Manlik/vroulike voortbrengsels van die aarde
20-1-1847
14 Van hierdie voortplanting stam alle materie van die minerale-wesens, net soos van die plante- en dierewêreld af. Die aarde, beskou as man en vrou in een wese verenig, vervul en baar hier op die mees uiteenlopende maniere en wel so, dat sy enersyds as`t ware lewende jongelinge ter wêreld bring, dan weer soos die voëls eiers lê en dan weer soos plante saad voortbring en soos minerale bepaalde kristalle vorm, terwyl in almal die krag lê om alles wat aan hulle gelyk is, na hulleself toe te trek en hulleself so in wye kringe uit te brei. - Dit is die vier maniere van die aarde om voort te bring onder beide gestalte in een.
[2] Hier sou iemand kan vra: As die aarde dit alles doen, waartoe dien dan die krag van die plante - en dierewêreld om hulself te vermenigvuldig? Waarom moet die plant, welke vorm sy ookal het om haarself voort te plant, vir haar tipiese sade voortbring; waarom die voël die eier, waarom die diere `n aan hulle gelyke skepsel en waarom amfibieë hulle jellieagtige sperms, wat eintlik ook uit eiertjies bestaan?
[3] Die antwoord op hierdie vraag is eintlik nie so eenvoudig te gee as wat iemand wel sou dink nie; maar dit is nietemin vir mense, wat maar `n bietjie dieper insig het, in die hele natuur al duidelik uitgesproke voor die hand liggend.
[4] In die begin van hierdie verhandeling was gesê, dat die aarde hier tegelykertyd man en vrou is. As vrou wek sy nie op nie, maar neem die opgewekte maar net op en baar dit; as man wek hy maar net op en baar nie, maar die voortgebringde moet eers tot daardie spesifieke soort geslag rypword en gebore word, waartoe dit deur die aarde in sy funksie as manlike wese opgewek word.
[5] Om dit duideliker in te sien, sal ons eers `n boom bekyk wat in wisselwerking staan met die aarde. `n Ietwat grondige insig in hierdie verhouding sal die saak sekerlik helder voor oë stel. Laat ons aanneem dat die saad eerste daar was voor die boom, waaruit dit dan weer self reproduseer, welke aanname ook daarom al korrek is, omdat `n saadjie haarself tog in elk geval makliker in die aarde laat opwek, as `n totaal volgroeide boom. Ook kan mens die ligte saadjie oral plaas en daar sal maar weinig krag voor nodig wees om die ligte saadjies van die grootste bome in al vier die windrigtings uit te strooi; en as daar `n sagte wind waai en hierdie die ligte saadkorrels met haarself meevoer, dan word hierdeur nie eens `n muskiet gekrenk nie, laat staan `n groot dier of selfs `n mens. Hoe moeilik en met watter kraginspanning en met watter gevaar sou so `n operasie verloop, as dit sou gaan met totaal volgroeide bome! Wat sou die mens wel sê, as so `n groot eikebos - meteens deur magtige orkane aangevoer - homself bo hulle hoof sou neerlaat en in die aarde wortel sou skiet? En vir so `n totale bos hoef maar `n wa gesonde eike aangevoer te word; dit kan dan in alle stilte in die aarde geplant word en geen mens sou sy hoof daaroor breek as na verloop van tyd, die eike as tere lootjies hulleself langsaam uit die aarde sou begin te verhef nie. Wie het ooit pyn ervaar as `n ligte dennesaadkorreltjie na benede op sy hoed neerfladder, terwyl hy in die bos wandel? Wat se gesig sou `n mens egter wel getrek het, as, in plaas van so `n ligte saadjie, `n totaal volgroeide reusagtige denneboom voor sy neus na benede kom?
[6] Slegs uit hierdie weinige voorbeelde, is dit vir elke verstandig denkende mens maklik om in te sien dat die saad eerste daar was, voor die boom.
[7] By diere is die omgekeerde weer die geval. Daar moes die voël wel eerste daar gewees het, voor die eier, omdat dierlike warmte vir die uitbroei van die eier nodig is. Maar desondanks was die voël nie dadelik as voël daar gewees nie, want in hierdie eerste verwekkingsperiode het die aarde ook die eerste eier gelê, en die aarde was dus die eerste algemene voël.
[8] Toe die eerste voël uit dit eier gebore word, het hy `n eier gelê wat `n ander samestelling gehad het as die eerste, en daaruit het dan `n tweede voël gekom, wat aan die eerste gelyk was.
[9] Mens kan dus by die voël, net soos by die amfibieë, aanneem dat die eerste eier die saad was en dus bestaan ook hier die saad voor die dier wat uit hom voortgebring is. Slegs as `n mens tussen die kwaliteit van die aardeier en die voëleier `n wesenlike onderskeid sou vind, sou die voël werklik eerste daar gewees het as die eier wat sy lê, waardeur sy weer `n aan haarself gelyke wese voortbring. Maar dit was nie die geval met die sade van die plante nie. Dit was presies so uit die aarde gebore, soos wat die plant haar weer voortbring. Dit is ook met alle ander diere die geval. Elke geslag word eers as soogdier uit die aarde gebore en kry die moontlikheid om homself weer voort te plant deur `n eie vermoë tot verwekking.
