Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 62

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die bestryding van die toorn

7-4-1847

62 Omdat juis hierdie woededuiwel so gevaarlik is as hy hom in die mensevlees bevind, is dit dikwels nodig om kinders te laat sterwe, ja om selde ook hele generasies deur pes en ander rampsalige siektes liggaamlik te dood, voordat dit vir hierdie duiwel moontlik word om die siel volledig in sy wese op te neem. Dit is dan ook van die grootste belang vir elke mens wat sy eie siel moet bewaar en - as hy vader of moeder is - ook die siele van sy kinders, dat mense die korrekte leefreëls ken en dit opvolg, waar­deur nie net die siel gered kan word nie, maar ook die liggaam van die mens so `n hoog moontlike leeftyd kan bereik vir die ewige welsyn van sy siel; dit kan egter nie gebeur as die mense nie grotendeels hierdie leefreëls ken nie en as hy dit reeds ken, dit tog nie opvolg nie.

[2] Hoe moet `n mens hom dan van sy geboorte af gedra, of hoe moet hy opgevoed word, sodat hy op `n ryper leeftyd die psigiese en liggaamlike dieet-ordening in ag kan neem, waardeur dit vir hom moontlik word om `n rustige hoë ouderdom te bereik en juis deur hierdie hoë leeftyd vir sy siel `n ware, vaste ewige voortbestaan verseker?

[3] As die wieg al openbaar, dat die kind `n baie gevoelige natuur het en maklik deur allerlei invloede geprikkel kan word, moet hy, solank hy nog geen geheue het nie, deur sulke stowwe gevoed word wat die bloed nie verhit nie, maar wel sag afkoelend werk.

[4] Soog die moeder die kind, dan moet sy haar weerhou van geesryke dranke en veral van gemoedsbewegings; daardeur bring sy spesifika in haar bors, wat voedsel vir hierdie vuurgees is - kort en goed, sy moet haar van sulke spyse en dranke weerhou wat die gal teveel opwek of die al opgewekte gal irriteer. Peulvrugte, veral bone, is nie aan te beveel nie, wel egter matige boulion (vleisekstrak of sop) en gebraaide vleis van suiwer diere, meelspyse van koring, rog en wit mielies; ook gars of rys wat nie in vet melk gekook is nie, is geskik.

[5] As die moeder die kind nie self soog nie, maar hom aan die bors van `n voedster laat drink, wat eintlik nooit baie goed is nie, dan moet dit ten eerste goed bekend wees, wat se geesteskind hierdie voedster is en as dit geblyk het dat sy `n goeie sagmoedige siel is, dan moet sy tweedens dieselfde dieet volg en haarself beheers soos wat aan die moeder voorgeskryf is.

[6] Soog die moeder of die voedster die kind, dan moet hy van die bors weggeneem word as die eerste tandjies hulle vertoon, want met die tande begin ook die geheue by die kind. Die beste sou egter vir die kind wees om geen borsvoeding te kry nie.

[7] Koringsemels gekook met ietwat suiwer heuning sou in die begin die beste wees vir so `n kind met hitsige bloed. Mens kan ook garswater neem wat met ietwat heuning of suiker versoet is;  netso goed, en dikwels nog beter is gekookte vye of gekookte johannesbrood (karob).

[8] By sommige kinders, veral later as hulle ietwat ouer is, sou ligte lynsaadmoes ook baie goed wees.

[9] Melk van diere is aanvanklik nie aan te beveel nie, omdat baie diere dikwels self nie heeltemal gesond is nie en daardeur ook geen gesonde melk kan gee nie - wat gewoonlik in die winter die geval is. Dikwels is diere ook volbloedig en het `n heftige tempera­ment en hulle melk sou dan vir so `n driftige volbloedige kind sleg te pas kom. Eers as kinders een tot twee jaar oud geword het, kan hulle ligte, met water verdunde melk kry.

[10] Dit sal egter nooit skadelik wees om soms gekookte vrugte­moes te eet nie, want vrugte, veral goeie appels en fynere pere, is baie goed om die bloed te reinig en rustiger te kry.

[11] Vleis mag hierdie kinders dan eers kry, wanneer hulle die tande gewissel het. Kry kinders, veral die hierbo genoemdes, al vroeg vleisspyse, dan word hulle bloed teveel daardeur gevoed en hulle vlees te vet en daardeur word hulle transpiratekliere te slymerig, waaruit dan vir hierdie kinders gevaarlike siektes ontstaan.

