Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 79

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Java en ander klein-eiland bewoners in Asië

79 Die meeste bewoners van die baie eilande in Asië besit meer of minder soortgelyke eienskappe. Baie van hulle het natuurlik reeds die Rooms-Katolieke of Protestante geloof ten volle aangeneem; net die eiland Java vorm `n uitsondering.

[02] Hierdie eiland word deur `n heel eiesoortige volkstam bewoon. Dit is vanselfsprekend dat net die oerinwoners daaronder verstaan moet word. Die eiland self word vanaf Sjina deur middel van `n vise-koning beheer, maar desnieteenstaande behoort die kusstreke hoofsaaklik aan Europeërs. Die binneland is egter nog min deur Europeërs besoek, omdat hulle nie in staat is om dit baie lank daar uit te hou nie, weens die veelvuldige giftige dampe wat op hierdie eiland in `n besonderse hoë graad voorkom. Die oerinwoners daarenteen het so te sê reeds geakklimatiseer en hulle hele liggaamsbou is vir die onskadelike opname van hierdie giftige dampe by verre meer geskik as by die Europeërs.

[03] Juis as gevolg van hierdie eienaardige klimaat, het die inwoners die mees eienaardige begrip van die godheid; hulle erken net een God, maar daardie God het so te sê twee liggame, wat op die rug aanmekaar vasgegroei is. Op hierdie twee liggame sit net een kop wat egter twee gesigte het. Die een liggaam is stralend wit en die ander donkergrys. Gedurende die dag draai die godheid die wit gedeelte van sy liggaam en gesig na die mens; maar in die nag die donkergrys gedeelte. Uit die wit gedeelte spruit net goeie dinge voort en uit die donker gedeelte alles wat skrikwekkend en boos is. Daarom sal niemand ook maklik in die nag na buite gaan nie, omdat hy dan niks goeds nie, maar net skrikwekkende en bose dinge sal ervaar.

[04] Die rede hiervoor is daarin geleë, omdat op hierdie eiland, veral onder in die valleie daarvan, voortdurend giftige lug ontwikkel, wat die Europeërs laat doodgaan, die inheemses egter net beduidend siek laat word, maar soms ook kan laat doodgaan, as hulle sodanige lug vir `n te lang tyd ingeasem het, met watter rede die oerinwoners van hierdie eiland ook hoofsaaklik op berge woon, en net bedags wanneer die son reeds baie hoog staan en die bose lug verdryf het, gaan hulle af na die valleie om `n bepaalde taak te voltooi. 

[05] `n Deel van die land is heeltemal onbewoon en die inwoners noem dit die vallei van die dood. In daardie vallei kom die gifboom Bohonupas voor waarvan by verskeie geleenthede vantevore reeds melding gemaak was, wat sodanig giftige gasse oor die etlike myle lang vallei versprei, dat geen lewende wese dit liggaamlik daar kan uithou nie. Net diegene wat deur die koning van daardie land oor `n misdaad tot die dood veroordeel is, moet dan `n mars deur die vallei onderneem, om die giftige hars van daardie boom te gaan haal, wat gebruik was om vrouens wat owerspel gepleeg het, dood te maak. Net die koning is in besit van daardie gif wat in `n goed bewaarde goue houer geberg word. En wanneer dit gebruik word, hoef net die punt van `n klein naald daarin gedoop te word, waarmee `n klein krapmerkie voldoende is om `n mens binne die bestek van `n paar minute, onder die mees afgryslike pyne, die dood te gee.

