Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 37

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Berge met berugte name

24-2-1847.

37 In die streek Karintie, nie ver van die Drau nie, is `n berg met die naam “Hohe Staff”. Hierdie berg oorsien met sy top die Drauw-dal byna vanaf die grens van Tirool tot by Klagenfurt, dit wil sê tot in die nabyheid van hierdie stad; aan sy voet lê die sogenaamde “Weifie See” aan die suidelike kant. Hy is 8000 voet hoog en vanaf die top kan elkeen wat hom bestyg het, van die mees betowerende uitsig geniet. Hy was eens berug, omdat hy volgens die sage die vernaamste versamelplek van heksemeesters was - natuurlik volgens die verhale van die nog lewende boere wat hierdie berg aan alle kante bewoon het. Sy uitlopers het die naam van hulle vroeëre roem as towerberg behou. So het `n noordwaarts gerigte uitloper die “Goldeck”, `n noordwes gerigte die “Siflits”, `n na die weste gerigte “Barenbuck” en `n na die suide gekeerde, die “Silberne Grab”. Die loodregte rots vanaf die hoë top noem mense die “Hohe Freiung” en `n enigsins onder hierdie liggende wand die “Unterfreiung”, terwyl die saal tussen die hoë en die lae Staff dikwels “Hexen” - en dikwels ook “Teufelsritt” heet. So loop ook vanaf die saal `n ontblote klip- kloof, wat die “Rutschbrett des Teufels” genoem word. Nog `n ander kloof wat na die weste loop, heet die “Wilde G`jad”. Hierdie en nog meer soortgelyke benamings, wat homself hierby aansluit, soos `n “Hexensprung”, “Teufelsritt”, “Weerwolfsnes” en nog meer ander, laat baie duidelik sien, welke roeping hierdie berg eens gehad het. Maar afgesien van hierdie name van die verskillende kante van die berg, is die naam “Staff” al voldoende om te begryp dat dit `n belangrike towerberg was.

[2] Die woord “Staff” was by hierdie vroeëre bewoners van die gebergte `n uitdrukking, waarmee hulle die eienskap van iets buitengewoon aangedui het. Buitengewoon was vir hulle dit, wat sowél vir die elemente, soos lug met haar verskynsels en water met syne, vir mense, sowél as vir diere tot rigpunte gedien het. Dit was die rede dat mense in later tyd hierdie berg `n nuwe naam gegee het, wat die eerste naam maar net as`t ware in `n moderner Duits vertaal het.

[3] Die nuwe naam was en is nog steeds “Landschnur”. Hiervan het die Franse, wat hulleself daar opgehou het, later “Landjour” gemaak. Die woord “Staff” beteken in hierdie ou taal uit die berge as`t ware `n oordeel en “Hochstaff” `n hoë oordeel en wel daarom, omdat elke onbevoegde, wat nie in die towermisterie van hierdie berg ingewy was nie, dadelik op die vreeslikste manier, natuurlik deur die heksemeester, veroordeel was as hy dit gewaag het om die berg te bestyg tot daar waar die bebossing ophou; so `n mens word dan deur onsigbare hande beetgepak en met die snelheid van die bliksem, soos die sage lui, op die hoogste bergtop neer­gesit. Daar word hy deur ewe-eens onsigbare kragte baie ure lank op die mees pynlike en gruwelike manier gekwel en met don­derende stem word aan hom te kenne gegee, dat hy tot die heksebond moes toetree. Wil hy dit nie, dan word hy van die hoogste punt, wat daarom die “Hohe Freiung” heet, op die “Untere Freiung” gewerp, maar met so `n magiese krag, dat hy nie gedood word nie. Op die Untere Freiung kom die betowerende bekoorlike “Sylphiden” hom dan met hulle verleidelike gestaltes bedwelm. Had hy homself dan aan hulle oorgegee, dan word hy skielik weer op die Hohe Freiung gesit en daar in hulle misterie ingewy. Maar as hy homself nie deur die bekoorlikhede van hierdie “Sylphiden” wil laat betower nie, dan kom hy op die duiwelsglybaan en moes dan `n afskuwelike reis na benede in die dal maak, waarby al sy ledemate, kompleet, soos mense sê, uit hulle lit gaan. As hy egter tydens die bekorings van “Sylphiden” laat blyk het, dat hy wel enigsins toeganklik was, dan word hy op die goue hoek gesit waar hy verblind was deur die enorme rykdom wat bestaan het uit massas suiwer goud. En was dit dan ook nog nie genoeg nie, dan word hy suidwaarts gevoer na die streek van die silwergraf, na `n wondermooi feëryke gedeelte van hierdie berg, wat hierdie nuut aangekomene so betower, dat dit vir hom nog maar net moontlik was om homself volkome by hierdie heksebond aan te sluit.

