Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 5

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die inwendige bou van die aarde

4-1-1847

5 As julle `n dierlike liggaam, van welke soort dan ook, bekyk, dan sal julle, sonder om enigsins die anatomie van alle diereliggame ter wêreld te bestudeer, baie maklik insien en begryp dat die bloed, of wel die sappe, op presies dieselfde manier deur alle are en ander vate stroom as deur die are en vate, wat in die eintlike dierlike hart aanwesig is en wel op alle punte op dieselfde oomblik as waarop die pols-hartslag in die eintlike hart plaasvind. Mens kan maklik insien dat daar in een dierlike liggaam nie verdere dryfkragte aanwesig hoef te wees nie; maar dat daar slegs een nodig is vir die tallose bloedvate.

[2] Dit is ook die geval met die hart van die aarde. Deur die pulserende of stuwende stoot van die aardhart, wat elke ses uur herhaal word, word alle verskillende lewensappe uit die binneste van die aarde na alle dele van die aardliggaam gedryf en daar is geen tweede, vierde of vyfde stukrag van `n ander soort nodig nie; as gevolg hiervan is alle verskynsels van die lewensproses van die aardliggaam afhanklik van hierdie enigste stukrag.

[3] Eb en vloed en ander verhogings van die uitwendige aardkors, net soos die winde wat daardeur ontstaan, het almal hulle oorsprong daarin; want die hart van die aarde verteenwoordig ook die longe van die dierlike liggaam. Daaruit is te verklaar dat sowel die reëlmatige asook die onreëlmatige uitsettings en saamtrekkings van die aardliggaam slegs daardeur veroorsaak word.

[4] Om egter dit wat hier nou voorafgegaan het, beter te begryp, sal dit noodsaaklik wees om in kort die inwendige bou van die aarde so goed as moontlik te skilder, om deur die beeld aanskoulik te maak, hoe daar vanuit die een belangrike swaartepunt, sowel in die aarde, net soos in die liggame van diere, ook tallose ander newe-swaartepunte in `n gelyke beweging gesit word.

[5] Hoe lyk die inwendige van die aarde dan?

[6] Om `n grondige kennis hiervan te kry, moet allereers duidelik gemaak word dat nie net die aarde nie, maar selfs elke gewas, elke vrug aan `n boom, net soos elke dier en ten slotte ook die mens self, as`t ware uit drie liggame bestaan.

[7] Laat ons `n boom bekyk. Wat is die eerste wat ons aan hom ontdek? Dit is die bas wat op sigself weer verdeel kan word in die buitenste dooie kors en in die daarbinne lewende bas, sap genoem; dit is die eerste boom. Die tweede boom, wat totaal verskillend is van die eerste, is die eintlike vaste hout, `n kombinasie van talryke buisies wat in die mooiste orde langs mekaar loop. Dit is die tweede boom. Die derde of die inwendige boom is die kern, gewoonlik `n wyer buis wat totaal met `n sponsagtige selweefsel opgevul is; die sel suig die sap eers uit die aarde op, suiwer dit en stuur dit dan deur sy uitsettende en sametrekkende krag in die tallose organe van die ander boom na buite.

[8] Op hierdie manier het ons nou drie bome in een boom gesien.

[9] Laat ons `n vrug aan die boom bekyk. Wat ontdek ons eerste by `n neut, `n kastaiing, `n akker, kortom by watter vrug ookal? Die eerste is die dop, wat net soos die bas tweeledig is. Dan kom die beskuttende laag as tweede deel van die vrug, dit is gewoonlik die mees vaste. Onder hierdie omhulsel kom slegs die derde en belangrikste deel van die vrug, waarin slegs die hart of die kiemhuls rus.

[10] Laat ons nou `n dier bekyk. Elkeen sien duidelik by `n dier eerstens die vel, wat totaal opgevul is en die gestalte van die dier duidelik laat sien. Binne die dikwels uit meerdere lae bestaande vel, is die vaste beenstelsel, wat deur `n spier- en gedeeltelik kraakbeenagtige vleismassa stewig bymekaar gehou word, net soos die harde dop van `n neut of die skedel van elke hoof. Dit is die tweede dier, ook wel geraamtedier genoem. Binne die beenstelsel is die ingewande, soos longe, lewer, milt, derms en te midde van hierdie meer edele dele van die dier, die hart self, wat die lewe voortbring; dit is nou die derde dier waardeur beide buitenste dele hulle voeding en lewe ontvang, en wel deur die tallose organe en vate, wat van binne uit na die twee buitenstes uitloop.

[11] Dieselfde verhoudings vind jy in jou eie liggaam. Wil jy dit nog duideliker sien, neem dan maar `n eier; daar sal jy dieselfde vind. Kortom, jy kan van alle plante(soorte) neem wat jy maar wil en die vrugte en sade daarvan bekyk en ook kan jy die hele diereryk deurgaan en oral sal jy een en dieselfde struktuur vind.

[12] Waarom is hierdie opbou so gelyksoortig? Die antwoord daarop is maklik te vind en by rustige beskouing vind mense dieselfde oorsaak, waardeur kinders na hulle ouers lyk en die vrugte na die saadkorrels, waaruit dit weer as saadkorrels te voorskyn kom. So is byvoorbeeld die graankorrel `n saadjie wat, as dit in die aarde gestrooi word, weer dieselfde saadkorrel as vrug tevoorskyn sal bring. So het ook al die organiese lewende wesens op die aarde wat `n liggaam het, die struktuur van die aardliggaam self.

[13] Ook by die aardliggaam is die buitekant as`t ware die dooie kors, waarbinne `n reeds meer lewende en gevoeliger bas homself bevind. Soos die kors van `n boom, hoewel dikwels erg deurgroef, egter tog nie heeltemal so dood is, dat sy nie in staat sou wees om die mosplantjies wat op haar groei, genoeg voedsel te gee nie, en soos ook die vel van die diere nie so dood is, dat deur haar nie tallose hare en haartjies en dikwels, ook parasiete voldoende voeding sou kan kry nie, so is ook die buitenste en slegs in bepaalde opsig dooie of eerder ongevoelige aardkors, nie so dood dat tallose plante en diere nie hulle noodsaaklike voeding deur haar sou kon kry nie.

[14] Aan die binnekant van hierdie buitenste aardlaag wat ongeveer 150 km - soms ook wel minder - dik is, begin die eintlike, mees vaste deel van die aardliggaam, dit is die tweede aarde en die eintlike vaste deel van die aarde, weliswaar nie oral ewe vas nie, maar tog altyd vas genoeg, om die oor haar uitstrekkende aardkors maklik self te dra.

[15] Binne in die tweede deel van die aarde lê eindelik die eintlike lewende kern of wel die ingewande van die aarde, waarin haar hart haarself bevind.

[16] Hoe hierdie drie aardes met mekaar verbonde is en hoe die innerlike dryfkrag van die hart deur hulle werk, sal ons in die volgende uiteensetting van naderby bespreek.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205