Eerste deel B - Die geestelike aarde
Ontstaan en doel van die materie
9-2-1847.
27 By die beskouing van die geestelike deel van die aarde, sal ons, om onsself noukeurig op hoogte te bring, die omgekeerde rigting volg en nie van die diepte omhoog nie, maar van bo na benede gaan. Mens moet jouself naamlik van buite na binne keer om tot die eintlike geestelike te kom, wat by elke ding die diepste en mees inwendige is.
[2] Dit is al dikwels aangetoon dat die materie altyd `n geestelike kern het en dat die sigbare materie ten slotte niks anders is as gebonde en vaste gees nie, maar tog sal ook hier, vir `n beter begrip, `n verdere uiteensetting volg.
[3] Geen materie wat jy bekyk is ooit volkome vas nie, maar alle materie is deelbaar, omdat sy uit deeltjies bestaan en tussen hierdie deeltjies nog altyd klein ruimtes is, genaamd porieë.
[4] Tot nou toe is daar nog geen geleerde wat presies op hoogte is van die deelbaarheid van die materie nie en niemand kan bepaal tot welke kleinste deeltjie die materie uiteindelik deelbaar is nie. Neem byvoorbeeld `n korreltjie muskus en plaas dit iewers in `n groot vertrek neer. Binne `n kort tydjie word dit totaal met muskusgeur gevul. Mens kan so `n stukkie baie jare laat lê en dit sal nóg in gewig, nóg aan volume merkbaar verloor. En tog moet daar elke sekonde, baie miljoene deeltjies van die stukkie, hulleself losmaak om die hele vertrek voortdurend met muskusgeur te vul. Ons kan nog baie van hierdie voorbeelde gee, maar hier is een voldoende om in te sien dat `n definitiewe uitspraak oor die deelbaarheid van die materie sekere moeilikhede gee. As dit nou egter duidelik geword het, dat ten minste vir julle begrippe, alle materie tot `n byna oneindige minimum deelbaar is, dan is dit aan die ander kant ook meer as duidelik, dat die materie noodsaaklikerwys uit deeltjies saamgestel moet wees. Wie trek hierdie deeltjies saam en voeg hulle so vas aanmekaar, dat hulle daar soos `n massa lyk, wat nou eers vaster, dan weer minder vas is? - Kyk, dit is al die eerste stadium waar die geestelike begin!
[5] Hierdie eindelose klein deeltjies is oorspronklik niks anders nie as maar net idees en krag uit My, die Skepper van alle dinge. Hierdie idee kry vorm en die vorm ontvang lewe uit die lewe van die Skepper.
[6] Die Skepper maak die lewend geworde vorm los van Homself, gee hom uit Sy oerlig `n eie lig en met die lewende lig, die eie intelligensie, waardeur die tot lewe gewekte vorm homself herken en van homself, as `n selfstandige wese, bewus word.
[7] As die vorm homself dan so herken het, dan word `n ordening - `n wet vir alles wat bestaan aan haar gegee en met hierdie ordening die innerlike vuur van die Godheid, `n vonk van ewige liefde; en hieruit kom die wil voort. Nou het die tot lewe geroepe vorm, lig, selfkennis, selfbewussyn, ordening en wil en hy kan sy wil volgens die ordening aanwend of daarteen handel.
[8] Rig `n skepsel homself na die ordening, dan sal hy sterk word soos `n boom en sal homself as `n volkome vry wese in die groot skeppingsruimte beweeg om ewig voort te bestaan, omdat sy hele wese dan geskape is uit My, wat ewig is en ewig sal wees; en daarom is die mens `n skepsel, omdat sy gehele wese uit My geneem is en sy lot niks anders kan wees as dit van Myself nie, omdat syne uit My geneem is, net soos wanneer iemand uit `n bron water skep, die water in die houer van gelyke soort is en dieselfde bestemming het as die water van die bron, waaruit dit geskep was.
