|
Aarde en Maan JACOB LORBER - AFRIKAANS
Hoofstuk 20
|
Spring: |
1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94. |
|
|
Wese en bestanddele van die lug
29-1-1847
20 Die water van die see, en ook die van die mere van die vasteland, vorm `n soort verdigte lug, waarin diere kan lewe. Maar hierdie lug behoort eintlik nog tot die aardliggaam self en wel tot haar buitenste kors. Daarom kan die water nie sondermeer in die atmosferiese lug opgeneem word nie, maar slegs die deel, wat in die mis en wolke is, net soos die vrye waterstofgas in die lug self, al kan ons dit ook nie as mis of wolke beskou nie.
[2] Waaruit bestaan die atmosferiese lug dan in al haar dele?
[3] Die atmosferiese lug, of die lug wat ons inasem bestaan uit `n ontsaglike groot aantal lugsoorte, wat almal gasse, of liewer eenvoudige lugsoorte genoem word.
[4] Die natuurondersoekers is weliswaar met die opnoem van hierdie gasse, waaruit die atmosferiese lug bestaan, gou klaar; volgens hulle bestaan die lug uit `n bepaalde verhouding van suurstof, waterstof, koolstof en die eintlike stikstofgas. Maar met hierdie vier soorte sou die eintlike atmosferiese lug baie weinig gediend wees as sy daarnaas nie nog ander lugsoorte sou bevat, wat nie aan die natuurondersoekers bekend is nie; want sou dit hierdie nie bevat het nie, dan sou dit sleg gelyk het met die ontstaan van die minerale, die groei van die plante en wel besonder sleg met die dierewêreld!
[5] Elke plant suig uit die atmosferiese lug die eenvoudige lugsoort wat vir haar noodsaaklik is, in en skei ander uit. As dit nie die geval sou gewees het nie, dan sou elke plant nie haar soort, nie haar eie gestalte en nie haar eie smaak en reuk gehad het nie. As elke plant egter volgens haar aard, maar met haar ooreenkomende eenvoudige lugsoort insuig, dan sal daar eweveel eenvoudige lugsoorte moet bestaan as wat daar verskillende verbruikers is.
[6] Dat dit egter werklik die geval is en moet wees, word al sonhelder bewys deur die reuk van elke plant afsonderlik en nog meer deur haar innerlike substansie. Ruik maar aan `n roos, `n angelier, `n lelie, `n viooltjie, dan aan bilsenkruid en vra julleself af, of die een blom dieselfde ruik as die ander.
[7] Die geur van die roos werk versterkend op die reukorgane en verskerp die sig. Die angelier trek die reukorgane saam en verswak die sig. Die lelie verswak die reukorgane en bewerk na `n rukkie selfs mislikheid van die maag, waardeur `n hoofpyn dikwels opgewek word. Die viooltjie sal opwekkend op die reukorgane inwerk en versterk selfs die brein, terwyl die vuilgeel bilsenkruidblom onmiddellik walging veroorsaak en by langdurige inaseming, duiseligheid en vergroting van die pupil.
[8] Vraag: Kan dit alleen aan die vier eenvoudige, bekende gasse toegeskryf word? Kan slegs hulle verskillende verhoudingsgewyse vermenging, dit veroorsaak? Ja, as hierdie vier gasse werklik die eenvoudige grondstowwe was, waaruit ten slotte alle dinge gevorm is, dan sou dit tog `n vreeslike skande wees vir die hooggeleerde chemici, dat hulle nie al lankal goud, silwer en diamante in groot oorvloed daaruit vervaardig het nie; want tussen vier eenvoudige soorte kan tog baie gou `n groot hoeveelheid mengsels saamgestel word en uit elke samestelling moes, as dit nie al dadelik goud was nie, tog miskien een of ander nuwe plant of selfs `n nuwe ras van miniatuur osse -esels en -kalwers of iets dergeliks te voorskyn gekom het. Maar kyk, so-iets gebeur nie by sulke helde van die wysheid nie, ondanks die allergeleerdste vertrekkings van hulle gesigspiere en daar kom niks te voorskyn nie, behalwe hoogstens een of ander witagtige stof, wat, mikroskopies ondersoek, self in die vorm van klein kristalle vertoon, waarmee egter nog nie veel gesê is nie, omdat so `n kristalstof, in die vrye natuur sonder die chemiese voorbereiding, nog veel beter en veelvuldiger opgewek word. Julle hoef in die herfs maar `n ryp pruim, `n ryp druif of ook wel blare van verskillende bome te bekyk, en dan sal julle sulke stof in oorvloed soos `n witagtige waas op die bogenoemde vrugte en blare ontdek. Bekyk dit onder die mikroskoop en dit sal dan wemel van die mooiste kristalle!
[9] Hieruit volg weer dat daar nog meer eenvoudige lugsoorte moet bestaan as net die vier bekendes. So is daar ook plante, wat so `n vreeslike skadelike lug uitasem, dat ander plante en diere dadelik daarin sterwe. Ook is daar weer ander wonderbaarlike plante, waardeur selfs dooies, as hulle nog nie te lank gestorwe is nie, weer in die lewe teruggeroep sou kan word. Beide plantsoorte - die een uitermate dodelik en die ander uitermate lewensverwekkend - moet tog elkeen, volgens hulle aard, vir hulle eie grondstof uit die lug opsuig [om sulke werkings tevoorskyn te roep], omdat hulle anders nie sou kon word wat hulle is nie.
