Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 93

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die magnetiese fluïdum

5-6-1841

[1] As julle die dinge van klein tot groot bekyk, hoe hulle is volgens hulle vorm en hulle verskille, min of meer op mekaar lykend en min of meer van dieselfde hoedanigheid, dan is die eerste wat die oog opval, die vorm. Neem jy `n voorwerp in die hand, dan voel jy baie vinnig of daar min of meer verskille is. Neem jy twee voorwerpe wat dieselfde omvang het, na mekaar in die hand, dan sal nog `n derde verskil merkbaar wees, naamlik dit van die spesi­fieke gewig. As mens dan egter die stewigheid van die voorwerp ondersoek, sal mens dikwels merk, dat die minder vaste voorwerpe soortgelyk swaarder is as die hele stewige. So is kwiksilwer baie swaarder as `n gelyke volume van die hardste staal en daar is tallose soortgelyke voorbeelde.

[2] Ja, selfs dinge van dieselfde soort, soos byvoorbeeld water, het onder mekaar, sowel as onder verskillende temperatuur omstan­dighede, by gelyke volume nie dieselfde gewig nie. So is byvoor­beeld `n druppel reënwater ligter as `n waterdruppel uit `n put of ander bron. Ook is `n warm druppel ligter as `n koue, `n bevrore druppel ligter as alle ander waterdruppels.

[3] Dieselfde onderskeid kan jy in alle dinge aantref. Om te weet hoe verskillend die soort en die aard in elke opsig in al haar graderings is, - sowel wat haar vorm, verskeidenheid, as ook wat betref haar stewigheid en swaarte - hoef jy maar net jou blik op alle dinge te rig en hulle sal jou toeroep: 'Kyk net ondersoeker, hoe oneindig verskillend ons is! En tog berus ons ons op een en dieselfde wet en ons is almal van een en dieselfde stof! En tog is ons onder mekaar so, dat byna geeneen volkome aan die ander gelyk is nie, sowel wat vorm, verskeidenheid, vastheid en swaarte betref!”

[4] Hierdie inleiding is noodsaaklik, want sonder dit sou die volgende nouliks te begryp wees en mens sal, voordat ons tot die eintlike verklaring van die sogenaamde magnetisme oorgaan, hulle moet laat welgeval om enkele neute te kraak uit die sfeer van die wysheid, waarsonder die saak onmoontlik vir altyd grondig uiteen­gesit kan word.

[5] Om dus van julle kant op die spoor van die saak te kom en van My kant om julle op die goeie spoor te lei, is dit nodig dat julle voor alles `n blik werp op die eindelose verre verlede.

[6] Dink jou die periode in, toe daar in die oneindige ruimte buite My geen ander lewende wese bestaan het wat hom aan `n ander kon vertoon nie, nóg geestelik en nóg veel minder materieel.

[7] Waaruit het die eindelose ruimte dan bestaan en waarheen vloei die tyd, waarin hierdie eindelose ruimte ewig bestaan?

[8] Waaruit het My Wese bestaan, vóór al die wesens, en hoe het alle wesens uit die ewige ontstaan en voortgekom?

[9] Wat is ruimte nou? Wat is daarin die Oerwese van Myself? En wat is wesens in die tyd in die eindelose ruimte in My, uit My en naas My?

[10] So uiters moeilik as wat die vraag is, wat uit die onderste laag van My wysheid kom, met die oog op `n begryplike beantwoording skyn te wees, so maklik is dit met die oog op die te verklaarde saak self.

