Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 53

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Die siel van Satana

23-3-1847

53 Ons het al aangevoer dat `n siel, omdat sy uit tallose substansiële intelligensie-partikeltjies bestaan, of om nog duideliker te wees, uit tallose miniatuurbegrippe, ook weer gedeel kan word, hetsy in `n totale oplossing of in bepaalde kompendia, wat na gelang van die aantal en die soort, aan die enkelvoudige intelligensiedeeltjies wat in hom saamgevoeg is, verskillende ooreenkomstige vorme en gestaltes gee.

[2] Voorbeelde daarvan is in `n groot hoeveelheid op en in die aarde te vinde. Kyk maar na die verskillende metaalsoorte en die verskillende plante en diere, dan het mens dadelik voorbeelde en kan mens sien tot welke seldsame modelle die sielekompendia hulle kan vorm.

[3] Dit is weliswaar materiële soorte, maar dit is nou eenmaal materiële uiterlike vorms of tipes van die innerlike sielevorme. Want die uiterlike vorm kan maar net sodanig wees, dat sy in ruimtelike opsig geheel met die innerlike ooreenkom, - of: Soos wat die innerlike krag is, so is die uiterlike werking.

[4] So `n deling van die siel het ook plaasgevind by die skepping van die eerste mensepaar, toe twee uit een siel ontstaan het. Want daar was nie gesê dat die Skepper ook vir Eva `n lewende asem in haar neusgate geblaas het nie, maar Eva het met liggaam en siel uit Adam voortgekom; en in hierdie tweede siel was ook `n onsterflike gees gelê en so het uit een mens en uit een siel twee gekom en was tog een vlees en een siel. So `n deling van die siel kan mens ook maklik by kinders en ouers herken; want dat die siel van die kinders ook gedeeltelik uit die siel van die ouers geneem is, bewys die fisionomiese gelykenis van die kinders met die ouers. Wat vreemdsoortig daarin is, bly vreemdsoortig en lyk fisionomies nie na die verwekkers nie. Wat egter hiervan afkomstig is, dit is duidelik te sien aan die ooreenkoms met die ouers en die ouers herken hulle kinders hierdeur. Uit hierdie aangehaalde voorbeelde kan die deelbaarheid van die siel maklik herken en begryp word. 

[5] Nog opvallender blyk hierdie deelbaarheid in die geestelike wêreld uit talloos baie seldsame verskynsels. `n Siel wie se lewenswandel op aarde veel te wense oorlaat, of wie se gedrag nie in stralende paragrawe van die lewensboek geskrywe staan of nie in alle opsigte deur die evangelie bepaal word nie, verskyn in die geestelike wêreld onvermydelik in die mees verskillende gestaltes, wat tot die afskuwelikste dieregestaltes terug te voer is. Die rede hiervoor is dat die siel deur die aardse lewe `n hoeveelheid spesifika, wat nodig was vir haar vorming, verkwis het. Dit is, nadat die siel van die liggaam geskei is, nie meer aanwesig nie en daarom is die gedaante van die siel buite haar liggaam, dan baie onvolkome. Ook het baie siele sterk sinlike neigings en kry daar­deur `n oormaat spesifika wat nie meer vir hulle wese deug nie. Sulke siele kry dan in die geestelike wêreld, sodra hulle hulleself buite hulle liggame bevind, baie van die seldsaamste en gruwelikste uitsteeksels. Die koppiges byvoorbeeld, want koppigheid is nog `n dierlike eienskap, kry, na gelang van die mate van hulle koppigheid, bok-ore en -horings. Ontugtiges wat hulle maar net met die vroulike geslagsdele besig gehou het, sit vol vroulike geslagsdele en ook omgekeerd sit die vroulike geslag vol manlike geslagsdele.

[6] In die mate waarin `n mens hier `n uitgesproke sinlike neiging gehad het, sal dit in die siel tot uitdrukking kom deur `n oormaat aan sulke substansiële intelligensiespesifika, wat volgens die reëls van die lewensboek en volgens die vasgestelde orde, nie meer tot die suiwer menslike vorm van die siel behoort nie.

[7] By baie mense is dergelike abnormaliteite van die siel al in die nog op aarde synde liggaam sigbaar, maar dit is nie altyd die geval nie, omdat die liggaam nie so maklik vreemde spesifika opneem soos die siel nie; slegs as die siel te vroegtydig of soms, as gevolg van die sonde van die ouers, ondeugdelike spesifika opgeneem het, dan word dit, as die liggaam nog tot opname in staat is, merkbaar daarop oorgedra.

[8] Deur hierdie uiteensetting sal hopelik duidelik geword het, dat nie alleen die siel wat in die materie sigbaar vasgelê is, gedeel kan word nie, maar ook die gebonde en die vrye siel.

[9] Ons het hierbo gesê dat die hele materiële aarde `n siel van Satan is; nie slegs die aarde nie, maar ook alle ander hemel­liggame is uit hierdie een siel gevorm en in die hemelliggame word sy in tallose kompendia gedeel.

