Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 63

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Oor die menslike eersug

8-4-1847

63 Iets wat byna nog skadeliker en erger is as drif of die toornduiwel in die menslike vlees, is die eersug, of die strewe om ander te wil oortref, wat weliswaar gelyke tred hou met die toorn, maar tog die basis van hom vorm; want `n deemoedige mens word nie maklik tot woede geprikkel nie, terwyl die vlamme dadelik by `n hoogmoedige mens uitslaan, soos mens gewoond is om te sê. Hierdie eersug is die eintlike hoofduiwel by die mense en vorm byna `n geheel met die Satan. Kinders word dan eers deur hierdie bose gees in beslag geneem, as hulle tot ietwat selfkennis gekom het.

[2] Die aanleg daartoe merk mens egter al vroeër, as die kinders nog maar nouliks kan praat. Bring maar net `n paar kinders saam en slaan hulle by hulle spel gade en baie gou sal mens opmerk hoe die een die ander wil oortref; want `n kind, wat nouliks kan praat, vind dit reeds heerlik as hy deur ander geag word.

[3] By die vroulike geslag is hierdie trek besonder sterk. Hulle vind hulle baie gou mooi en begin hulle te versier en wie witvoetjie by so `n meisie wil soek, moet maar baie dikwels sê dat sy mooi is. Die meisie sal dan ietwat verleë begin te lag en dit sal nie meer so goed gaan as daar `n tweede baie mooi meisie is wat haarself in hulle geselskap bevind nie. Maar dit sou heeltemal verkeerd gaan as mens die ander meisie miskien nog mooier sou vind, dan sal sy verseker heimlik, of miskien in die openbaar, traantjies laat val.

[4] By die jong seuns het `n mooi uiterlike nie soveel invloed as hulle nog kinders is nie, maar by hulle gaan dit oor hulle krag. Elkeen wil die sterkste wees en met sy krag sy kameraad totaal oorwin, hy sal so moontlik sonder genade of erbarming met hande en voete hom daarvan dikwels `n byna moorddadige bewys lewer, maar net om die sterkste te wees en daarom as die mees gevreesde onder die jong seuns bekend te staan.

[5] By sulke geleenthede bemerk mens by kinders baie gou die teenwoordigheid van die sataniese demoon.

[6] Dat hierdie demoon dadelik bestry moet word, daarvoor gee die natuur al `n wenk, ook al sou niemand `n groter en dieper insig op die gebied hê nie, omdat die strewe om die beste te wees, kennelik maar al te gou in die grootste ondeug kan ontaard.

[7] `n Behaagsieke meisie word gou `n koket en weldra ook `n hoer en in die toestand is sy as`t ware al op die punt waarop Satan haar wil hê. En die jong seun word weldra `n lomperd, `n vegtersbaas en in alle opsigte iemand, vir wie niks meer heilig is nie, behalwe hyself.

[8] Weldra groei uit sulke mense brombere en twissoekers oor God en oor alles en elkeen; hy weet bykans alles beter as `n ander, begryp alles beter en sy oordeel moet wel die beste wees, maar net omdat dit van hom kom. Wie hulle nie aan so `n oordeel wil onderwerp nie, die is in die mildste geval `n esel en in `n ietwat meer demonstratiewe geval kry hy `n pak slae.

[9] Wat moet later van so `n mens word? Wie moet sulke mense verbeter, wat alles beter weet as `n ander? En laat `n ander hom ook duidelik sy dwaasheid sien, dan word hy driftig en wat hy dan nie meer met sy mond kan uitrig nie, dit laat hy aan die krag van sy hande oor, wat gewoonlik sterker is as die tong van die teenstander. `n Paar kragtige houe in die ribbekas en net soveel kragtige kaakslae met die vuis werk op die oomblik beter as alle wysheid van Sokrates en Cicero; daar sou hoogstens Simson en ook Dawid as stryders `n gedugte teenstand kon bied.

[10] Dit kom alles van die eersug, wat maak dat elkeen die voortreflikste wil wees, ook as hy in werklikheid die laaste is. As beide wapens tekort skiet, dan bly vir hom nog `n mond oor om te vloek en `n onblusbare wraaksug. Natuurlik gaan die eersug en die drif dan by so `n geleentheid hand aan hand; hulle dienare is dan lis en veinsery.