[11] `n Klein voorbeeld kan die vraag maklik beantwoord, want dit kom uit julle self: Iemand het al `n lang tyd met `n bepaalde gedagte rondgeloop; Omdat dit hom geval, voeg hy aan die grond­gedagte nog `n tweede toe, naamlik of die grondgedagte hom nie sou kan verwesenlik nie. Hierdie tweede gedagte word dadelik `n moontlikheid; maar om die doel te realiseer is nog `n derde gedagte nodig, wat al wel in die eerste twee gedagtes inbegrepe is en wat uit niks anders bestaan as uit die enkel vraende woordjie, 'Hoe'. Hierdie drie vrae is nou gestel en die een beantwoord die ander; maar met hierdie wedersydse beantwoording is die saak nog nie afgehandel nie; ja, selfs ook nog nie begin nie. Daarom beraad sy hierdie drie gedagtes tesame oor die belangrike' Waarom' ? En na `n kort beraad sê die eerste grondgedagte: “Omdat dit iets is wat volkome met my ooreenstem." Die tweede gedagte sê: “Omdat dit juis om die rede uitvoerbaar is, dat die eerste gedagte daardeur nie in teenspraak met haarself is as sy haar, soos sy is, terwille van haarself wil manifesteer nie!" En die derde gedagte sê: “Omdat in die motief, wat haarself wil manifes­teer, die vernaamste middel tot realisering lê, en wel omdat die gedagte fundamenteel nêrens in teenspraak is met haarself en ook nie met haar onderdele nie!"

[12] As jou gedagte nou net was dat jy op `n bepaalde plek `n huis wou bou, sou jy jou die huis nie eers tot in alle onderdele in jou fantasie so voorstel, soos wat jy dit die beste sou wou hê nie? As jy die huis nou in jou fantasie opgebou het en baie plesier het in die fantasiegebou, sal jy jou dan nie afvra, of die fantasiegebou nie in alle erns werklikheid sou kan word nie? En as jy geen huis in die lug wil bou nie, sal die tweede gedagte oënskynlik die moontlikheid tot realisering van jou bougedagte laat sien; en dus was jy dit daarom op twee punte eens, omdat die eerste gedagte geen teenspraak ingehou het en dus al in homself die voorwaarde is vir die tweede.

[13] Wat nou volg is die 'Hoe', dit wil sê, wat is die middel? Die eerste en vernaamste middel is die moontlikheid self; die tweede is die doel wat met die moontlike realisering van die geheel verbonde is. Want niemand kan met `n te realiseerde saak `n doel verbind, voordat hy nie self weet of die saak uitvoerbaar is nie. Die derde middel is die materiaal en die krag wat nodig is vir `n toekomstige realisering. Het jy dit alles bymekaar en het jy `n oorsig oor alles, wat sou jou dan nog kan verhinder om jou grondgedagte in die sigbare werklikheid te laat oorgaan?

[14] Binne `n kort tydjie sal jy jou gedagtes blywend voor jou sien, omdat jy alle voorwaardes vir realisasie gevind het; want jy het materiaal, bouers en geld.

[15] Maar as jy op My terugkyk as die ewige groot draer van die grondgedagte en die onoortreflike grootmeester van die boupro­gram, wat die oneindige ruimte met tallose onmeetlike groot en kunstige geboue gevul het, dan sal jy jou tog wel, as jy nie daaraan wil verbygaan nie, moet afvra: “Waar het die groot boumeester van hierdie tallose groot dinge die materiaal vandaan gehaal?"

[16] As jy na die geleerdes van die wêreld gaan, wat werklik baie slim is, sal hulle dit vir jou baie maklik op die vingers kan nareken en enkeles sal sê, dat die materie ewe oud is as Ekself en dus ewig is. - Kyk, so gaan alles baie maklik en ons kan volgens geloof bou. Die enigste onverklaarbare omstandigheid daarby sou maar net wees, hoe Ek dan met die ewige voorraadkamer van die materie gehandel het om tot aan die teenswoordige tyd dinge daaruit te vervaardig, en wanneer Ek eintlik begin het, sodat Ek tot op die teenswoordige tyd met die oneindigheid klaargekry het. Het elk ding nie `n begin nie?

[17] Vra jou nou net af, as jy die een na die ander bereken, of die oneindige aantal ook `n begin het? Dit sou beteken, dat Ek nooit sou begin het om iets te maak nie; maar as dit so was, waar kom die sonne dan vandaan en wat was hulle, en waar kom die wêrelde vandaan en alle ander dinge aan wie se bestaan jy tog nie sal twyfel nie?

