Siel en gees in die mens
20-3-1847
52 In die begin van die boek is die natuurlike aarde so presies moontlik behandel. Dat hierdie skynbaar natuurlike aarde egter allesbehalwe natuurlik, dit wil sê, materieel is, sal ons juis deur hierdie verdere onthulling nog beter insien as wat ons tot nou toe besef het.
[2] Om tot `n grondiger kennis op die gebied te kom, moet ons baie goed begryp wat siel en gees eintlik is.
[3] Die onderskeid is alreeds aangegee, en vir verligte gemoedere sou die reeds gesegde voldoende wees om die wese van gees en siel goed van mekaar te onderskei, maar vir julle, wat nog nie die korrekte beskouing of visie het op die gebied van die innerlike lewe nie, moet die saak nog ietwat duideliker uitgewerk word, sodat julle daardeur tot `n korrekte insig kan kom.
[4] Die siel is die opname-orgaan vir die eindeloos baie idees van die oergrond, waaruit sy as `n asemtog voortgekom het. Sy is die draagster van die idees, vorme, verhoudinge en handelwyses. Hierdie is alles in die kleinste omhullings in haar neergeplaas.
[5] `n Korrekte hoeveelheid van dit alles in `n wese saamgevat, vorm `n volkome mensesiel. Omdat die siel egter `n kompendium van `n buitengewone groot hoeveelheid verskillende substansiële intelligensie-deeltjies is, kan sy, omdat sy saamgestel is, ook weer in al haar deeltjies verdeel word, soos die lug, wat weliswaar `n geheel vorm en vertoon, maar tog in staat is om haar oneindig te deel.
[6] Dat die lug in groter, kleiner en kleinste hoeveelhede geskei kan word, word bewys deur skuim, wat uit suiwer lugblasies bestaan, wat deur die beweging van `n ietwat dik vloeistof ontstaan het. As die blasies verdwyn, vorm die daarin opgeslote lug dadelik weer `n geheel met die hele massa; solank die blasies egter bestaan, sluit hulle `n deel van die lug in hulle op en hou dit deur die deursigtige wand afgeskei van die buitelug, sy is dan - soos julle sê - hermeties geslote.
[7] So is ook die hele universum, ja, die hele oneindigheid gevul met die idees van die Godheid, hulle vul die hele oneindigheid, maar is ook in `n monade aan te tref, maar natuurlik in die mees verkleinde vorm, net soos die lug in die kleinste seepbelletjies dieselfde dele bevat wat ook in die algemene lug aangetref word. Dit is dus die siel.
[8] “Wat is die gees dan?", sal menige psigoloog vra.
[9] Die gees is op sigself geen vorm nie, maar hy is die wese wat die vorm skep en eers wanneer die vorm geskape is, kan hy self in die geskape vorm as vorm werksaam optree; dit wil soveel sê as:
[10] Elke krag wat as sodanig wil optree, moet `n teenstellende krag teenoor hom hê; eers as gevolg van die geskape steunpunt, kan die krag sy werking uitoefen en tot uiting kom.
[11] Die gees is soos `n lig, wat op sigself wel altyd lig bly, maar solank daar geen voorwerp is wat dit kan verlig nie, nie merkbaar as lig kan optree nie.
[12] Die lig gaan soos jy ook by die son sien, voortdurend gelykmatig vanaf die son uit, maar sonder `n teenoorstaande voorwerp kan geen oog sy aanwesigheid opmerk nie. In `n maanlose nag is daar eweveel van die son se uitgaande lig as in `n nag waarin die maan skyn. In die eerste geval het die lig geen voorwerp teenoor hom in die hoë eter nie en daarom merk niemand dat die lig daar is nie. Staan die maan egter in sy volheid, dan sien mense baie duidelik die uitstralende sonlig en elkeen wat maar enigsins met die sterrekunde vertroud is, sal maklik merk hoe en waarvandaan die maan deur die son beskyn word.
[13] Die geestelike inwerking van die lig kan mens al maklik in die natuur opmerk. In die aarde en die lug is alles weliswaar voorhande, alle vorme wat bestaan en ontstaan lê saam in die oënskynlike materie, sonder om hulle te beweeg en niks verroer hulle in hom nie. Maar as die lig kom, dan kry die vorms wat soos die dood saamlê, lewe, gryp mekaar aan en word tot `n nuwe vorm gesmee. Vergelyk die winter en die somer maar net met mekaar en die geestelike werking van die lig kan niemand ontgaan nie.
[14] Nou weet ons ook wat die gees is, hy is die lig, wat uit sy eie warmte van die ewigheid tot ewigheid voortkom en is as warmte die liefde en as lig die wysheid.
[15] Al het `n mens nog so `n volkome siel, maar as sy weinig of glad geen lig het nie, dan sal hy in sy siel en ook in sy liggaam weinig of gladnie aktief wees nie. Kom daar egter lig in die siel, dan handel sy volgens die mate van die lig in haar.
[16] Die siel van `n swaksinnige byvoorbeeld, is in haarself netso volkome soos die van `n dokter in die filosofie; maar die liggaam van so `n siel is te stewig en te swaar en laat maar baie weinig of glad geen lig in die siel binne nie - óf die ligvonk wat in die siel geplaas is, kan nie opvlam nie, omdat hy teveel verdruk word deur die swaar vleesmassa. Die siel van `n filosoof laat egter baie lig deur en druk nie die geestelike vlam soseer op `n punt saam nie.
[17] Daardeur sal mens in die eerste geval, of glad geen, of slegs weinig aktiwiteit vind; in die tweede geval sal die verligte individu egter van suiwer aktiwiteit byna geen rus vind nie.
[18] Daar word hier ewenwel nog nie van wysheid gespreek, waarby alles in die siel lig word nie, maar daar is hier sprake van weinig of glad geen lig en van meer en baie lig, waaruit ook baie duidelik te sien is, dat sonder gees of lig, alles dood is en tot geen verdere ontwikkeling en vervolmaking in staat is nie, terwyl in die lig alles aktief werksaam ontwikkel en meer volkome word.
[19] Lig op sigself het geen vorm nie, maar maak die vorm en werk dan self as vorm in die vorm. Die vorm kan geskei of saamgevoeg word en daar kan tallose nuwe vorms ontwikkel word. Maar die lig kan nie geskei word nie, dit dring sonder onderbreking deur alles heen wat in staat is om lig op te neem. Wat egter geen lig kan opneem nie, bly in sigself duister en dood, want `n toestand van die siel waarin geen lig is nie, is haar dood.
[20] Dit is begryplik dat hier sprake is van die ewige gelykmatige lig wat slegs `n voorwaarde is vir die lewe en nie byvoorbeeld `n bliksemlig, wat `n toornige lig is, wat maar op bepaalde oomblikke `n twyfelagtige verligting gee; maar as dit ophou, dan word dit tienmaal so donker as voorheen. So `n lig is soos `n helse lig. Dit flikker ook op, maar na elke opflikkering ontstaan daar altyd `n tien keer groter duisternis.
[21] Noudat ons hopelik die verskil tussen siel en gees duidelik genoeg belig het, kan ons maklik begryp dat die vaste aarde niks anders is as die gevange siel van Satan, terwyl sy gees soos met nuwe ondeurdringbare bande geboei in haar opgesluit is.
[22] Dit sal ons van naderby belig.