Aarde en Maan
JACOB LORBER - AFRIKAANS

Hoofstuk 80

Spring: 1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20, 21, 22, 23, 24, 25, 26, 27, 28, 29, 30, 31, 32, 33, 34, 35, 36, 37, 38, 39, 40, 41, 42, 43, 44, 45, 46, 47, 48, 49, 50, 51, 52, 53, 54, 55, 56, 57, 58, 59, 60, 61, 62, 63, 64, 65, 66, 67, 68, 69, 70, 71, 72, 73, 74, 75, 76, 77, 78, 79, 80, 81, 82, 83, 84, 85, 86, 87, 88, 89, 90, 91, 92, 93, 94.

Sumatra, Celebes en Ceylon (nou Shiri Lanka)

6 Mei 1847

80 In die nabyheid van die bogenoemde eiland Java, kom daar nog twee groter eilande voor, naamlik Sumatra en Celebes.

[02] Die volkere van die twee eilande het meestal dieselfde grondwet as wat reeds bespreek was en dit sou oorbodig wees om `n herhaling van dit wat reeds gesê was, weer te gee; net dit kan gesê word, naamlik dat Sumatra in alle opsigte nader aan die eiland Java staan as Celebes, wat op sy beurt baie nader staan aan die egte gebruike van Sjina en ook Borneo, alhoewel daar onder die Celebese ook Javane voorkom.

[03] Maar dat op die twee eilande, veral langs die kusgebiede, Europeërs nedersettings voorkom, hoef gedurende die teenswoordige veroweringsugtigheid van die Engelse, onder meer ook die Franse, Hollanders en Spanjaarde nie van naderby beskryf word nie.

 

Ceylon

[04] Daarom sal ons onmiddellik oorgaan na `n ander eiland, naamlik Ceylon, wat hoofsaaklik Europese nedersettings langs die kus het, terwyl die oerinwoners in die binneland nog in die baie klowe en grotte bly. Hierdie land word deur baie reisigers as `n land van onbegryplike wonders aangeprys en op grond van die groot aantal seldsame verskynsels deur baie natuurwetenskaplikes besoek.

[05] Dit is waar dat hierdie eiland van suiwer vulkaniese oorsprong, die grootste onderaardse verbindings het wat deur groot kanale, selfs met die lewendige ingewande van die aarde in verbinding staan. Dat sommige seldsame verskynsel daardeur ontstaan, wat nie op ander plekke voorkom nie, is maklik begrypbaar as julle `n bietjie terugkyk wat vir julle oor die natuurlike deel van die aarde en deels ook oor die geestelike deel daarvan, meegedeel is.

[06] Die verskynsel van die sogenaamde ‘wilde jag’ kom dikwels daar in sodanige intensiteit voor, dat die geraas daarvan tot sulke heftigheid groei, dat die bewoners in die diepste gate moet wegkruip, om te keer dat hulle gehoorwerktuie nie bars nie.

[07] Benewens hierdie raserige verskynsel, bestaan daar nog `n groot aantal meteoriese verskynsels, wat die oog by tye nie minder besighou as die geraas in die oor nie.

[08] Fata morganas van die mees seldsame soort is byna `n daaglikse verskynsel, maar wat altyd van `n sagte soort is en die kyker eerder bly maak as wat dit hom met vrees vervul.

[09] Maar die nagtelike vuurverskynsels veroorsaak baie skrik en vrees en lei soms tot kleiner lokale katastrofes. Hierdie vurige verskynsels bestaan soms uit `n groot aantal van die sogenaamde meteoriete, wat baie laag, soms net `n paar vame bokant die aardoppervlakte, kruis en dwars in alle rigtings vlieg.

[10] Hierdie vurige verskynsel is egter minder vreesaanjaend. Bietjie meer skrikwekkend is die vuurmense, vuurdrake, vuurslange en dies meer wat soms in skares van duisende heeltemal op die bodem of soms net `n paar skoene hoog rondtrek. Hierdie verskynsel lyk baie skrikwekkend en vreesaanjaend, veral weens hulle mooi helder wit lig; maar hulle is vir niemand gevaarlik nie, omdat hulle lig van `n baie koue soort is.