[18] Kyk, hierdie slim wegwyser sal ons nie kan volg nie, omdat sy eerste grondgedagte vol teenspraak is en die tweede en derde dus vanself wegval.

[19] `n Ander sê, dat Ek die ewige chaos met `n woord georden het en alle dinge daaruit gevorm het. Op die eerste oogopslag moet jy die volkome gelykheid tussen die eerste en die tweede bewering al opgeval het. Want wat sou die chaos anders wees, as `n al ewig bestaande materie, waardeur Ek dus geen Skepper, maar slegs `n handwerksman sou wees. En hoe laat hulle aan die een kant `n ewige chaos en aan die ander kant My ewige orde saam rym? Maar miskien ken `n derde nog wel `n verstandiger uitweg?

[20] Let op, ons het alweer iemand, wat beweer dat Ek en die materie een en dieselfde is. Dat Ek en die materie een en dieselfde sou wees, is nou juis geen ongegronde bewering nie, maar een ding is moeilik daarby te rym, naamlik, dat hierdie allerhoogste vrye gees vol krag en lewe hom in tallose lewe- en kragtelose klippe en ook in ander dooie materie, wat hulle as sodanig manifesteer, kan bevind. Werklik, wie dit duidelik sou kan bewys, sou nog `n baie oneindiger wysheid moet besit as Ekself! Maar dat iemand My sou kan oorvleuel, het jy in ewigheid nie te vrees nie, en wel om die rede, dat die wysheid van al die tallose, mees volkome engele­geeste hulle juis so teenoor My staan, soos `n oneindige klein atoom teenoor die oneindig groot ruimte, wie se begin en einde nêrens is nie! 

[21] Dit is nie nodig om nog meer superverstandige wegwysers vir julle aan te voer nie, want die een is geen haar beter as die ander nie. Maar omdat die dinge tog so bestaan soos julle dit sien en Ek tog nie een is met die dinge nie, maar omdat Ek IS wat Ek IS as God van die ewigheid en die dinge is soos Ek dit uit My, in My en dan naas My geskape het, daarom sal dit tog wel die moeite werd wees om te wete te kom, hoe sulke dinge uit My, in My en naas My geskape is.

[22] Luister dan! Kan julle jul verskillende korrek geordende, goeie en daarom nuttige dinge indink? Ja, dit kan julle seker, maar omdat julle self eindig, en onmoontlik soos Ek oneindig kan wees nie, daarom is julle gedagtes ook, soos julle self, onderworpe aan `n eindige aantal. Maar My gedagtes is in een en die selfde oomblik van die allergrootste helderheid net soos Ekself dit is volgens My Godwese. As Ek nou wil dat My gedagtes standhou, dan is die werk al verrig; en daarom is alle werk wat julle sien, net soos julle self nóg materie, nóg gevormde chaos, nóg God in die materie, maar julle is vasgehoue gedagtes van My.

[23] Nouja, is al die vasgehoude gedagtes nie uit My, in My en naas My nie? Uit My, omdat selfs julle uit niemand anders as uit julleself kan dink nie; hoeveel te minder dan Ek, omdat daar buite My geen tweede God bestaan uit wie Ek gedagtes sou kan kry nie. Dat hierdie gedagtes daarom ook in My is en onmoontlik in iemand anders kan wees nie, hoef nie bewys te word nie. Dat hierdie werksame gedagtes, hoewel dit uit en in My is, tog naas My bestaan, sal julle hopelik kan aflei uit die feit dat julle tog al oor jul eie gedagtes moet sê, dat julle en jul gedagtes nie een en dieselfde is nie - om welke rede dan nog des te meer My gedagtes nie Myself is nie, maar slegs My gedagtes.

