DIE NATUURLIKE SON
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 68

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75.

HOOFSTUK 66 Die sewende gordelpaar en sy reusagtige inwoners 1. Die sewende en laaste bewoonbare gordel van die son is weliswaar nie van die sesde geskei deur 'n wal van hoë berge nie, maar in plaas daarvan deur 'n des te breër watergordel. 2. Die meeste berge op hierdie gordel is voortdurend vulkanies aktief. Hoe groot hul kraters hier en daar is, is alreeds gesê. 3. Na die breë watergordel volg 'n nie te bergagtige, bewoonbaar kontinent. Hierdie grond is tewens ook die allerstewigste van die hele son, beide aan die suidelike sowel as aan die noordelike kant, en dit het, die see nie ingereken nie, tot aan die polêre bergmassief ’n breedte van gemiddeld sesduisend myl. 4. Die poolstreke van die son, of beter gesê haar pole, is netsoos die pole van die planete vir alle tye der tye onbewoonbaar. Daarom is hulle ook van hierdie laaste bewoonbare gordel afgesny deur 'n buitengewoon steil en hoog wit glansende ringgebergte. Die berge is so hoog, dat hulle met hulle toppe dikwels selfs uitsteek bo die glansende sonlug, wat gemiddeld so seshonderd myl bo die werklike sonbodem is. Die gegewens moet egter nie as vaste norm beskou word nie, want so wat daar al groot verskille bestaan tussen die luglae bo julle aarde, des te meer sal sulke verskille voorkom op die son, wat in haar innerlike wese veel lewendiger is as welke planeet dan ook. 5. Noudat ons die gordel voor ons gees het, sal ons nie te lank meer die dooie grond beskou nie, maar dadelik ons aandag fokus op die bewoners. 6. Die bewoners, dit wil sê die mense van hierdie gordel, onderskei hulle van hul ooreenstemmende broers op die planeet Miron eintlik uitsluitlik deur hul vir julle werklik fantastiese grootte. Die mense van hierdie gordel is naamlik so groot, dat hulle op aarde die hoë berge van die Himalaya en Chimborazo sekerlik as wandelstokke sou kon gebruik. Julle moet egter nie dink dat alle mense hier presies ewe groot is nie, want op feitlik geen enkele gordel of planeet is daar soveel verskille in grootte tussen die mense as hier nie. Desondanks word mense van so twee- tot driehonderd vadem lank deur die werklike inwoners as baie klein dwergies beskou. Dit kan egter ook voorkom, dat 'n mens op hierdie gordel van top tot toon gemeet ’n lengte van vier-, vyf- tot sesduisend vadem bereik, maar sulke reuse is ook geen normale mense op hierdie gordel nie. Die lengte van die normale mense wissel tussen die agt- en twaalfhonderd vadem. 7. Merendeels woon hierdie reuse naby die berggordel om die poolstreke. Daar vind hulle ook voldoende voedsel. Verder na die seë van hierdie gordel word die mense egter steeds kleiner, en op die groot en veelvuldig voorkomende eilande woon die sogenaamde dwerge, wat egter tog nog groter is as alle ander gordelbewoners van die son. Daarom moet julle hierdie eilande ook nie in julle fantasie al te klein voorstel nie. 8. As julle die omvang van die kleinste eiland sou skat op die omvang van die hele Asië en Europa bymekaar, dan sou julle maatstaf taamlik korrek wees. Hierdie eilande is gewoonlik deur landtonge met die vaste land verbonde, maar hulle is net vir ons dwerge begaanbaar. Die groter inwoners van hierdie land sou nie so maklik oor so ’n landtong, of beter gesê, landengte heen kan loop nie, omdat dit vir hul voete te smal sou wees. En ook al was dit hier en daar nie die geval, dan sou die bodem daarvan tog nie stewig genoeg wees om 'n wandelende las van vele duisende sentenaars te dra sonder om weg te sak nie. Daarenteen kan die dwergmense die vaste land baie goed betree en verre reise maak tot by die groot reuse, deur wie hulle altyd buitengewoon sag en vriendelik opgeneem word. Daar kan 'n mens met reg sê: Hulle word waarlik deur die grote op die hande gedra. 9. Soos wat die grootte van die mense op hierdie gordel varieer, so varieer ook, veral op die son veel meer as êrens anders, hul velkleur. Met as enigste uitsondering die heeltemal swart kleur, kan julle hier wel alle skakerings van kleur aantref. So is byvoorbeeld die heel groot reuse donkervuurrooi, aflopend na heel ligrooi. So is daar ook mense met 'n groen of blou kleur, wat selfs heeltemal in bleekgeel kan oorgaan. En so is daar nog 'n hele klomp skakerings van kleur, waarvoor 'n hele boek nodig sou wees om dit almal te beskryf. Daar is weliswaar ook op die ander songordels klein afwykings in kleur, maar tog is daar oral een en dieselfde hoofkleur in die kleuring sigbaar. Hier sien julle egter nie net 'n chromatiese, maar 'n waarlik ’n enharmoniese reeks van skakerings van kleur. 