[11] Hierdie allerboosaardigste duiwel in die menslike vlees is die bron van alle kwaad onder die menslike geslag en is volkome van dieselfde soort as die onderste en diepste hel, want in hom vind mens alle ondeugde verenig.

[12] Sou daar ooit wel `n oorlog gewees het as hierdie demoon nie die menslike vlees soseer bedorwe het nie? Geen sonde kan soveel mense in die verderf stort as hierdie nie! `n Mens wat baie van hierdie demoon in hom het, sal baie gou ander mense aan hom onderwerp; in die begin weliswaar onder die naam 'vriende', maar hierdie vriende sal uit suiwer vriendskap dit moet doen, wat hulle gebiedende leier wil hê en wel daarom, omdat hy hom in sy heerssug-demoon binnegesleep het. Hierdie vriend sal weer vriende kies en in hulle dieselfde demoon, waarin hyself gerwikkel was, binnetrek. Daardeur word die hoofvriend al `n aanvoerder; en as alles goed loop begin hy te gebied en sy demoon sal weldra duisende in sy web verstrik hê en hulle sal almal na sy pype dans.

[13] So ontstaan daar dinastieë. Daar staan iemand aan die hoof, dikteer en gee wette soos sy humeur hom ingee en duisende moet dit opvolg, soms onder bloed en trane, gewillig of onwillig, dit is om`t ewe. Want waar mag hom eenmaal tot `n saambindende faktor verenig het, daar ly elke teenstand skipbreuk en die rede, verstand en wysheid moet wyk, waar tirannieke despotisme die troon bestyg het. Glo die tiran dat sy onderdane blind is, dan hoef hy maar net te gebied dat hulle oë uitgesteek moet word, en sy handlangers, deur dieselfde demoon besiel, sal alles doen wat die gebieder wens. Maar dit is die mense se verdiende loon dat daar tiranne oor hulle heers. Ook al is hulle geen direkte tiranne nie, is hulle tog minstens hardnekkige despote, wat net soos die tiran streng gehoorsaamheid eis, die minste teenspraak tot majesteitskennis (Wetlik strafbare, openbare belediging van ’n vors of die vorstehuis,) verklaar en hom, al is dit dan nie met die dood nie, minstens tog met `n tydelike swaar kerker bestraf. Maar, soos dit al gesê was, aan die mense geskied reg as dit met hulle so gaan.

[14] Die mense self het God tersyde geskuif en hulle eie hoogmoedsdemoon op die troon geplaas en wat hulle eens gedoen het, doen hulle vandag nog; want oral sorg die ouers dat hulle kinders iets beter en hoër word as hulleself. Die eenvoudige boer wil in sy hart, ook al kan hy nie sy wens uitvoer nie, dat sy seun `n groot heer word en sy dogter, as sy maar `n lieflike gesiggie het, tenminste die vrou van `n burger uit die stad word of die vrou van `n amptenaar op die platteland. `n Skoenmaker wil sy kinders volstrek nie sy ambag laat leer nie en het hy `n dogter wat eerder mooi as lelik is, dan sou dit vir niemand, wat die selfde vak beoefen, gerade wees om haar tot vrou te verlang nie, omdat sy maklik die vrou van `n amptenaar kan word of nog iets hoër. Die seun van die skoenmaker moet natuurlik studeer en dan hoër opklim. Het die dogter van so `n dwaas werklik die vrou van `n landheer geword en die seun miskien selfs griffier by die regbank, dan mag die vader nie meer sy hooggeplaaste kinders so brutaal met die hoed op die kop nader nie. Dit krenk hom wel erg en hy stort dikwels bitter trane dat sy kinders hom nie meer wil ken nie; maar aan hom geskied geregtigheid. Waarom was hy so `n esel en het hy plesier daarin gehad, om in plaas van twee stutte vir sy ouderdom, twee tiranne op te voed.

[15] Daarom geskied vir elkeen geregtigheid en aan die hele mensdom geskied geregtigheid, dat hulle van bo tot onder geheel en al getiranniseer word. Want hulle put self die grootste plesier daarin om uit hulle eie kinders tiranne te kweek.

