Oor die speelduiwel en die moderne opvoeding
1-4-1847
60 `n Ander tipe mens het al van jongs af aan, wat gewoonlik `n groot opvoedingsfout is, `n spesiale verlange na allerlei soorte speletjies; hulle kan die tyd nie andersins deurbring nie, as maar net met gebeusel en spel. Die verlange na speletjies word van die kant van kortsigtige en dom ouers gewek, deurdat hulle al vir die klein kindertjies voortdurend `n groot hoeveelheid sogenaamde kinderspeelgoed aanskaf om die kinders deur soortgelyke speelgoed, as hulle nog baie klein is, tot swye te bring, en as die kinders ietwat grootgeword het, hulle deur sulke speelgoed tot werksaamheid te bring.
[2] Terwille van sulke kinderspeelgoed vind mens in die stede selfs spesiale winkels en is daar selfs markte, waar sulke domhede in die mees verskillende soorte en dikwels in die ergerlikste vorme te koop aangebied word.
[3] Kyk, daar het ons een bron en weer `n nuwe weg, waarlangs die bose siele van afgeskeide mense in die vlees van sulke kinders kan binnekom.
[4] Wat sal die gevolg daarvan wees? Hierdie kinders word alreeds deur hierdie geeste wat in hulle binneste woon, daartoe aangedrywe, om meer en meer speelgoed te besit. Ja, baie kinders kry soveel speelgoed van hulle ouers, dat dit al `n fortuin kos. Die kinders verdiep hulle uiteindelik in hierdie speletjies en het byna geen tyd en rus om iets anders te doen as om aan hulle speelgoed te dink nie. Die jong seuns het ruiters, houtperde, papiersoldate, helmets, blik gewere en sabels; maar wanneer hulle groot is, wil hulle lewende-, in plaas van houtperde en in plaas van blik- word egte gewere aangeskaf; want dit is noodsaaklik dat `n jongmens voor alles leer dans, ry, veg en swem. Ook oefeninge in die skietkuns met pistole kan mos nie skaad nie. Daarnaas is dit vanselfsprekend dat `n jongmens soos `n egte heer, soos mense gewoond is om te sê, nog voor hy sy moedertaal ken, ook `n paar moderne vreemde tale gebrekkig leer praat, daarby ook tuis is op die gebied van die mode, en hulle leer die gewoonte aan om die geglaseerde handskoene al van jongs af so vas om die hand te pers, dat die vingers stokstyf daarin staan. En gelukkig is diegene, wat al as seun op `n kinderbal (dans) as eerste kan voordans, waaroor die ouers van so `n genie, bykans siek word van suiwer verrukking en vreugdetrane vergiet, - trane, wat dan as opgeloste spesifika in die siel die merkwaardige werking veroorsaak wat op die volgende neerkom: Omdat juis hierdie trane so `n belaglike afskeid van die oë moet neem, soek hulle daarna hulle toevlug by die ore van dieselfde siel, waardeur juis die ore deur `n ongewone verlenging baie sterk groei.
[5] Uit sulke nie-hoopvolle, maar hopelose seuns van sulke werklik meer as eselagtige ouers, groei dwase op wat niks weet nie, omdat hulle noot iets geleer het wat die goeie verstandskragte van hulle siel, ook maar iets kon verryk het nie.
[6] Sodat so `n dwaas egter perfek kan word, moet hy ook al in die eerste tyd van sy lewe alle edele speletjies volkome begryp, waarvoor met verloop van tyd selfs die mees nuttige - vanselfsprekend nuttig vir die hel - aanwysings en selfs filosofiese beskouinge geskrewe en gedruk is.
[7] Geskiedenis-onderrig sou wel beter gewees het, ook aardrykskunde; oor die evangelie sal ons maar liewer swyg, want mens kan die wêreld slegs `n wêreldse-, maar geen goddelike raad gee nie.