[10] Ons het, om die voortbringende en barende krag van die aarde te verklaar, `n boom as voorbeeld geneem. Ons moes die bostaande beskouing vooraf gegee het, want daarsonder sou hierdie saak nie so goed duidelik gewees het nie. Noudat ons egter so `n verklaring gegee het, sal dit ineens vir julle duidelik wees hoe, die aarde enersyds as man vervul, en andersyds weer as vrou baar, en hoe sy haarself by ons voorbeeld van die boom, nou eers as vrou, dan weer as man gedra.
[11] Laat ons die volgende aanneem: `n Saadjie wat aan die boom ryp geword het, word in die aarde geplaas. Dan gedra die aarde haarself as `n vrou as sy ontvang en die ontvangde deur haar eie krag laat rypword en dan baar. As die boom egter volgroeid is, neem hy `n vroulike karakter teenoor die aarde aan en die aarde tree teenoor die boom op as man en bring in die boom nuwe sade voort vir die bevrugting.
[12] Uit dié voorbeeld blyk al ten dele dat die aarde sowél manlik as vroulik werksaam is en daaruit volg dat die aarde, om dit te bereik, dus noodsaaklikerwys beide nature in haarself moet verenig. Maar in die voorbeeld tree die aarde en die boom in wisselwerking. Dit alleen is nie genoeg nie, maar ons moet ook die wisselwerking van die aarde self vasstel. Hoe sal ons dit egter doen? Dit sal nou werklik nie so moeilik wees nie.
[13] Julle weet dat die aarde `n Suid- en `n Noordpool het. Ten opsigte van die hoofwerking van die aarde bly beide pole steeds soos wat hulle is, naamlik die Suidpool negatief en die Noordpool positief, of die een aantrekkend en die ander afstotend, wat dan tot gevolg het dat twee sulke ongelyke pole noodsaaklikerwys baie goed naas mekaar kan bestaan en mekaar verdra, want die een pool gee, en die ander ontvang. By hierdie verhouding van die pole sien ons die wisselwerking duidelik. Oorspronklik, of in sy uitmonding, is die positiewe Noordpool die ontvanger, omdat hy al die voedsel vir die hele aardliggaam in homself opneem. Die Suidpool daarenteen is in sy uitmonding, wat niks van buite af opneem nie, maar slegs afgee. Binne-in die aarde is die Noordpool egter teenoor die Suidpool die een wat gee en die Suidpool is die een wat ontvang.
[14] Kyk, daaruit blyk al hoe die aardwese inwendig deur sy polêre aksie in beide polariteite afwisselend gedeeltelik manlik en gedeeltelik vroulik optree.
[15] Nog opvallender sien ons hierdie wederkerige, steeds veranderende, polêre werking in die wisseling van somer en winter. Want `n halfjaar is dit op die noordelike helfte van die aarde winter, terwyl tegelykertyd op die suidelike helfte die somer heers en die volgende halfjaar is dit net andersom. Dit moet so verstaan word: Die winter is die manlike deel en die somer die vroulike. Die winter wek op in die vroulike somer en sy baar dan wat die winter vervul het. Dus is in die wintertyd die een helfte van die aarde manlik terwyl die ander vroulik is en dan tree ook die anders vroulike Suidpool manlik op teenoor die vroulik geworde Noordpool en omgekeerd. Die opmerklike verskil is hier egter nog steeds, dat die vrugte van die suidelike helfte van die aarde weliswaar soeter, sagter en voller, maar nie so kragtig is as die uit die noorde nie, omdat die vroulike in die suidelike deel oorheers, terwyl die manlike in die noordelike deel sterker is. Mense sou dit etimologies (woordvormend) so kan uitdruk: In die noorde is die aarde `n manwyf en in die suide `n verwyfde man.
[16] Uit hierdie verhandeling word die dubbele geslag van die aarde tog al byna heeltemal duidelik. Om egter `n helder beeld te kry, moet mense nog weet dat daar ook `n wisseling van pool ontstaan, deurdat die aarde dag en nag het. Die nag is altyd vroulik en die dag manlik. Wat die dag vervul, baar die nag weer in haar donker skoot. Daarom word elke saadjie deur die aarde as manlike wese opgewek - bevrug, en deur dieselfde aarde as vroulike wese tot rypwording gebring en gebore. Dat die aarde werklik saadjies van plante en diere voortbring, kan mens aflei uit baie verskynsels wat op die oppervlakte van die aarde plaasvind. Tot hierdie verskynsels hoort byvoorbeeld die oorspronklike groei van bosse op gebergtes, net soos wat mos en gras groei op die vroeër woeste veld, waarop niks gedurende duisende jare gegroei het nie. Skimmels en swamme het tot nou toe geen ander saad nie. Dan hoort by die verskynsels wat hierdie saak verklaar ook die - alhoewel selde, maar wat tog nog dikwels genoeg voorkom - verskynsels waarby dit graan en allerlei soorte koring reën; en veral word hierdie saak verduidelik deur die dikwels voorkomende visse-, slange- en paddareëns en die soort verskynsels, waarvan geen wetenskaplike, as hy ook maar `n klein bietjie gesonde verstand het, kan naspeur of miskien `n warrelwind haar van die aarde opgelig het en haarself weer op `n ander plek neergeslinger het nie. Want dan sou hy op een of ander manier moet kan aantoon, dat daar op die aarde so `n plek is, waar hierdie wesens dikwels, triljoenvoudig voorhande was. En sou hy dit kon gedoen het, dan sou daarmee maar net die besondere skeppingskrag van die aarde, dat sy so-iets uit haarself kan voortbring, des te opvallender bewys gewees het. Hoe sulke verskynsels eintlik presies optree, sal ons nog noukeuriger in die volgende hoofstuk bekyk.