Australië
12 Mei 1847
83 Benewens hierdie wilde hordes volkere uit Afrika bestaan daar ook soortgelyke rasse, soos wat julle gewoond is om te sê, in die deur julle genoemde vyfde wêrelddeel, naamlik Australië. In daardie wêrelddeel, of eerder hierdie grootste eiland van die aarde, kom daar, veral in die binneland, nog `n beduidende aantal volkere voor, wat byna nog geen straal menslike opvoeding ontvang het nie.
[02] Dit is, soos wat julle gewoond is om te sê, bloot natuurmense, maar wat ook nie juis boosaardig is nie. Hulle is uiters vreedsaam; van oorlog weet hulle niks nie, hoewel hulle die dood nie in die minste vrees nie, inteendeel, hulle het dikwels `n groot verlange na die dood.
[03] Liggaamlike pyn kan hulle met `n ongeërgdheid verdra wat skaars deur julle begryp sal kan word. Derhalwe kan hulle ook die grootste laste van die lewe met die grootste gelykmoedigheid verduur.
[04] Gevegte met verskeurende wilde diere is vir hulle `n vermaaklike spelery. Ook met die vang van slange is hulle die grootste meesters en maak met groot begeerte jag op hulle, omdat hierdie diere vir hulle die aangenaamste lekkerny is.
[05] Wanneer hulle iewers vreemde aankomelinge gewaar, slaan hulle gewoonlik op vlug, maar nie uit vrees nie, maar vanuit `n soort afsku vir die geklede Europeërs en Asiërs, want daar is niks vir hulle meer afskuwelik en ergerlik as `n geklede mens nie.
[06] Hulle is ook Kainiete, maar van die beste soort, en het nog `n vae begrip van die oertyd en van `n hoogste wese.
[07] Die hoogste wese word nie deur hulleself vereer nie, want hulle laat dit oor aan die voëls in die lug. Hierdie soort diere is waarskynlik nêrens so mooi en volop soos in hierdie wêrelddeel nie.
[08] Die mense sê daar: God kyk nie na verering nie, maar bloot net na die werke van die mens en daarom het God hemelse wesens bokant die mens geskep wat bokant die mens rondvlieg en wat dophou wat hy doen. En wanneer hulle hom dopgehou het, vlieg hulle weer opwaarts na die sterre en vertel aan die hoogste wese hoe die mense hulle daaronder op die aarde gedra.
[09] Daarom is daardie mense ook baie bly wanneer hulle `n voël naby hulle sien vlieg. Want daaruit lei hulle af dat God baie geïnteresseerd is in hulle, indien Hy baie van hulle bokant hulle koppe plaas.
[10] Maar voëls wat nie kan vlieg nie, soos kalkoene en nog baie ander soortgelyke diere, het nie `n baie groot aansien by hulle nie, daarom word hulle ook deur hulle geëet, maar altyd rou. Want by hulle bestaan die reël dat pluimvee rou geëet moet word, die vleis van die mak viervoetige diere bloot gesout, die visse wat vooraf lug gedroog is, moet gekook word, terwyl erdwurms, allerlei slange, akkedisse en krokodille bokant die vuur gebraai moet word.
[11] Vrugte moet geniet word soos wat hulle groei, wanneer hulle ryp is; maar die beste vrug van almal is die klapperneut wat vir hulle alles gee, soos iets om te drink, botter en `n soort brood.
[12] Dit is selde dat hierdie mense huise of hutte besit. En as hulle iets soortgelyk het, dan het hulle dit soos wat die oermense dit gehad het. Dig staande boomgroepe word met `n soort lewendige heining omhein en net aan een kant word `n ingang gelaat. So `n lewendig omheinde boomgroep is gewoonlik die huis van `n dikwels baie talryke familie. Inwendig is alles blink skoongemaak maar van buite lyk so `n huis soos `n ondeurdringbare boskasie, sodat dit gladnie maklik is om op enige ander plek in die huis in te kom nie, behalwe deur die ingangsdeur, of beter gestel, ingangsgang wat nooit in `n reguit lyn nie, maar met so veel as moontlike draaie na die eintlike woonhuis lei.
[13] Sodanige deur of beter gang is dikwels `n uur lank en is `n ware dwaalgang wat nie maklik deur `n vreemdeling afgelê kan word, sonder om ten minste honderd keer te verdwaal nie. Hierdie ingang word doelbewus so misleidend aangelê, sodat vreemde volkere, of selfs wilde diere, nie gedurende die nag by hulle kan uitkom en hulle oorval nie.