[10] Hierdie gees is egter nie deelbaar nie; maar waar hy as `n eenheid in `n groot of klein siel geplaas word, daar bly hy ook as eenheid. Al was die siel van Lucifer ook hoe groot, tog kon in hom nie meer as een gees gewoon het nie en hierdie een gees, wat sy eie val veroorsaak het, kan nie in al die tallose gedeelde kom­pendia van sy eens konkrete oersiel woon nie. Sy woning is slegs tot hierdie aarde beperk wat deur julle bewoon word. Alle ander hemelliggame, ofskoon hulle deel is van hierdie voormalige siel, word nie deur sy gees bewoon nie. Daarom kan die mense van die hemelliggame, ofskoon hulle natuur meestal beter is as die van die mense op aarde, tog ook nooit die volkome aan Godgelyke hoogte bereik, soos die kinders van hierdie aarde nie. Hoewel hierdie kinders van die aarde in die gees die allerverste van God verwyder is en die allerlaastes is, is hulle juis daarom, in geval van verbetering die allerhoogste en kan hulle aan God gelyk word.

[11] En om hierdie rede het Ek, as die Heer, juis hierdie aarde as toneel van My grootste erbarming gekies en het alle hemele opnuut op haar bodem geskep.

[12] Elk mens wat hier gebore word, kry `n gees uit My en kan onteenseglik volgens die voorgeskrewe ordening die volkome kindskap van God verkry.

[13] Op die ander hemelliggame kry die mense egter geeste van die engele. Want elke engel is `n kind van God en moet op hierdie aarde net soos Ekself, en soos elke aartsengel, die weg van die vlees deurmaak, waardeur hy dan ook die skeppende krag in hom sal hê, wat hy uit die oorvloed van sy liefde en lig kan neem en dan in die nuut wordende mense van ander planete kan plaas en waardeur hy op hierdie manier soos `n God kinders kan verwek, wat sy naam dra. Hierdie kinders is derhalwe slegs sekondêre kinders en geen werklike kinders uit God nie, maar hulle kan wel, op die weg van `n nuwe inkarnasie op hierdie aarde, tot die kindskap van God kom.

[14] Dit is aan die een kant vir die mense van hierdie aarde wel `n nadeel dat hulle so vlak in die nabyheid van die mees bose geeste woon, wat hulle baie las besorg, maar aan die ander kant het hulle ook die oneindige voordeel, dat hulle in die eerste plek `n kragtige gees uit God het, waarmee hulle maklik, as hulle maar wil, die kwaad van die mees kwaadaardige kan bestry, en ten tweede kan hulle daarmee volkome kinders van God word.

[15] Hier sou iemand wel die swak teenwerping kan maak: Waar was geeste vir die mense van ander planete vandaan geneem in die tyd toe die aarde nog geen mense gedra het nie? Mens sou tog kan veronderstel dat ander, veel ouer, veral son-hemelliggame sekerlik al biljoene jare voor die aarde deur menslike wesens bewoon was? Hierdie swak teenwerping kan mens ook maar net swak beantwoord: Die veel ouer hemelliggame het ten eerste ontstaan, soos al hierbo opgemerk was, uit een en dieselfde siel. Dan, hoe groter die plant, des te meer tyd het sy nodig om vrug te dra.

[16] Plaas `n koringkorrel en `n eikel in die grond en vra jou dan af welke saad eerder vrug sal dra! Die koring sal in enkele maande weer `n koringkorrel voortbring; by die eik sal baie jare nodig wees. Infusiediertjies kan in `n minuut enige honderde generasies belewe, die olifant het twee jaar nodig voor hy `n jongeling ter wêreld bring en totdat hy volwasse word, duur wel so `n twintig jaar. Kyk dan net na die verskil tussen die infusiediertjies en die olifant; hoeveel generasies infusorieë sou daar wel in `n olifante generasie gaan?

[17] Die voorbeeld is duidelik genoeg om in te sien dat, hoewel `n oerson hoogstens verskeie desiljoene aardjare ouer is as die aarde, wat tog ook al enkele kwantiljoene jare tel, is tog, omdat sy veel groter is as die aarde, ook dienooreenkomstig veel later haar saad tot ryping bring. Want vooraf is baie goed deur My voorsien en bereken, dat die vrugte van alle hemelliggame ryp kan en moet word in dieselfde tyd wanneer die sentrale punt van die geestelike skepping so ver gevorderd is, dat dit sy geestelike lewensoorvloed in die vrugte van die ander hemelliggame kan inplant.

[18] Dit is waar dat byvoorbeeld, vernaamlik op die bekende oersentraalson Urka, menslike wesens bestaan het, voordat die aarde van haar son afgeskei was. Maar hierdie menslike wesens het ook `n ander lewensduur as die mense van hierdie aarde. Want as so `n Urkamens nog maar tien Urka-jare oud is, dan is hy al ouer as hierdie hele aarde, waaruit egter baie maklik te begryp is dat die eersgeborenes van die hemelliggaam, nog baie goed tot op die oomblik kan lewe en nog ander, wat nou gebore word, so lank sal lewe soos wat hierdie aarde sal bestaan. Dit is daarom nie moeilik om in te sien dat die tyd lank genoeg was vir alle engele benewens Myself, om die weg van die vlees deur te gemaak het, sodat hulle reeds lankal as My kinders uit die groot oorvloed van hulle lewe kan neem om aan die kinders van ander hemelliggame lewe te kan inplant.

[19] Nou is dit vir elkeen wat gees en lig het wel duidelik, dat die siel ten eerste deelbaar is en dus ook heel in die besonder die oersiel van die eersgeskape oergees. Ten tweede het ons ook ingesien dat juis hierdie aarde die deel uit die oersiel is, wat nog maar net deur die oergeskape gees bewoon word.

[20] Hierna sal ons, noudat ons dit weet, die deling van die siele bekyk en sien hoe uit hierdie een siel nou voortdurend tallose hoeveelheid nuwe siele geneem word.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205