10. Hoe praat hierdie mense eintlik met mekaar? Die taal is hier tweeledig; mense ken die gebaretaal en die spreektaal. Dit is 'n merkwaardige gesig wanneer 'n reus met ’n dwerg praat. Sodra hy agterkom dat die dwerg met hom wil praat, tel hy hom dadelik op en hou hom by sy oor. Wil die reus egter iets aan die dwerg sê, dan hou hy hom sovêr as moontlik van sy mond af en praat dan so hoog en saggies as wat hy maar kan, sodat die dwerg geen letsels opdoen deur sy stemgeluid nie. Want sou die reus met sy gewone diep stem met hom praat, dan sou die dwerg die woorde alleen al deur die lae toon daarvan nie kan hoor nie en sou die afsonderlike vibrasies van die stem hom te sterk laat bewe. Om dit te vermy, lê hierdie grotes in die omgang met die kleintjies die grootste versigtigheid aan die dag. As so reus op julle aarde 'n woord taamlik hard sou uitspreek, sou dit so 'n sterk aardbewing teweegbring, dat deur die skok daarvan, verskeie lande al hulle stede kwyt sou wees, terwyl ook die bergtoppe 'n buitengewoon groot skade daardeur sou opdoen. 11. Nou kan iemand vra: Hoe is dit eintlik met hul wonings gesteld? Dan sê Ek vir julle dat hierdie baie groot reuse geen ander woning het nie as die sonbodem. Hulle woon derhalwe geheel en al in die ope lug, en aangesien die bodem daar baie stewig is, kan dit hulle goed dra. 12. Verder is hierdie groot mense met al hul massiwiteit buitengewoon saggeaard, en dus is hul manier van loop en hulle hele doen en late buitengewoon sag en teer van aard. Onder mekaar lewe hulle buitengewoon vreedsaam en as hulle iewers heengaan, gee hulle in verhouding tot hul grootte baie kort en ook baie stadig op mekaar volgende treë. Daarby plaas hulle hul voet altyd baie sag op die bodem, asof hulle bang is om iets onder hul voet te verniel. Daarom let hulle ook by elke tree noukeurig op die grond, of daar iewers iets beweeg. As hulle iets opmerk, buig hulle dadelik vooroor om te ondersoek wat dit is. As hulle iets lewend gevind het, word dit met die grootste behoedsaamheid opsygesit en daar word eers na so ’n uitsetting weer versigtig 'n tree verder gegee. 13. Dit is ook die rede waarom hierdie reuse ook maar heel selde by die baie lewendige seegebiede kom, want daar moet hulle te veel let daarop dat hulle niks met hul voete verniel nie. As hulle al so 'n reis onderneem, loop hulle gewoonlik deur die taamlik breë riviere en strome, want daar is vir hulle die minste om uit die weg te ruim. Op die land, en veral op die oewergebiede langs die see, word hulle feitlik nooit gesien nie. 14. Nou sou julle graag wil weet waarvan hierdie mense lewe en waaruit hulle kos bestaan? Hierdie mense lewe van boomvrugte wat ryklik aan reusagtig groot, vormbestendige bome groei en ook van die produkte wat hulle met hul wil (sowel as baie ander sonbewoners wat ons reeds ken) aan die sonbodem ontlok. Want die plantegroei deur middel van die wil is op hierdie laaste gordel algemeen. 'n Derde voedselbron op hierdie gordel is ook die sonlug wat buitengewoon ryk is aan allerlei rondswewende dinge. Dit is hier met die lug byna net so gesteld as met die van die toepaslike planeet Miron; alles natuurlik net in reuse, veel groter afmetings as op die planeet. So bestaan die vlieënde brood ook hier, waarby so ’n vlieënde stuk soms byna die ongehoorde groot omvang het van 'n klein maan van 'n planeet. 15. As julle dit oordink, sal dit sekerlik vir julle duidelik wees dat die groot Gasheer, wat baie tienduisende en tienduisende sen¬traalsonne sodanig moet voed dat hulle steeds versadig kan wees, ook nog wel hulpbronne sal vind om sulke mense te versadig. Vir die natuurlike instandhouding van 'n sentraalson, waarby die aarde vergeleke nie eens soos 'n stoffie beskou kan word nie, sal tog sekerlik meer nodig wees as vir die instandhouding van 'n mens, ook al was hy so groot dat hy van die aarde tot die maan sou reik. Dit maak nie saak of 'n liggaam groot of klein is nie, in My oneindige voorraadkamer sal dit beslis nie ten gronde gaan. 16. Julle hoef julle dus beslis nie besorg te maak oor die instandhouding van sulke groot wesens nie, want voor My bestaan is daar nêrens iets groots nie. Dit wat julle groot noem, ja onnoembaar groot, kan in My oë skaars 'n atoom genoem word. Die groot Skeppingsmens*, wat uit talle leërs hulssfere bestaan, is in My oë niks groter as die kleinste puntjie in die dieptes van die oneindigheid nie! *sien die boek 'Van die hel tot die hemel', deel 2, hoofstuk. 301 17. Na hierdie kort verduideliking sal die enkele duisend vadem lange mense van die sewende gordel tog sekerlik nog 'n heel beskeie indruk op julle maak. Ons sal onsself dus ook nie meer met die lengte en instandhouding van hul liggaam besighou nie, maar sal ons aandag rig op hul onderlinge verhoudings, reëlgewing en ten slotte op hul godsdiens. Tot sovêr vir vandag!

 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205