[06] Wanneer honderd mense na die vallei gestuur word, kom net twee gewoonlik terug, wat dan van die doodstraf vrygestel word. -

[07] Wanneer sulke ongelukkige mense daarheen gestuur word, moet hulle presies navors van watter rigting die wind waai. Waai die wind in die rigting van die klein gifboomwoud, dan moet hulle agter die wind aanloop, maar as die wind van rigting verander, moet hulle skielik weer op vlug slaan. Want as hulle die lug van daardie giftige klein woud inasem, is hulle sonder redding verlore. As die wind vir `n langer tyd in dieselfde rigting waai, dan is dit wel moontlik dat hulle die een of ander boompie kan bereik om die nodige hars op `n versigtige manier af te krap. As hulle dan klaar is, moet hulle vinnig, sonder om te rus, teen die wind in op dieselfde pad vir ten minste 10 myl terug beweeg, om buite die bereik van die giftige lug van hierdie vallei te kom. Die vallei is ongeveer 20 myl lank en een myl breed, waarin daar geen druppel water voorkom nie, ook geen ander gras of gewasse nie, want alles gaan dood vanweë die giftige gasse van daardie boom. -

[08] Netso bestaan in daardie land grotte waaruit `n bestendige vloei van giftige gasse opstyg. Die intensiteit van die gasse versprei egter nie so wyd soos die miasma van die bogenoemde gifboom nie, en die inwoners kan by tye baie naby aan die grotte kom, maar natuurlik net volgens die bepaalde windrigting. Dan slinger hulle brandende bondels hout in sodanige grot, waardeur die uitstromende brandbare gas vinnig ontvlam en dan soms vir jare aaneen brand. Wanneer dit brand, is dit ook heeltemal onskadelik.

[09] Die eienaardige omstandighede van hierdie land is dan ook die rede vir die eienaardige geestelike opvoeding van hierdie mense. Soos reeds genoem, is hulle dubbele godheid daarvan afkomstig.

[10] Maar wat weereens vir julle merkwaardig sal wees, is dat die inwoners nie baie gewig op hulle godheid plaas nie. Ook besit hulle die Koran en teenswoordig ook die Bybel.

[11] Sommige van hulle gee die Bybel die voorkeur, sommige nog die Koran. Maar hulle godheid het by hulle byna reeds heeltemal koers verloor.

[12] Sommige van hulle is van mening dat `n volmaakte mens alle gelowe moet ken en die beste deel van almal kies (Eklektikus). Ander sê weer dat onder al die gelowe net een die regte een is. Maar om dit uit te vind, is die moeilikste taak vir die mees wyses onder hulle, derhalwe sal dit die beste wees om intussen iets vir alle gelowe te doen, totdat die regte geloof gevind is, want in elke geloof kan daar iets wys en iets doms gevind word. Net die wyse deel in elke geloof moet gehuldig word en die dom deel moet verwerp word, waardeur `n mens uiteindelik wys word, om uit die baie gelowe die regte een te vind.

[13] Hierdie mense is streng gesproke glad nie so dom as wat `n mens aanvanklik sou glo nie, want hulle is in niks bevooroordeeld nie. Daarom is hulle ook die meeste toeganklik in die geesteryk.

[14] Net met die liefde gaan dit `n bietjie moeilik, omdat die liefde in dié wêreld as die grootste onnoselheid beskou word. Maar die rede is daarin geleë, omdat hulle onder die begrip liefde, bloot daardie bedwelmde soort hartstogtelikheid verstaan, waardeur beide geslagte mekaar soos in `n blinde raserny gryp en op `n dierlike manier ontug dryf. Hierdie daad word deur die wysheid van die mense soms onder die laagste diere geplaas. Net, soos dit maklik ingesien kan word, is dit net `n baie verwarde begrip van die liefde, waar daar `n verkeerde en afgedwaalde dryfkrag van die liefde as die hele liefde beskou word.

[15] As die geeste van hierdie mense oor hierdie begrip duidelikheid verkry, dan is hulle die mees vaardige geeste in die geesteryk en gelyktydig die mees bereidwilliges en die mees stiptelike geeste met betrekking tot die uitvoering van elke taak wat aan hulle opgelê word. - Dit is iets baie gedenkwaardig van hierdie volk, waarom dit hier ook taamlik omslagtig verduidelik was.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205