[8] Geskiedenis en aardrykskunde sou sulke mense nader aan die goddelike bring, terwyl hulle deur die hierbo aangegewe moderne opvoeding met huid en haar sonder genade of verskoning reëlreg na die onderste hel gevoer word. En dit alles is die gevolg van die speelduiwel wat al in die vroegste jeug ingewortel en die vlees in besit geneem het, wat tot die mees hardnekkigste behoort, want hy verenig in hulle die speelsug, behaagsug, voortdurende verlange om hulle te vermaak, materiële winsbejag en daarmee die vermomde heerssug. Hierdie duiwel is die allermoeilikste om uit die mensevlees te dryf en gaan byna op geen ander manier uit, as wat hy by Judas Iskariot uitgedryf is (deur homself op te hang), wat nog veel beter was as die beste modegek vandag.
[9] Ook op dieselfde manier word die vroulike geslag dusdanig misvorm, dat die siel van `n twaalfjarige jong dame al dikwels net so lyk soos `n Proteus (om gedurigdeur van klere te verwissel). So `n meisie is al in die wieg `n modiste, (modegek) want daarvoor kry sy `n hele spul poppe om aan- en uit te trek, nuwe kleertjies voor te maak en so te leer om verskillende houdings aan te neem, soos wat sy dit in die modetydskrifte sien. Daarby moet sy ook al Frans en Engels (moedertaal is Duits) begin te praat, terwyl daar van bid nog geen sprake is nie. Ook die dansmeester kry gou baie te doen en daarna die klavier- en teken leraars.
[10] Op hierdie manier groei, as dié onderwysmetode goed gehandhaaf word, uit die wiegkind, wat nouliks in staat is om haar neus self te snuit, eers `n wonderkind en as so `n meisie nouliks vyf handbreedte grootgeword het, dan is sy al `n engel, as sy nie al `n godin is nie.
[11] Dit is vanselfsprekend dat die godsdiensleraar nie vanweë die religie, maar vir die 'bon ton' in so `n herehuis oppasser moet speel.
[12] Word so `n meisie dan ongeveer 13 of 14 jaar oud, dan word sy al volgens die groot modeblad opgesmuk en in die sogenaamde groot wêreld binnegelei, by welke geleentheid daar natuurlik weer vreugdetrane deur die ouers vergiet word wanneer so `n dogter, wat die wêreld binnegelei word, dan daar byval oes.
[13] Hierdie dogter ken weliswaar, ondanks die godsdiensleraar, dikwels nie `n teks uit die Skrif nie; ook nie die 'onse Vader' en ewemin die tien gebooie nie, want om te bid is iets vir die volk en hoort nie tuis in die eintlike vername kringe nie. Daar word in die eerste plek gelet op die houding, op die stap, op die houding by die stap, of dit wel is soos wat die mode dit voorskryf, dan op `n mooi gesiggie, op `n baie ontblote hals, teer, wit, sagte en ronde hande en as dit moontlik is, nog meer op `n passende klein voetjie, en ook of so `n meisie in die edele kuns van die kokettery tuis is- en natuurlik ook of haar kleding elegant is. Onder sulke omstandighede is so `n vroulike prageksemplaar uit die goeie kringe, dan ideaal.
[14] Hoe gelukkig sou menige esels hulle prys, as hulle so `n vroulike prageksemplaar as vrou kon kry. Ja, so `n esel sou wel gelukkig wees, want so `n prageksemplaar kan hom binne `n kort tydjie tot die hoogs nugtere oortuiging bring, dat hy ten eerste `n groot esel was en ten tweede dat sy verruklike vroulike prageksemplaar niks anders was as `n gekalkte graf, of `n van buite vergulde pilaar, waarvan die inwendige hout geen sent werd is nie.
[15] Wat is egter die oorsaak van so `n ontaarding? Die oorsaak is al hierbo aangegee; en dit is die besetenheid met `n sogenaamde speelduiwel, wat hulle veroorloof om dit met die mense te doen, wat die kinders, veral die meisies, met hulle poppe doen.
