vra: Wat wil hierdie vorm dan sê? Dan sal julle vanself die antwoord kry wanneer julle alle dele met één oogopslag oorsien, die onderlinge verbindings sien en goed op die algehele indruk let, want die algehele indruk en die harmonie wat daaruit spreek, is eintlik eers dit wat onder gestalte verstaan moet word. 9. Noudat julle dit weet, en julle daarmee die vorm onthul het, sal julle met baie min moeite vanself die gestalte ontdek. 10. Hoe is die vrou eintlik gekleed? Haar klere bestaan uit niks anders as uit 'n ietwat groterige voorskoot rondom die lendene, soos wat ons by die inwoners van die hoofgordel aangetref het. En van die linkerarm tot by die regter heup word oor die een helfte van die liggaam 'n wit mantel wat by die arm gesplits is, gedra, waarby die regterarm en die regterbors dus oop is. 11. Om die voorkop dra die vroue 'n rooi band, wat by hulle die liefde tot die wysheid uitbeeld. 12. Dit is dus in die algemeen die beeld van die vrou. 13. En hoe lyk die man? Hy is ongeveer ’n kop groter as die vrou. Sy gestalte is volkome edel en volmaak. 14. Ook die man het 'n harder en ruwe voetsool, wat lyk soos 'n rasper by julle. Die voete is baie gespierd, maar kan daarom nog nie as hard beskou word nie. So is die liggaam en die hande ook. Die nek is tot by die voorste deel rond; die voorste deel rondom die keel word deurgroef deur twee taamlike sterk spiere, sodat daar tussen hierdie twee spiere 'n kuiltjie ontstaan. 15. Die ken word versier deur twee gedeeltes digte baardgroei; die kleur van die baardhare is geel, wat as’t ware oorloop na groen. Die baie ryklike hare op die kop het 'n liggeel kleur, die wenkbroue is egter donkergroen en verder het die oë dieselfde vorm as by die vrou. 16. Die ore is in verhouding tot die kop eerder groot as klein. Die kop, of beter gesê, die gesig, laat altyd die wyse en weetgierige sien. Die kleur van die gesig is ietwat rooier as by die vrou. 17. Ook is die oorblywende liggaamsdele na verhouding ietwat rooier as die van die vrou. 18. Die klere van die man bestaan uit 'n wit toga, wat tot by die knie reik en wat beide onderaan sowel as om die nek en aan die voorkant heeltemal tot by die onderste rand versier is. Nóg die vrou, nóg die man dra enige hoofbedekking. 19. Daarmee is dus ook die gestalte en die vorm van die man duidelik beskryf. 20. Nou sal julle vra: Ja, die gestalte van die mens van die noordelike gordel ken ons nou wel, maar hoe lyk dit op die suidelike gordel? 21. Presies soos op die noordelike gordel, maar die mense is net ietwat groter, en die vroulike geslag is nog aansienlik mooier as die van die noordelike gordel. 22. Slegs in die klere is daar ’n verskil. Hier dra die vrou 'n toga wat rooi versier is en word deur middel van 'n goudgroen gordel om die slanke middel bymekaargehou. Die man daarenteen het 'n lendeskort wat tot onder die knie reik en dra presies so ’n halwe mantel as wat ons vroeër op die noordelike gordel by die vrou gesien het; maar hierdie mantel is egter nie so diep gesplete nie en is ook aansienlik langer. 23. Hier dra die vrou 'n blou band om die voorkop. Die man dra egter 'n klein rooi mus as hoofbedekking. Hierdie mus by die man verwys hier na sy besondere liefde vir die wysheid, terwyl die blou band om die voorkop van die vrou, haar standvastigheid aandui as troue volgeling van die wysheid van die man. 24. Ons het op die middelste hoofgordel gesien dat die mense daar uiters kyklustig is, maar tog staan hul kyklustigheid in geen enkele verhouding tot die kyklustigheid van die inwoners van die beide newegordels nie. 