[9] As so `n nuwe wese of skepsel egter nie die gegewe ordening met sy wil volg nie, dan gaan hy natuurlik sy ondergang of sy oplossing tegemoet, wat maklik te begryp is.
[10] As iemand `n plant in die aarde sou plant, maar hy sou haar geen water, geen sonlig en geen warmte gee nie - wat sou daar dan van die plant word? Neem ons ewe aan, dat die plant `n vry bewussyn sou hê en dat sy water, lig en warmte tot haarself kon neem, maar dit nie wil nie, wat sou daar van haar word? Sy sou verdor en vergaan.
[11] Of iemand sou `n skilder `n goeie selfportret wil laat skilder, maar hy sou sy gesig nooit na die skilder toe draai nie, wat sal daar dan ten slotte met die portret gebeur?
[12] Dit kan My, die Skepper, nie onverskillig laat, of `n wese, wat nie net deur My as `n beeld in My gedagte geneem was nie, maar op die bo beskrewe wyse uit die volheid van My goddelike wese geskape was, maar net vir `n kort tydjie of vir ewig bestaan nie. Was die eerste die geval, dan sou kennelik `n deel uit My vernietig kon word, wat onmoontlik is. `n Wese kan dus, wanneer hy eenmaal geskape is, slegs vir die ewigheid geskape wees.
[13] Maar so `n skepsel kan vrywillig uit My ordening tree en dit beteken soveel as om op te hou bestaan vir My; want wie nie vir My is nie, is teen My. Op hierdie wyse sou hy self, na verloop van tyd, `n teenstellende krag en magspotensie langs My vorm, wat in My vrye werk steuring sou veroorsaak, wat met ander woorde niks anders sou beteken nie as: Ek, die Allerhoogste Volkomenheid, sou Self onvolkome moet wees om `n onvolkomenheid langs My te duld.
[14] Om dié allerergste euwel tog in die goeie rigting te stuur, word `n skepsel, wat homself nie binne My gegewe ordening wil voeg nie, dadelik gevange geneem en in `n bepaalde punt op `n bepaalde plek vasgemaak en sien, hierdie vasmaak is nou dit wat julle as materie ken, sien en voel.
[15] In die tallose baie deeltjies van die materie lê die eindelose intelligensie van die nuut geskape, maar nou gevange geneemde wese, `n intelligensie wat nooit vernietig kan word nie. Maar sy word vasgelê en teen die geestelike son gekeer, totdat sy die rypheid bereik het, waardeur sy maar net nog in staat is om die lig van die son op te neem, soos `n spieël wat die lig van die son solank opneem, tot die son hom vir al die ander blind maak en hy alleen nog maar in staat is om die lig van die son op te neem. Van buite af gesien word die spieël steeds matter (meer afgemat) en sy materie word losser en meer poreus; maar daardeur is hierdie materie steeds beter in staat om in al haar opgeloste dele die beeld van die son, hoewel erg verklein, op te neem, en dit is eintlik die goeie oorgang, naamlik: Dat so `n wese begin om die Godheid in al sy dele op te neem en nie maar net in `n enkele deel nie. En daarom is dit nie genoeg wanneer iemand sê: “Heer, Heer” nie, maar hy moet die Heer in alle vesels van sy lewe opgeneem hê; dan eers is hy ryp om weer daarheen terug te keer, waarvandaan hy gekom het.
[16] Dit is die rede waarom alle materie weer tot in die kleinste deeltjies opgelos moet word, sodat daar geen enkele deeltjie meer sal bestaan wat nie in staat sou wees om die beeld van die ewige son op te neem nie. En in die opneem van die ewige oerbeeld lê dan weer die nuwe skepping, waarin die eindelose intelligensies van `n wese, wat eers gevange geneem was, maar nou weer vry geword het, mekaar weer aangryp, na die eerste oervorm terugkeer en weer dit word wat hy al in die oerbegin moes geword het.
[17] Uit hierdie inleiding het wel duidelik geword, dat die materie onmoontlik iets anders as geestelik kan wees; en ons kan nou langs goed verligte weë ons tog oor en in die aarde maak.