[11] Baie meer gevrees is die skaarser voorkoms van vuurwiele en vuurkranse. Hulle laat sekere voorwerpe, wat materieel aan hulle verwant is, aan die brand slaan. Mense en diere, wanneer hulle deur hierdie wiele en kranse geraak word, ondervind elektriese skokke en soms ook beduidend baie pynlike brandwonde. Maar die mees gevreesde in daardie land is die sogenaamde vuursuile, wat in werklikheid niks anders as vuurkolke is nie. Hulle veroorsaak die grootste skade waar en wanneer hulle tevoorskyn kom. Hulle is egter baie skaars en kom in `n jaar net twee tot drie keer voor en meestal net op sekere plekke en word, wanneer hulle tevoorskyn kom, reeds `n hele dag voor die tyd deur `n sekere harde gekraak in die lug aangekondig, by watter geleentheid mens en dier ... (hier kort `n paar woorde of `n paragraaf)

[12] (... hulle besit) byna geen hutte en nog minder huise nie, en die mense en die diere woon, soos reeds voorheen aangedui, in die gate van die aarde, wat deur die mense wat daar woon, met allerlei lomp houtsneewerk en vlegsels versier word.

[13] Die bewoners van hierdie eiland het geen koning nie, maar net `n soort hoofpriester wat die aansien van `n towenaar het, en die volk glo dat hy die meester is van al hierdie wonderbaarlike verskynsels van hierdie land. Hierdie towerpriester het dan ook `n behoorlike aantal helpers wat deur hom onderrig word en dan na al die dele van die land uitgeplaas word. Hulle het dan die taak om die volk in die bepaalde geloof te onderrig en ook om vir hulle te verduidelik hoe hulle hulleself moet gedra tydens die verskeie verskynsels, sodat hulle geen skade sal opdoen nie.

[14] Die mees seldsame by hierdie saak is egter, dat hierdie hoofpriester saam met sy helpers, die mees onselfsugtige priesterskap op die hele aarde is, want hy vra van niemand ook die geringste gawe nie; net die helpers mag kos en drinkgoed aanneem, wanneer hulle met die onderrig van die volk besig is.

[15] Maar die volk wat hierdie weldaad van die priester insien, beywer hulle om vir hom die mooiste en uitgesoekte troppe diere aan te keer, maar waarvan die priester net dit neem wat hy vir sy baie eenvoudige huishouding nodig het.

[16] Op grond daarvan geniet hy by die volk sodanige hoë aansien en sodanige onbeperkte liefde, dat hy in geval van nood, net `n wenk moet gee en die hele volk, - groot en klein - sou bewapen op die been wees, om hul groot weldoener, soos hulle hom noem, te beskerm.

[17] Baie eienaardig vir julle sal wees dat hierdie sogenaamde towerpriester, sowel as sy helpers, werklik `n magiese krag besit, waardeur hy vir diere kan gebied en hulle elke wenk van hom volg, en geen dier, van die kleinste tot die grootste, is daarvan uitgesluit nie. Maar dit gee aan hom die grootste aansien wanneer hy soms deur `n hele trop verskeurende diere, heel onbeskadig, soos deur `n trop skape loop. Slange, adders, krokodille kom algemeen rondom sy towerhuis voor en nie een van daardie diere sal dit waag om die kleinste beweging sonder sy wenk te maak nie. Net wanneer hy hulle gebied, beweeg hulle blitsvinnig van sy werf af weg en sal gaan kos soek. 

[18] Die woonplek van hierdie hoofpriester is ongeveer in die middel van die eiland geleë en is vir elke Europeër feitlik heeltemal ontoeganklik, deels as gevolg van `n baie digte bos, deels weens baie steil byna onklimbare rotswande en deels ook weens die baie ongediertes wat hier baie meer volop as op enige ander plek voorkom. `n Beduidende hindernis is ook die vooraf genoemde natuurverskynsels, waarvoor selfs die moedige Europeërs `n bietjie bang is. En sodoende bly die eiland net langs die kusgebiede vir die Europeërs toeganklik, maar die binneland is vir die Europeërs net so onbekend soos die binneland van Afrika en sommige ander lande.

[19] Die geloof van hierdie volk is net so seldsaam soos die land self. Hulle glo aan een God, maar wat vir geen sterfling sigbaar en op sy manier ook nie denkbaar is nie. Hierdie God wy van tyd tot tyd `n mens wat in Sy naam die aardse reëlings hanteer, omdat dit vir God te kleinlik is en Hom onwaardig is.

[20] Hulle eiland beskou hulle as die hele wêreld wat soos neutedop op die oneindige waters ronddryf.

[21] Son, maan en sterre word deur God alleen regeer, terwyl die bestuur van die aarde, wat te klein is om deur God alleen geregeer te word, aan die deur God gewyde hoofpriester oorgelaat word. Want die volk het van die hemelliggame die grootste voorstelling en beskou die kleinste ster as oneindig maal groter as die aarde.