[16] Wie laat die kinders studeer? Die ouers. Waarom? Sodat die kinders iets sal word - En wat sal die kinders word? Heel natuurlik, as dit moontlik is, altyd meer as die ouers; want oral sê mense: “Ek laat my seun studeer, sodat hy later, óf `n geestelike, óf `n amptenaar kan word en as hy `n hoë amptenaar of selfs minister sou word, of as geestelike, dit miskien tot biskop sou bring, dat het ek dit die liefste." So spreek die gemoed van `n vader en ook die hart van `n moeder. Maar dat `n vader sou sê: “Ek laat My kinders maar net studeer om nuttige kennis te vergader en dan met verstandige oorleg en profyt dit te word wat ekself is of miskien iets minder - maar goed en opreg!", dit sal mens nie dikwels hoor nie en nog minder My woord: “Wie onder u die eerste wil wees, die is die laaste en u aller kneg."

[17] Die gebod het Ek gegee en sien, nouliks `n bedelaar volg dit op; maar wat Satan beveel deur sy demoon, daarna jaag groot en klein, kind en grysaard. Daarom geskied aan die wêreld ook tien en honderdmaal reg, as hulle met vuur en swaard getiranniseer word, want hulle het self die grootste welgevalle daaraan.

[18] Hou op daarmee om uit jou kinders tiranne te kweek en word self liewer die laaste as die eerste, dan sal die tiranne baie gou alleen op hulle trone staan; en omdat julle diep benede sal staan, sal hulle vanaf hulle hoogte ook diep na benede moet kom om nie, aan hulself oorgelaat, ten gronde te gaan nie.

[19] Maar as julle uit jul kinders meer en meer treë bou na `n troon, dan sal dit steeds hoër word en hoe hoër hy word, des te beter kan hy klippe omlaag slinger vanaf sy verhewe standplaas en des te harder tref hulle ook julle wat onderaan staan. Ek laat dit dikwels toe dat die mag van die hoërgeplaastes groei, sodat die dwase daar benede tog iets het wat hulle verdeemoedig en hulle toon wat hulle sou moet wees, maar nie is nie. En daarom word die regerings deur My gemagtig en doen goed daaraan om die dom mensdom soveel moontlik te onderdruk, want hulle verdien nie beter nie.

[20] Laat die vader nie vir sy seun `n mooier jas maak as wat hyself dra nie? En gaan die moeder nie met haar dogters in die modewinkels en soek ure lank klere uit, waarin haar dogters des te beter uitkom om daarmee 'veroweringe' te maak nie. Waarom veroweringe? Vernederings sou dit volgens My woorde moet wees, waarna die mensdom moet strewe. Omdat dit egter veroweringe is, is dit goed dat daar tiranne is; ja, hulle is selfs engele, omdat hulle die veroweringsug soveel moontlik deur belastings en ander wette die nek inslaan.

[21] Dit sê die vader vir sy seun: “Jy moet leer om jou so te gedra dat alle oë en ore op jou gerig is en jy daardeur onontbeerlik is vir die hele maatskappy" of met ander woorde gesê: “Probeer die eerste in die samelewing te word. Waarom sê die vader nie liewer: “Seun, trek jou terug! Dit is beter dat jy van onder af jou oë op die samelewing rig, as dat die hele gemeenskap haar oë op jou rig!" - Of wat is beter, om die fondament van `n gebou te wees of die topgewel? As daar `n storm kom, wat die dak en die huis verniel, sal dit dan ook die fondament van sy plek af bring?

[22] Wie die onderste is, die is ook die veiligste: die toringspits is egter `n speelbal van storms en onweer.

[23] Daarom, daal af! Die ware deemoed moet die vaste standpunt van jou bestaan vorm. Daar verlaat die bose gees van die ambisie elkeen en aan die tirannie sal vir ewig `n einde kom.

[24] Of glo jy, dat `n vors ook maar iets omgee of die gemene volk hom as `n vors erken? Daarvan sal hy werklik nie sy eer as vors laat afhang nie: maar as vors verlang hy slegs erkenning van sy hoë posisie deur die hoëre kringe en deur die kringe van sy gelykes.

