Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 47

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die samestelling van die intelligentiespesifika in die lewende wesens - Deel 2

9-3-1847

47 Dit is soms nuttig om dit wat reeds gesê is, nog eens te herhaal om die volgende sodoende beter begryplik te maak. Ons sal daarom ook nog iets vertel oor die verskillende verhoudinge van die eienskappe van die spesifieke intelligensies uit die drie ryke.

[2] Daar was reeds gesê dat as daar in die materie, in die metaal-mineraalryk tien tot twintig intelligensies voorkom, daar in die planteryk duisend tot duisend keer duisend voorkom en in `n hoëre trap van die diereryk miljoene keer miljoene en by die mens gaan dit tot in die oneindige. Dat dit werklik die geval is, kan ons van naderby toelig deur `n voorbeeld.

[3] Yster kan gloeiend gemaak en gesmee word; wat eers aan die voorkant gesit het, kan mens wegneem en aan die agterkant aanlas en mense kan nog meer dergelike veranderinge aanbring, maar die yster bly altyd yster, soos dit was. Met die ander metale is dit net so.

[4] Die klippe staan heelwat nader aan die plantewêreld en het ook ietwat meer spesifika as die metale; en hoe gewoner hulle is, hoe edeler en meer gevarieer is hulle spesifika. As `n mens hulle vernietig, kan hulle nie maklik weer in die vroëre volledige toestand teruggebring word nie. Hulle bly wel as verbrokkelde dele van `n vroeëre volledige klip nog van dieselfde materie, maar hulle kan nie soos die metale, weer deur die vuur saamgevoeg word tot dieselfde materiële massa nie; want die vuur bring hulle al in `n heel ander toestand wat gladnie na die vorige lyk nie.

[5] Die oorsaak van die verskynsel is die groot hoeveelheid spesifieke intelligensies wat mekaar, al in `n hoër ordening as die van die metale, moet vasgryp. Word hierdie ordening deur die een of ander versteur, waardeur verskillende intelligensies verdwyn het, dan word die materie nie meer dieselfde soos wat dit vroeër was nie.

[6] Neem maar net kalksteen in sy natuurlike en `n ander in gebrande toestand. In sy ruwe toestand kan hy wel eeue in die water lê en dan sal hy nie oplos nie, maar slegs vaster word omdat verskillende spesifika uit die water hulle met hom verenig. Maar as jy `n gebrande kalksteen in die water gooi, dan sal hy hom in enkele minute in `n wit bry oplos. Die oorsaak van die verskynsel is, dat `n bepaalde aantal spesifika deur die vuur verdwyn het; hierdie spesifika het vroeër aan die klip sy digtheid en stewigheid gegee. Kom daar dan ook nog water by, dan kom daardeur nog meer spesifika vry en die weiniges wat oorgebly het, verloor hulle samehang en val dan soos `n bry uitmekaar. Word die water dan weer uit die bry verwyder, dan kom enkele weer vry geworde spesifika in die bry terug en maak dat dit weer vas word, om welke rede dit dan ook as bindmiddel by messelwerk gebruik word.

[7] Uit die voorbeeld het ons nou gesien dat klippe hulle nie meer laat manipuleer soos metale, sonder om hulle vorige eienskappe te verloor nie. Nog meer is dit die geval by klei, wat, as hy eenmaal in die oond was, sy vorige eienskap heeltemal verloor, want uit `n goed gebakte teël ontstaan nooit meer klei nie en nog minder die sogenaamde kleilei. Maar nog hagliker as met klei is die leem; want `n stuk leem wat in die vuur gelê word, verbrand byna soos turf of steenkool; maar dit geld maar net vir suiwer leem. Leem word deur water saggemaak en mens kan dit in verskillende vorme knie en dan bly dit tog leem, soos wat dit ook die geval by klei is.

[8] Maar hoe heel anders is dit nie by die mees eenvoudige plant nie; daar heers al so `n vaste struktuur, dat geen atoom kan verander word sonder om die gesteldheid van die plant te skaad nie. Die rede daarvoor is dat selfs in die eenvoudigste plant reeds alle spesifika goed geordend bymekaar moet wees, terwyl dit in die mineraalryk verspreid en afsonderlik aangetref word.

[9] Neem ons byvoorbeeld net `n mosplantjie of `n vandag of môre opgroeiende paddastoel. Daar kan dit wat in die wortel sit, nie `n stingel gaan vorm nie, en net in die wortel is al so `n vaste ordening, dat `n spesifikum wat sy werking aan die suidekant in die wortel verrig, op die verkeerde plek aan die noordekant sou wees en in die gewas so `n wanorde sou skep, dat hy sou verdor en afsterwe.

[10] Daarom moet tuiniers, by die verplasing van hulle bome, presies die windstreke waaronder `n boom met sy wortels en takke vroeër gestaan het, in aanmerking neem; want verander die rigting, dan sal die verplaaste boompie, óf moeilik óf gladnie groei nie en wel omdat daar tussen die noordelike en die suidelike spesifika `n groot verskil bestaan. Veral die naaldbome is in die opsig moeilik. As die windstreek by hulle nie ooreenkom nie, verdor hulle. Dieselfde is ook die geval by die enting van bome. `n Loot van `n noordelike tak op `n suidelike tak geënt, sal altyd verdor, omdat die spesifika nie ooreenkom nie.

[11] Hieruit kan jy aflei met watter groot noukeurigheid die ordening gehandhaaf moet word met betrekking tot die plek van die spesifika. Want by `n plant het elke atoomgrote plekkie op `n blaar al `n ander spesifikum, wat weliswaar die grootste verwantskap met sy buurman vertoon, maar nietemin tog nie heeltemal dieselfde is nie. Want, as dit nie die geval was nie, dan sou daar nooit `n blaar gekonstrueer kon word nie. Wie dit sou betwyfel, moet maar net `n stukkie uit `n blaar neem en dat elders op `n ewe groot gaatjie in dieselfde blaar plaas en hy sal sien dat daar nêrens `n verbinding bestaan nie. Ja, Ek sê vir julle, daar is al so `n groot ordening aanwesig dat geen menslike wysheid haar ooit heeltemal sal kan begryp nie, solank as wat die gees van die mens in sy sterflike omhulsel woon. En hoe verder mens by die uiteinde van die plant kom, des te groter is die aantal intelligensies en des te minder kan hulle ordening verander word. In die takkies van baie jonge bome is alles nog nie so gevorm nie en daarom kan dit oorgeplant en geënt word.

[12] As so `n groot ordening al by die plante gehandhaaf moet word, sodat hulle dit sal word wat hulle moet wees, naamlik verlossingsinrigtings vir die vrymaak van siele-intelligensies, hoe groot moet die ordening dan nie daar wees, waar die planteryk in die diereryk oorgaan nie!

[13] Om so goed as moontlik `n insig te kry in hierdie ordening, sal ons hierna deur aanskoulike voorbeelde hierdie saak toelig en die werk en die wysheid bewonder van die geeste, wat aangestel is om die werk te lei.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205