[4] Natuurlik is dit maar net volksages en wel van die volk wat die laagste deel van dié dal bewoon het.

[5] Die verstandiger bergbewoners, wat vanweë die domheid van die dalbewoners dikwels, `n skandelike strafgerig moes verdra, het van al hierdie heksery niks geweet nie, maar het wel die geeste geken wat hierdie berg aan alle kante so dig bevolk het soos geen ander berg nie. - Waarom juis hierdie berg? Die rede waarom sulke wesens die een berg meer as die ander in besit neem is verskillend; gedeeltelik hang dit af van die ligging en `n bepaalde hoogte van die berg, gedeeltelik van die inhoud van so `n berg; meestal egter van `n taamlik vrye ligging waardeur `n berg van die ander berge aan alle kante as`t ware afgesny is, sodat die geeste van ander berge wat dikwels boosaardig is, hierdie geeste nie maklik kan bereik en verwarring onder hulle stig nie. So `n berg word egter hoofsaaklik deur die bo beskrywe geeste in besit geneem, omdat hy ten gevolge van sy vrye plek na alle sye `n heerlike oop uitsig het. Want al hierdie geeste het die vermoë, om as hulle dit wil, die natuurlike wêreld te kan sien. Omdat hulle ook vir eie sogenaamde weermaak gebruik word en voortdurend `n noulettende oog op die naburige berggeeste moet hou, hou hulle ook die meeste van die berge, waar hulle deur niks in hulle waaksaamheid gehinder kan word nie. Aan sulke geeste word weliswaar ook meer volkome geeste toegevoeg, wat hulle beheer en lei, maar desnieteenstaande word aan geen gees sy eie individualiteit, sy vrye werksaamheid en die daarmee verbonde geluk ontneem nie.

[6] Dit was dus `n belangrike en beroemde berg van die land. `n Tweede van die soort is die “Unholde”, wat nog meer berug was as die Hochstaff. Want benamings wat reeds die bergmassa tot vandag toe nog aankleef, asook sy byna mistieke wild romantiese groteske vorm, is meer as sprekende bewyse van sy beroemdheid as towerberg. Ons wil maar net enkele name van sy uitlopers en tussen liggende dale vermeld, wat ons voldoende daaroor sal inlig hoe hierdie berg eens moes gelyk het, maar natuurlik nooit so gelyk het nie.

[7] Die hoogste top heet die “Hohe Stadl’, dat wil sê `n hoë plek en `n hoë woning waarin die hekse somer en winter deurbring. `n Sytop van hierdie berg heet ook die “Niedere Freiung” en `n top wat weer hoër as hierdie lê, die “Hohe Freiung”. `n Freiung is `n plek waar baie onskuldige mense, op die al eerder beskrywe manier, gewerf was om towenaars te word. Vlak onder hierdie beide “freiungen” is `n taamlik uitgestrekte plato, waar die nuwe aankomelinge die toorkunste moes leer. Hierdie plek heet nog hede “Saubrad” of “Sauberplats.

[8] Bo hierdie “Sauberplats” verhef meer na die suide nog `n ronde rotsagtige bergtop homself wat die naam “Ruhdnik” dra; dit was die plek waar nuwe towerleerlinge kon ontspan. Onder die “Ruhdnik”, meer suidwaarts, lê `n groot, oop terrein, wat die naam “Gerlise” dra. Die woord “Gerlise” beteken in die toenmalige dom towertaal soveel as: `n Plek van die mees uitgelate vreugde en tegelykertyd ook `n plek vir towery; want nog tot vandag toe is daar in die rots­wande van die “Hohen Stadl” verskillende bronne wat presies om half twaalf self `n waterstraal na buite stoot; van hierdie bronne is daar nou nog maar een oor, wat die “Halbswolfbrunndl” heet.

[9] Nog suideliker verhef die teenswoordige sogenaamde “Hohe Truth” homself, wie se naam met betrekking tot die vroeëre betekenis nie nader omskryf kan word nie. Bo hierdie “Hohe Truth” verrys die sogenaamde “Rote Wand” ook wel “Blutwand” genoem en hier teenaan, sou die afvallige of verraaiers van die towery deur die duiwels, gewerp word.