[25] As die mensdom dus gesamentlik sou afdaal na die grond van die deemoed, dan mag die vors met `n lantern na sy gelykes soek en na die erkenning van sy hoogheid onder hulle, en hy sal dit net so min vind soos wat mens geslypte diamante sal vind tussen die los klippe in `n rivierbedding.

[26] Kyk, dit is die weg na geluksaligheid hier en in die hierna­maals; daardeur kan die mensdom en vors hulle verbeter, en nie deur weerbarstigheid en nog minder deur allerlei muiterye en opstande teen die geordende mag nie. Mens moet van onder af begin as mens `n huis wil bou; om met die dak te begin, dit sal nie heeltemal gaan nie. Of hoe wil mens eers `n vlag of `n kruis op `n toringspits aanbring, as die fondament nog nie eens vir die bou van die toring gelê is nie?

[27] Wie ander wil verbeter, moet homself eers verbeter en moet opreg lewe, dan sal die ander hom navolg as hulle die voordeel daarvan sien. En wie ander wil verdeemoedig, moet homself eers verdeemoedig, dan sal hy daardeur vir sy buurman die trappies wegneem, waarop die buurman hoër sou gestyg het. Maar as iemand sy broer dra, sal sy broer dan wel die berg afkom, as hy wat hom dra nie na benede wil gaan nie? Daarom moet die draer eers na benede gaan, dan sal ook hulle wat hy dra, na benede kom. Gaan die lasdier egter na bo, dan gaan hy wat op hom sit sekerlik ook en as las op hom druk, saam omhoog.

[28] Solank My leer nie in alles volkome in ag geneem word nie, sal dit nóg hier, nóg in die hiernamaals - by die enkeling nog in die algemeen - beter gaan. Diegene wat My leer egter heeltemal wil navolg, die sal dit hier en in die hiernamaals goed hê; want vir `n deemoedige siel gaan alles goed en omdat hulle die naaste aan My is, het hulle ook altyd die sekerste en allerbeste hulp byderhand.

[29] Maar helaas is elke ander boosheid makliker uit te roei as dit en wel omdat die mense self welgevalle daarin het. Elkeen wil liewer `n hooggeëerde heer wees, as in die ware betekenis van die woord `n ondergeskikte kneg en bediende. Die mense groet mekaar wel met `n 'U dienswillige dienaar', maar dit sê hulle nie omdat hulle dit wil wees nie, maar dit is maar net om beleefdheids­halwe, sodat hulle wat teenoor hom staan, hulle des te hoër sal aanslaan.

[30] O, vreeslike dom mensdom! Wanneer sal julle tot die insig kom dat daar geen wêreld denkbaar is sonder `n vaste middelpunt nie? By elke hemelliggaam lê die middelpunt die diepste; waarom wil die mens hom dan nie in sy eie diepte begewe nie, sodat hy vir ewig die ware lewenswaarborg vind, wat in My leer so helder en duidelik gegee word?

[31] Maar wat se nut en welke betekenis sou My leer hê, as Jesus, haar stigter, tans Self die eer het om heeltemal niks te beteken - of hoogstens nog maar `n bietjie saam te tel naas Sokrates of Plato? Of mense verander Jesus enkel en alleen in `n afgod, waarvan slegs nog maar die naam oorgebly het en `n paar brokstukke van Sy leer in die vorm van Egiptiese hiërogliewe, waaroor dit bowen­dien streng verbode is om na te dink. Kort en goed, mense het Jesus gemodelleer soos mens Hom kan gebruik, sodat dit ietwat opbring en niks uitdra nie, soos Hy dit gebied het toe Hy gesê het: “As iemand jou vir `n kleed vra, gee hom dan ook die mantel!" Diegene egter, wat die laaste en elkeen se kneg sou moet wees, die sit onder miljoene die hoogste! `n Slegte voorbeeld vir deemoed! Maar dit kan nie anders nie, want tot op vandag is daar nog baie mense wie se vurigste wens dit sou wees, dat hulle seuns pous sou word. Dus nog baie liefde vir die pousdom! Solank dit nog bestaan, kan dit nie beter gaan nie!

[32] Straks volg nog heelwat oor die onderwerp!


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205