[24] Wat egter nie Ek is nie, dit is uit die Ek en omdat dit nie dieselfde is nie, maar slegs deur dieselfde voortgebring, is dit dus ook in dieselfde naas My. Jy moet jou die 'naas' nie so voorstel soos een boom naas `n ander nie, dit is gladnie korrek nie, omdat `n boom altyd maar net buite `n ander is. Maar so is dit nie by die denker en sy gedagtes nie, omdat die denker die skepper van sy gedagtes is; dit wil sê, omdat hy met die moontlikhede wat in hom woon en die hiermee ooreenkomende volkomenhede `n doelmatige, ordelike idee kan skep en hy dus, as werkende skepper met die uit hom voortkomende idee nie een en dieselfde is nie; maar hulle is soos die voortbringer en die voortgebringde en daarom naas mekaar. As julle ietwat hieroor nadink, dan sal julle die klein bietjie wysheid vir sover dit vir ons doel nodig is, wel maklik begryp. 

[25] Omdat ons nou alles wat noodsaaklik was, behandel het, kan ons met een slag die gordiaanse knoop van die magnetisme oplos! Wat is magnetisme dus? - Luister nou, en verbaas julle ietwat! Die magnetisme, of liewer die magnetiese fluïdum is in alle erns niks anders as My eie wil wat My gedagtes voortdurend bewaar en lei; want hy bewaar en lei die hele skepping en sorg daarvoor dat elke sigbare wese sy vorm kry en sy geordende beweeglikheid. Julle self is, wat julle formele wese betref, vir ewig aan hom onderworpe en sou julle dit nie wees nie, dan sou julle niks wees nie, soos gedagtes wat nog nooit gedink was nie! Maar in julle is meer as maar net My oneindige oral werkende wil, en wat meer is, omdat julle My lieflinggedagtes is. Daardeur gaan My liefde, wat die fondament van My lewe is, ook in julle oor en vorm julle tot selfstandige wesens wat aan My gelyk is, in sover julle My liefde opneem deur die aan julle vantevore gegewe vrye wil. Juis deur hierdie liefde van My in julle kan julle in die mees volkome, mees eie besit van die volste vryheid raak.

[26] Julle weet dat vir die sogenaamde magnetisering `n vaste wil nodig is en die oortuigende krag van die geloof, om iemand op hierdie manier te help. Kyk, want daar gebeur eintlik niks anders as dat die magnetiseur bewustelik of gedeeltelik onbewustelik sy wilskrag met die van My in verbinding stel en dit dan in die lydende laat oorstroom deur die aktiwiteit van sy afgevaardigde wil. Daardeur word die lydende dan suiwerder, langsamerhand stewiger en daardeur ook gesonder, of geïsoleerd natuurlik swaar­der - Kyk, dit is eintlik alles!

[27] My wilskrag is die groot band, wat alle hemelliggame aanmekaar bind en hulle almal om en deur mekaar laat beweeg. Dit is positief daar, waar dit aktief werk; negatief in die eie onveranderlike selfbehoud, wat die ewige orde self is. Soos wanneer mens sê: “Tot hiertoe en nie verder nie!" Die 'tot hiertoe' is die wet van die ewig voortdurende werking en 'nie verder' is die negatiewe pool of behoudende wet van die ewige ordening.

[28] En so is juis My aldus gepolariseerde wil tegelykertyd die grondstof van alle dinge, waaruit dit dan ook mag bestaan; of dit groot, klein, verskeidenheid, hard, sag, swaar of lig is, tog is dit niks anders as My mees wyse gedagte nie en ontleen so hulle liggaamlik sigbare bestaan aan die aan julle bekend gemaakte polarisasie van My ewige wil.

[29] Nou weet julle alles! As julle daaroor wil nadink, sal alle verskynsels vir julle sonhelder word! Maar alle verklarings van die wêreld moet julle heeltemal verban; want werklik, Ek sê vir julle: Hulle is verder van die waarheid verwyder, as die een skeppingspool van die ander. Dit sê Ek vir julle as enigste oerbesitter van die allerkragtigste magnetisme. Amen. Begryp dit goed! Amen.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205