[10] Weer bo die “Rote Wand” bevind die sogenaamde “Dreihexenspitse” homself, in die teenswoordige spraak ook wel “Dreihexen-koffel” genoem, wat permanent deur die drie hekse wat daar wag moes hou, bewoon word.

[11] Bo hierdie “Dreihexenspitse” verhef die taamlik steil bergrug homself tot aan die “Hohe Stadl” toe, onder die naam “Hexenstieg”, wat - soos al opgemerk word - homself tot by die hoogste top uitstrek, waarop die “Stadl” of die kasteel van die heksekoning homself bevind. Noordelik, ewewydig met die hoogste top, loop `n 19 meter lange en 9,5 meter breë rotskam. Hy dra nou die naam “Hohebriistung”, maar vroeër het hy geheet “Hexentrui”. “Trui” beteken soveel as “Trieb”, drif; daar was hulle na buite gedryf die vrye lug in en hulle moes die mis, wat uit die top opstyg, beetgryp. Die top heet “Deuwwand” in moderne Duits vertaal “Teufelswand”.

[12] Meer noordelik van die “Deuwwand” is die “Deudreispits”; nog meer noordelik die hoë “Siebenwand”, ook wel “Hohle spits” genoem, waarvan gesê word dat hy deur die allerergste geeste bewoon word.

[13] Meer suidelik van die “Hohe Stadl” is `n baie steil top met die naam: Die “Verdammte Bucht”, later ook “Sandriss” genoem. Nog suideliker, maar meer dal inwaarts, is die “Teufelsgalgen” en vandaar af meer suidwestelik die “Bose Weib”.

[14] Uit hierdie name blyk heel duidelik hoe ontsettend beroemd die bergmassa was. Die naam “Unholde” alleen al toon baie duidelik die karakter van die gebergte, soos dit eens bekend gestaan het. Gedeeltelik beheers dit Karintie, gedeeltelik Tirool en ook `n groot deel van “Welschland”.

[15] Dat niks anders weer agter hierdie sage sit nie, as wat Ek nou al klaar helder en aanskoulik uiteengesit het, is vanselfsprekend.

[16] Juis hierdie “Hochstadl” is ook so `n oop geleë berg en daarom `n geliefde verblyfplek van sulke vrygeworde natuurgeeste, wat met die aan die voet van hierdie berg wonende boere dikwels in konflik gekom het. Dat aan die naam van hierdie berg en sy uitlopers baie treurige hekse-inkwisisie geskiedenisse verbonde is, benodig geen nadere verklaring nie; want aan die “Drau” is nog tot vandag toe die teregstellingsplek van hekse van die ou landgoed “Flaschberg” te sien, wie se naam al `n voldoende beskrywing in homself sluit van wat hier eens bedryf was.

[17] In Tirool is nog baie sulke berge; so is die “Gantspitse”, die hoë “Bose Ring”, die “Bose Stein”, die “Hohe Helm”, die “Brenner”, die “Oetser”, die “Vintschgauer Hochkuppe”, die “Wurmserjoch” en nog meer soortgelykes, werklik berug. In Switserland is dit die bekende “Wetterhorn”, die “Finstere Achhorn”, die “Hohe Monch”, die “Wollerhorn”, die “Pilatusspitse”, ook die “Bernhardsberg”, die “Teufelsbriicke” en nog baie van daardie soort - almal berge van dieselfde kaliber.

[18] Maar die berugste is die berge van Savoye. Want daar woon, volgens die volkssage, die hoogste aanvoerders van die bose geeste en elke Savoyaard was, nog nie so baie lank gelede nie, met so `n veragting aangesien, dat mense hulle nouliks hoër gestel het as die diere, soos wat die bewoners van die Pireneë ook nog nie so baie lank gelede onder die naam “Chacots” meer deur die Spanjaarde verag was as `n straathond.

[19] Nadat ons nou, ter verduideliking van die bestaan van geeste in ons tweede streek, dit voldoende breedvoerig deur hierdie verhale belig het, en ons nou gesien het hoe dit in hierdie tweede streek gaan, sal ons vervolgens dadelik na die eerste streek afdaal en kyk hoe dit daar op geestelike gebied gaan.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205