'n Man, veral van die noordelike gordel, is byvoorbeeld so kyklustig dat hy baie goed in staat is om 'n natuurverskynsel, ook al duur dit volgens julle tydrekening verskeie jare, vanaf een en dieselfde plek te observeer. Maar Ek sorg wel baie goed daarvoor dat 'n natuurverskynsel op hierdie gordel, sowel as op die teenoorliggende, nooit te lank neem nie. 25. Die meeste natuurverskynsels tree op hierdie gordels gewoonlik daar op waar die twee watergordels aan die twee hoë bergrûe grens (waardeur die hoofgordel van die beide newegordels geskei word). Hierdie natuurverskynsels duur, veral by die uitbarsting van 'n swelling op die hoofgordel, taamlike lank, maar omdat die watergordel tog net so breed is as ongeveer twee maal die deursnit van julle aarde, is daar vir ons kyklustiges by sulke groot skouspele nou juis nie te veel te siene nie. By groot uitbarstings word daar soms wel 'n groot aantal groot ligbolle oor die hooggebergte na hierdie gordel geslinger, maar deur die groot afstand word sulke balle, al is hulle ook soms so groot soos die maan van julle aarde, nie veel groter waargeneem as wanneer julle die maan deur 'n middelmatige sterk teleskoop sou sien nie. Verder duur die neerval van so ligbol maar nouliks enkele sekondes volgens julle tydrekening. Vandaar dat die skouspel vir die kyklustige inwoners op hierdie gordel dan ook altyd baie onbevredigend verloop. 26. Hul vernaamste waarnemings betref egter die sterrehemel. En die bewoners, veral die van die noordelike gordel, put hulself uit oor alle moontlike veronderstellings oor wat die een of ander ster tog mag beteken, wat hy is en vir welke doel hy geskape is. 27. Die inwoners van die suidelike gordel het selfs 'n soort kykinstrument wat ietwat lyk soos julle 'kamera obscura'*. Deur hierdie instrument vang hulle die beeld van 'n ster op en slaan dit met alle moontlike vlyt gade. Maar desondanks gaan dit met hulle nie veel beter as met julle op aarde met julle teleskope nie, omdat hulle ten slotte niks méér te wete kom as hoogstens iets oor die bewegings van die sterre en uiteindelik oor hul grootte. Hulle is julle geleerdes net vooruit, deurdat hulle in sekere sin, as inwoners van 'n vaste ster, die afstande, bewegings en omvang van ander vaste sterre beter kan bepaal, dit wil sê, vir sovêr hul oë en instrumente reik. As dit egter die diens weier, dan is dit ook vir hulle, net soos by julle, verby. *Geskryf in 1842 28. Hierdie twee gordels verskil ook van mekaar deurdat die inwoners van die noordelike gordel hulself minder op die kyk toelê, maar des te meer op die veronderstelling en gevolgtrekking, terwyl die inwoners van die suidelike gordel alles eers deeglik bekyk en dan eers tot allerlei aannames en gevolgtrekkings oorgaan. 29. Hiermee het ons dus ook die groot voorliefde van hierdie mense binne ’n kort bestek leer ken. Daarna sal ons nou nog 'n blik werp op die manier waarop hierdie mense, beide van die een sowel as van die ander gordel, met mekaar lewe, afsonderlik of in ’n gemeenskap. 30. Op hierdie gordel lewe die mense, weliswaar net soos op die hoofgordel, in afsonderlike woonhuise, waarvan ons die vorm eers in die navolgende sal beskou. Want dit is die manier van die wyses om nie gesteur te word in hul beskouings nie. 31. Desondanks is daar tog, veral langs die oewers van klein mere, asook in die besonder op die hoogvlakte, sekere gemeenskaplike nedersettings wat uit verskeie groot, aaneengeskakelde geboue bestaan en die voorkoms van 'n stad het. Hierdie nedersettings is gemeenskaplike besit en word merendeels deur die wysste mense van die land bewoon. 32. Op welke manier hierdie huise en hierdie nedersettings gebou is en die doelmatigheid daarvan, sal ons by 'n volgende geleentheid verder bespreek. En dus is dit weer genoeg vir vandag!