Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 42

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

God se werksaamheid deur middel van geeste

3-3-1847

42 As iemand hierdie uiteensetting maar enigsins begryp het, sal hy insien, dat daar in die eintlike betekenis van die woord glad geen materie bestaan nie, omdat die materie self maar net `n werking van kragte is; die werking van hierdie kragte verskyn dan as `n bepaalde soort in `n bepaalde gesteldheid en vorm en laat deur die optrede sien dat die werkende kragte nie sonder intelligensie werk nie; want waar aan `n ding of `n wese `n bepaalde vorm, soort en eienskap te ontdek is, kan niemand die intelligensie van die daarin werkende kragte verloën nie.

[2] Weliswaar sal `n vroom pelgrim - miskien na Mariasell op weg - sê: “Dit alles doen ons liewe Heer immers; Waarom is daar dan nog intelligensies nodig?" - Dit is sekerlik waar; want die Heer sê: "Hemel en aarde en alles wat daarin is, het Ek gemaak en – nota bene - maak Ek nou nog"; maar as mense die maak oordryf, dan sou Ek op die wêreld ook nog baie moet maak, wat Ek eintlik nie gemaak het en nog steeds nie maak nie, omdat Ek die maak aan die mense oorgelaat het, sodat hulle ook iets te doen sou hê. Hulle maak dit wel maar net deur My verleende krag en Ek doen dit daardeur eintlik deur middel van hulle, - en dit is asof Ek dit Self sou gedoen het. En soos Ek deur mensehande tallose dinge laat maak, netso laat Ek deur die Krag van die Liefde en Wysheid in My engele en geeste op aarde en op ander hemelliggame die dinge maak, wat nie deur die mense gemaak kan word nie.

[3] Die mense kan wel huise bou, stowwe vir kleding en werktuie maak; maar die materie daarvoor kan hulle nie maak nie. Hulle kan geen gras maak, geen struike en geen bome nie, net so min diere. Maar deur en deur lewende geeste en engele kan dit wel doen, omdat hulle daartoe voorsien is met krag uit My, om dit in My Naam te kan volvoer.

[4] Hoe die afsonderlike intelligensies egter op een en dieselfde manier kan funksioneer en ander intelligensies weer op `n ander manier en dit alles onder leiding van hoëre geeste, sal ons deur `n paar begryplike voorbeelde duidelik maak.

[5] Kyk net na `n spinnekop! In die diertjie sal jy twee intelligensies verenig vind. - Die eerste is die herkenning van die voedsel wat dit nodig het; die voedsel word vir twee doeleindes gebruik, naamlik vir die voeding van die dierlike wese en om die klewerige sap te berei, waaruit sy haar net spin; dit is die een intelligensie. Die tweede intelligensie is die eintlike kuns van die spin - om die draad uit haar te trek, hom aan klein hakkies te hang en `n net te spin, of beter gesê te vleg, die net dan met `n pêrelagtige klewerige sap te oortrek, en daardeur die insekte te vang, wat haar nuwe voedsel gee. Uit hierdie manier van handeling moet elkeen tog goed sien dat die spinnekop `n intelligensie moet besit; en die intelligensie is dieselfde as wat natuurondersoekers - wel ietwat ten onregte - 'instink' noem; want instink is eintlik `n innerlike drang om `n bepaalde saak, op `n bepaalde manier, in werking te moet stel. Maar wat die geleerdes instink noem, dit is nie meer die intelligensie van die diertjie nie, maar dit is die leiding en rigting gee deur hoëre geeste. Dit is naamlik twee dinge: `n Bepaalde vaardigheid besit en: Volgens hierdie vaardigheid `n bepaalde handeling uit te voer. Aan die besit van so `n vaardigheid is die noodsaaklike uitvoering daarvan nog nie verbonde nie; daartoe moet daar nog `n ander drang bykom en dan is die besit van sulke vermoëns en vaardighede in `n wese, of in `n psigiese spesifikum, juis die intelligensie. Die dwang om egter na so `n inwonende intelligensie te handel is nie in wese self as `n instink neergelê nie, maar dit is die dwingende leiding van die kant van die hoëre en volkome geeste, wat byvoorbeeld ons spinnekop die plek aangee waar, en die tyd wanneer sy haar spesiale vaardigheid moet aanwend. Want was dit nie die geval nie, dan sou die spinnekop of heeltemal nooit, of aanhoudend maar sonder stop gespin het en sy sou selfs die gesig van `n mens nie ontsien het nie en sou `n net oor sy oë spin. Dit is egter nooit die geval nie; want sy moet spin waar dit genoodsaak word om te spin en waar haar spesifikum doeltreffend is as sy haar met die spesifikum van die aanwesige materie in verbinding stel en dit in haar versamel vir `n hoër lewe.

[6] So spin die sywurm ook haar draad en wel omdat sy uit die voeding en uit die vrye spesifikum uit die lug die intelligensies in haar saambring, waardeur sy die vaardigheid kry en as`t ware tot die insig kom om uit die voedsel wat tot haar geneem is, eers die taai sap te vorm en die sap, as dit ryp geword het, soos `n eier om haar heen te spin.

[7] Hier is ook baie duidelik dat die bekwaamheid tot sulke werk en die noodsaak om die werk op die korrekte oomblik en die korrekte plek te volbring, werklik twee verskillende dinge is, soos wat dit ook die geval is by `n mens wat `n kunstenaar is, `n musikus of `n skilder. Die musikus het altyd die bekwaamheid om `n konsert of ander musiekstuk te speel, net soos die skilder `n skildery kan maak; maar speel die musikus vanweë sy artistieke bekwaamheid daarom dag en nag deur die een konsert na die ander en lê die skilder nooit sy kwas en sy verf opsy nie? - Kyk, hoewel beide kunstenaars voortdurend die gelyke bekwaamheid in hulle dra, moet die toonkunstenaar maar net by bepaalde geleenthede uit sy voortdurende begaafdheid iets produseer, net soos die skilder slegs dan maar `n skildery sal maak as iemand een by hom bestel het of wanneer hy een vir die verkoop, of vir sy eie genoegdoening vervaardig. Die eerste is hier ooreenstemmend met die intelligensie van die kunstenaar, die tweede is egter `n oproep, van welke sy ook, om die intelligensie aan die werk te stel.

[8] As mense egter vir groter kunsuitinge van bepaalde mense al leiers aanstel wat byvoorbeeld die dag van `n konsert bepaal, stukke uitsoek en dit dan dirigeer, hoeveel noodsaakliker is dit dan om by soveel kunssinnige intelligensies leiers aan te stel, as dit gaan om die behoud en `n doeltreffende voortbestaan van hele wêrelde!

[9] Omdat hierdie onderwerp vir julle suiwer insig in hierdie saak van die hoogste belang is, sal ons nog baie verder op die terrein gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205