|
Aarde en Maan JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 11
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94. |
|
|
Die lewer van die aarde
16-1-1847
11 Na die milt is die lewer een van die belangrikste organe. Sy is die afskeidingapparaat in die dierlike, sowél as in die aardliggaam, en verdien daarom, net soos die milt, ons besondere aandag.
[2] Mens en dier eet spyse wat net soveel dodelike gif bevat as lewenswekkende voedingstowwe. Dientengevolge sou elke mens, net soos elke dier, na die genotvolle maaltyd sterwe, as daar nie in die liggaam `n orgaan was wat al hierdie giftige stowwe, hoofsaaklik koolstof en blousuur, begerig na homself toe getrek het, dit gedeeltelik in `n spesiale reservoir versamel het en deels deur die urinegeleier afgevoer het nie. Die nuttige orgaan is nou juis die lewer. Haar bou lyk baie soos die van die milt, wat betref die innerlike konstruksie, maar die vorm lyk meer soos die van die longe.
[3] Dié deel van die ingewande bestaan dus ook uit `n groot hoeveelheid aanmekaar gerygde kamertjies, wat net soos die van die milt - maar dan ietwat nouer - met mekaar verbonde is. Naas hierdie kamertjies word die lewer hoofsaaklik deurkruis met vier verskillende soorte buisagtige vaatjies, wat egter nie dieselfde vorm het as die van die milt nie, maar dit is gelykvormig deurlopende organe wat met mekaar deur nog kleiner deurgangsvaatjies verbonde is, sodat alle organe van dié deel van die ingewande in `n onderlinge verbinding staan.
[4] `n Deel van hierdie vate kom uit die hart en voer ryklik baie bloed na die lewer, sodat die bloed hier met die benodigde hoeveelheid koolstof, net soos met `n na verhouding klein dosis blousuur, versadig word. Dan eers is dit voldoende geskik om die verteringsproses in die spysverteringsorgane te voltrek en vandaar verder na buite om ook die vel te vorm. Want vir inwendige gebruik het sulke bloed onbruikbaar geword. Daardeur is lewersiektes dan ook veral maklik te herken aan die vel. Dit is een soort deurlopende vate.
[5] `n Tweede soort vate loop van die maag na die lewer. Dié soort vate neem alle wateragtige bestanddele op, waarin die baie verdunde blousuur weggelei word en dan in die lewer deur klein verbindingsvate in `n korrekte verhouding aan die bloed afgegee word. Wat oorbly word uit die lewer deur die niere afgevoer na die urineblaas, wat dit dan as onbruikbare materiaal van homself afstoot en deur die urineleiers heeltemal uit die liggaam verwyder. Dit is die tweede soort vate wat deur die orgaan van die ingewande loop.
[6] `n Derde soort vate gaan ook weer van die maag uit en verbind spesiaal die slymvlies met die galblaas en die lewer. Deur hierdie vate word die slymerige kool - of galstof van die spyse in die maag afgesonder en vir die grootste deel in die galblaas bewaar. Die rede daarvoor is dat, as die mens of die dier iets te min van hierdie stof - wat vir die vertering nodig is - uit die spysvertering in die maag haal, die lewer van haar voorraad weer bietjie aan die maag moet teruggee. Want alle vertering is `n soort gistingsproses waartoe, soos bekend, sommige voedingstowwe hulleself beter verleen as ander. Ook het enkele stowwe wat werklik wateragtig is, maar weinig gisstof in hulleself, wat elkeen in die natuur dadelik kan merk. Neem byvoorbeeld `n houer met suiwer water en voeg `n bietjie semels daarby, dan sal die mengsel lank moet staan voordat dit gaan gis. Neem nou `n ander houer met wynmos en voeg daar `n oorvloed gars- of rysmeel by, dan sal dit in `n paar uur so `n gisting teweegbring, dat mens self nouliks raad weet. As daaruit egter al blyk dat enkele stowwe, wat die mens, net soos die dier as voedsel tot homself neem, meer of minder kool- of gisstof bevat, dan moet dit ook duidelik wees dat daar in die lewer vir hierdie oortollige stowwe, `n reservoir aanwesig moet wees om daarmee `n tekort aan hierdie stof te hulp te kom, as dit in onvoldoende hoeveelhede in die opgeneemde voedingsmiddele aanwesig is. - Deur hierdie vate het ons nou die derde soort leer ken.
[7] `n Vierde soort vate wat deur die orgaan heen loop, is die klein gedraaide aartjies, wat van die long uitgaan en in die verskillende krommings en draaiings gelei word. Deur hierdie vate word die galblaas gedeeltelik gevorm en gedeeltelik op voortdurend gelykmatige spanning gehou. Terselfdertyd word deur hierdie vate steeds `n korrekte hoeveelheid atmosferiese lug in die gal gebring en deur die atmosferiese lug soveel suurstof, dat die gal nie te veel gaan gis nie en daardeur die boosaardige stof in die liggaam opwek, waaruit hoofsaaklik allerlei ontstekings, rumatiek, jig en dergelike siektes ontstaan. Daarom is dit vir die mense ook baie ongesond om hulleself op sulke plekke en in sulke vertrekke op te hou, waar hulle, in plaas van die tot lewe bringende suiwer atmosferiese lug, maar net bedorwe lug inasem, wat maar baie min suurstof bevat, maar des te meer giftige stikstof. Dit vind jy veral in die vervloekte kroeë, waarin die gaste deur die afskuwelike tabakrook hulleself die allerbeste op die stank van die hel voorberei.
[8] Ons het nou vier soorte vate van die lewer leer ken; hulle aksie en reaksie word weer soos by die milt deur die elektriese fluidum bewerkstellig, wat in die vooraf genoemde kamertjies, net soos by die milt, deur `n wrywende beweging van die kamertjies opgewek word. Natuurlik word die elektriese vuur van die lewer hoofsaaklik deur die vuur van die milt opgewek, want ook die lewer sou sonder die milt dood wees en nie in staat wees om te werk nie
[9] Die lewer bevind haarself by die mense - net soos by alle diere - rondom die maag, omdat sy daar die nodigste is. Daar is die orgaan, maar dan in die grootste afmeting, ook in die aarde geplaas. Haar funksie is totaal dieselfde as die van die lewer by die diere. Hoewel sy maar `n sekondêre werking uitoefen ten opsigte van die werking van die milt, is sy tog nie `n minder magtige orgaan tot verwekking van lewe in elke dierlike organiese liggaam nie. Want uit die lewer van die aarde kom aanvanklik alles as`t ware voort wat die aardkors in haarself en op haar oppervlakte dra. So is ook al die seewater uit die lewer afkomstig en is uiteindelik niks anders nie as die uitgestote urine van die aardliggaam nie, welke urine egter desondanks weer verdamp en in wolke opgaan, wat op hulle beurt in die lug deur die inwerking van die lig, in soet, voedsame water omgesit word.
[10] Ons het nou op hierdie manier in kort, wat so grondig as wat moontlik was, ook dié orgaan leer ken en sal hierna weer tot `n ander oorgaan.
|
|
|
|
|