[14] Langs hierdie krom dwaalgange is daar vir groter sekuriteit dikwels twee vaam diep slote gegrawe, wat gewoonlik so breed is soos die gang self. Gedurende die dag is hierdie slote bedek, terwyl hulle vir die nag oopgemaak word wat `n goeie beskermmiddel vir die huis is. Want deur die boskasie wat so dig aanmekaar gegroei het, dat `n mens nie maklik `n vinger daardeur kan stoot nie, kom `n muis nie eers deur nie, laat staan nog enige ander dier of mens. Veral by ouer woonhuise, waar die lewendige bosomheining die digte ou boomgroep tot op `n afstand van 300 tot 400 vaam omring.
[15] Die verskriklikste vir hulle is wanneer `n boom van hulle lewendige huis begin om van ouderdom uit te droog. Dan word alles moontlik gedoen om so `n boom weer lewendig te maak. Maar as alles niks help nie, word hy van bo, so te sê soos `n huis by julle, versigtig van tak tot tak afgebreek tot by die wortels. As die ou boom heeltemal kaal gemaak is, word daar vuur op sy wortels gemaak en word die hele boom versigtig afgebrand. As hierdie, soms dae lange, verbrandingstoneel verby is, en die grond weer afgekoel het, dan word `n ander boom in sy plek geplant, sodat hy so vinnig as moontlik sy voorganger se plek moet inneem.
[16] Hierdie mense word uiters ongelukkig, wanneer, soos veral in die huidige tyd (1847; vertaler), hebsugtige Europeërs dikwels naby hulle bo alles geliefde wonings kom en hulle van buite af aan die brand steek, wat die arme inwoners dan natuurlik noodsaak, indien dit nog moontlik is, om hulle wonings te verlaat. Meestal versmoor die arme mense egter in die dik rook. Hierdie optrede van die Europeërs is hoofsaaklik die rede waarom hierdie arme onskuldige mense met sulke onversoenbare afsku tenoor geklede mense vervul is.
[17] Hierdie oerstamme kom nou nog net in die middel-suidelike streke van Australië voor, want die oos-, noord- en westelike dele is grotendeels onder Engelse en Hollandse beheer.
[18] In sommige van die noordelike streke word daar nog `n paar van die oerstamme geduld, wat van die eintlike oerstamme verskil, deurdat hulle `n soort koninklike opperhoof het en daarmee saam `n grondwet, wat taamlik dieselfde is as die van Borneo. Hierdie opperhoof het ook `n soort weermag wat nog die gewone pyl en boog besit en `n uiters skerp reuksintuig, waarmee sodanige Australiese kryger `n vyand op `n afstand van `n uur kan ruik.
[19] Die reuksintuig is in die algemeen uiters skerp by hierdie eintlike oerbewoners van hierdie wêrelddeel. Maar hulle maak minder daarvan gebruik as die stamme uit die noorde van hierdie wêrelddeel, wat stamhoofde het.
[20] Die geloof by die noorderlinge is reeds meer van `n Chinese soort, alhoewel ook van oerAustraliese afkoms. Daarom kan hulle ook in die geesteswêreld nie so maklik tot die Christendom oorgehaal word, soos die oerinwoners van hierdie wêrelddeel nie.
[21] Daarom is daar by die noordelike inwoners ook reeds `n groter graad van kultuur tuis, as by die eintlike heel eenvoudige suidelike oerbewoners wat, behalwe `n soort spit en `n soort houtsneemes, geen ander landbougereedskap ken nie. Maar hulle is wel meesters van allerlei vlegwerk uit gras, wortels en `n soort boomwol. Die vlegwerk word bloot net vir die besondere versiering van hulle woonhuise gebruik, aangesien hulle andersins heeltemal nakend rondloop en in plaas van klere, hulle vel somtyds tatoeëer, maar wat ook nie by almal die geval is nie.
[22] Dat hierdie eenvoudige onskuldige, uiters goedhartige mense in die geesteswêreld baie maklik tot die Christendom oorgehaal kan word, is reeds bo genoem en hoef niks meer daaroor gesê te word nie. Want in die hiernamaals gaan dit met so `n mens waarlik baie beter as met `n dom, verwaande sektechristen.
[23] Meer hoef ons nie oor hierdie volk te weet nie, omdat alles anders net vir statistieke doeleindes deug, maar nie vir ons geestelike volkere beskouing nie; daarom sal ons vervolgens na `n ander volkie oorgaan.