[22] God bevind Homself in die son, derhalwe dat die son ook deur hulle aanbid word. Die maan beskou hulle as `n hemelse wêreld, waarheen hulle owerpriester en ook hulleself sal kom na die liggaam se dood, indien hulle op die klein aarde reg en genoegsaam gelewe het.

[23] Net met die sterre gaan dit `n bietjie slegter; hulle bevolk hulle bloot net met allerlei dieresiele, wat egter volgens hulle begrippe in die hiernamaals baie groter en meer volmaak is as hier op aarde.

[24] Van Christus weet hulle amper niks nie en hier en daar selfs niks nie. Diegene wat wel iets van Hom af weet, is van mening dat Hy ook op `n tyd `n owerpriester op hulle eiland was. Hy het hulle eiland egter verlaat, omdat van hulle voorvaders dalk op `n tyd ongehoorsaam was, en het na `n ander aarde toe gegaan om die mense daar gelukkig te maak. Alhoewel hulle hul land as die enigste aarde beskou, is hulle tog van mening dat op die, volgens hulle begrip, oneindige groot wêreldmeer, nog ander wêreldliggame rondswem, waarop daar mense woon wat soortgelyk aan hulleself is, net dat hulle nêrens so volmaak is as by hulle nie. Hierdie mening het waarskynlik by hulle ontstaan omdat hulle dikwels met Europeërs te doene het, by wie hulle agtergekom het dat hulle nie sulke volmaakte meesters van diere is soos hulle nie.

[25] Hulle het waarskynlik ook al groot skepe gesien en die kanonne gehoor. Alleen dit beskou hulle alles as pure kinder­speletjies, want die vuurwerke wat hulle owerpriester tot stand bring, is op geen manier vergelykbaar met die nietigheid van `n kanonskoot nie. Selfs die drywende skip beskou hulle bloot net as `n uitgeholde eier wat deur die een of ander magtige vuurdraak gelê is. 

[26] Luukse artikels wat deur die Europeërs vir hulle aangebied word, verag hulle bo alle mate, want hulle sê: Ons kan groter dinge met ons wil tot stand bring as julle met jul hande, waarom daar met hierdie volk ook geen handel gedryf kan word nie. Net die kusbewoners handel met olifanttande wat hulle gewoonlik gratis van die oerinwoners verkry. Vir alles anders bied die eiland byna geen handelsware nie.

[27] By hierdie blootstelling kan julle aflei dat hierdie volk nog baie eenvoudig is en net uiters min behoeftes ken. Op grond van hierdie eenvoudigheid het hulle ook in die fisiese sfeer nog daardie oerkragtige eienskappe, soos wat dit by die oervolkere van die aarde die geval was. By hulle is ook nog dieselfde geestelike oerkrag sigbaar, wat die eerste mense op aarde op `n tyd besit het. Volgens die eintlike geloof is hulle nog van die reinste Zendavesta-volgelinge en gelyktydig ook -verstaners, en het baie weinig bygevoeg en nog minder weggevat.

[28] Ook met hierdie volk is dit in die geesteswêreld `n maklike taak om die evangelie aan hulle te verduidelik, omdat hulle Christus baie liefhet. Hulle is van voornemens om in die hiernamaals des te meer aan Hom gehoorsaam te wees, omdat hulle op aarde aan Hom, `n deur God gewyde owerpriester, te min gehoorsaamheid deur hulle voorvaders betoon het. Hierdie ongehoorsaamheid kleef nou aan alle afstammelinge soos `n erfsonde, waarom elkeen in die hiernamaals die beledigde Man van God moet vergoed.

[29] Hierdie rede klink oënskynlik ietwat belaglik, dit kan egter maklik ingesien word dat dit, ten spyte van die belaglikheid, nogtans `n goeie aanknopingspunt is, waardeur die mense van hierdie land in die hiernamaals tot die lig van die ware evangelie kan vorder.

[30] Aangesien daar vir ons saak niks noemenswaardig verder by hierdie volk is nie, sal ons onsself vervolgens weer na `n ander volk wend.


 
 

Fatal error: Uncaught Error: Call to undefined function mysql_close() in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php:205 Stack trace: #0 {main} thrown in /mnt/ns1_wwwroot/wwwroot/www.aftershock.co.za/html/clients/www.nuweopenbaring.co.za/lorber.php on line 205