[10] As dit egter onteenseglik die geval is, dan volg daar tog weer duidelik uit hoe die atmosferiese lug uit baie soorte saamgestel moet wees om die in haar aanwesige veelsoortige dinge elkeen volgens hulle aard, tot voedsel te dien. As die plante egter al net soveel verskillende lugsoorte uit die atmosferiese lug vir hulle bestaan nodig het, hoeveel meer grondstowwe moet daar dan nie wel vir die diere in die atmosferiese lug aanwesig wees nie, sodat elke dier die passende inasemingsstof vir hom vind.
[11] Elke dier asem wel die totale atmosferiese luggehalte volume in, maar behou daarvan maar net dit uit die ingeasemde volume, wat met sy natuur ooreenkom; al die ander asem hy weer uit.
[12] Ek glo dat vir diegene wie se denkvermoë enigsins meer ryp is, dat dit wat tot nou toe gesê is, genoeg sal wees om in te sien hoe hoogs gekompliseerd die atmosferiese lug moet wees, sodat in haar die talloos baie verskillende wesens dit kan vind wat met hulle natuur ooreenkom. As ons dit nou sekerlik maklik begryp het, sal dit ook nie so moeilik wees om die talloos baie en besonder geaarde verskyningsvorms in die atmosferiese lug te begryp nie, vir sover elkeen volgens sy sintuiglike waarneming in die aard van die verskillende verskyningsvorms `n onderskeid sien en hy vir homself moet sê: Hierdie verskyningsvorm het weliswaar ooreengekom met `n vroeëre, maar dit is tog verskillend in sy vormgewing van die vorige en as dit die geval is, moet daarvoor ook `n nuwe, vroeër nog niebestaande rede wees.
[13] En julle sal ook verskyningsvorms sien, wat steeds aan mekaar gelyk bly; dit sal ook steeds dieselfde oorsaak hê.
[14] Eens het daar op die aarde plante en diere bestaan wat - soos bekend - teenswoordig nie meer op hierdie aardbol bestaan nie; in die plek daarvoor het ander plante en diersoorte egter ontstaan, wat toe nie aanwesig was nie. Kyk, dit is verskyningsvorms wat in bepaalde opsigte wel na mekaar lyk, maar in ander weer heel ongelyk is. Die mammoet lyk soos die teenswoordige olifant, die renoster na die kleiner soort van teenswoordig. Beide hierdie diere vertoon in een opsig dieselfde; hulle behoort tot dieselfde soort, maar lyk wat grootte en gestalte betref, glad nie na mekaar nie. So was daar ook eens reusebome gewees, soos wat al voor in die begin van die boek vermeld was; ook teenswoordig nog is daar, veral in die trope, `n soort veelstammige boomsoort wat `n gelykenis vertoon met die vroeëre reuseboom, maar tog nie dieselfde is as wat die boom toe was nie. Daar bestaan `n aansienlike verskil, sowel in grootte as in vorm.
[15] Al hierdie veranderings het tot stand gekom, omdat die vroeëre reusesoorte, hulle passende voedsel nie meer in die atmosferiese lug gevind het nie, en so ten slotte heeltemal uitgesterf het. Toe was `n luggrondstof dus teenwoordig, wat nie meer in die lug aanwesig is nie. In die plek daarvan, het `n ander tevoorskyn gekom, wat vroeër nie daar was nie. Dieselfde oorsaak lê dikwels ook ten grondslag aan nuwe siektes wat skielik opduik, sowél van plante as van diere en mense, waarby die artse ook presies so `n gesig trek soos die chemici wanneer hulle hulleself op goud maak toelê en ten slotte, in plaas van goud, `n klomp sterk stinkende gemors win. Maar daar is wel ooreenkomste te vinde. So kan ook nuut ontstane siektes `n ooreenkoms vertoon met vroeër voorkomende siektes. Vergelyk mens egter die namaakgoud met die natuurlike, dan sal daar by wyse van spreuke `n verskil wees soos tussen 1000 en 1. Dit is ook die geval wanneer mense `n nuwe siekte met die medisyne wil genees, waardeur `n vroeër daarop soortgelyke siekte ook genees was; dan sal `n mens homself geweldig oor die vingers moet tik, want hierdie nuwe siekte is die gevolg van `n gebrek aan `n bepaalde grondstof in die lug, wat as gevolg van die een of ander oorsaak verdwyn het, en nie weer vinnig opgewek kon geword het nie. Dit moet dan wel moeilik wees om `n medisyne te vind, wat die verdwene grondstof bevat, waardeur die nuwe siekte vanselfsprekend en oombliklik uitgeroei sou kan word. Waar hierdie gebeurtenis vir die mensdom, sodra hulle `n beter kennis ontwikkel, van wesenlike belang kan wees, sal ons hierna nog dieper daarop ingaan en `n blik werp op die oorsake, waardeur bepaalde grondstowwe uit die lug geheel of gedeeltelik verlore gaan en ander soms in hulle plek tree.
|
|
|
|
|