[16] Sou dit nie beter gewees het, as die kinders dan tog speelgoed moet hê, dat `n mens vir hulle speelgoed gee wat een of ander betrekking het op My jeug op aarde nie? Daardeur sou die kinders `n goeie neiging ingeplant kry en hulle sou, wanneer hulle groter word, met plesier na meer feite en data vra en na alles wat hulle speelgoed voorgestel en beteken het. Onder sulke omstandighede sou `n ware kategeet dan sekerlik `n baie vreugdevolle werk hê in die aanleg van `n jong wingerd en hy sou ook weldra wonderbaarlike vrugte oes.
[17] Maar hier is juis die teenoorgestelde die geval. In plaas van vir die hemel, word die kind al in die wieg vir die hel opgevoed, wat dan ten slotte ook triomfeer.
[18] Van die soort word die meeste na die hel deurgevoer, want sulke mense beskou hulle as baie goed, regverdig en, volgens hulle begrippe van die wêreld, volkome deugsaam, vandaar dat daar ook nie te dink is aan `n verbetering nie. Dit sou volgens die begrip van sulke mense, slegs `n teruggang en `n agteruitgang van hulle fyn sedes wees.
[19] `n Dief en `n moordenaar kan berou voel, `n hoereloper, `n egbreker en ook `n dronkaard kan onder bepaalde omstandighede sover gebring word, dat hy sy groot dwaasheid insien en `n mens aan hom kan sê: 'Jou sonde is jou vergewe, gaan heen en sondig nie meer nie!” Wat sou mens egter vir hierdie fyn ontwikkelde, hoogmoedige en baie trotse wêreld sê? Sy hou haar voor as opreg, buitengewoon beskaafd, en hou haar aan die wette van die goeie toon en smaak; sy ondersteun ook die armes as die goeie smaak dit veroorloof, gaan ook na die kerk - op die tye natuurlik, wat die elegante wêreld pleeg om daarheen te gaan; woon ook `n preek by, as die predikant iemand volgens haar smaak is, wat sy preek so aangenaam teatraal kan voordra en natuurlik ook `n pragtige stem het en `n aangename persoon is. Van die preek word bykans niks opgestook nie, maar as dit aangepas is by die beskaafde toon en smaak, kan die predikant dit tog wel in `n sierlike klein formaat laat druk en dit aan `n hoë dame opdra. Dan kan hierdie preek die predikant tenminste ietwat dukate (geldstukke), dikwels ook `n beter betrekking oplewer en die boekhandelaar `n goeie verkope, nie vanweë die preek nie, maar vanweë die goeie smaak en terwille van die edel dame aan wie so-iets opgedra was, nie met die oogmerk om hom te lees nie, maar meer vanweë `n sierlike biblioteek.
[20] Hieruit volg, hoe moeilik of onmoontlik hierdie mense verbeter kan word. Want by hulle gaan doop en salwing met olie in volle erns verlore, soos julle sou sê. Daar sal in die wêreld van die geeste baie nodig wees om sulke mense op die lewensweg te bring, want vir sulke mense - mense glo dit nouliks - is My Naam weersinwekkend en Ekself is vir hulle so goed as heeltemal niks, hoogstens `n armsalige moralis uit die ou tyd, wie se moraal nou egter geen waarde meer het nie, omdat mense in Parys `n baie beter een uitgevind het.
[21] In die geestelike wêreld, waar die Paryse modeblaaie natuurlik nie meer deurdring nie, waai dan `n ander wind. Dit is weliswaar `n wind van genade, maar ruik vir soortgelyke siele erger as die pes. Daarom vlug hulle al lank vooraf weg van die plek, waar hulle so 'n genadewind sou kon voel. Ek sê vir julle: Uit hierdie klasse mense sal baie in die kuil van die Satan beland, wat soveel wil sê as, in die allerlaaste afval van die materie, wat as omhulling saam met sy sentrum, wat vir julle al bekend gemaak is, die laaste reis sal maak.
[22] Hierdie gedenkwaardigheid is duidelik en in baie opsigte baie leerryk. Daar hoef verder niks meer daaraan toegevoeg te word nie; daarom nou weer iets anders!