[12] As sulke kinders sover is dat hulle kan loop en praat, dan moet hulle hulleself besig hou met allerlei meer rustige en vir die kinderlike gemoed nuttige en opvoedende speletjies en mens moet voortdurend daarby oplet, dat sulke kinders hulle nooit teveel verhit nie, nóg deur teveel bewegings en nóg baie minder deur `n gevoelseffek; alles wat hulle maar in die minste sou kan vererg, moet agterweë gelaat word.

[13] Bemerk mens egter dat, nieteenstaande alle omsigtigheid, dat daar by die een of ander tog opbruisinge van die gemoed ontstaan, dan moet mens nooit versuim om `n doelmatige straf toe te pas nie, nie deur slaan nie, maar liewer, en met meer sukses, deur doelmatige vasting. Want niks heel die woede beter as die honger nie en hongeriges is die minste geneig om in opstand te kom, terwyl hulle, as hulle versadig is, eintlik nie te vertrou sou wees nie.

[14] As mens kinders deur soortgelyke oorsake moet straf, is dit baie goed dat mens hom sê en laat begryp, dat die hemelse Vader hom geen brood gestuur het nie, omdat hy ondeund was. As hy egter weer baie braaf raak en die hemelse Vader om brood vra, sou hy hom dit dadelik weer gee. Daardeur word sulke kinders op God opmerksaam gemaak en dit sal hulle steeds dieper in hulle jong siele griffel, dat dit in alles van God afhang en dat Hy al die goeie en slegte baie trou vergeld.

[15] Is sulke kinders dan baie rustig en goed opgevoed, dan moet mens ook nie versuim om aan hulle te toon hoe die hemelse Vader groot vreugde aan hulle het en hulle daadwerklik in die oggend, in die middag, en in die aand toeroep: 'Laat hierdie liewe kleintjies na My toe kom!”

[16] As kinders so begelei word, dan sal mens later weinig moeite met hulle hê. Maar word hulle so nie begelei nie, dan sal dit wel ietwat moeiliker wees om hulle later op die regte weg te bring en dan sal die spreekwoord in vervulling gaan, dat `n ou boom hom nie meer laat buig nie, as slegs deur storm en bliksem - waarby so `n boom selde sonder skade daarvan afkom.

[17] As sodanige kinders volwasse geword het en hulle al `n volkome selfbewussyn gekry het - in sover mens die begrip op die natuurlike vlak kan ontwikkel - en toon hulle nog hier en daar `n duidelike simptoom van oordrewe prikkeldbaarheid van die gemoed, dan moet mens hom veral aanraai om in alles baie matig te lewe, vroeg gaan slaap, maar nog vroeër opstaan, hom vir langer tye van geesryke dranke te onthou, asook van vleis van onrein diere en geen plekke besoek waar allerlei dwase stukke, tot slegte vermaak van die toeskouers opgevoer word en in die besonder nie die plekke waar gedans en gespeel word nie. Soortgelyke dinge moet deur sulke opbruisende mense vir `n geruime tyd vermy word, beter nog vir altyd.

[18] Dit is vir sulke mense van beide geslagte ook goed om gou te trou; want die bronstigheid van `n drifkop (heethoof) is baie erger as die van `n sagaardige mens. Naas die natuurlik dieet is die allerbelangrikste dat hierdie mense dikwels bid en geestelike boeke lees of, as hulle self nie kan lees nie, hulle laat voorlees. Dit sal hulle siel versterk en die boeie van hulle gees los maak, wat dan maklik geheel vry kan word wanneer soortgelyke mense My liefde gryp. Want omdat hierdie mense aan sterker versoekinge blootgestel is as ander, is hulle juis daardeur soveel nader aan My genade as hulle versoeking groot is. Juis hierdie mense is dit, waaruit iets groots kan groei as hulle op die korrekte weg gekom het, omdat hulle die regte moed in hulle het. Uit hierdie mense kom, geestelik geneem, in My ryk skepe en paleise voort uit eikehout en marmer vervaardig; uit swamme en riet kom nie maklik iets beters voort as dit wat in aanleg is nie.

[19] Dit was nodig om hierdie leefreëls toe te voeg aan hierdie gedenkwaardigheid en noudat ons dit duidelik uitgelê het, sodat elke mens dit seker en nuttig kan volg, kan ons verder oorgaan na `n volgende gedenkwaardige gebeurtenis.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205